Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ekonomiese wiele in SA draai al hoe stadiger

Dis asof die ekonomiese wiele al stadiger en stadiger draai. En dan bestaan die vrees natuurlik dat die wiele heeltemal sal ophou draai, skryf Leslie van Rooi.

Leslie van Rooi

Tot betreklik onlangs is Suid-Afrikaners in die algemeen beskou as redelik positief oor ons toekoms. Dit was bowenal opvallend om te sien dat veral jonger Suid-Afrikaners oorwegend positief oor hul toekoms is. Vandag wys die statistiek op iets anders – meer en meer (jong) Suid-Afrikaners dink nie dat hulle ’n beter toekoms as hul ouers tegemoet gaan nie.

Ek onthou ’n debat met Duitse vriende in Stuttgart ongeveer 12 jaar gelede waar ons vir ure lank gesels het oor die ekonomiese moontlikhede van ons geslag en die geslagte ná ons. Die twee Suid-Afrikaners in die gesprek kon nie verstaan dat ons twee Duitse vriende nie so positief was oor hul toekoms soos wat ons was nie. Dit het ons tot ’n mate geskok dat ons vriende nie kon insien dat daar ’n blink toekoms vir hulle en vir ons voorgelê het nie. In ons konteks was daar hoop op ’n beter toekoms, redelike ekonomiese groei en ’n gevoel van groeiende patriotisme.

Vir ons was dit duidelik dat ons ekonomiese moontlikhede beter sou wees as vir die geslag voor ons. Verder was ons ook oortuig dat die geslag ná ons in nog ’n beter posisie as ons sou wees.

Vir die Duitsers was dit nie so ’n uitgemaakte saak nie. Hulle en hul ouers was van mening dat die skynbare afplatting in ekonomiese moontlikhede tot gevolg sou hê dat hulle dalk nie so goed vir hul kinders sou kon sorg soos wat hul ouers vir hulle gesorg het nie.

Sal ons as Suid-Afrikaners vandag in dieselfde gesprek steeds op hierdie selfde manier argumenteer? Hoe dink ons en ons Duitse vriende vandag oor ons toekoms en dié van die geslag ná ons?

’n Groeiende gevoel van hopeloosheid

Dit val my op dat ’n mens al hoe minder tekens in die strate van ons land sien wat wys op sterk ekonomiese groei en investering. Waar ’n rit oor die Kaapse vlakte nog tot redelik onlangs sou wys op die bou van nog huise, paaie, hospitale en skole, is daar nou aansienlik minder tekens. Die hyskrane met hul rooi liggies wat in die aand flikker, sien ’n mens nou minder van. Of dit voel ten minste so.

Dit is juis hierdie gevoel wat ’n mens kry as jy deur die week in ons strate rondstap. Waar werkendes dalk haastig skarrel om persoonlike sake op ’n dag van verlof af te handel, is dit tog opvallend dat ’n groeiende groep mede-Suid-Afrikaners byna lyk asof hulle daaraan gewoond is om daagliks rond te dwaal.

Meer en meer mense – veral jongmense – staan op straat rond en knoop geselsies op straathoeke aan. Mense wat ekonomies aktief kan en moet wees, verbeur hierdie moontlikheid – waarskynlik nie omdat hulle wil nie, maar omdat daar dalk net nie genoeg kanse bestaan om ’n goeie skoolopvoeding te kry en om die moontlikheid van goeie werkgeleenthede te hê nie.

Selfs al voltooi jy jou skoolopleiding en bekwaam jouself verder, moet daar genoeg geleenthede vir jou wees om jou plek in die samelewing te kan inneem.

Daar is ’n groeiende gevoel van hopeloosheid wat op ’n toekomsverstaan en uitkyk wys wat op min moontlikhede vir verandering dui. Iets wat ons land nie kan bekostig nie en wat ons ten sterkste moet teenwerk.

En dan bestaan die vrees natuurlik dat die wiele heeltemal sal ophou draai.

Die skok van die werklikhede van staatskaping wat elkeen van ons direk beleef, vererger natuurlik hierdie gevoel.

Dis asof die ekonomiese wiele al stadiger en stadiger draai. En dan bestaan die vrees natuurlik dat die wiele heeltemal sal ophou draai.

Tydens ’n sessie by die onlangse konferensie oor die globale modelle vir dorpsuniversiteite/universiteite in dorpe, het ons heelwat tyd bestee aan gesprekke oor interaksie tussen universiteite en plaaslike gemeenskappe. Dit is opvallend dat, alhoewel kontekste verskil, ons as universiteitsgemeenskappe dieselfde uitdagings beleef en op dieselfde manier ’n verskil wil maak.

Dit ondanks groot uitdagings, veral in die konteks van ons land.

Wat waar is vir die gesprekke tydens hierdie konferensie, is ook waar vir die rol van elkeen van ons – dit is nou die tyd om diep en opreg na moontlikhede te soek om hier en nou tot die beter toekomsmoontlikhede van ons land en al haar mense by te dra.

* Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.