Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ekonomiese groei: 'Optrede teen korruptes skep vertroue'

Onlangse pogings om korrupsie hok te slaan, is baie bemoedigend en sal help om vertroue in openbare instellings in die land te herstel – iets wat noodsaaklik vir ekonomiese groei is, skryf Pieter Labuschagne.

Mense betoog verlede maand in Kaapstad teen korrupsie. Foto: Getty Images

Die jaar 2020 sal sekerlik in die Suid-Afrikaanse geskiedenis as die somberste en donkerste sedert die einde van apartheid bekend staan.

Die Covid-19-pandemie se verwoestende tentakels het die land sosio-ekonomies verlam. Dié krisis is verder deur ’n stygende misdaadsyfer, met onder meer 58 moorde elke dag, vererger.

Daarby het korrupsie kommerwekkende vlakke bereik wat gevaarligte oor die gebrek aan sosiale kapitaal en moraliteit in die land laat flikker het.

Die kentering is teweeggebring danksy die goeie werk van die wetstoepassingsagentskappe, die Valke en die nasionale vervolgingsgesag.

Die afgelope klompie weke was daar egter duidelike positiewe tekens dat ’n keerpunt of omdraaipunt bereik is. Dit was veral pogings om korrupsie vas te vat wat rede tot optimisme gegee het en hopelik daartoe sal lei dat ons samelewing voortaan meer klem op moraliteit sal lê.

Die kentering is teweeggebring danksy die goeie werk van die wetstoepassingsagentskappe, die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG), wat mense in verband met korrupsie in hegtenis geneem en begin vervolg het.

Dit sluit die inhegtenisnemings in die sogenaamde asbesdak-sage asook dié van onder andere lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, en haar meelopers in. Daar is ook teen Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, weens die onreëlmatige optrede met ’n besoek aan Zimbabwe opgetree.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, voormalige polisiekommissaris van KwaZulu-Natal. Foto: Argief

Verlede week het sewe senior bestuurslede van die VBS Mutual Bank in die hof op 47 aanklagte van bedrog, korrupsie, rampokkery en geldwassery verskyn.

Sulke optrede wys dat daar ’n vars wind deur die land waai.

Die tyd en beweegruimte raak terselfdertyd ook min vir oudpres. Jacob Zuma, wat as die beweerde voorbok in staatskaping genoem word. Dit begin lyk asof hy verantwoording sal moet doen vir sy beweerde dade en dat hy toenemend in ’n hoek gedruk word.

As Zuma skuldig bevind en gevonnis word, sal dit op ’n simboliese vlak geweldig baie vir die herstel van die vertroue in die regering en die mense van die land beteken.

Stuur SA skip in nuwe rigting

Die boodskap van dié betogers tydens die hofverskynings van mense wat weens die sogenaamde asbesdak-sage aangekeer is, was kort en kragtig. Foto: Getty Images

Daar is twee belangrike aspekte, wat nou aan mekaar verwant is, wat nodig is om die Suid-Afrikaanse skip in ’n nuwe rigting te stuur:

• Vertroue in die openbare sektor en samelewing moet herstel word; en

• Korrupsie, wat dié vertroue vernietig, moet nog kragdadiger vasgevat word.

Die goue sleutel – die een aspek wat fundamenteel belangrik is vir ekonomiese herstel ná die skade wat Covid-19 en korrupsie aangerig het – is die herstel van vertroue in die land.

Dit beteken dat die vertroue in die regering, die polisie, die regstelsel, sakevennote en in die medemens herstel moet word.

Korrupsie en korrupte optrede was die belangrikste enkele faktor wat die vertroue en sosiale kapitaal vernietig het.

Daarom sal regrukplanne in die regering en die sakesektor nie tot veel lei as korrupsie nie daadwerklik beveg word nie.

’n Gebrek aan vertroue het op verskillende vlakke ’n groot invloed op ekonomiese ontwikkeling.

Talle studies het al onteenseglik bewys dat die toename in ’n land se bruto binnelandse produk (BBP) direk van onderlinge vertroue afhanklik is.

’n Studie deur Yann Algan en Pierre Cahuc het daarop gedui dat Afrikalande se BBP vyf keer hoër kon wees as hulle dieselfde sosiale siening en basiese vertroue as in Swede gehad het.

Die uitbou van sosiale kapitaal vorm die grondslag van vertroue wat weer die kern van ekonomiese vooruitgang is. Alle kommersiële bedrywighede bevat ’n substantiewe element van vertroue.

Hier kan ’n mens byvoorbeeld na die ontwikkeling van entrepreneurskap kyk. Dit is gegrond op vertroue en die geloof dat transaksies eerlik en sonder korrupsie sal wees.

’n Gebrek aan vertroue het op verskillende vlakke ’n groot invloed op ekonomiese ontwikkeling.

In die algemeen is mense huiwerig om 'n sakeverhouding met ander aan te gaan omdat hulle mekaar nie vertrou nie. Niemand sal in ’n onderneming belê wat nie vertroue inboesem nie. Buitelandse beleggers sal huiwerig wees om plaaslik te belê as hulle nie vertroue in die land het nie en dit byvoorbeeld deur onstabiliteit en korrupsie gekenmerk word.

Die Organisasie vir Ekonomiese Ontwikkeling en Samewerking het in 2014 getoon dat daar ’n regstreekse verband tussen BBP-vlakke, per capita inkomste en vlakke van vertroue in ’n land bestaan.

korrupsie

Die groot verrassing is natuurlik China met sy hoë vertrouenssyfer van 64%, maar ’n relatief lae per capita inkomste – baie laer as dié van ander toplande.

Die rede daarvoor is gedeeltelik China se groot bevolking van meer as ’n miljard mense wat die gemiddelde inkomste per persoon skeeftrek.

Ondanks die feit dat die Chinese regering demokrasie en menseregte onderdruk, is daar hoë vlakke van tevredenheid onder Chinese burgers vir die doeltreffende wyse waarop die land geregeer word.

In ontwikkelende lande soos Nigerië, Zimbabwe en Colombia het hoë vlakke van misdaad en korrupsie ’n groot invloed op vertrouensvlakke en uiteraard op ekonomiese ontwikkeling.

Wat van Suid-Afrika?

Die verslag van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling het getoon dat vertroue in openbare instellings soos die politieke stelsel, die polisie en die regstelsel wêreldwyd aan die afneem is.

Vertroue in regerings het tussen 2006 en 2014 van 44% tot 38% afgeneem. Dit is interessant om daarop te let dat die vertroue in die polisie in al die Europese lande die hoogste is en in die politieke stelsel die laagste is.

korrupsie

In Suid-Afrika het vertroue in openbare instellings ’n rekordlaagtepunt bereik. In 2019 het Andrew Faull in ’n verslag van die Instituut vir Sekerheidstudies vertroue in openbare instellings probeer peil deur die respondente te vra of hulle ’n bietjie of geen vertroue in ’n bepaalde instelling het.

Altesame 66% van die respondente het aangedui dat hulle die polisie net ’n bietjie of glad nie vertrou nie. Die hoë wantrouesyfer in die polisie verskil heelwat van die Europese voorbeeld, waar daar sterker vertroue in die polisie is.

Die wantroue in Suid-Afrika is waarskynlik weens die hoë voorkoms van korrupsie in die polisiediens.

Suid-Afrikaners het nie veel vertroue in die polisie nie. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die parlement en munisipale bestuur word ook nie vertrou nie, met 65% van die respondente wat aangedui het dat dié instellings net ’n bietjie of glad nie vertrou kan word nie.

Die regerende party het ook nie goed gevaar nie: 60% van die respondente het gesê hulle vertrou die ANC net ’n bietjie of glad nie. Opposisiepartye moet egter glad nie voortydig bly raak hieroor nie – 70% van die respondente vertrou hulle net ’n bietjie of glad nie.

Dit was nogal skokkend dat net 49% van die respondente regters vertrou en net 46% die howe.

Die pad vorentoe

Pieter Labuschagne

Die optrede van die Valke, NVG en die politieke leierskap om korruptes aan die pen te laat ry, is baie positiewe tekens. As korrupsie – die kanker wat vertroue wegvreet – hokgeslaan kan word, kan vertroue in Suid-Afrika herstel.

Dit sal ook baie doen om buitelandse en plaaslike beleggersvertroue te herstel. Die verkwisting van staatsgeld kan dan stopgesit word en eerder aangewend word om groeipunte te skep en maatskaplike probleme op te los.

Net soos dit moeilik was vir die groot en lompe Titanic om weg te draai toe die ysberg gewaar is, net so moeilik is dit om ’n land om te draai.

Vir dít om te gebeur moet die momentum van die afgelope ruk se optrede volgehou word.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.