Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Kenner: ‘Ons toekoms lyk goed’

Daar is verskeie redes waarom ons optimisties kan wees oor die ekonomiese toekoms van Afrika, het die ekonomiese geskiedkundige prof. Johan Fourie in ’n gesprek op die Suidoosterfees in Kaapstad gesê. Murray La Vita doen verslag.

Proff. Rachel Jafta (regs), Johan Fourie en Nicoli Nattrass in gesprek op die Suidoosterfees. Foto: Jaco Marais

“Hoe kan ons sorg dat álle Suid-Afrikaners welvarend word?”

Prof. Rachel Jafta, hoogleraar in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, voorsitter van Media24 se direksie en ’n direksielid van Naspers, het ’n gesprek in die Jakes Gerwel-gespreksreeks met dié vraag van wyle Gerwel begin.

Haar gespreksgenote was Fourie, hoogleraar in ekonomiese geskiedenis aan die US en skrywer van die boek Our Long Walk to Economic Freedom: Lessons from 100 000 Years of Human History, en prof. Nicoli Nattrass, hoogleraar in ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad.

Jafta het gesê Gerwel, ’n akademikus, anti-apartheidsaktivis, direkteur-generaal van die presidensie onder pres. Nelson Mandela, en voorsitter van Media24 se direksie en van dié van die Suidoosterfees, het dikwels daardie vraag gevra.

“Ek kan ’n laatnag-gesprek in Moskou onthou waar hy almal van ons gevra het wat ons sou doen indien ons in beheer van die Suid-Afrikaanse ekonomie was.

“In reaksie op wat ons ook al gesê het, het hy gevra: ‘Maar sal dit álle Suid-Afrikaners welvarend maak?’ Ons het gevoel ons moet weer mooi gaan dink oor daardie vraag. So, ek dink Jakes sou baie bly wees dat Johan ’n boek gaan skryf het oor hierdie einste onderwerp.”

Pionierswerk

Volgens Fourie het hy onder Our Long Walk to Economic Freedom onder meer geskryf omdat hy gevind het studente is geweldig negatief oor die stand van sake in Suid-Afrika.

“In Afrika is daar baie grond, maar daar is ’n tekort aan arbeid.” Foto: Jaco Marais

“Ek kan dit verstaan, want hulle het grootgeword in ’n era waarin daar hoofsaaklik negatiewe nuus was oor Suid-Afrika.”

In ekonomiese geskiedenis is daar “’n wonderlike storie” oor hoe mense welvaart geskep het wat nog nie vertel is nie. Hy wou dít vertel.

Jafta het Natrass, uit wie se navorsing Fourie in sy boek aanhaal, gevra wat haar hoofindrukke van die boek is. Nattrass het gesê dit is ’n wonderlike boek, maar sy het vrae oor die optimistiese, positiewe aard daarvan.

Dit is ’n veel ryker korpus van inligting as wat geskiedkundiges in die verlede gehad het.

“Wat van die uitdagings? Maar dalk is dit ’n opvolgboek terwyl hierdie boek meer handel oor die geleenthede en wat ons kan leer en geleer het oor hoe ons kolonialisme en slawerny oorkom het. Dít is alles fantastiese lesse.

“Wat ek nogal verrassend – en wonderlik – gevind het van dié boek, is dat Johan pionierswerk gedoen het in die nuwe ekonomiese geskiedenis wat baie kwantitatief is en data gebruik wat eers regtig beskikbaar geraak het deur die digitalisering van rekords, ensomeer. Dit is ’n veel ryker korpus van inligting as wat geskiedkundiges in die verlede gehad het.”

Hy gee nie net ’n opgaaf van wat gebeur nie; hy vra vrae oor die geskiedenis en wil weet wat ons daaruit kan leer.

‘Geleenthede bestaan steeds’

Totdat die pandemie verlede jaar uitgebreek het, was daar groot optimisme oor Afrika, het Jafta gesê.

“Ons het gedink Afrika se tyd het nou aangebreek.” Foto: Jaco Marais

“Ons het gedink Afrika se tyd het nou aangebreek. Daar was al die geleenthede voortspruitend uit die vierde nywerheidsrevolusie. Afrikaregerings het die vryehandelsooreenkoms aangegaan met die gepaardgaande steun van die Wêreldhandelsorganisasie se handelsfasiliteringsooreenkoms wat ten doel het om handel makliker en goedkoper maak. Daardie geleenthede bestaan steeds.”

Sy het aan Fourie gesê dit het haar opgeval dat hy regdeur sy boek dikwels ’n klem plaas op die lae bevolkingsdigtheid in Afrika en hoe mense in onherbergsame gebiede leef wat nie bevorderlik is vir ekonomiese uitbreiding nie. En ook op die nadelige gevolge van lae vertroue onder mense weens die aard van verhoudings wat oor baie jare ontstaan het.

Dít is hoe slawerny in Afrika – nie die Atlantiese slawehandel van veel later nie – posgevat het.

“Wat die geografiese aspek betref: In Afrika is daar baie grond, maar daar is ’n tekort aan arbeid. Wanneer daar konflik tussen mense was, was grond nie die kwessie nie omdat daar genoeg grond is, maar waaraan ’n tekort was, is mense – arbeid.

“Dít is hoe slawerny in Afrika – nie die Atlantiese slawehandel van veel later nie – posgevat het. Dit het ook aanleiding gegee tot kulturele praktyke soos lobola en poligamie. Baie dinge wat ons as kultureel of maatskaplik beskou, het inderwaarheid hul oorsprong in ekonomiese oorwegings.”

‘Te veel negatiewe nuus’

Hy meen ons kán optimisties wees oor Afrika se ekonomiese toekoms.

“Dit is nie heeltemal duidelik hoe ons die probleme wat uit die verlede spruit – soos mense se gebrek aan vertroue wat die nalatenskap van slawerny is – gaan takel nie, maar daar ís dinge waaroor ons optimisties kan wees.

“Afrika is besig om teen ’n geweldige tempo te verstedelik en dít is geweldig belangrik, want dít skep konglomerasie-ekonomieë en wisselwerking tussen mense. Laasgenoemde is deur die Covid-19-pandemie belemmer, maar dit sal hopelik weer herstel.

“Dan is daar oor die kontinent heen massiewe beleggings in infrastruktuur – nuwe paaie, brûe, maar natuurlik ook infrastruktuur wat inligtings- en kommunikasie-tegnologie betref.

“Sonkragtegnologie gaan ook ’n rewolusionêre impak op Afrika hê. Die koste daarvan is besig om baie vinnig te daal.”

Daar is nou aanduidings van ’n malaria-entstof wat 77% doeltreffend is, en van MIV/vigs-entstowwe. Dít sal ’n groot impak op die inwoners van Afrika se gesondheid hê.

Hy sê ’n baie onlangse verskynsel waaroor ons optimisties kan wees, is entstowwe.

“En hier dink ek nie net aan entstowwe teen die Covid-19-virus nie. Daar is nou aanduidings van ’n malaria-entstof wat 77% doeltreffend is, en van MIV/vigs-entstowwe. Dít sal ’n groot impak op die inwoners van Afrika se gesondheid hê.

“So, daar is talle redes waarom ’n mens optimisties kan wees oor die toekoms en ek wou van daardie positiwiteit deel, want daar is – veral as jy die internasionale media lees – hoofsaaklik negatiewe nuus.”

‘Ons moet werk skep’

Natrass meen Fourie praat in breë, algemene terme oor Afrika wanneer hy sê daar is baie grond maar ’n tekort aan arbeid.

“Ons het sedert die laat 1970’s baie hoë werkloosheid in Suid-Afrika en terwyl die res van Afrika nou besig is om te verstedelik, is dié probleem besig om ook in die res van die kontinent kop uit te steek.

“Ek wonder net – gaan al hierdie tegnologiese ontwikkelinge waaroor jy praat daartoe in staat wees om groei so vinnig en so omvattend te stimuleer dat ons werkloosheid kan oorkom?”

“Ons moet sekerlik nog werk skep vir ongeskoolde mense wat minder tegnologies vaardig is.” Foto: Jaco Marais

Sy is skepties oor Fourie se “tegnologiese optimisme” en die wyse waarop hy, volgens haar, te veel klem plaas op hoër tegnologiese ontwikkeling. Die vierde nywerheidsrevolusie gaan nie ons probleme oplos nie, meen sy.

“Ons moet sekerlik nog werk skep vir ongeskoolde mense wat minder tegnologies vaardig is terwyl ons hoër op hierdie tegnologiese ontwikkelinge najaag; ons moet ’n ontwikkelingstrategie hê wat oor die hele spektrum van tegnologieë strek.”

Sonkrag, entstof, skole

Fourie het gesê hy stem in wese met haar saam en het beklemtoon hoe belangrik die konsep van eienaarskap is. “Werklose Suid-Afrikaners het géén bates nie. En, ja, daar is al hierdie wonderlike tegnologieë, maar ek probeer in die boek aandui dit is belangrik om seker te maak dat mense bates besit en dat hulle ook byvoorbeeld toegang het tot elektrisiteit.

“Hoe doen jy dit? Wel, eerstens maak jy seker dat daar breë toegang is tot dinge soos sonkragpanele. Jy maak seker dat daar mededinging in die mark is. Iets soos skole – jy maak seker dat daar nie net een verskaffer van onderwys in die land is nie, maar dat daar verskeie geleenthede is vir byvoorbeeld entrepreneurs in ’n township wat ’n skool of ’n kleuterskool wil begin.

“Behuising . . . Een van die grootste kwessies in Suid-Afrika is behuising. Wanneer mense oor grond praat, bedoel hulle nie grond nie, hulle bedoel behuising. Hulle wil nie ’n Karooplaas hê nie, hulle wil huise hê.”

Our Long Walk to Economic Freedom, wat onlangs verskyn het, is deur Tafelberg uitgegee.

Hy meen die regering hoef nie behuising te verskaf nie.

“Die regering moet amper net toelaat dat mense die huise wat hulle self gebou het, besit. So, ek is minder begaan oor mense wat ongeskoold is indien die regering sulke mense van die soort instellings voorsien wat hulle toelaat om die opbrengs van hul arbeid te besit.”

Die wonderlike ding van hierdie nuwe tegnologieë – selfs entstowwe – is dat arm mense daarby baat vind.

“Hulle maak dit vir armes moontlik om deel te neem. Elektrisiteit is byvoorbeeld ’n baie basiese bron wat op ’n baie plaaslike vlak voorsien kan word met hierdie nuwe tegnologieë; so ons moet dit beskikbaar maak.”

Stellenbosch, Sandton, Soweto

Volgens Jafta het Afrikaregerings vir baie jare probeer om allesomvattende bloudrukke te skep en dan kom daar niks van nie.

“Maar ek dink dit het oor die afgelope paar jare verander sodat daar nou byvoorbeeld een aspek geïdentifiseer word wat goed werk en daar dan daarop gefokus word.”

Binne die Suid-Afrikaanse konteks is dit vir haar belangrik dat die burgerlike samelewing, en veral nieregeringsorganisasies, ’n groter rol speel naas die regering en die private sektor.

“Daar is duisende mense in die burgerlike samelewing wat bereid is om tyd en kundigheid te deel ten einde ’n verskil te maak en mense, wat tans uitgesluit is, deel te maak van die ekonomie.”

Sy wou weet hoe dit kan verander; hoe kan die burgerlike samelewing ’n groter rol kry?

“Daar ís dinge waaroor ons optimisties kan wees.” Foto: Jaco Marais

Fourie het verwys na die rol van kulturele opvattings en ingesteldhede en as voorbeeld genoem welke rol ’n ingesteldheid op wetenskap gespeel het in die totstandkoming van die nywerheidsrevolusie.

“Het ons so ’n kultuur waarin wetenskap na waarde geskat word? As jy kyk na watter deel van die begroting wetenskap kry . . . dit word toenemend minder. Maar miskien kan ’n mens ook aan streekverskille dink. ’n Kind wat byvoorbeeld in Stellenbosch grootword, dink al hoe hy ryk of welvarend gaan word, is deur entrepreneurskap of innovasie. Terwyl as jy in Sandton of Soweto grootword is jou idee van hoe om ryk te word anders.

“Daar is iets omtrent daardie kulturele beskouings, wat beïnvloed word deur sowel regeringsbeleid as die breër gemeenskap, wat . . . Ek dink nie ons weet al hoe om daardie beskouings te verander nie, maar hulle is klaarblyklik belangrik.”

‘ ’n Nuwe imperialisme’

Nattrass meen nieregeringsorganisasies is belangrik, veral waar die staat misluk soos met die MIV/vigs-pandemie (onder die presidentskap van Thabo Mbeki), maar sy is skepties oor internasionale nieregeringsorganisasies wat geneig is om hul eie beginsels en moraliteit aan Afrikalande op te dwing.

Volgens haar raak hulle al hoe magtiger en verteenwoordig hul optrede ’n nuwe soort imperialisme. Fourie het bygevoeg dieselfde kan gesê word vir die rol wat sekere godsdienstige instellings speel.

Wat doen ons as samelewing om aan die armste mense die geleenthede te gee om hul posisie te verbeter?

In ’n bespreking oor klimaatsverandering en wat dit vir die wêreld inhou, het Fourie gesê hy is optimisties oor die toekoms en gewys op die feit dat die prys van hernubare energie noemenswaardig gedaal het.

“Ons moet hard dink . . . Wat doen ons as samelewing om aan die armste mense die geleenthede te gee om hul posisie te verbeter? Dít is die vraag wat ek hopelik ook deur my boek aanroer en mense uitdaag om te oorweeg.”

Jafta het die gesprek afgesluit met die slotsin van Fourie se boek:

“Die toekoms behoort aan almal wat glo in ’n beter môre.”

Meer oor:  Nicoli Nattrass  |  Johan Fourie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.