Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
EKSKLUSIEF: Weduwee maak hart oop ná Bonnievale-plaasmoord

Liezel Wessels praat vir die eerste keer met Netwerk24 oor die nag toe sy vir dood agtergelaat is en haar man Tool Wessels tereggestel is. Willemien Brümmer was by haar en haar dogters op hul plaas Kapteinsdrift buite Bonnievale.

Liezel Wessels, weduwee van die vermoorde boer Tool Wessels, in die sonnige leefvertrek op Kapteinsdrift net buite Bonnievale. ’n Maand vantevore is sy enkele meters hiervandaan agt keer met ’n mes gesteek, herhaaldelik met kookwater gebrand en vir dood in die kantoor agtergelaat. Haar man is sowat 200 m van die huis af tereggestel. Foto: Jaco Marais

“Daar is nou nie veel opsies nie. Jy móét maar aangaan.”

Liezel Wessels, weduwee van die vermoorde boer Tool Wessels, kyk stip voor haar uit. Dis die eerste keer dat sy praat sedert Tool op 13 Mei wreedaardig tereg gestel is en sy ure lank gemartel en vir dood agtergelaat is slegs ’n paar meter van waar ons sit.

Jy kry die indruk dat sy byna bomenslik sterk is; rateltaai. Sy mors nie ’n woord nie en beteuel haar emosies met ysere wil. Al wat sy kan doen is om te probeer oorleef. Dié gevierde tweekampatleet, twee keer die biathle- (’n onderafdeling van moderne vyfkamp) wêreldkampioen.

Sy het ’n fier liggaamshouding, al is elke tree wat sy gee pynlik. Tog sypel daardie fyn sin vir humor elke nou en dan deur.

Soos die dominee, ds. Jakkie du Preez, sê: “Cowgirls don’t cry, especially before their horses.”

Skaars ’n week vantevore is sy uit die Mediclinic in Worcester ontslaan nadat sy agt keer met ’n mes gesteek en oor haar hele lyf met kookwater gebrand is. Die meswond in haar linkerlong, wat haar hart skrams gemis het, het byna haar lewe gekos.

“Ek is baie seer. Ek sukkel nog met asemhaling,” sê sy geheel en al sonder selfbejammering.

Ons het 19 jaar lank ’n idilliese bestaan gehad hier.

Aanvanklik wou nie sy of haar twee dogters, Annelie (23) en Jana (20), na Kapteinsdrift terugkeer waar die onsêbare gebeur het nie, maar vandag is hulle terug in die sonnige leefvertrek met sy kinderkuns teen die mure.

Die muskadel- en die nouvelledruif-wingerde lyk soos iets op ’n poskaart en op die teetafel is pynappeltert.

“Jy’t basies drie opsies: Óf jy moet verkoop óf jy moet verhuur óf jy moet ’n plaasbestuurder aanstel. Maar my pa het altyd gesê as jy grond verkoop het, kan jy dit nooit terugkoop nie.”

Liezel kyk reguit voor haar, byna strak.

“Ons het 19 jaar lank ’n idilliese bestaan gehad hier.”

Die wingerd by Kapteinsdrift. Die gesin wil nie foto’s van hul plaashuis laat publiseer nie, uit vrees vir hul veiligheid.Foto: Jaco Marais

Dis daarom dat haar twee broers, Stephan en Neethling Bruwer van Ashton, vir eers die boerdery oorgeneem het. Intussen het Liezel vir ’n paar maande in die afreeoord op die dorp ingetrek waar haar pa nou amper haar buurman is.

Haar bruin oë vonkel.

“Ek maak die cut net-net. Ek is nou 50.”

Tool en Liezel Wessels hou vakansie by Wildernis. Hulle was 27 jaar getroud.
Tool dans ’n hond uit ’n bos by die Helde-en-Prinsesse-bal wat in 2015 by die Janeza Plaasteater op Bonnievale gehou is. Hy was ’n danser en ’n “grapmens en ’n lagmens”.

‘Almal se vriend’

Sy vertel hoe sy en Tool (53) 28 jaar terug op Citrusdal ontmoet het voordat hulle 19 jaar gelede op Bonnievale kom boer het. “Ou Tola” met sy ruim hart wat die kickstart vir elke partytjie was; ’n “seremoniemeester” – “stout, vriendelik en liefdevol”. Tool die “grapmens, lagmens, vreugdemens, potjiekosmens, singmens, praatmens, doenmens, mens-mens,” soos hy op sy begrafnis beskryf is.

Albei van hulle uit boerderyfamilies: sy die skrander rekenmeester wat op haar dag teen Elana Meyer gehardloop het, hy die dansende jong boer met sy pittige sêgoed.

Sy en Tool het Bonnievale leer ken as ’n veilige dorpie. “Veiligheidsmaatreëls was nooit nodig nie. Ons maak net ons hekke toe in die aand in die huis – die veiligheidshekke by ons kamers.”

Selfs nadat Piet en Elmien Steyn in Desember in hul slaap vermoor is in hul aftreehuisie bo-op die berg het plaasmoorde nog nie na ’n werklikheid gevoel nie.

“Dit was op grond wat hulle besit in die berg, maar daar was geen boerderyaktiwiteite nie,” sê die dominee, wat gekom het vir geestelike ondersteuning.

“Ek dink in ons psige was dit nog ’n bietjie ver van ons.”

Liezel knik.

“Ons het gesluit en alles, maar seker so drie, vier maande terug was hier iemand wat gekom het vir sekuriteit en kameras en goed. Maar die ou het nooit weer teruggekom nie.”

“Jy fokus gewoonlik eers op parstyd totdat dit verby is,” verduidelik die dominee.

Ds. Jakkie du Preez van Bonnievale se NG gemeente wat deurentyd vir Liezel in die hospitaal bygestaan het. Haar eerste woorde aan hom was: “Sjoe, hulle was baie wreed.”Foto: Jaco Marais

Hy lyk broos.

“Wat Tool en Liezel se aanval anders maak, is dat hulle aan die hart van die gemeenskap was. Tool was almal se vriend. Met Tool se heengaan voel dit regtig soos een van jou beste vriende wat wreedaardig van jou weggeneem is.”

Liezel praat moeilik oor die gebeure op Maandag 13 Mei – dalk om haar dogters te beskerm, dalk omdat die vloedgolf emosies dreig om haar soos ’n tsoenami te oorweldig. Haar oë praat tussendeur woordeloos met Annelie en Jana.

Die huis was gesluit. Hulle het vir Pappa buite gekry en saam met hom ingekom.
Annelie Wessels

Laatmiddag doen sy baanwerk saam met ’n vriendin by die skool en teen 17:30 is sy tuis op Kapteinsdrift om gereed te maak vir die Omgeegroepie by die kerk.

Wanneer Tool om 18:20 voor die plaashuis stilhou word hy deur vier of vyf mans met klapmusse oorval.

“Die huis was gesluit. Hulle het vir Pappa buite gekry en saam met hom ingekom,” sê Annelie sag.

Liezel fokus op haar hande.

“Ek was agter in die kamer. Hulle het hom oorval en vir my kom haal.”

Oor wat binne die huis gebeur het wil sy in dié stadium niks sê nie. Al wat sy sê is: “Ons was lank in die huis gewees. Ek het nie ’n idee van tyd nie.”

“Niemand kan iets verander aan wat gebeur het met ons nie. Dit kan nie teruggedraai word nie. Dis klaar, dis verby, maar wat gaan ons maak om dit in die toekoms beter te maak?”Foto: Jaco Marais

Maar sy is doodseker daarvan die aanvallers het haar vir dood agtergelaat.

“Ek dink nie hulle wou iemand hier gelos het nie.”

Haar oë dwaal na die muur oorkant die skitterende blou swembad. Teen dié muur is twee hake waaraan twee stelle springtoue gehang het. Sy is met dié toue vasgemaak in die kantoor met sy instapkluis. Dis hier waar sy bewusteloos geraak het.

“Op ’n manier het ek my losgekry. Daai springtoue is cheapies wat ek gekry het by Mr. Price; hulle kan so ’n bietjie rek. Dis waarmee ek spring. Ek spring so ’n bietjie tou en dan skiet ek en dan spring ek so ’n bietjie tou.”

Ek het eers my hande losgekry en toe my voete en toe kruip ek na die rekenaar toe, maar ek het nie my bril op nie, so ek kan nie lekker sien nie en toe het ek probeer e-posse stuur.

Verlede jaar was sy die Suid-Afrikaanse Laser Run-wedloop kampioen in haar ouderdomsgroep. Sy glimlag. “Dis hardloop skiet, hardloop skiet met ’n laserpistool. Dis alles onderafdelings van moderne vyfkamp, wat ’n Olimpiese sport is.”

Sy konsentreer op elke woord.

“Ek het eers my hande losgekry en toe my voete en toe kruip ek na die rekenaar toe, maar ek het nie my bril op nie, so ek kan nie lekker sien nie en toe het ek probeer e-posse stuur.”

Op ’n manier is sy terug huis toe waar sy haar bril kon opspoor.

“My oë was net . . . ja, ek het baie bloed verloor. Toe het ek e-posse vir my twee broers gestuur en vir Annelie. Ek het probeer dink wie se e-posse kom op hul selfone deur. Dit was so 21:15. My een broer het toevallig net 20 minute vroeër sy iPad toegemaak.”

Annelie, ’n meestersgraadstudent in kwantitatiewe bestuur aan die Universiteit Stellenbosch, se e-pos kom eers om 23:29 deur.

Annelie toe sy haar eerste graad gekry het in Bestuurswetenskap. Sy is nou ’n meestersgraadstudent in kwantitatiewe bestuur. Agter staan Liezel, Tool en Jana.

Haar ma vat aan haar rooiraam-bril.

“My e-posse was baie deurmekaar. Halwe sinne, spelfoute. Toe het ek op ’n manier . . . My Corsa-karretjie het nog buite gestaan, maar ek kon hom nie aan die gang kry nie, toe het ek weer teruggekom en ’n ander voertuig gesoek. Ek het met Tool se bakkie gery na die eerste bure toe.”

By Dirk en Arina Steyn van Gelukshoop blaas sy die bakkie se toeter.

“Ek het besef as ek uitklim, weet ek nie of ek sal kan terugklim in die bakkie nie en toe is daar niemand nie.”

Ek dink dis net genade en deur krag van Bo dat ek dit reggekry het om te bestuur.

By die tweede plaas hoor die inwoners die toeter maar hulle dink dis iemand wat in die pad verbyry.

“Ek dink dis net genade en deur krag van Bo dat ek dit reggekry het om te bestuur. Dit was my linkerkant en my linkerlong . . .”

Sy vat aan ’n letsel bo haar linkeroog. “Hierdie plek het ook vreeslik gebloei.”

By die derde huis sien sy al die ligte brand nog. Jacqui Barnardt van die huis langs Bonnievale Kelders het pas teruggekom van die Kaap nadat sy die matriekklas geneem het na ’n opvoering van hul voorgeskrewe werk, My Children! My Africa!

“Ek was ná 22:00 eers by Jacqui-hulle, so wat gebeur het nadat ek die e-posse gestuur het. . . . Ek weet net ek het baie lank op die bed gaan lê en rus voordat ek my klere kon aantrek om te ry.

“Ek het al tevore gesukkel om daai hekkie (by die Barnardts) oop te kry, maar hierdie keer het ek nie gesukkel nie. Ek weet net ek het vreeslik gehoot en toe gestap en vreeslik geklop en toe het Jacqui vir my oopgemaak.”

Liezel vertel hoe sy haar uit die springtoue losgewoel het waarmee sy vasgemaak was en na haar rekenaar gekruip het en e-posse gestuur het in ’n poging om hulp te kry. Foto: Jaco Marais

Sy glimlag.

“Ek moet sê die polisie was gou daar. Die dokter was ook daar, maar hy kon niks vir my doen nie.”

Was sy ooit bang sy sou sterf?

Sy kyk byna gesteurd op.

“Hoe weet jy of jy dit gaan maak? Ek weet net Jacqui het heeltyd probeer om my wakker te hou.”

‘Alles so onnodig’

In dié stadium het sy geen idee waar Tool is nie – vermoedelik het sy die ergste reeds aanvaar.

Die twee NG dominees op die dorp word wakker gebel by ’n sinodesitting in Worcester.

“Een van die gemeentelede het gesê wat gebeur het en dat Tool ongelukkig dood is en Liezel is beseer en iemand moet dit nou vir haar sê,” onthou ds. Jakkie.

Haar eerste woorde was maar net: ‘Sjoe, hulle was baie wreed.’
ds. Jakkie du Preez

Eers is hy na haar in die staatshospitaal in Robertson voordat sy na die Mediclinic Worcester oorgeplaas is.

“Ek het baie gewonder hoe gaan jy stilbly oor dit wat jy weet? Ek het maar net gesien ek moet by haar probeer wees. Sy was by haar bewussyn, maar sy was in skok. Sy’t baie koud gekry, sy’t baie seer gehad, maar sy’t my herken. Haar eerste woorde was maar net: ‘Sjoe, hulle was baie wreed.’ ”

Eers teen 05:30 die Dinsdagoggend toe sy in Worcester gestabiliseer is, besluit die twee dominees die tyd is reg. Ds. Jakkie vertel: “Ons het almal rondom haar bed gaan staan en my kollega (ds. Willem Liebenberg) het eintlik die leiding geneem en toe was haar woorde: ‘Ek het dit so aanvaar dat Tool dit nie gemaak het nie.’ ”

Sy vee oor haar voorkop.

“Ons was die hele tyd saam, maar in ’n stadium het hulle my na die woonstel gevat en hom hier gehou. Toe ek terugkom in die huis het ek niemand hier gekry nie, so ek het glad nie geweet waar hulle is nie, waarnatoe hulle hom gevat het nie.”

Haar oë skram weg van die sipresbome sowat 200 m van die plaashuis waar hy eers ná middernag by ’n verlate pompstasie gevind is.

Het sy die aanvallers herken?

“Nee, glad nie. Ek het ook niks gelees in die koerante nie. Ek weet nie, hulle het klapmusse op gehad. Ek dra geen kennis van hulle nie.”

Annelie onderbreek haar ma sagkens.

“Mamma het in ’n stadium gesê dat Pappa hulle ook nie herken het nie. Moontlik was van hulle seisoenale werkers op ons plaas – maar ons weet nie.”

Die moordenaars se enigste buit was kontant wat hulle in die instapkluis gekry het en ’n .22-geweer en ’n pistool.

Liezel kyk onderlangs na haar dogters.

“Ons het die .22 hier voor in die wingerd gekry. Dis ’n geweer waarmee Jana ’n tarentaal geskiet het. Jy kan nie eens ’n springbok daarmee skiet nie.”

Dit was alles so onnodig. Maak nie saak hoeveel geld jy gee nie, dit sou nie genoeg gewees het nie.

Haar stem word effens harder.

“Hulle het net gesê: ‘Where is the safe with the money and the weapons?’ Die kluis is dadelik oopgesluit. Onmiddellik. Toe sê hulle net: ‘Where’s the money? Where’s the money?’ Sommige mense het heeltemal ’n wanbegrip van wat op plase gebeur.”

Is sy kwaad?

Sy kyk na haar hande.

“Ek ís kwaad ja. Dis net ’n natuurlike reaksie. Dit was alles so onnodig. Maak nie saak hoeveel geld jy gee nie, dit sou nie genoeg gewees het nie."

Jana, Liezel en Annelie in die Mediclinic Worcester ná afloop van die gedenkdiens waar Tool se lewe gevier is. Liezel het spesiaal uit haar hospitaalbed opgestaan vir die diens. Sy was 16 en ’n half dae in die hospitaal.

’n Leefstyl weggeruk

In die hospitaal ruk die hele gemeenskap op om vir Liezel te kom ondersteun. Wit, bruin, swart, van heinde en verre.

Bridgid Hamilton Russell, ’n WP-atletiekvriendin wat pas die Wes-Kaapse biathle in hul ouderdomsgroep gewen het, bring haar medalje hospitaal toe.

“Liezel, ek het nou gewen maar ek bring nou die medalje vir jou, want dis in elk geval joune,” sê sy.

Annelie lag.

“Ons het omtrént ’n waglys gehad van mense wat daar was om vir Mamma te sien. Hulle het so in ’n ry gesit en dan het ons gesê: ‘Volgende, volgende!’ ”

By die gedenkdiens sorg die gemeenskap vir alles.

“Ons het nie nodig gehad om enige reëlings te tref nie. Die gemeenskap het selfs ons hele familie die vorige aand onthaal en vir almal wat van ver gekom het verblyf gegee. Ons hoef nooit te geworry het oor kos by ons nie,” onthou Annelie.

Ons het eintlik ’n lééfstyl gehad hier op Bonnievale – ’n aangename leefstyl en dis weggeruk onder ons voete.

Dit is soos die liggaam van Christus wat ’n ledemaat verloor het, sê die dominee.

“Hier is ’n seer in die liggaam en nou gaan die res van die liggaam doen wat nodig is om die liggaam te beskerm en gesond te hou.”

Liezel staar strak na die skoonheid voor haar wat intussen sy betekenis verloor het.

“Ons het eintlik ’n lééfstyl gehad hier op Bonnievale – ’n aangename leefstyl en dis weggeruk onder ons voete.”

Sy sug.

“Nie net ons s’n nie. Ek het byvoorbeeld gehoor die een ou sê hy het sy uitbreidings vanjaar alles gestop. Want waarheen is alles op pad? Ander mense sê hulle is kwaad. Hulle weet nie of hulle moet aangaan met die boerdery nie. ’n Ander ou het vir my gesê hy gaan sorg dat sy kinders goeie kwalifikasies kry dat hulle internasionaal enige plek kan gaan werk, want dit maak ons bang wat gebeur.”

Harder: “As ons aangewese is op die regering weet ek nie eens of al daai mense opgespoor gaan word nie en ás hulle opgespoor word, of daar iets met hulle gaan gebeur nie. Dit voel so asof daai mense wat oortree het, beskerm word.”

Jana Wessels (20), jongste dogter van Tool en Liezel Wessels, in die leefvertrek op Kapteinsdrift. Jana is ’n tweede jaar BRek-student aan die Universiteit Stellenbosch. Sy moes kort ná haar pa se dood eksamen skryf.Foto: Jaco Marais

‘Wat gaan ons doen?’

En nee, hulle soek nie empatie van die regering nie. Hulle soek aksie. Liezel se stem is dringend.

“Niemand kan iets verander aan wat gebeur het met ons nie. Dit kan nie teruggedraai word nie. Dis klaar, dis verby, maar wat gaan ons maak om dit in die toekoms beter te maak? Wat is die oplossing? Wat gaan ons doen?”

Ons praat weer oor Tool. Jurie Wynand Wessels wat vir almal moes Kersvader speel oor Kersfees. Hy met sy stukkende Crocs wat so geliefd was dat meer as ’n duisend mense by sy gedenkdiens kom groet het.

Dit voel nogal asof hy met vakansie is. Asof hy sê nou maar saam met die manne gaan jag het.

Liezel kyk my vir die eerste keer reguit in die oë.

“Dit voel nogal asof hy met vakansie is. Asof hy sê nou maar saam met die manne gaan jag het.”

Haar stem is teer.

“Nou nie dat Tool ’n jagter was nie – hy was ’n lagter, maar hy is saam.”

’n Enkele traan loop oor haar wange tot op haar ken.

“Dit voel asof hy enige oomblik hier gaan instap.”

*Hierdie is die eerste in 'n reeks van twee artikels oor plaasmoorde in die Wes-Kaap. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.