Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
EKSKLUSIEF: Chester se pa verbreek sy stilte

Die oud-Springbok Chester Williams was ’n “fighter” en hy’t nie wrokke gekoester nie. Willemien Brümmer het sy grootworddorp, die Paarl, besoek en met sy pa Wilfred en sy oom Randall gesels.

Wilfred Williams en sy tweede oudste seun Chester toe dié finaal sy toks opgehang het in die jaar 2000. Dié foto hang in Wilfred se huis die Paarl-Oos. Wilfred was glo op sy dag ’n beter speler as Chester. Foto: Verskaf

“Ek is bly ek het vir Chester op die regte manier grootgemaak dat hy vir ander mense ook tot voordeel kon wees.”

Aan die woord is Wilfred Williams, Chester Williams se pa, wat pas sy derde kind aan die dood afgestaan het. Wilfred (70) wat glo selfs ’n beter rugbyspeler was as sy oud-Springbok-seun wat vir baie die gesig van 1995 se Wêreldbeker-oorwinning was.

Maar Wilfred het nooit dieselfde geleenthede as sy tweede oudste seun gehad nie en hy blaas net soos sy ander familielede nooit sy eie beuel nie. Hy is in elk geval mediasku; ’n stil man wat die kalklig vermy en wie se dade swaarder weeg as sy woorde. Dit is die eerste keer dat hy die media te woord staan ná sy seun se dood. Selfs daarvoor het hy liefs ander die praatwerk laat doen. 

Daarna het ek maar gesê ek gaan nie meer na die veld toe kom nie, ek gaan maar laat kom.
Wilfred Williams, Chester se pa

Die storie het nou al legendaries geword oor hoe Wilfred die eerste keer saam met die 17-jarige Chester rugby gespeel het. Dié seun wat hom verafgod het en wat die boonste sport bereik het danksy pure wilskrag.

Wilfred lag.

“Dit was vir die Paarl Liga dat ons die eerste keer saamgespeel het. Dit was teen Ikeys daai aand. Ek was daai tyd keurder van die Paarl Liga en hy (Chester) het op die pawiljoen gesit en toe gaan haal ek hom en sê hy moet kom speel.”

Hy grinnik weer.

“Daarna het ek maar gesê ek gaan nie meer na die veld toe kom nie, ek gaan maar laat kom. Nee, daai tyd was ek al in die dertigs al en toe sê ek: ‘Nee, ek is nie meer lus nie. Dis nou hulle kans’.”

Die vooraansig van die huis wat Wilfred Williams vir sy gesin gebou het in die 1970’s. Wilfred en sy dogter Anthea woon steeds hier. Foto: Jaco Marais

‘Ons is seker maar net daarmee gebore’

Wilfred en sy dogter Anthea, wat pas ’n dubbele hartomleiding gehad het, woon steeds in die 1970’s-boustyl huis wat hy self gebou het in Goethamstraat in die Paarl-Oos. Die huis met sy medaljes en trofees en die proteas wat vir die provinsiale begrafnis op Nuweland wag. Teen die muur is ’n reuse-banier wat die weermag gegee het om vir Chester geluk te wens toe hy in 1993 vir die Bokke begin speel het. Daar is ook ’n spanfoto van die Proteas (daardie tyd se sogenaamde “bruin” Springbokspan wat deur die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie bestuur is) toe hulle teen die Britse Leeus gespeel het. Op dié foto is Errol Tobias, die eerste “swart” speler wat vir die Springbokke uitgedraf het. In die middel is Wilfred self.

Sy jonger broer Avril, wat die tweede swart speler geword het wat vir die Bokke uitgedraf het, was toe nog te jonk. Vandag is Avril ’n DA-raadslid op Vredenburg en Wilfred is ’n boukontrakteur.

Die Williamse is immers almal rugbymal – ’n familie van rugbypioniers.

“My pa Wally was ’n baie goeie rugbyspeler,” onthou Wilfred se laatlambroer Randall, wat nou al meer as 30 jaar lank ’n bewaarder by die Drakenstein Korrektiewe Sentrum is.

Om ’n bal af te vat in ’n losskrum, daai doen die Williamse baie goed. Selfs Chester se Matthew doen dit nou.
Randall Williams, Chester se oom

Hy is net soos die ander Williamse ’n rots van ’n man wat met die spreekwoordelike rugbybal onder sy arm gebore is.

“En toe het Wilfred baie goeie rugby gespeel. Soos die mense sê: Wilfred was ’n beter speler as Chester. Hy het op heelagter begin, senter toe gekom, flank gespeel, slot gespeel vir die Proteas. Hy het goed pale toe geskop en goed verdedig.”

En Wilfred was ’n vredemaker, onthou Randall.

“As daar ’n baklei is sal hy altyd die een gewees het wat vrede maak en ouens uitmekaar uit hou. En hy was self ’n baie goeie verdediger ook. Om ’n bal af te vat in ’n losskrum, daai doen die Williamse baie goed. Selfs Chester se Matthew doen dit nou. Ons is seker maar net daarmee gebore.”

Chester se oom Randall wat net ses jaar ouer is as hy op die stuk grond oorkant die Magnolia-woonstelle waar hulle destyds “landjie-rugby” gespeel het. Foto: Jaco Marais

‘Landjie-rugby’

Aan Chester se ma se kant was daar haar broer Adam Dombas wat nét so hard kon pale toe skop en in 1971 die kaptein van die Proteas was.

Randall knik skamerig.

“Ek was een van die eerste spelers wat vir die SA skolespan gespeel het. Ons het in 1983 na Wallis saam met die wit span getoer. Daar was betogers daar by die veld omdat dit in die apartheidsdae gewees het, so dit was ’n bietjie moeilik gewees.”

Randall (55), wat net ses jaar ouer as sy beroemde broerskind is, vertel Chester het swaar grootgeword. Voordat die gesin Goethamstraat toe getrek het, het hulle in die Magnolia-woonstelle gewoon – ’n tweeslaapkamerwoonstel vir ’n gesin van sewe.

Wanneer ons op ’n Vrydagmiddag saam met hom na die T-blok van dié vuilpienk woonstelblokke ry, is die ruite plek-plek stukkend en gebreekte bierbottels lê oral gesaai. Graffiti pryk teen die vibracrete-muur op die oop stuk grond waar Chester en Randall destyds “landjierugby” gespeel het.

Die T-blok van die Magnolia-woonstelle in die Paarl waar Chester saam met sy gesin gewoon het toe hy klein was. Hulle het in nommer 19 (onder) gebly. As jy hier grootgeword het, het jy ’n keuse gehad: Of jy sluit aan by die bendes, of jy maak iets van jou lewe. Foto: Jaco Marais

“Hy was seker vyf of ses wat hy self begin speel het,” onthou Randall. “Dis mos ’n oop stuk veld en dan challenge ons die span van die ander woonbuurt.”

Die rugbyklub waarmee die Williams-familie grootgeword het was Albions. Wanneer sy pa Saterdae vir dié klub gespeel het, was Chester altyd daar.

“Chester se ma was ook baie sportief en jy het maar net ingeval,” onthou Randall. “As dit rugbytyd is het jy gegaan, of jy nou weet wat dit is of nie.”

As jy in daai flatse grootgeword het, het jy ’n keuse gehad. Of jy kan bendes toe gaan of jy kan vir jou ’n lewe maak en skool toe gaan.

Maar die lewe was nie net sport en speletjies nie. Toe Chester grootgeword het, is eers sy suster Habre en toe sy oudste broer Wilmot dood. Habre was ses toe sy oorlede is weens ’n “bloedklont op die brein”. Wilmot, wat regte gestudeer het aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is op 21 dood. Hy het van kleins af hartprobleme gehad. Chester se ma, Julene, is ook 13 jaar gelede aan haar hart dood.

Randall onthou Chessie was “stil stout, maar nie gruwelik nie”.

“As jy in daai flatse grootgeword het, het jy ’n keuse gehad. Of jy kan bendes toe gaan of jy kan vir jou ’n lewe maak en skool toe gaan.”

Die seegroen staander by Chester se skool, Nederburg Primêr, waarmee hulle hulde bring aan hul oudleerder. Dié skool het drie Springbok-rugbyspelers en een Bokbreier opgelewer. Foto: Jaco Marais

By sy laerskool, Nederburg Primêr, waar al die Williams-kinders skoolgegaan het, hang die vlag halfstok. Die skool wat drie Bokke en een Bok-breier opgelewer het: Eers Avril, toe Peter de Villiers en toe Chester en sy groot vriend Tinus Linee wat in 2014 dood is weens motorneuronsiekte.

Op ’n seegroen staander in die skool se ingangsportaal is ’n geraamde portret van Chester en ’n kers met sy foto op.

Mnr. Reginald Carstens, wat in die eerste jaar van sy onderwysloopbaan vir Chester houtwerk gegee het in standerd ses, vertel Chester was ’n “rustige outjie”.

“Jy het hom nie eintlik agtergekom in die klas nie. Hy’t sy werk gedoen en so. Eers later het hy met rugby uitgestaan.”

Mnr. Reginald Carstens by Nederburg Primêr wat vir Chester houtwerk gegee het in standerd ses. “Jy het hom nie eintlik agtergekom in die klas nie. Hy’t sy werk gedoen en so,” het Carstens gesê. Foto: Jaco Marais
Chester in Reginald Carstens se houtwerkklas in standerd ses. Hy is die seun regs met die swart kortbroek. Foto: Verskaf

‘Window dressing’

Toe hy in die hoërskool kom het pa Wilfred hom aanvanklik belet om te speel, want hy het meer aandag aan rugby as aan sy skoolwerk gegee.

“Dit het toe gehelp. Hy het goed gedoen,” sê Randall laggend.

Chester móés gaan werk omdat Wilmot universiteit toe is. Hy is eers vloot toe en daarna weermag toe, waar hy saam met sy oom Avril rugby gespeel het.

Ek het vir hom gesê as hy ophou speel, gaan daar nog altyd rugby wees.

Die res is geskiedenis. Hoe hy op 23 sy debuut vir die Bokke teen Argentinië gemaak het; sy vier drieë teen Samoa in die kwarteindstryd van die Wêreldbekertoernooi. Maar sy pa het hom grootgemaak dat hy nooit groter as rugby moes word nie.

Wilfred lag.

“Ek het vir hom gesê as hy ophou speel, gaan daar nog altyd rugby wees.”

Hy het nooit sy seun geprys nie.

“Want as jy vir iemand prys, dan kry hulle grootkop. Ek het altyd vir hom gesê wat hy foute gemaak het en wat hy kan verbeter. Hy het altyd nederig gebly.”

Randall onthou as Chester “sy kop op ’n ding gesit het, het hy gewerk daarvoor”.

“In die 1995 World Cup is hy beseer en hy het hard gaan werk. Waar dit vir ’n ander ou hoeveel maande sal vat om te herstel was hy terug in die gym en toe hy sy plek kan vat, is hy reg en hy gaan druk daai vier drieë teen Samoa.”

Maar hy wat Randall is, het besef hoe groot die druk op sy broerskind is.

Hy aarsel.

“Oor die algemeen was jy nie goed genoeg nie en hier is hy op ’n world stage en hy het met onderskeiding bewys ons kleurlinge ís goed genoeg om daar te speel. Deur alles het hy nog Chester gebly.”

Tussendeur, vertel hy, het party mense in die media hom laat voel “hy is net window dressing”.

“Baie mense wil hê jy moet fail, baie wil hê jy moet slaag. Die media sal jou gebruik waar hy jou wil gebruik.”

‘Hy moes hom maar altyd bewys’

Hy onthou hoe ongelukkig Chester was toe hy uit die 1999-Wêreldbekerspan gelaat is.

“Ek kan nou nie sê of hy en Nick Mallett langs een vuur gesit het nie. Chester sou sy stem gelig het as iets nie vir hom reg was tydens ’n spanpraatjie nie. Hy het seker nie altyd stilgebly soos ’n coach verwag het nie, maar wat presiés regtig daar gebeur het kan ek nie vir jou sê nie.”

Dit was kort daarna, onthou Randall, dat hy besluit het hy gaan rugby los en hom op afrigting toespits.

Hy was oor die algemeen ’n fighter. Hy was baie siek toe hy klein was en hy moes hom bewys het.

“Maar selfs as coach het hy nie die beste behandeling in Suid-Afrika gekry nie. In die WP was dit omdat hy Federasiebande gehad het en nie Saru-bande nie. So dit was maar moeilik vir hom en ek is bly hy kon hom voor sy dood bewys as afrigter by UWK. As jy terugkyk, moes Chester hom maar altyd bewys het om sekere goed reg te kry.”

Randall se stem is trots.

“Hy was oor die algemeen ’n fighter. Hy was baie siek toe hy klein was en hy moes hom bewys het. Hy het later by die Cats afgerig, maar Rassie Erasmus was die hulpafrigter so outomaties het jy twee sterk persoonlikhede gehad. En as jou hulpafrigter ook aspirasies het om eendag bo af te rig dan gaan daar verdeeldheid wees in jou span.”

Maar nee, sê Randall, selfs toe hy nie Springbok-afrigter word nie, het hy nooit ’n wrok gekoester nie.

“Hy sou gaan kyk: wat doen ek reg, wat doen ek verkeerd, gaan terug, gaan werk daaraan, soos hy maar altyd was.”

Sy oë wil-wil nat word.

“Daai ou was baie nederig en hy het gehou van gee. Dit baat nie ’n mens is beroemd maar jy kan nie teruggee nie, jy kan nie terugkyk waar jy vandaan kom nie.”

Antie Mien, of te wel Wilhelmina Beukes van die Chester Williams-plakkerskamp vertel hy was soos familie. Foto: Jaco Marais

‘Die koue hand van die dood’

By die Chester Williams-plakkerskamp, net ’n hanetree van Chester se grootwordhuis, kan die mense nie uitgepraat raak oor hul Chester nie. Dié kamp het sy naam gekry deur een van sy inwoners, wyle Florina Naudé, wat destyds nie ver van Chester-hulle gewerk het nie. Toe daar op ’n naam vir die kamp besluit moes word, was Chester eerste op haar lys.

Ant Mien, oftewel Wilhelmina Beukes, een van die moederowerstes hier, sê hy was soos familie.

Hy wil by almal bekend gewees het, hy wil by almal ingekom het.”
Ant Mien, Chester Williams-plakkerskamp

“Die eerste fonds wat hy gebring het was kospakkies en groente vir al die mense. En hy het gebring Tiger Brands se baas en hy het vir ons allerhande soorte pappe gebring. Hy het vir ons appels gebring, Chester het vir ons komberse gebring, klere, speelgoed vir die kinders, jogurt, soppe en kosse. Chester was ’n mens gewees wat wil geloop het deur die hele Chester-kamp en van tyd tot tyd was sy vrou ook hier. Hy wil by almal bekend gewees het, hy wil by almal ingekom het.”

Maylene Lombard van die Chester Williams plakkerskamp vertel dit was “soos ’n klap in my gesig Vrydagaand toe ek hoor hy (Chester) is weggeruk deur die koue hand van die dood”. Foto: Jaco Marais

Maylene Lombard, in ’n kamerjas en ’n pienk retro sonbril, vertel sy het saam met Chester grootgeword.

“Toe ek my hier kom vestig, was daar nog amper niks hokke nie. Hy het nie besef ons praat die waarheid dat ons die kamp na hom gaan vernoem nie. Sy eerste blessing was die Pepsi-koeldrank wat hy vir ons kom aflewer het. My meisiekind word 21, so dit was 21 jaar terug wat hy daai Pepsi kom aflewer het. Van daai dag af het Chester teruggeploeg in ons lewens.”

Haar stem is huilerig.

“Dit was soos ’n klap in my gesig Vrydagaand toe ek hoor hy is weggeruk deur die koue hand van die dood.”

Sy sug.

“Ons gaan hom verskriklik mis maar ons kan net sê dankie Here vir die tyd wat U vir ons vir Chester geleen het.”

Randall in die Chester Williams-plakkerskamp. Dié kamp het onlangs vir hul Chester ’n gedenkdiens gehou. Hy en sy vrou Maria het die kamp gereeld besoek om klere, kos en geskenke af te lewer. Foto: Jaco Marais

‘Dit móét aangaan’

Vir pa Wilfred is dit moeiliker om oor sy gevoelens te praat.

“Ja-nee, dit gaat nou weer bietjie aan, dit gaat aan, dit móét aangaan . . . Ek moet maar sterk wees vir die ander kinders, so ek bly maar positief.”

Randall onthou Chester se vrou Maria het vir “Milky”, ’n luitenant-kolonel van Robertson, gebel om na Wilfred se huis te ry met die nuus toe Chester weens ’n hartaanval dood is.

“Dit was devastating, dit was regtig . . . Wie het dit nou verwag? Dood is op sigself nie lekker nie, maar om Chester te verloor was vir die hele familie nie aangenaam nie.”

Sy broer, sê hy, is ’n sterk man, maar van binne. . .

“Ek sê hom nou die dag: ‘Wilfred, jy’t nog nie eens regtig gehuil nie’, toe sê hy: ‘Jy weet nie wat ek saans doen as ek alleen is in my kamer nie’.”

Hy beheer sy stem met moeite.

“So vir hom . . . Sy een dogter is geopereer en sy ander seun is ook dood so dis ’n baie moeilike tyd vir hom.”

Meer oor:  Chester Williams  |  Willemien Brümmer  |  Saru  |  Springbokke  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.