Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ek was klein in die konsentrasie-kamp

Dié verhaal is net die persoonlike herinneringe van ’n jong meisie van 14, skryf Maggie Jooste.

Die Jooste- en Brill-gesin in die Howick-kamp. Agt
Die Jooste- en Brill-gesin in die Howick-kamp. Agter staan die skrywer van hierdie artikel, Maggie Jooste, haar ma, Anna, met die baba Gertina wat later aan koors gesterf het, Susie Brill en Robert Jooste. In die middelste ry is Johannes Brill, James Jooste en mev. Brill. Voor sit die Brill-dogtertjie en Hettie en Dolly Jooste. Foto: Graham Jooste

Die laaste maande van 1901 was onbeskryflik bitter vir Ma.

Ons almal was baie siek en die lyding ondraaglik. Ons het steeds geen dokter of hulp gehad nie. Net ’n beperkte getal siekes kon opgeneem word in die paar tente wat as hospitaal moes dien. Daar was elke dag ’n lang stoet van wenende vroue met swart houtkissies wat na die begraafplaas gedra is.

Ons liewe klein Gerrie was baie siek aan skarlakenkoors.

Ek onthou nog hoe daar agter op haar ruggie ’n oop gat was so groot soos ’n tweesjieling-muntstuk. Daar het gedurig vuilgoed uitgesweer tussen die rugwerwels en dit het baie sleg geruik. Ek moes maar gedurig die lappe en kleertjies uitwas om dit so skoon moontlik te hou.

Die nag van 13 Desember is sy uiteindelik van haar lang lyding verlos. Sy was ’n jaar en nege maande oud. Tant Nonnie en Katie het die hele nag gehelp. James en ek het soos gewoonlik onder die tafeltjie op die grond geslaap. Gerrie se liggaampie, uitgeteer en maer, het op die tafel bo ons gelê.

Ek en Ma het elkeen vreeslike swere aan ons bene gehad.

Die volgende dag het die tannies my gehelp om ’n kissie van plankies te maak. Ma het ’n paar jaarts moeselien (kaasdoek) laat koop en vir haar ’n mooi wit doodskleedjie gemaak en ook die kissie binne en buite daarmee oorgetrek. Vir ons was dit vreeslik om ons liewe klein sussie aan die dood te moet afgee. En tog was daar ander gesinne waar nie ’n enkele een oorleef het nie. Ons ander was almal baie siek. Net ek en James kon darem loop om haar begrafnis by te woon.

Twee Kakies het die lykie op ’n draagbaar kom haal en na die “dodetent” geneem. Dis waar al die gesinne van die gestorwenes bymekaargekom het. Daardie dag was daar sewe wat na die kerkhof gedra moes word. Dit was ’n ver ent om te loop. Ds. Van der Horst kon net ’n paar woorde by elke oop graf sê voordat dit toegegooi is. So het ons haar toe vir altyd vaarwel gesê. Daar was niks waarmee ons haar rusplekkie kon merk nie. Later het Ma ’n ou stuk klei gekry en met ’n skerp spyker haar naam daarop geskryf. Die meeste grafte is maar so gemerk. Haar graf was binne ’n paar jaar so met gras toegegroei en verspoel dat ons nie met sekerheid kon sê presies waar sy weggelê is nie.

Daardie dag was vir Ma onvergeetlik want Robert, Dolly en Hettie was al drie ook ernstig siek. Dolly het ook skarlakenkoors gehad en haar hart was baie swak. Dit het gelyk of sy enige oomblik kon sterf. Arme Hettie het voortdurend ondraaglike pyn gehad en ’n baie hoë koors. Eers jare later het dokters vasgestel dat sy kinderverlamming (polio) gehad het. Robert was ernstig siek met ingewandskoors en maagkoors. Die ou kampdokter het gemeen hy sou dieselfde nag sterf en het gesê hy moet dadelik na die tentehospitaal geneem word.

Die Howick-konsentrasiekamp. Foto: www.boers.co.z
Die Howick-konsentrasiekamp. Foto: www.boers.co.za

Dink net hoe dit vir Moeder moes gewees het – sy kon nie eens die lykie van haar dierbare dogtertjie vergesel nie, want sy moes saam met Robbie gaan. Twee Kakies het hom op ’n draagbaar gedra en sy moes hom op ’n bedjie op die vloer van die hospitaaltent alleen agterlaat.

In ons tent het Dolly en Hettie gelê, albei uiters ellendig. ’n Paar tannies het by hulle gebly. So moes Ma terug aansukkel saam met my en James. Ons verdriet en angs en lyding was ondraaglik. Al medisyne tot ons beskikking was steeds die bietjie gekleurde water uit die emmer. Dit was in hierdie tyd dat ons Pa se eerste brief ontvang het en gehoor het dat hy ook gevange geneem is. Party van ons burgers is benewens Bermuda ook na Portugal, Indië en Ceylon weggestuur.

Ongelukkig het James kort voor Gerrie se dood sy een voet baie seergemaak terwyl hy hout gekap het. Ons het geen ontsmettingsmiddel gehad nie en ons liggame het geen weerstandsvermoë gehad nie, dus het dit baie lank geneem om te genees.

Ook ek en Ma het elkeen vreeslike swere aan ons bene gehad. Een het aan haar linkerbeen voor op die skeen ontwikkel. Aangesien ons nie skoon verbande en al die nodige middele gehad het nie, wou dit nie genees nie. Ek kry toe op presies dieselfde plek op my linkerbeen ook een. Dit was erg pynlik en later was daar 13 swere aan die been tot hoog bo by my heup. Die merke sit vandag, ná 60 jaar, nog aan my been. Die been het erg geswel en dit was pynlik om te loop. Dis hoekom dit vir my en James so swaar was om die lang ent met ons sussie se begrafnis te loop, en ook vir Ma om saam met Robbie tot by die hospitaaltent te loop.

Ons is nooit toegelaat om Robbie te gaan besoek nie omdat daar so baie aansteeklike siektes was. Ek kan nie meer onthou hoe lank hy daar was nie, maar uiteindelik het hy weer na ons toe teruggekom.

Die Hospital-spoorweghalte naby die Howick-kamp.
Die Hospital-spoorweghalte naby die Howick-kamp.

Teen die einde van 1901 het ’n ander aaklige toestand in die kampe aan die lig gekom. Ons kinders is nooit heeltemal deur die grootmense ingelig oor wat aangaan nie. Ek kan net onthou dat daar tussen ons kamp en die ander kamp ’n breë laagte was. Ons kampe het op twee bulte gelê met die skuins laagte tussenin waarin die water gewoonlik afgeloop het. ’n Hele klomp ronde Bell-tente word toe daar opgeslaan.

Daar was mense in, maar ons is ten strengste verbied om naby hulle te kom. Ds. Van der Horst en Ma het baiekeer daarheen geloop en in al die tente met die mense gepraat en vir hulle gebid. Toe vind ons uit dat dit almal vroue en jong meisies was wat kinders van die Kakies verwag het. Ek het nooit met Ma daaroor gepraat nie en wonder nou nog wat die doel van die kamp was.

Daar was ook gedurig wagte, hoewel dit ook binne die doringdraadomheining was. Ons het toe gehoor hoe dit ’n paar keer gebeur het as die predikant en Ma die tentdeur eenkant oopmaak, hulle sien hoe ’n paar Kakiebene aan die ander kant onder die tent se seile uitkruip.

Dit was so ’n skandvlek op ons edele vroue en meisies se name dat ek nooit daarna weer daarvan gelees het nie. Toe ek ouer was het ek baiekeer gedink wat ’n bitter smart dit vir die burgers moes wees om ná al hul lyding en opofferings hul vrou of dogter terug te kry met ’n buite-egtelike kind – en dit van die vyand. Miskien moes ek dit ook maar verswyg het, maar dit bly my nog so helder voor die gees.

So het daar weer vir ons ’n ander krisis aangebreek. Ek dink dit was vroeg in 1902. Ma se been het so erg geswel en gepyn dat die ou kampkommandant, dr. Hunter, gesê het hy dink die been moet afgesit word.

Die gedagte het my byna mal gemaak en ek wou my doodhuil.

’n Vergete verhaal

Dié verhaal is nie ’n geskiedkundige verhaal nie, net die persoonlike ondervinding van ’n jong meisie van 14 jaar.

“Ek is nou 76 jaar oud en skryf maar bewerig en skryf dus net wat ek werklik onthou van my jong dae.”

So skryf Maggie Jooste in 1962 in die inleiding tot haar oorlogsherinneringe. Dié manuskrip het vir byna 60 jaar op ’n boekrak bly lê totdat haar familie dit onlangs herontdek het.

Dit word nou vir die eerste keer deur Tafelberg gepubliseer as  Maggie: My lewe in die kamp.

Dié artikel is ’n geredigeerde uittreksel.

Ek het nog vir ds. Van der Horst gaan vra wat moet ek doen? Hy het toe aan Hunter voorgestel dat hy (die dominee) vir Ma op sy verantwoordelikheid na ’n ander dokter sou neem.

Hy het Ma toe na ’n hospitaal in Pietermaritzburg geneem.

Ek kan nie onthou hoe hulle Ma by die stasie gekry het nie, seker op ’n draagbaar. Die hospitaal was naby ds. Rousseau se pastorie. Daar was ’n Franse dokter, Dumas. Net hy en die matrone kon Engels praat, verder was die hele personeel Rooms-Katolieke en het Frans gepraat. Die dokter was ontsteld om Ma se been te sien en het gesê hy moet dit dadelik afsit. Hy wou toestemming van die naaste familielid hê – en dit was ongelukkig ek.

Vroeg die volgende môre was ds. Van der Horst weer terug in die kamp. Hy het na ons tent toe gekom om aan ons vyf kinders die nuus oor Ma se been te vertel. Ek was vreeslik ontsteld, maar moes gou regmaak voordat die trein vertrek.

Daar was niks om in te pak nie, want alles wat ek besit het, was aan my lyf. Ek het gou vir tant Nonnie Human gevra om na die vier kinders om te sien. Voor ek weg is, het ek hulle belowe dat niks my op Pietermaritzburg sal hou nie.

Daar gekom het die dominee vir my 6 pennies gegee en tot by Ma in haar kamer gebring. Sy was op die derde verdieping en dit was vir my bitter om met my stywe been tot daar te klim. Dominee het toe gegroet en is terug na die Howick-kamp.

Treinry was meestal met goederetreine en het soms ure geduur.

Ek was baie bly om Ma te sien. Sy het vir my tog te pragtig gelyk, skoon gewas, met haar sneeuwit hare in twee groot vlegsels en in ’n heerlike, skoon bed.

Intussen het van die Katolieke verpleegsters ingekom en begin vrae vra, maar ons kon mekaar nie verstaan nie. Ma beduie vir hulle van my been en daar en dan kry hulle my beet en ek is tog te vriendelik met hulle. Hulle was verbaas om al die sere aan my bene te sien en het dit baie mooi skoongemaak.

So word ek toe ook heerlik van kop tot tone geskrop en met ’n yslike groot wit naghemp aan in die ander bed gesit.

Ek en Ma het aanmekaar gesels.

Sy vertel toe dat die dokter baie simpatiek is teenoor die vrouegevangenes en al die verpleegsters ook baie gaaf is. Ook die kos is baie lekker en goed.

Ek het gesê Ma moenie haastig wees om terug te kom nie want tannie Nonnie en dominee sal ons goed versorg. Toe kom ou dr. Dumas self in en wou toe alles van Ma weet. Ek het hom van ons behandeling en min mediese hulp vertel – iets wat Ma nooit sou doen nie. Hy sê toe wat hulle wou doen, maar ek het so driftig daarteen geveg en was so ontsteld dat hy belowe het om nog vir ’n ruk te probeer om die been te red.

Hy het gesê hy sal my in elk geval weer sien, want hy wil my been ook behandel. As ek ’n soet dogtertjie is, mag ek by Ma in dieselfde kamer bly, het hy bygevoeg. Die gedagte dat ek miskien in ’n ander kamer sou moes gaan lê met net die ou Katolieke nonnas om my, het my daar en dan laat besluit wat om te doen.

Ek het Ma uitgevra oor wat ek moet doen as ek miskien voor haar weer by ons tent kom. Ons het ook gesels oor hoe hulle Ma se been behandel. Sy wys toe vir my al die goeters wat daar op ’n rakkie teen die muur hang. Die pille word so en so gebruik, dan word van daardie goed in soveel water gegooi en die been gewas. Dan word met dié kwassie van daardie goed rondom die wond aan die dik geswelde rif geverf.

Dit is om daardie vleis dood te brand sodat die kwaad nie kan sprei nie. En elke aand word van daardie salf op daardie gaaslappies gesmeer en op die wond gesit en met daardie verband styf toegedraai.

Hulle het my been toe net so behandel en ek het goed opgelet.

Toe kry ons ons middagete, elkeen op ’n skinkbord. En ek sê vir Ma dis regtig die moeite werd om ernstig siek te word net om so heerlik behandel te word! Nadat ons klaar geëet het, het Ma haar medisyne gedrink en dit het seker gehelp dat sy so vas geslaap het.

Toe ek sien dat sy my nie sou hoor nie, het ek van die bed gegly, my klere aangetrek en toe ’n klein “gladstone bag”, ’n tassie wat bo toeknip en baie sterk was, gekry. Dit het aan ons behoort.

Ek het die bottels met die verband en watte toegedraai en versigtig in die tassie gepak. Die tassie was groot genoeg sodat ek alles wat daar was kon inkry.

Ek was baie hartseer toe ek vir Ma ’n soentjie gee, want ek het nie geweet of ek haar ooit weer sou sien nie. Aangesien dit ná ete slaaptyd vir die pasiënte was, was dit betreklik stil in die gange.

In die gang het ’n dame op ’n stoel gesit en ek het haar gevra na watter kant ek moet loop om by die trap na die voordeur te kom. Sy beduie toe vir my. Toe ek later vir Ma daarvan vertel, sê sy dit was mev. Jannie Smuts.

By die eerste trap het ek op my sitvlak met die swaar tassie afgeskuif van een trappie na die volgende. By die tweede trap loop ek my teen ’n Katolieke nonna vas. Sy beduie ek kan nie ingaan nie, dit is nog nie besoektyd nie.

Met ’n baie onskuldige laggie wys ek met my vinger na ’n klein horlosie op haar bors en steek vraend vier vingers op. Sy skud haar kop en steek drie vingers op: Dit is nog te vroeg vir besoek. Toe tel ek maar weer die swaar tassie op en sukkel die trap af na die voordeur. Daar staan ek toe buite en wonder waarheen nou?

Toe ek ons kerk se toring sien het ek geweet hoe om by die hoofstraat te kom. Daarna moes ek die lang straat afstap na die spoorwegstasie. Daar gekom was ek so bly om Josephine, ’n ander meisie van ons kamp, te sien. Sy het kom inkopies doen en vir ’n trein gewag.

Meer oor:  Maggie Jooste  |  Howick  |  Maggie: My Lewe In Die Kamp  |  Abo  |  Uittreksel  |  Geskiedenis  |  Oorlog  |  Konsentrasiekampe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.