Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ek is alle Afrikane; en ons is legio
Ewan-Nize Gerber

Sy is Suid-Afrikaner voor sy Afrikaner is, skryf Ewan-Nize Gerber.

Ek is ’n trotse Suid-Afrikaner.

Omdat my huistaal Afrikaans is, vra mense my gereeld: “Is jy ’n Afrikaner?”

Oor die jare het my antwoord al hoe kwaaier geword: “Nee.”

Ek weier om een te wees. Ek weet ek is Afrikaans en ek weet dat ons ’n geskiedenis van Anglo-Boereoorloë en gevegte gewen en verloor het, maar ek is nie net dit nie.

Ek is ook deel van die Khoisan­oorloë jare voor dit, ek is in die gees van Afrikane wat rondom ’n vuur dans om hulself voor te berei op ’n epiese geveg vir hul grond, ek is in die hitte van ’n vuur wat brand voor ’n hut in ’n plakkerskamp terwyl dit ’n Thuli en ’n Thabo en ’n Siseko warm hou. Ek is in die kerrie van die Indiërs in KwaZulu-Natal, ek is die een wat die hitte van die son op my rug voel in die Groot-Karoo terwyl ek agterop die bakkie van ’n plaasboer ry.

Ek is alles hiervan. Ek is ’n Suid-Afrikaner.

Ons het iets wat ons noem Erfenisdag, ’n dag waarop ons veronderstel is om te verenig rondom ’n braaivleisvuur. Ja, Oom Piet het die slaghuis amper leeggekoop met steaks en ribbetjies wat hy vir sy familie wil braai – om nie van sy rit na die naaste Tops te vergeet vir sy brandewyn-en-Coke-brousel om sy boep nog verder te ontwikkel nie. O ja, en onthou vir tannie Sannie wat aartappel- en noedelslaai en braaibroodjies en malvapoeding gemaak het om die braai mee af te rond. En die kinders en bure is genooi en hulle het hulself almal knuppeldik geëet: mae wat pyn op pad huis toe waar hulle op hul beddens neergesak het vir ’n middag­slapie.

Ek kan nie my weersin wegsteek nie.

As ons “Afrikaners” onsself volstop op Erfenisdag – want laat ons eerlik wees, Afrikaners is trots daarop dat braai “hul” ding is – word daar ’n klein seuntjie gebore. Hy is veronderstel om ’n man, ’n leier, ’n pa te word, maar sy ma woon in ’n sinkhok en sy kan nie ordentlike kos bekostig om sy gesondheid te verseker nie. Sy bekommer haarself oor haar kind se lewe, terwyl tannie Sannie haar bekommer of haar malvapoeding droog sal wees.

Ons “reënboognasie” is ’n briljante idee, maar as ons eerlik met onsself moet wees, is dit net ’n idee. Ons is nie realisties nie.

Terwyl ons die fokus plaas op die reënboog, plaas ons nie die fokus op die feit dat ons almal verskillende kleure is nie? Ek stem saam dat die reënboognasie net soos ’n versinsel van ons ­verbeelding lyk. Dit is net nie ­werklik nie.

Toe ek ’n klein dogtertjie was en ons deur ’n arm gehuggie gery het, het ek gekyk na die ryk vroue wat hul bediendes ná ’n lang dag se werk aflaai. As ek sien dat hulle op die agtersitplek sit, het ek dit byna elke keer verloor.

Dan het ek gewonder waarom die buitekant van ons velle saakmaak, terwyl ons harte almal dieselfde kleur het. Ons is almal pienk binne. Nou verloor ek dit nie meer nie – ’n deel van my sterf net elke keer as ek dit sien.

Ek sal nooit ’n Afrikaner wees nie. Ek sal nooit Zoeloe of Xhosa of enigiets anders wees nie. Ek is nie wit nie en ek is nie swart nie.

Ek is die bokkom wat droog word op ’n wasgoedlyn aan die Weskus, ek is die jakkals wat ’n lam vang in die Tankwa-

Karoo. Ek is die sneeu op die Drakensberge in die winter, ek is die droogte in die Noord-Kaap net voor die reën kom. Ek is die ritme van die tromme by ’n tradisionele dans en ek is die Tolla van der Merwe-grap by ’n Saterdagmiddagbraai.

Ek is nie ’n burger van ons land nie, ek is ’n burger van die gees van ons land. Ek is gebore in Suid-Afrika; ek is ’n Suid-Afrikaan. Ek is die eenheid van die nasie en dit is die Suid-Afrikaners onder ons wat die nasie sal ­verenig.

Ons Suid-Afrikaners is die enigste mense wat ons nasie kan verenig. En aan al die ander: Wees gewaarsku.

Ons getalle neem toe met die breek van elke brander aan ons wonderlike kus; ons wag geduldig. Stadig en sekerlik aan die opbou . . .

* Ewan-Nize Gerber is ’n matriekleerling aan die Hugenote Hoërskool in Wellington.

Meer oor:  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.