Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ekologiese ramp tref ons dalk gouer as verwag

Die invloed van klimaatsverandering kan al 70 jaar vroeër as verwag tot die uitsterf van dierespesies lei, skryf Elsabé Brits oor die skielike ekologiese ontwrigting wat op ons kan wag.

Reënwoude, soos dié in Brasilië, sal die swaarste deur klimaatsverandering getref word. Foto: William Anderegg, Princeton Environmental Institute

Terwyl die planeet se klimaat al warmer raak, word spesies tot die uiterste van die temperatuur-nis gedruk waarin hulle gemaklik kan voortbestaan.

Hoe lank sal hulle nog kan uithou?

’n Span kundiges het onlangs ’n raamwerk opgestel vir meer as 30 600 gewerwelde spesies op land en in die see, wat ongekende hoë temperature sal ondervind.

Dié navorsing, wat in die vakjoernaal Nature gepubliseer is, was onder leiding van dr. Christopher Trisos van die Afrika-klimaats-en-ontwikkelingsinisiatief aan die Universiteit van Kaapstad, dr. Cory Merow van die Universiteit van Connecticut en dr. Alex Pigot van University College London.

Hulle het die jaarlikse klimaatinligting van 1850 tot 2005 gebruik om die warmste gemiddelde temperature vir voëls, soogdiere, reptiele, visse, ander mariene en amfibiese diere te bereken.

Mense dink dinge sal eers in 2100 drasties verander, maar die studie wys dat dit so gou as 2030 al kan begin gebeur.

Daarna is klimaatprojeksies tot die jaar 2100 gedoen om te probeer bepaal watter spesies binne elke 100 km² wêreldwyd vir ’n tydperk van minstens vyf jaar temperature sal ervaar wat warmer is as dit waarin hulle kan oorleef.

Die bevinding is dat ’n skielike versteuring in die biodiversiteit in talle ekologiese gebiede terselfdertyd die lot van verskeie spesies sal wees. Dit kan reeds in 2030 gebeur, veral in tropiese oseaan-gebiede. Dit kan teen 2050 in tropiese woude en plekke met matige temperature gebeur.

Dit is kritiek dat die temperatuurstyging onder 2 °C gehou word, want dit is reeds 2 °C hoër as wat dit voor die nywerheidsera was.

Trisos sê mense dink dinge sal eers in 2100 drasties verander, maar die studie wys dat dit so gou as 2030 al kan begin gebeur.

“Indien die hoë koolsuurgasvrystellings voortgaan . . . dan absoluut ja, skielike ineenstortings kan veel vroeër gebeur as wat ons gedink het.”

Beheer klimaat of . . .

Koraalriwwe verbleik en gaan dood weens te hoë temperature in die oseane. Foto: NOAA

Historiese temperatuurmodelle en inligting van waar spesies voorkom, het die toestande aangedui waaronder elke organisme kan oorleef. Sodra temperature in ’n gegewe gebied styg tot ’n vlak wat die spesifieke spesie nog nooit beleef het nie, verwag wetenskaplikes dat dit uitgewis sal word.

Altesame 73% van die spesies wat voor 2100 aan onuithoudbare temperature onderwerp word, sal gelyk dié drumpel oorsteek. Die ineenstorting sal dus eensklaps en tegelyktydig wees.

Indien die temperatuur met 4 °C styg – die ergste scenario – sal onherstelbare skade aangerig word en die ekostelsel sal nie kan funksioneer nie.

Daar is veel meer spesies wat in die eerste helfte van die 21ste eeu ’n gevaar loop as wat voorheen gedink is. Die risiko vir ’n ineenstorting bou ook nie stadig op nie, maar kan binne tien jaar van ’n lae risiko tot ’n hoë risiko oorgaan.

Die navorsing wys ook dat hele ekostelsels, en nie net individuele spesies nie, bedreig word.

Hoe warmer dit word, hoe erger is die verlies. Die verlies sal uiteraard al minder word as die klimaat beheer kan word.

Die navorsing wys ook dat hele ekostelsels, en nie net individuele spesies nie, bedreig word. Dit sal mense regstreeks raak.

Die seelewe in die tropiese Indiese en Stille Oseane kan ineenstort. Op land verkeer hele gemeenskappe van spesies in Indonesië, die noorde van Australië, Indië en die Amasone in kommerwekkende gevaar.

In Afrika is die Sahel-streek, ’n groot gebied net suid van die Sahara, die Kongolese reënwoud en die tropiese Indiese en Atlantiese Oseaan in gevaar.

Trisos sê in Suid-Afrika is daar verskeie plekke wat veral vinnig biodiversiteit kan verloor. Dit sluit die hele kusgebied vanaf Kaap Agulhas tot by Mosambiek in, en in die binneland die westelike dele van die Wes-Kaap tot by die grens met Namibië, asook die hele Noord-Kaap en dele van die Vrystaat.

“Dié projeksie is vir 2050 en het betrekking op al die diere in dié gebiede indien die hoë vrystellings voortduur.”

Die risiko’s wat dit vir die plantegroei inhou, sal in ’n ander studie onder die loep kom.

Mense se bestaan ook bedreig

Hoe meer mense die gevaar van klimaatsverandering besef, hoe beter. Foto: Getty Images

“In Suid-Afrika en ander ontwikkelende lande is daar baie mense wat op hul onmiddellike natuurlike omgewing staatmaak vir oorlewing: visvang, hout en toerisme is drie prominente voorbeelde. ’n Skielike ineenstorting van plaaslike ekostelsels sal honderd miljoene mense oor al die ontwikkelende lande heen ontneem van die vermoë om hulself van voedsel en ’n inkomste te voorsien.”

“Weens hittegolwe in die oseane sien ons reeds die uitwissing van die koraalriwwe en die kelpwoude,” sê Trisos.

“Ons wys dat klimaatsverandering in die komende dekades tot ’n skielike en potensiaal katastrofiese verlies aan diere oor die hele wêreld kan lei. Dit het reeds in die trope begin.

Elsabé Brits

“Die meeste diere in plaaslike ekostelsels sal almal op dieselfde tyd blootgestel word aan gevaarlike temperature –met katastrofiese sterftes. In sommige gebiede kan ander diere dalk die ekostelsels koloniseer, maar ons weet nie of dit sal gebeur nie.

“In plekke wat reeds die warmste op aarde is, soos die trope, is die diere se vermoë om by die hitte aan te pas beperk en daar sal ons ’n groot afname in spesies sien.”

Die tropiese gebiede is egter dig bevolk met talle spesies wat van die mooiste en seldsaamste diere op aarde insluit, soos sjimpansees, gorilla’s en oerangoetangs.

Volgens Trisos het die mens se optrede veroorsaak dat kweekhuisgasse die klimaat verander.

“Dat die klimaat warmer word en deur die mens veroorsaak word, is ’n bewese feit. Wat ook ’n bewese feit is, is dat ons nie langer kan wag om die gebruik van fossielbrandstowwe te verminder nie. Hoe langer ons wag, hoe swaarder gaan ons kry.

“Daar was voorheen al massa-uitwissings op aarde waarin meer as 50% van die spesies elke keer uitgesterf het. Só ’n gebeurtenis sal die ekostelsel – die een wat ons kos, water en ander lewegewende bronne behels – heeltemal verander. Dit sal ’n eksistensiële bedreiging vir die inkomste, gesondheid en voedselsekerheid van miljarde mense inhou.

“Dit is nie te laat om hierdie uitwissings weens klimaatsverandering te keer nie. Vinnige optrede om vrystellings nog in dié dekade te verminder sal die kurwe afbring. Ons planeet wemel van lewe, maar om dit so te hou het ons drastiese politieke en sosiale optrede nodig.”

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Afrika  |  Amasone  |  Aardverhitting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.