Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Brexit sal aandag aflei van Boris se leuens

Die Britse kiesers gaan op 12 Desember vir ’n nuwe regering stem. Waarom dié vervroegde verkiesing en wat is die vooruitsigte? Leopold Scholtz berig.

Pro-Brexit-ondersteuners betoog voor Westminster op die dag toe die Britte veronderstel was om die Europese Unie te verlaat. In plaas daarvan het politieke partye hulle vir ’n algemene verkiesing begin regmaak. Foto: Mike Kemp/Getty

Een woord staan in groot, rooi hoofletters oor dié vervroegde algemene verkiesing in Brittanje geskryf: BREXIT.

Natuurlik sal dit nie nét oor Brexit – Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) – gaan nie. Dit sal ook gaan oor immigrasie, onderwys, ekonomiese groei en die skep van werkgeleenthede, gesondheidsorg, onderwys, klimaatsverandering... noem maar op.

Veral die Arbeidersparty onder leiding van Jeremy Corbyn het reeds laat blyk dat hy die tradisioneel linkse onderwerpe gaan aanpak. Met ander woorde, alles wat (volgens die party) met ’n regverdiger verdeling van welvaart en die bekamping van armoede te make het.

Die Tories van Boris Johnson, die premier, sal klem lê op reg en orde, misdaadbestryding, die versterking van die weermag, ensovoorts.

Vir die Liberaal-Demokrate (LibDems) sal dit hoofsááklik om Brexit draai. Dié party wil Brittanje se uittrede uit die EU keer.

Dan is daar ook kleiner partye wat eintlik maar elkeen op ’n enkele saak konsentreer. Nigel Farage se Brexit-party wil ’n hárde Brexit sónder ooreenkoms hê en het eintlik geen verdere oortuigings nie; die Skotse Nasionale Party beywer hom vir die onafhanklikheid van Skotland; die Ulster-Unioniste wil ’n hereniging van Noord-Ierland en die Ierse Republiek voorkom; en Plyd Cymru is ’n Walliese nasionalistiese party wat onafhanklikheid vir dié land nastreef.

Wat die Britse premier, Boris Johnson, help is sy welsprekendheid en die wyse waarop hy sy gebrek aan betroubaarheid agter ’n seunsagtige sjarme kan wegsteek. Foto: Aaron Chown/ Getty

Brexit soggens, Brexit saans . . .

Nietemin is die kwessie van Brexit die hooftema wat op die oomblik deur die hele Britse politieke lewe loop. In 2016 het die destydse premier, David Cameron, gemeen hy kan ’n einde aan die groeiende verdeeldheid in sy Konserwatiewe Party maak deur ’n referendum oor die saak uit te skryf.

Hy het op ’n oorwinning gereken, maar dit het ’n naelskraap-nederlaag (52% teen 48%) geword. Hy het bedank. Theresa May het hom opgevolg en ’n mislukte verkiesingsveldtog gevoer wat op ’n parlement sonder ’n volstrekte meerderheid uitgeloop het.

Die Britte gaan dus vir die volgende ses weke soggens opstaan met Brexit, heeldag daarmee saamleef, en saans weer daarmee in die bed klim...

Daarna het sy ’n moeisame skeidingsooreenkoms met die EU bereik, wat vervolgens drie keer in die laerhuis verwerp is.

Sy het toe ook bedank en die harde-Brexit-gesinde Johnson het haar opgevolg en ’n “nuwe” ooreenkoms met Brussel beding. Dié “nuwe” ooreenkoms is sowat 95% dieselfde as die oue, en die wysigings is minimaal – maar die parlement het dit uiteindelik wel goedgekeur.

Die Britte gaan dus vir die volgende ses weke soggens opstaan met Brexit, heeldag daarmee saamleef, en saans weer daarmee in die bed klim – al gaan Corbyn en die Arbeiders ook hóé hard probeer om ander temas in te bring, sal dit vermoedelik slegs sekondêr van aard wees.

Leopold ScholtzFoto: Lerato Maduna

Skerp styging vir Tories

Dis altyd gevaarlik om verkiesingsuitslae met sekerheid te probeer voorspel, maar ’n mens kan wel kyk wat die peilings táns (let op die voorbehoud) sê.

Die gemiddelde van alle peilings, soos deur The Guardian gepubliseer, wys dat die Tories op die oomblik sterk voorloop – 37% teenoor 24% vir die Arbeiders, 18% vir die LibDems en 11% vir die Brexit-party. As ’n mens kyk na die grafiek sedert Julie (toe Johnson premier geword het), sien jy ’n skerp styging vir die Tories (dit was toe 25%).

Die Britse politiek is op verskeie terreine taamlik deurmekaar, wat dit problematies maak om iets met sekerheid te sê.

Dit sou ewenwel ’n fout wees om dié peilings as die alfa en omega te aanvaar. May het haar eie verkiesing uitgeskryf op grond van gunstige peilings in daardie stadium, en uiteindelik was sy haar volstrekte meerderheid in die parlement kwyt. Sy moes steun op die Ulster-Unioniste se onsekere welwillendheid, wat sake vir haar behoorlik bemoeilik het.

Daar is geen waarborg dat iets soortgelyks nié weer kan gebeur nie. Die Britse politiek is op verskeie terreine taamlik deurmekaar, wat dit problematies maak om iets met sekerheid te sê.

Volgens Britse politieke waarnemers het die huidige groei in die Tories se steun waarskynlik deels te make daarmee dat Johnson se onomwonde standpunt ten gunste van Brexit stemme van Farage se Brexit-party afrokkel.

Daarteenoor is ’n kleinerige meerderheid van die Britte volgens die peilings juis téén Brexit. En 57% van die kiesers meen dit was ’n fout om hoegenaamd ’n referendum in 2016 te hou.

Skaamtelose leuenaar

Afgaande op die verwarrende prentjie wat uit die peilings te voorskyn tree kan Johnson se Brexit-standpunt dus nie die enigste rede vir die groei in die steun vir die Tories wees nie. Trouens, luidens ’n peiling deur YouGov het net 34% van die kiesers ’n positiewe mening oor hom, teenoor 48% wat negatief oor hom is.

Ook as politikus is mense by wyse van spreke geneig om seker te maak waar die son sit wanneer hy “goeiemôre” sê.

Dis nie verrassend nie, gesien sy reputasie as skaamtelose leuenaar, wat hy al oor dekades opgebou het sedert die tyd toe hy as Brusselse korrespondent nuus oor die EU gefabriseer het. Ook as politikus is mense by wyse van spreke geneig om seker te maak waar die son sit wanneer hy “goeiemôre” sê.

Die leier van die Arbeidersparty, Jeremy Corbyn, skop dié party se verkiesingsveldtog af in die Battersea-kunstesentrum in Londen. Foto: Stefan Rousseau/ Getty

Sy eie grootste vyand

Johnson het egter ’n baie goeie “bondgenoot” wat sy verwagte stemsyfers aansienlik hoër opstoot, en dit is Jeremy Corbyn.

Corbyn is sy eie grootste vyand. Hy is ’n harde Marxis, ’n Trotskiïs wat steeds tot Wladimir Lenin aangetrokke voel, en wat elke links-radikale beweging in die wêreld steun.

In sy hart is hy self teen die EU, ’n organisasie wat hy eintlik as ’n soort internasionale kapitalistiese sameswering beskou.

Die Arbeiders is ’n diep verdeelde party. Die een vleuel is, getrou aan oudpremier Tony Blair se “derde weg”, baie gematig. Die ander is, soos Corbyn, dogmaties links.

Sy radikale opvattings maak dat baie gematigde Britte afgeskrik word om vir sy party te stem, al gril hulle ook hoe vir die onbetroubare Johnson.

Corbyn is kragtens ’n nuwe stelsel nie soos tevore deur die oorwegend gematigde Arbeider-koukus in die laerhuis verkies nie, maar deur die lede. Voor die leiersverkiesing het die “Corbynistas”, soos spottend na die linkses verwys word, radikale linkse mense by die tienduisende gewerf om Corbyn verkies te kry.

Nou sít die Arbeiders met hom. Sy radikale opvattings maak dat baie gematigde Britte afgeskrik word om vir sy party te stem, al gril hulle ook hoe vir die onbetroubare Johnson.

Wat Johnson wel help, is sy welsprekendheid en die wyse waarop hy sy gebrek aan betroubaarheid agter ’n seunsagtige sjarme kan wegsteek.

Jo Swinson, leier van die Liberaal-Demokrate (LibDems). Dié party wil Brittanje se uittrede uit die EU keer.Foto: Jason Alden/Getty

Die LibDems gaan waarskynlik goed vaar, maar die Britse stelsel veroorsaak dat die kleiner partye steeds aan die agterspeen suig. Die beste waarop hulle kan hoop, is dat ’n onbesliste parlement uit die uitslag na vore gaan kom, een waar hulle die deurslag op die wipplank kan gee.

Die Britse politiek is al sedert 2016 in ’n opperste staat van chaos. Dis baie moontlik dat die verkiesing nie dié chaos gaan oplos nie.

Meer oor:  Jeremy Corbyn  |  Boris Johnson  |  Leopold Scholtz  |  Tories  |  Britse Verkiesing  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.