Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ek ken niks anders as my voete op die grond nie

Alfreda Mars was twintig toe sy voel haar kop staan grond toe. Vandag is sy gespeen van die staat en sy móét ’n plaas van haar eie hê, skryf Kobus Louwrens in hierdie uittreksel uit For the Love of the Land.

Met die hulp van ’n kernspan werkers, waaronder Jan Meyer (regs), boer Alfreda Mars vrou-alleen op die plaas Middelpos naby Moorrreesburg. Sy sê wit boere het haar met raad en daad bygestaan – tot so ’n mate dat sy vandag nie meer vir regeringshulp hoef te wag nie. Foto: Verskaf

Saron het twee Khoisan-groepe. Die een word die Bloed-Khoisan genoem en die ander een die Water-Khoisan. Die een baklei vir bloed wat op die grond geval het destyds. Ons Mars-familie het eintlik met die Water-Khoisan-beweging begin.

Ons het nou ’n eis ingedien vir 36 plase in die Ceres-area. Baie van hierdie plase het ontstaan as gevolg van die beskikbaarheid van water, en nou praat ek van vroeër jare – dis die sewentien- en agtienhonderds. Daar was water, en baie van die boere het nou maar gekom omdat daar water op die plase was. Dit het nie rêrig oor grond gegaan nie, maar hulle kon sien die water saam met die grond gaan vir hulle iewers bring.

My pa is gebore daai kant in die Ceres-Karoo-area en hy was 12 jaar oud toe die veldkornet hul plaas afgeteken het.

Wat ons gedoen het, veral ons jonger generasie, is om te gaan Ceres toe en nog van die ouer mense se kinders daar te kry wat agtergebly het en nog werk op daai plase. Ons het bietjie gaan gesels en gehoor. Daar het ons die informasie van die veldkornet af regdeur gekry tot by van die ouer gardes. Die veldkornet was die ou wat in charge was van die plase destyds.

My pa is gebore daai kant in die Ceres-Karoo-area en hy was 12 jaar oud toe die veldkornet hul plaas afgeteken het. Afgeteken – jy oorhandig die plaas, hulle het niks uitgekry daar nie. Dit was maar seker daai tyd ’n kleur-storie gewees, so in die 1930’s rond.

Dis toe dat hy op Saron aangekom het saam met sy pa en broers en susters. Hulle moes met 1 500 skape oor die berg trek – Saron toe. Hulle was net een suster en twee broers, en hy was die oudste. Die ander kinders is toe almal gebore op Saron. Vandag is ons iets soos 800 Marse. Dis hoekom die Khoisan-beweging ook so groot is.

For the Love of the Land, geskryf en byeengebring deur Kobus Louwrens en Ivor Price, het pas by Tafelberg verskyn. Foto: Tafelberg

‘Swart pas nie hier in nie’

En ja, daar’s my pa toe uit die skool ook, en toe’t hulle maar op Saron beginne boer en ’n huurhuis gekry by die eerwaardes van die sendingstasie.

Hulle moes alles agterlaat. Ons het nou nog so verlede jaar na die grafte en die goed gaan kyk daarso in die Ceres-Karoo, om te sien op watter plase baie van hulle voorvaders se grafte nou nog lê – my pa se ooms en grootouers wat ons mos nou nie ken nie.

My oupa was Duits. Hulle was vier broers. Die een het uitbeweeg en met ’n wit vrou getrou en in die Strand gaan bly. Daar’s verskriklik baie Marse, en dis ’n hele mengsel van allerhande soorte, en daai mengsel het toe daar ontstaan. Die ander een het ’n swart vrou gaan vat in die Villiersdorp-gebied. Nou lag ons altyd as ons bymekaarkom, die 800 van ons, want daar is nou ’n lot wat sommer donker is – dan weet jy sommer dis daai broer se kinders wat van Villiersdorp, Caledon en Bredasdorp se wêreld kom.

Ons almal verstaan ons agter-agter-oumagrootjie was Khoisan.

Ceres se span is nog van die oorspronklikes waar my oupa ’n Khoisan-vrou gevat het. Ons het glad nie foto’s van haar nie.

Vandag kom almal eintlik oor die weg, maar daar was nogal van die ouer spanne – soos die spanne wat nou 90 is – wat nie so lekker wil weet van hoe divers hulle is nie. Die oumense byt nie graag aan daai nie. Die ouer mense glo daaraan wit is wit, en ons bly by daai deel. Swart pas nie hier in nie, so ons gaan nie met die swart meng nie.

Maar ons verstaan mekaar nogal redelik wat betref die Khoisan-deel. Ons almal verstaan ons agter-agter-oumagrootjie was Khoisan. Ons kan niks daaraan doen nie, so dis waar ons met die beweging begin het.

Saaiboer Alfreda Mars is nie bang om haar moue op te rol op haar sowat 160 hektaar koringlande nie. Sy is gewoond aan plaaswerk – vandat sy kleintyd op haar pa se plaas in Saron gehelp het om ertjies te oes. Foto: Verskaf

‘Dit moet nou maar ’n boervrou raak’

My oupa het toe mos geboer op die meentgrond wat die Rynse Kerk daai tyd verhuur het. Toe Saron later ’n bestuursraad kry, toe’s my pa nou net mooi ’n jong man en toe’t hy my oupa se grond oorgeneem en met ertjies begin boer.

My pa het op daai stadium 150 hektaar gehad en hy voorsien toe ertjies aan die fabriek op Tulbagh. Hy het groot lande ertjies gewerk daai tyd. Ek het grootgeword in ’n huis waar daar geboer was. Dis al wat ek geken het.

Daar was niks broers nie en toe ek uitdop toe besluit hy sommer dít moet nou maar ’n boervrou raak.

Toe ek gebore word, toe is my pa amper 60. Toe het hy al amper ’n leeftyd van boer agter die rug.

My ma was sy derde vrou en ek en my suster was sy enigste kinders. Daar was niks broers nie en toe ek uitdop toe besluit hy sommer dít moet nou maar ’n boervrou raak.

Hy het my omtrent gedryf, daar was nie nog omkyk-kans nie. Ek was nogal gewillig en het dit half geniet, maar my suster het glad niks belangstelling gehad nie.

Van ek ses jaar oud was het ons die ertjies uitgedop en in sakke gegooi en gehelp volmaak. En as dit planttyd is, dan’t ons die ertjies help plant. Dit was baie hande-arbeid. Ek kan nie dink dat daar nie ’n masjien was daai tyd nie!

Daar was nie nog baie tyd vir speel nie. My ma het my maar altyd kom haal en gesê die kind moet nou eers weer huis toe kom. Ons speelplek was die leivore wat die bergwater afbring. Toe hulle later jare teerpaaie bou het ons baklei dat hulle ’n sement-voor bou sodat die leiwater kan bly loop.

‘Die boerdery prikkel nie by haar nie’

My pa was ’n goeie groenteboer. Hy het diere gehad, (skaap en bees) maar hy het geglo in sy groente.

Hy het ’n goeie lewe gemaak uit die boerdery uit. Ek kan nog onthou my pa kon uit sy vee uit vir hom ’n splinternuwe Hilux loop koop, uit die boks uit. Ons het die eerste telefoonlyn op Saron gehad. Ja, ons het so ’n bietjie uitgestaan in die dorp as gevolg van die boerdery.

Ná matriek het ek nie gaan studeer nie. Daar was ’n baie sterk landbouvereniging op Saron met 120 lede, en sedert 1994 was daar baie klein projekkies. Daai tyd was dit die LDU – Land Development Unit – en hulle was baie betrokke by grondhervorming. Ek raak toe betrokke by die landbouvereniging en ek was sekretaris daar vir 12 jaar.

My ma sê nou nog vir my: “Jô, ek weet nie hoe het jy al hierdie goed reggekry nie.”

Op skool was ek ook redelik betrokke. Miskien moet ek net vir jou noem dat ek skool gelos het toe ek 16 was. Swangerskap. Dit was nou ’n gróót storie.

Maar ek was nie rêrig ’n dropout nie. Ek het eers vir my ouers gesê in Novembermaand – toe skryf ek nog eksamen. En toe word hierdie kindjie gebore in Januariemaand. Februariemaand toe’s ek terug skool toe. So dit was net ’n maand en my ouers was baie ondersteunend.

My ma sê nou nog vir my: “Jô, ek weet nie hoe het jy al hierdie goed reggekry nie.” Maar dit was goeie leierskap-vaardighede wat my gehelp het.

Dis ook een van die redes hoekom ek besluit het om nie verder te gaan studeer nie, want ek het toe ’n dogtertjie wat ek moet versorg. Ek besef toe ek moet nou maar in ’n besigheid klim of iets anders begin doen wat ’n inkomste genereer – vir myself en sodat ek my kind en my ouers kan help onderhou.

Vandag is my dogter, Fallon, 29 jaar oud. Sy het pas haar LLB-graad klaargemaak. Daar was nie ander kinders nie. Sy is in die Kaap, ’n kantoormens. Die boerdery prikkel nie by haar nie.

Alfreda Mars, oorspronklik van Saron, se pa en oupa was albei boere. As ’n leier onder nuwe kommersiële boere in die Wes-Kaap sit sy die Marse se tradisie voort. Foto: Verskaf

‘My kop staan grond toe’

In elk geval, deur die landbouvereniging het ek by die ANC betrokke geraak. In daai stadium was almal mos grondhonger. Die boere reg rondom ons was baie ondersteunend en baie van hulle wou van hulle plase verkoop – van die manne wat nou drie of vier plase gehad het.

Ons het aansoeke ingedien by die Landboukredietraad, maar net een van die 24 plase het deurgekom. Die verbande kon nie geregistreer word nie, want die mense het nie sekuriteit gehad nie.

Onthou, Saron se mense het mos gehuur by die Rynse kerk, die huise was nie hulle eiendom nie. Net hier en daar was sterk sakemanne wat verbande kon kry. My pa het ’n winkel gehad wat baie goed gedoen het daar in die skema-gebied in Porterville. Dit was een van die goed wat ek toe as sekuriteit kon gebruik.

Daai plaas se naam was La Gratitude. Die ouens wat hom gekry het, het niks kennis van administrasie gehad nie. Hulle het niks kennis oor die boerdery gehad nie en hulle networking was nie daar nie.

Toe makeer hulle mos nou mense wat vir hulle kan help, want ons sien toe hulle gaan dit nie maak nie. En ons wíl dit laat werk, want hel, wat help dit ons het hiervoor baklei? En hier sit ons toe nou met ’n plaas waarmee die staat gehelp het en met hierdie mense wat hulle op die grond gesit het.

Ek het nou nog die houding dat jy besigheid nie kan meng met plesier nie.

Een aand in ’n vergadering het ek gesê: “Raait, ek sal saam met julle daar inklim.” Ek weet tot vandag toe nie waar die gedagte vandaan gekom het nie.

Ek is toe twintig en ek voel my kop staan grond toe.

Daardie projek het nogal lank geloop, vir 12 jaar. Dit was ’n plaas van iets soos 1 300 ha by Gouda. Dit was ’n bergplaas, maar jy kon goed boer op hom – met vee en bietjie saaiery en hy’t water gehad.

Maar toe begin daar issues kom tussen die ses lede van die beslote korporasie. Van die lede het gevoel hulle werk hard en as daar geld inkom aan die einde van die jaar moet dit verdeel word. En hoe gaan jy dan nou voort?

Ek het nou nog die houding dat jy besigheid nie kan meng met plesier nie. Jy kan nie die geld vat en dit vir jou plesier gebruik nie. Jou besigheid is jou besigheid en dit bly eenkant.

Middelpos

Die plaas is toe verkoop, en die skuld moes betaal word by die Landboukredietraad en die res is verdeel. Daar was nie veel wat ons uitgekry het nie.

Daarvandaan is ek glad na ’n saagmeule toe, want ek kon nie ’n plaas op my eie bekom nie. Ek het vir nege jaar as bestuurder in ’n saagmeule in Tulbagh gewerk, en tussendeur maar nog aangegaan met my pa se boerdery in die dorp. Dit was nie baie suksesvol nie, want jy kan nie werk en nog ’n boerdery bedryf en daar’s niemand wat help nie. My pa is toe al oorlede. En, ek meen, ek het hierdie kind wat moet gesôre word en my ma moet versorg word.

Die staat se fondse het nie dadelik deurgekom nie, maar ons het besluit om nie daarvoor te wag nie.

Ek het ’n vennoot gehad – of ’n life partner eintlik – ons was nooit getroud gewees nie. Evan was een van my partners by La Gratitude en hy het baie in die landbou belang gestel. En toe op ’n dag sê hy vir my die staat het nuwe projekte – ons moet ons name opsit. Ons het aansoek gedoen vir ’n plaas, maar dit het deur die mat geval.

In 2011 hoor ons hierdie plaas in Moorreesburg is in die mark, en ons sit ons naam op. Ons het gegaan vir vele onderhoude. Jy moet soort van ’n besigheidsplan indien, en dan moet jy kan bewys waar jy voorheen geboer het. Die staat soek mense met ervaring sover hulle kan, maar ek dink hulle wil meestal maar net getalle op die grond sit.

In 2013 hoor ons toe ons het die plaas, Middelpos hier by Moorreesburg. Die staat se fondse het nie dadelik deurgekom nie, maar ons het besluit om nie daarvoor te wag nie. Ek het trekkers gehad en Evan het trekkers gehad. Ons het niks geweet van saaiboerdery nie, want ons is groente- en veemense, maar toe begin ons maar boer op die plaas.

Die staat se fondse het eers twee jaar later deurgekom. Hulle het aanvanklik vir ons ’n vyf-jaar-huurooreenkoms gegee en toe skop ’n verdere 30 jaar in. Ongelukkig het my partner toe verlede jaar afgesterwe. Nierversaking. En nou is ek alleen op daai plaas.

“Ek is so grondhonger dat ek grond van my eie móét besit,” vertel Alfreda Mars. Foto: Verskaf

Die manne groet nie

Vandag kry ek baie ondersteuning van die kommersiële boere hier rondom my. Hulle help baie met implemente en inset-goedjies. Maar aan die begin het dit regtig gevoel die mense wil ons nie hier hê nie, hier gaan ons nie pale haal nie. Die manne groet nie, hulle ry vir jou dat die stof so staan. Jy kannie eens sien deur jou windscreen so ry hulle vir jou nie. Dit was een van die moeilikste goed om mee vrede te maak.

My buurman, Loffie, het sommer reguit gesê die staat is net met gemors besig, en hulle kom sit gemors ook nog neer hierso, en sulke klas van goed.

Hulle was almal bekommerd oor wie kom sit die staat nou daar neer. Middelpos was van die eerste plase in die area wat deur die staat gekoop is. My buurman, Loffie, het sommer reguit gesê die staat is net met gemors besig, en hulle kom sit gemors ook nog neer hierso, en sulke klas van goed. Dit was terrible gewees.

Reg aan die begin toe is ek en Evan eendag op die plaas saam met twee ouens van Grondsake. En daar kom Loffie aan en hy dink ek en Evan werk vir Grondsake en die twee swart ouens is die begunstigdes. Hy het omtrent gal gebraak! Nou, so twee, drie jaar terug, staan en praat hy daar by ons op die plaas en hy sê: “Weet jy, ek kon mos in die grootste moeilikheid gewees het, julle kan vir my gaan aankla het.” Toe sê ek: “Ja . . .”

Maar kyk watter goeie buurmense is ons nou.

‘Dis wie ek is’

Een ou aan die oorkant van die pad het een oggend daar verbygekom – toe is ons nou besig om koring te plant daar, die heel eerste jaar. En die ou kyk die besigheid so, en hy stop en hy sê: “Julle kan maar oppak (sorry vir die woord nou) hier sal f*kk*l van daai koring kom nie.”

Ek het net vir Frans so gekyk en ek het hom nie eens ’n antwoord gegee nie. En toe draai hy sy ruit op en hy ry aan.

Vandag is Frans my adviseur en ons braai eintlik saam. Ons braai saam, kuier saam, kyk rugby saam.

Ek sê: “Frans, dis wie ek is, ek kom uit Saron uit. Jy laai jou werksmense daar op, dis waar ek bly...

Maar hy was reg oor daardie koring! Toe ons oes, daardie eerste oes, toe is dit nou nie wat ’n mens sou verwag nie. Bietjie laat geplant, als was nie in plek nie, die spuitprogram was nie reg nie, so die opbrengs was nie baie goed nie.

Toe, die volgende jaar, toe besluit ek ek gaan ry na Frans toe. Evan wil toe nog van niks weet nie. Hy sê: “Daai boer kan in sy dinges vlieg.” Maar ek sê: “Nee man, vandag ry ek na hom toe.”

Toe gaan ek en toe stel ek my voor. Ek sê: “Frans, dis wie ek is, ek kom uit Saron uit. Jy laai jou werksmense daar op, dis waar ek bly. Kom kyk waar ek bly, vind bietjie uit by daai Saronners waarvan ek aankom. Kan ons nie maar oor die weg kom nie?”

Elke mens het ’n storie

Best buddies aan die einde van die dag.

En toe kom dit uit dat Frans sy plaas verloor het in Riversdal. En dis waar daai haat en daai nyd en daai alles vandaan kom, want hy het alles verloor daai kant en toe moet hy hierdie kant toe kom – en nou sukkel hy om als op te bou. So, elke mens het ’n storie.

Almal praat nou van die sukses van Middelpos, want die vorige eienaar het nie geboer nie. Hy was ’n gifsmous en sy vrou was ’n verpleegster. Hulle is vreeslik opgemaak met hoe Middelpos gegroei het. Maar dit het tyd gevat om tot daar te kom, dit het tyd gevat om daai verhoudings op te bou.

Vandag het ek nie meer tyd vir die politiek nie. Ek is verkies tot Graan SA se bestuur en hulle wou my ondervoorsitter maak, maar ek het nie tyd nie. Ek help nog graag waar ek hoor van nuwe boere wat in die moeilikheid is – ons het so ’n WhatsApp-groep. By ons is daar mos altyd ’n bietjie politiek betrokke by hierdie goed.

In 2017 is ons ingeroep deur Grondsake, en toe sê hulle: “Julle moet net onthou, die plase gaan teruggeneem word...ons moet swartmense op die plase sit.”

As jy wil positief op die grond wees en daar wil bly, dan sal jy ook maar rêrig verby die politiek moet kyk. Jy gaan nêrens kom as jy in die grond vaskyk nie, dit het ek ook nou al mettertyd geleer. Ek het geleer dis beter om ’n besigheidsmens op die grond te wees as om te fokus op hierdie dinge.

Weet jy, ek het nie eens in die laaste verkiesing gaan stem nie, en dit klink vir my daar is baie van onse boere wat nie gestem het nie.

Ek dink dís waar dit begin het met my: In ’n stadium toe was die grondonteiening sommer op al die plase van toepassing. In 2017 is ons ingeroep deur Grondsake, en toe sê hulle: “Julle moet net onthou, die plase gaan teruggeneem word, daar’s nie ’n ander manier nie, ons moet swartmense op die plase sit.”

Hulle sê toe daar is te veel bruin mense in die Wes-Kaap. Ons het baklei, ons het dokumente ingestuur vir hulle sodat hulle kan sien die demografie van die Wes-Kaap is bruin, so hoe anders moet dit dan nou gedoen word?

En dan bou die ding maar op. Waar pas jy nou rêrig in? Ons het so baie moeite met die plase gedoen – wat word aan die einde van die dag dan van jou? Ek meen, jy boer nie oordat dit lekker is op die grond daar nie. Jy boer want dis ’n besigheid wat jy bestuur. Dis nie net om grond te hê nie, want almal kan grond hê, ons kan vir almal grond gee. Dit gaan oor hoe jy dit bestuur.

‘Ek kan nie wag vir die staat nie’

Dit is hoe ek voel oor die politiek. Daar is nie ’n plekkie vir ons onder die son nie. Niemand gaan dit vir ons gee nie.

Ek het opgehou wag en staatmaak op die staat vir insette. Omdat ons aan die begin ons eie geld en goed gebruik het, het ek ’n voorsprong. Ek kon verlede jaar my eie koring plant en hierdie jaar kon ek my eie koring plant. Ek het net daai besluit geneem.

Ek sou dit nie kon gedoen het sonder my wit buurmense nie! Hulle het vir my gesê moenie wag nie. As ons saans nuus kyk, dan sien ons. Daai geld droog op, ons moenie wag daarop nie. “Praat liewer met ons hier in die rondte, dat ons vir jou help op jou voete bly,” het my buurmense gesê.

Ek is so grondhonger dat ek grond van my eie móét besit.

En dis wat ek gedoen het. Dis nou my tweede jaar. Ek kan nie wag vir die staat nie. Ek het myself gespeen, as ek nou so mag sê.

Ek is in die proses om ’n plaas te koop omdat ek nie meer vir die staat wil wag nie. Ek is so grondhonger dat ek grond van my eie móét besit.

Ek kan nie groei met Middelpos nie. En die staat wil net meer mense op die grond sit, hulle wil nie besighede uitbrei nie. Dis ’n huurplaas daai, so ek voel ek wil my eie grond hê.

Die grond lê baie naby aan my hart, want ek behoort aan die Khoisan-beweging ook. Ons baklei die hel uit vir grond. Ons is daarmee gebore en ons het grootgeword daarmee.

Ek ken niks anders as my voete op die grond nie. Dit lê binne-in my hart in. Daar is niks wat die kamers skei daar nie.

Ek voel as ek aftree moet ek my eie grond hê, dan’s die hongerte verby.

*For the Love of the Land, saamgestel en geskryf deur Kobus Louwrens en Ivor Price, het pas by Tafelberg verskyn.

*Louwrens is ’n bekroonde oud-joernalis. Hy en Price is medestigters van FoodForMzansi.co.za.

Meer oor:  Kobus Louwrens  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.