Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
EKSKLUSIEF: Ontmoet prof. Abdool Karim se opvolger

Sy is ’n ewige optimis wat nooit haar vertroue in die mensdom sal verloor nie. Willemien Brümmer het eksklusief met prof. Koleka Mlisana gesels, die nuwe medevoorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19.

Prof. Koleka Mlisana het die leisels by prof. Salim Abdool Karim geneem as die stem van die wetenskap as die nuwe medevoorsitter van die ministeriële advieskomitee (MAK) oor Covid-19.

“Jy weet, die één ding wat ek hoop ons kan verander as ’n nasie is ons negatiwiteit, dis hoekom ek vir jou gesê het ek is ’n groot optimis.”

Aan die woord is prof. Koleka Mlisana, die stem van rede in ’n era van onsekerheid. Sy is die nuwe medevoorsitter van die ministeriële advieskomitee (MAK) oor Covid-19 wat die maatstok by prof. Salim Abdool Karim, haar ou studentevriend en kollega, oorgeneem het. Dis nou sy wat bedaard en hopelik net so kristalhelder soos haar voorganger die geheimenisse van die wetenskap vir die volk gaan moet ontsluit en wat moet sorg dat die regering hom deur data laat lei, en nie (soos sommige dit sien) deur magsbehepte outokrate nie.

Sy is ’n warm, selfversekerde vrou, die land se heel eerste swart mikrobioloog, wat harde bene moes kou sedert haar grootworddae in Baziya, ’n afgeleë nedersetting naby Mthatha in die Oos-Kaap.

Sy weier om in die verlede te dool en as sy van iemand verskil, is dit “met respek en sonder arrogansie”.

Ons moet kyk na waar ons nou is, en hoe ons beter kan vaar in die toekoms.

Sy lag, ’n vigsveteraan met bonkige geel oorbelle en ’n heldergeel hemp daar waar sy agter haar lessenaar by die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS) sit. Sy is die uitvoerende bestuurder van akademiese sake, navorsing en gehaltebeheer.

“Jy weet, as ons op die foute in die verlede dool, gaan ons nie vooruit kom nie. Ons moet kyk na waar ons nou is, en hoe ons beter kan vaar in die toekoms.”

Dis haar diplomatiese antwoord op die holruggeryde vraag oor Suid-Afrika se slakkepas entstof-ontplooiing teen Covid-19 – ’n program wat teen die huidige tempo langer as 16 jaar sal neem om 67% van die bevolking te immuniseer.

Prof. Salim Abdool Karim, wat pas uitgetree het as medevoorsitter van die MAK, voor die vigsnavorsingsentrum Caprisa, waarvan hy die direkteur en stigter is. Mlisana het saam met hom hier gewerk, waar sy seminale navorsing gedoen het oor akute infeksie met die MI-virus.

Sy aarsel. “As dit nie vir die nuwe variant was wat ons in Desember ontdek het nie, sou ons al veel verder gewees het met ons inentingsprogram, maar terselfdertyd is dit goed dat ons baie sterk navorsers gehad het wat vinnig kon tussenbeide tree en die Johnson & Johnson-entstowwe (as deel van die Sisonke-proewe) kon inbring. Hulle kon binne ’n baie kort tydjie ’n alternatief vir AstraZeneca beredder toe ons sien dit is nie doeltreffend teen die nuwe variant nie.”

Sy stip weer die beplande datums en hoeveelhede entstof uit wat in die afsienbare toekoms hopelik die land sal inkom – 'n miljoen betaalde Johnson & Johnson-dosisse teen die tweede helfte van April en tussen April en Junie sowat 6,75 miljoen van die dubbeldosis Pfizer-BioNTech-entstowwe wat teen ultra-koue temperature geberg moet word. “Wat ons nou nodig het, is dat die entstof-plan in ’n taal omskryf word wat die publiek kan verstaan en dit moet gepubliseer word.”

Haar stem is rustig. “Ek verstaan mense se ongeduld, maar kom ons gun die regering net ’n paar dae om vir ons die plan te gee en om met die publiek daaroor te kommunikeer. Dis een van die areas waar ek die department van gesondheid regtig wil aanmoedig . . . en dis om hul planne beter te kommunikeer.”

Samesweringsteorieë

Is sy voorbereid op ’n derde vlaag ná die oordaad van die Pase? En hoe gaan ons seker maak ’n nuwe variant het ons nie weer in skaakmat nie?

Sy knik.

Suurstoftenke voor die Tshwane-distrikshospitaal tydens die tweede vlaag van die pandemie toe Suid-Afrika deur ’n nuwe variant oorweldig is. Foto: Alet Pretorius

Waarop ons nou moet konsentreer, sê sy, is dat daar nougesette toetsing is by grensposte en lughawens nadat die mees gemuteerde variant van Ears-CoV-2 tot nog toe onlangs deur ’n Suid-Afrikaanse span ontdek is in drie Tanzaniese reisigers in Angola.

“Die feit dat ons deurlopende genomiese ontleding het in ons land, is ’n fantastiese stap vooruit omdat ons die virus hier kan monitor en nou kan ons hierdie waarnemingsprogram ook aan buurlande verskaf. Dis juis hoe ons hierdie nuwe variant in Angola kon vind.”

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, word ingeënt teen Covid-19 by die Khayelitsha-distrikshospitaal in Februarie vanjaar as deel van die Sisonke-studie. Indien die inentings teen die huidige slakkepas voortduur, sal dit meer as 16 jaar neem voordat Suid-Afrika groep-immuniteit bereik deur middel van inentings. Foto: Getty Images

Wat ook onontbeerlik gaan wees, is dat ons inzoem die oomblik wanneer ons sien dat die getal gevalle in ’n gebied skerp toeneem en heel eerste seker maak dis nie weens ’n nuwe variant nie. “Indien dit dan wel ’n nuwe variant is, moet ons eerstens sy eienskappe verstaan en indien nodig ons respons aanpas. Ons moet ons kontak-nasporing versterk en seker maak dat ons op enige kolle (“pockets”) van infeksie toeslaan. Ek dink ons het genoeg stelsels ontwikkel oor die afgelope twee vlae om dit vroeg te vind en te temper.”

As nuwe medevoorsitter van die MAK (saam met prof. Marian Jacobs, wat reeds sedert September medevoorsitter is) gaan sy haar veral daarop toespits om die gemeenskap se gedrag en opvattings te verander. “Die pandemie en al die samesweringsteorieë moet vanuit die staanspoor gedemistifiseer word, want dit staan in die pad van enige temperingsmaatreëls of enige verdere vlaag wat ons kan tref.”

Mkhize versus Gray

En hoe gaan sy seker maak dieselfde soort vyandigheid ontstaan nie weer op die advieskomitee ná die botsing verlede jaar tussen dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, en prof. Glenda Gray, president en hoofuitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad nie? (Gray, wat destyds aan die hoof was van die subkomitee vir navorsing van die MAK, het van die regering se inperkingsregulasies gekritiseer – waarop die departement van gesondheid gevra het dat Gray ondersoek moet word gegewe die “skade wat sy gedoen het aan Suid-Afrika se teensang op Covid-19”.)

Die minister het ons byeengebring, want hy is op soek na raad en raad is net raad – jy kies of jy wil ag slaan daarop of nie.

Sy antwoord versigtig. “As wetenskaplikes verskil ons soms van mekaar én van die regering. En volwassenheid is juis wanneer ons kan ooreenkom dat ons nie ooreenstem nie, so ek sien dit nie as vyandigheid nie, maar net as ’n verskil van opinie. Dit is ook belangrik om te verstaan wat die rol van die advieskomitee is. Die minister het ons byeengebring, want hy is op soek na raad en raad is net raad – jy kies of jy wil ag slaan daarop of nie.”

Prof. Glenda Gray, president van die Mediese Navorsingsraad, was verlede jaar in ’n botsing met die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, terwyl sy ’n subkomiteevoorsitter op die MAK was. Die geskil is intussen in der minne geskik en Gray staan nou aan die hoof van die Sisonke-studie, wat gehelp het dat gesondheidswerkers so gou moontlik met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt kon word. Foto: Foto24

Sal sy dit self waag om die minister te kritiseer?

Sy lag. “Ek sien dit nie as kritiek nie. Dis net om te sê dít is wat die wetenskap sê en as die regering daardeur gekritiseer wil voel, dan is dit maar so. Maar onthou, ek is ’n wetenskaplike en ek is net daar om die wetenskaplike data voor te lê. Dis waar dit eindig en ek los dan die politici om verder daarmee te woeker.”

‘Ek is ’n apie’

Sy self het gekies om “die land deur middel van die wetenskap te dien”, al was die destydse “Durban Mediese Skool”, waar sy saam met mense soos Mkhize, sy adjunk, dr. Joe Phaahla, en Abdool Karim studeer het, ’n soort broeikas vir toekomstige politieke leiers – of ’n “school of struggle”, soos dit ook genoem is.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy adjunk, David Mabuza, en die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, gesels met die uitvoerende hoof van Aspen, mnr. Swartz, by hul steriele vervaardigingsfasiliteit in Gqeberha. Die doel van die besoek was om te kyk hoe dit gaan met die vervaardiging van die Johnson & Johnson-entstof. Foto: Lulama Zenzile

As die tweede oudste van vier kinders wat deur ’n enkelma grootgemaak is, het sy vroeg reeds geleer meisies moet sterk en onafhanklik wees in ’n dikwels ongenaakbare wêreld. “Toe my pa dood is in ’n motorongeluk, was my jongste suster pas gebore en my ma moes vier jong kinders op haar eie grootmaak. My pa het ’n klein spazawinkeltjie, Makaula Store, in Baziya gehad en my ma was skielik ’n jong weduwee wat moes leer hoe om ’n motor en ’n winkel te bestuur.”

In daardie tyd was dit byna ’n uitgemaakte saak dat sy geneeskunde sou studeer. “Dit was ’n kwessie van as jy goed gevaar het op skool en jy vaardig was met wiskunde, dan is daar vir jou gesê jy moet geneeskunde gaan studeer.”

Die destydse Universiteit van Natal (nou die Universiteit van KwaZulu-Natal) het in 1951 ’n mediese skool oopgemaak vir “nie-blanke” studente in Durban – ’n soort apartheid-anomalie aangesien dit ’n uitsluitlik swart mediese fakulteit was as deel van ’n “wit” universiteit. “Ons was almal saam in die swart seksie en daar was ’n sin van tuishoort en familie en die meeste dokters wat saam met ons klaargemaak het, is nou in politieke poste.”

Hy sou nie skroom om ’n eerstejaarstudent in ’n vreemde en oorweldigende omgewing te dwing om te skree: ‘Ek is ’n apie!’ voor die hele klas indien jy ’n beuselagtige fout gemaak het in ’n praktiese klas nie.

In ’n artikel deur die historikus Vanessa Noble oor die ervaring van swart mediese studente hier haal sy vir Mlisana aan waar sy vertel van hul chemie-dosent, ’n mnr. Parris:

“Wie van ons sou ooit ’n sekere mnr. Parris (God vergewe hom!) vergeet? Hy sou nie skroom om ’n eerstejaarstudent in ’n vreemde en oorweldigende omgewing te dwing om te skree: ‘Ek is ’n apie!’ voor die hele klas indien jy ’n beuselagtige fout gemaak het in ’n praktiese klas nie. Party ongelukkige studente is selfs op die heel eerste dag met skorsing gedreig.”

Koleka en haar man, dr. Zolile Mlisana, by die troue van hul dogter, Andiswa. Sy en haar man is volgende jaar 40 jaar getroud nadat hulle mekaar by die mediese skool van die destydse Universiteit van Natal ontmoet het. Hulle het tans ’n 'pendel-huwelik' omdat hy in Mthatha werk en sy in Johannesburg.

Die swart studente het almal tuisgegaan in die Alan Taylor-residensie, ook genoem “Wentworth”, ’n enkelverdieping-, asbesdak-, Tweede Wêreld Oorlog-era-kaserne langsaan ’n reusagtige en stink olieraffinadery wat so ver weg was van die “wit” kampus as moontlik. Die slaapsale was so klein dat dit moeilik was vir meer as een persoon om op ’n slag aan te trek. Die studente is verbied om die universiteit se kleurbaadjie te dra en hulle het die gradeplegtigheid geboikot omdat hulle nie dieselfde seremonie as die wit studente kon bywoon nie.

Destyds was dit algemeen vir swart studente (wat uit die ondergeskikte stelsel van “Bantu-opvoeding” gekom het) om hul tweede jaar te druip. “Ons eerstejaarklasse was in die Alan Taylor-residensie langs die olieraffinadery en dit was die eerste keer dat jy deur ’n wit persoon onderrig sou word of dat jy ’n volledig toegeruste laboratorium sou sien. Ons tweede jaar was by die mediese skool en dit was algemeen om óf anatomie óf fisiologie te druip.”

Sy lag en vertel hoe sy getrou het terwyl sy haar tweede jaar by dié mediese skool herhaal het. Volgende jaar sal sy 40 jaar lank getroud wees met Zolile, wat toe pas klaar was met sy mediese studies by dieselfde skool en vandag die hoof is van die departement pediatrie by die Mthatha-streekshospitaal.

“Ons eerste kind is gebore terwyl ek my finale jaar gedoen het en die tweede en derde is gebore toe ek reeds ’n gekwalifiseerde dokter was.”

Sy lag weer. “Maar my kinders is baie duidelik daaroor: Hulle weier om ook geneeskunde te studeer. En weet jy wat die rede is hiervoor?”

Mlisana saam met haar kleinkinders Liza en Mzi. Sy het vier kleinkinders en die vyfde is op pad.

Sy klink byna verbaas.

“Hulle het gesê: ‘Ons wil ryk wees eendag’ en ek en my man stel glad nie ’n goeie voorbeeld op dié gebied nie. Terwyl hulle grootgeword het, het ek vir hulle gesê indien jy eendag geneeskunde studeer, moet dit jou hartstog wees. Dalk het ek weer eens nie ’n goeie voorbeeld gestel nie omdat ek nie meer kliniese werk doen nie.”

’n Direkte lyn na God

In plaas daarvan om pasiënte in ’n spreekkamer te sien, het sy gekies om te spesialiseer in mediese mikrobiologie, wat die weg gebaan het vir haar navorsing oor MIV/vigs in ’n tyd toe die vigspandemie in hoogbloei was. “Ek het in die privaat sektor gewerk toe prof. Abdool Karim die vigsnavorsingsentrum Caprisa (Centre for the AIDS Programme of Research in South Africa) begin het en my genooi het om daar te kom werk.”

In dié tyd het sy invloedryke navorsing gedoen oor hoe die liggaam reageer tydens akute infeksie met die MI-virus, sowel as die oordrag en ontstaan en verloop van dié siekte. Net soos vir baie ander vigsnavorsers het dit haar in ’n ideale posisie gesit om vandag ’n virus te bestudeer wat die hele wêreld getroef het.

Drr. Koleka Mlisana, Leila Mansoor, Janet Frolich en Senge Sibeko van die Universiteit van KwaZulu-Natal in die jaar 2007 voor ’n foto van die buis waarmee vroue hulself ’n vaginale jel kan toedien wat MIV-oordrag halveer. Foto: Dries Liebenberg

In 2011 het sy die hoof van haar alma mater se departement mediese mikrobiologie geword totdat sy in Julie 2018 as uitvoerende bestuurder by die NHLS in Johannesburg aangestel is.

Sy lag hartlik. “Ek wens ek het ’n direkte lyn na God gehad om vir Hom te vra vir ’n ekstra 12 uur in my dag!”

Net soos haar voorganger, prof. Abdool Karim, maak sy dit duidelik geen mens kan vir altyd medevoorsitter van die MAK oor Covid-19 bly nie. “Jy slaan jou hand aan die ploeg, jy doen jou bietjie, en dan is dit: ‘Dankie (sy stof haar hande af), ek het my deel gedoen, iemand anders kan nou oorneem.’ So natuurlik wil ek ook voortgaan met my loopbaan, maar oor die volgende paar maande sal ek moet sien hoe ek my werk by die NHLS kan aanpas en watter ander komitees ek vir eers kan los.”

’n “Reusagtige geloof in die mensdom’

As ’n diep godsdienstige vrou (sy en haar man het selfs al ’n kerk, Emfuleni Missions Church, gestig toe hulle nog in Durban was) glo sy ten diepste haar lewe word deur ’n Hoër Hand georkestreer.

Dis iets wat sy by haar ma geleer het. “Ek het gesien hoe sterk ons ma was, maar terselfdertyd so sag en met so ’n groot hart en sy het vir ons vanuit die staanspoor geleer daar is niks wat jy kan bereik as dit nie deur God is nie.”

Prof. Mlisana agter haar lessenaar by die nasionale gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), waar sy die uitvoerende bestuurder van akademiese sake, navorsing en gehaltebeheer is. Sy wens sy het ’n 'direkte lyn na God' gehad sodat sy Hom ’n ekstra 12 ure in haar dag kon vra.

Al is die wetenskap (en ministeriële advieskomitees) vol ego’s, was nederigheid nog altyd vir haar ’n belangrike riglyn.

Sy lag. “Jy het dit gesê, nie ek nie!”

Waar ook al ek is, waar ek ook al werk, behou ek my reusagtige geloof in die mensdom.

En toe, ernstiger: “Dis nie asof daar enigiets spesiaals aan my is nie. Dit het maar net so gebeur dat ek geseën is met geleenthede en dat ek kon kom waar ek nou is. Dit hou my altyd nederig, want ek besef ek moet my bes doen, aangesien ek in ’n bevoorregte posisie is. Maar dit maak my nie beter as enigiemand anders nie en daarom moet ek almal anders en hul opinies respekteer.”

Haar glimlag word breër. Koleka Patience Mlisana, wie se eerste naam in Xhosa “betroubaar” beteken. “Dis maar net wie ek is en dít gaan nie nou verander nie. Waar ook al ek is, waar ek ook al werk, behou ek my reusagtige geloof in die mensdom. Jy moet my regtig omtrent ’n miljoen keer teleurstel . . .”

Haar stem is beslis. “Ek het nog nooit my vertroue in ’n mens verloor nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.