Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ek is amper deur Gert van Rooyen ontvoer’

Vir Suid-Afrikaners het pedofilie, ontvoering en moord sinoniem geword met die name van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff. Hier volg die storie van een van hul slagoffers wat ontsnap het.

In die dertig jaar sedert die tragiese verdwyning van ses jong skoolmeisies en die dramatiese skietdood van die land se berugste egpaar, hang onbeantwoorde vrae steeds in die lug. Gert & Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar het pas by Penguin Random House verskyn.

In 1987 is sy amper deur Gert ontvoer, vertel Vicky (skuilnaam). “Ek het gesit en speel in die tuin voor die melkery. Ek het twee skilpaaie gehad. My ma was kliniek toe. Ek weet nie waar my sussie was nie. Sy ook nie. Iemand het stilgehou in ’n 1400-liter-bakkie. ‘Nissan’ het in rooi op die kant gestaan. Die heininkie was maar kuithoogte. Die oom het my gevra om hom te gaan help maatjies soek. Wil ek nie saamkom nie? Ek het my kop geskud en gesê: ‘My ma het gesê ek mag nie met vreemde ooms in die kar klim nie.’ Toe sê hy die wonderwoorde: ‘Ek sal vir jou lekkers gaan koop.’

“Skuins oorkant ons was die Sao Pedro-kafee. Bokant was woonstelle. Twee verdiepings. Die man vertel ons kan net oorkant toe ry. Ek stem toe in as ek agterop die bakkie kan sit. Ek onthou nog daardie dik rubbermat wat hulle agterop gesit het; wat so gevleg is. Hy het by die ingang van die woonstelle gestop. Ek het afgespring. Ek moes voor hom loop. Ek onthou nog sy voetstappe. En die vis-en-tjips-reuk van die kafee. Dis asof dit gister gebeur het. Ons het tot heel bo geklim en hy het vir my ’n woonstel gewys. Hy vra toe dat ek aan die deur klop. Die deur het dadelik oopgegaan. Hy het my toe tussen die bene gegryp en probeer om my in die woonstel in te trek.

Ek was te bang om vir iemand te vertel wat gebeur het. Netnou word ek nog harder gefoeter as tevore. Ek het mos nie daardie tyd besef dis Gert van Rooyen nie.

“Ek het so gestoei. Toe gryp hy my met sy ander arm vas. Die deur het steeds bly oopgaan. Ek vermoed nou daar was nog iemand, maar ek het niemand gesien nie. Ek het net gehardloop. Hy het geskree hy sal vir my R20 se sweets koop. Ek skree terug hy kan sy sweets druk.

“My grootste vrees in daai tyd was dat hy teen die relings van die trappe gaan afgly en op my spring om my te keer. Maar ek was te vinnig. Ek het huis toe gehardloop, my skilpaaie gegryp en myself in die huis toegesluit. Die volgende oggend het ek reggemaak vir skool. Ek was te bang om vir iemand te vertel wat gebeur het. Netnou word ek nog harder gefoeter as tevore. Ek het mos nie daardie tyd besef dis Gert van Rooyen nie.

Die “oom” met die skalkse “glimlag” wat vandag nog spook by vermeende slagoffers wat glo uit sy kloue ontsnap het.

“Ek het ingeloop by my ma voor ek skool toe is. Toe ek opkyk, kyk ek in hom vas. Hy het in die deur vir my gestaan en kyk. Hy is vir altyd in my geheue ingeprent. Ek sal sy gesig nooit vergeet nie. Hy het sy bril gedra. Ek onthou die weerkaatsing daarin. Hy het ’n grys broek, wit hemp en ’n das aangehad; hy was baie netjies aangetrek. Ek het net daar gestaan; ek was so bang hy gaan vir my ma vertel dat ek saam met hom gery het, maar ek was nie bang vir hom nie. My ma het niks gedoen of gesê nie.

“Ek het gesien klasmaats stap skool toe buite in die straat. Hulle was eintlik boelies gewees, maar dit was beter om my by boelies te skaar as om alleen te loop met hierdie oom op my hakke. Ek is saam met hulle daar weg en ek het hom nie weer gesien nie. Dis iets wat by my gespook het.

“Baie jare later het ek sy foto in tydskrifte en die koerant gesien en dan het ek vir my man gesê dit lyk vir my soos die ou wat my probeer vat het. Dit was in 2009, toe die meisies twintig jaar weg was. Dit was die onderkant van sy gesig wat soos Gert van Rooyen s’n gelyk het. Ek het op Google gaan soek tot ek foto’s gekry het van hom in die tyd toe hy my wou ontvoer. Dit het gevoel of jy ’n mat onder my uittrek. Ek het so gehuil.

“Ek was gevul met selfverwyt. As ek gepraat het, het hulle hom dalk gevang voor hy die ander ontvoer het. Ek moes gaan vir berading, want ek was ook kwaad vir my ma. Oor ek nie met haar kon praat nie. Ek was kwaad vir myself, want hoekom het ek weggekom en niks gedoen nie?

“Ek het die polisie gebel en vertel ek was ’n slagoffer van Gert van Rooyen en gevra of ek met iemand kan praat. Hulle het gesê ja, asseblief, hulle wil met my praat. Toe ek die volgende dag weer bel om ’n afspraak te maak, het hulle gesê die saak is gesluit. Ek het dit toe maar gelos. Nou onlangs sien ek daar is ’n Facebook-blad vir die ‘kinders’ van Gert van Rooyen wat steeds vermis is. Ek het dadelik van my laat hoor.”

Koopprys: R20 000

Die ses vermiste meisies wat aan Gert en Joey verbind word, is reeds dertig jaar lank soek. Hierdie foto’s het onder meer op melkkartonne verskyn.

Vicky het toe by een van die onafhanklike ondersoekers uitgekom. “Ek was toe al lankal op die Gert van Rooyen WhatsApp-groep. Hulle het my foto daar gesien en my herken as ’n meisie op een van die foto’s in ’n groen trommel. Ek het ook vir hulle ’n foto van my gestuur van hoe ek in daardie tyd gelyk het. ’n Foto van my was in daardie trommel met my naam en die bedrag waarvoor ek verkoop sou word. R20 000.” Sy verwys na die groen trommel wat Gert die aand voor sy en Joey se dood na hul huis geneem en opdrag gegee het dat die inhoud verbrand moet word.

Onopgesmuk en sonder blonde haarkleursel – ’n minder bekende foto van Joey Haarhoff, waarskynlik uit die dae voordat haar en Van Rooyen se paaie gekruis het.

Vicky speel ’n stemnota van ’n familielid wat insae gehad het in wat in die trommel was en dit gedokumenteer het voordat dit vernietig moes word: “Daai foto van die meisietjie was in daai groen trommel gewees. Dit kan ek bevestig.”

“Daar was ’n vermoede dat my pa my wou verkoop,” vertel Vicky verder. “Hy het altyd by al Gert van Rooyen se gunstelingplekke uitgehang en altyd foto’s van ons soontoe gevat. My pa sou so iets doen. My pa het baie siek dinge gedoen.

“My boetie is ’n good-looking guy. My pa het my boetie gebel en vertel hy sal hom R100 gee as hy vir hom kom kuier. My ouers was toe al geskei. My boetie het saam met my pa gegaan na ’n huis waar my pa wou gehad het dat hy eers met die man se dogter slaap voor hy sy R100 mag kry. Hulle wou hom dwing, maar gelukkig het my boetie karate gedoen en hy het losgekom. Daar was drie mense wat hom probeer dwing het om by die meisiekind te slaap. My boetie het nou pas 32 geword en sukkel steeds om daaroor te kom. My sussie se foto was ook in die trommel en hulle het haar en my boetie seker ook probeer ontvoer.

“Ek is van kleins af ’n fighter. Ek sal baklei tot ons weet wat met die meisiekinders gebeur het.”

Die bekende foto van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff wat in die psige van Suid-Afrikaners ingegrif is.

Vicky sê sy weet nie regtig of haar storie gaan help sodat meer inligting oor die vermiste meisies na vore kom nie. “My pa is oorlede, so ek gaan nooit weet of hy betrokke was by die pogings om ons te ontvoer nie. Daar was sprake dat ouers hul kinders aan ’n pedofiel-seksring wou verkoop. Daar is nog nie genoeg bewyse nie. Maar kyk sy gesig en die sonbril. Dit was hý.

“Soos ek ouer geword het, het dinge bymekaargekom oor mense wat altyd by Barrel Inn was. My ervaring met Gert was in 1987, voor hy en Joey bymekaar was. Hy het in daardie tyd pruike gedra, hoor ek. Hulle moes van al die pruike ontslae gaan raak het. Daar was ook satanisme betrokke. Ek het kursusse gedoen by F.A. Havenga, ’n kenner van die okkulte, oor satanisme en hoe om mense daaruit te red.

“Daar was groter ouens betrokke by die ontvoerings, mense wat baie gevaarliker was. Daarom moet ek heeltyd oor my skouer kyk of ek nie agtervolg word nie. Ek is al deur groupies van die Van Rooyens uitgekryt as ’n tert wat daarvoor gesoek het. Ek was 11 jaar oud gewees. Ek het net in die sweets belanggestel. Dis al wat ek wou gehad het. Toe kry ek nie eens my lekkergoed nie.”

*Hierdie is ’n uittreksel uit Gert & Joey: Nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar deur Pieter van Zyl wat pas by Penguin Random House verskyn het.

Meer oor:  Joey Haarhoff  |  Pieter Van Zyl  |  Gert Van Rooyen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.