Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Elke stem tel wél

Kiesers mors nie hul stemme as hulle vir selfs klein opposisiepartye stem nie. Elke stem vir opposisiepartye tel teen die ANC, skryf dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, by die bekendstelling van sy party se verkiesingsmanifes in Port Elizabeth. Die party se tema vir vanjaar se verkiesing is “Slaan terug. Nou of nooit”. Foto: Lulama Zenzile

Die politieke joernalis en ontleder Jan-Jan Joubert se artikel (Beeld, 11.04) oor ons kiesstelsel en dat jy jou stem kan mors, bevat verskeie fundamentele feitelike foute en stellings wat verkeerd en misleidend is.

Die onderliggende boodskap is dat jy eerder vir ’n groter party moet stem om teen die ANC te tel, anders mors jy jou stem.

Joubert maak fundamentele foute wat ’n wesentlike uitwerking het op die uitkoms in die bepaling van partye se getal verteenwoordigers en die waarde van elke kieser se stem.

Eerstens word beweer dat indien jou party nie ’n setel (LP) wen nie, jou stemme toegewys word aan ’n ander party. Dit is onwaar en sal onwettig wees.

’n Fundamentele fout is dat Joubert die Hare-formule gebruik om die kwota van stemme te bepaal.

’n Fundamentele fout is dat Joubert die Hare-formule gebruik om die kwota van stemme te bepaal deur te sê “die getal stemme verwerf word gedeel deur die getal setels om die getal stemme per setel te bepaal”. Die Droop-formule word egter gebruik en het ’n totaal ander uitkoms.

Nog ’n fout is om te beweer dat die kiesstelsel wat vir die munisipale regeringsvlak gebruik word, dieselfde is vir nasionale en provinsiale verkiesings. Op munisipale regeringsvlak word ’n gemengde kiesstelsel gebruik en op nasionale en provinsiale vlak die lyspropor­sionele kiesstelsel. Verskillende kiesstelsels het verskillende uitkomste en daarom kan munisipale verkiesings nie met die nasionale en provinsiale verkiesings vergelyk word nie.

Wat is korrek?

Die vraag is wat is ’n kiesstelsel. ’n Kiesstelsel is die meganisme wat bepaal wie verkies word nadat kiesers in ’n verkiesing gestem het. Dit bepaal die reëls waarvolgens die stemme getel word om vas te stel wie en hoeveel parlementslede verkies word. In hierdie verkiesing geld die lysproporsionele kiesstelsel vir die nasionale en provinsiale verkiesings.

Hoe die stelsel werk

Eerstens stem kiesers vir ’n bepaalde politieke party en nie vir kandidate nie. Die voordeel daarvan is dat op nasionale vlak alle stemme in die land vir ’n bepaalde party bymekaar getel word, en in die provinsies al die stemme in elke provinsie. Dit beteken elke stem tel.

Nadat die partye se stemme getel is, word ’n kwota bepaal wat die getal stemme is om ’n volle setel te kry. Hier word die Droop-formule gebruik. Die kwota word bepaal deur die totale getal geldige stemme wat landwyd uitgebring is (vir alle partye), deur die getal setels in die Nasionale Vergadering (400) plus een te deel. Die resultaat plus een, met die weglating van breukdele, is dan die kwota stemme per setel. Dieselfde geld elke provinsie, maar die getal setels verskil van provinsie tot provinsie.

Die getal setels wat voorlopig aan ’n party toegeken word, word bepaal deur die totale getal stemme vir ’n party te deel deur die kwota.

Die getal setels wat voorlopig aan ’n party toegeken word, word bepaal deur die totale getal stemme vir ’n party te deel deur die kwota. Ná die kwota-indeling het partye minder stemme as ’n volle kwota oor en het dan ’n surplus stemme.

Die surplusse ding mee met ander soortgelyke surplusse van ander partye, asook die partye wat nie ’n volle setel kon kry nie, en word toegeken in volgorde van die grootste surplus, tot ’n maksimum van vyf setels aldus toegeken, met dien verstande dat daaropvolgende toekennings van setels wat nog ontoegeken bly (uit die 400), in volgorde aan daardie partye gemaak word wat die grootste gemiddelde getal stemme per setel het. Op die webblad van die Verkiesingskommissie (https://www.elections.org.za/IECOnline/Documents/NPE_SeatCalculationGraphic.pdf) word dit duidelik uiteengesit.

Die getal setels van ’n party word dus net bepaal deur die getal stemme wat die betrokke party gekry het, en geen stemme van enige party word aan ’n ander party gegee of toegewys nie.

Provinsiale uitslae van 2014

Joubert bespreek elke provinsie se uitslae in 2014 en fokus spesifiek op die VF Plus en ACDP se stemme, wat kwansuis “ aan ander partye gegee” is. Hy sê egter nie aan watter partye nie. Soos reeds verduidelik, is dit totaal onwaar.

Die feit is dat in al die provinsiale wetgewers, behalwe die Wes-Kaap, die ANC met ’n volstrekte meerderheid regeer. Die ANC-meerderhede is groot, en hy regeer tans in die Oos-Kaap met 45 uit 63 setels, in die Vrystaat met 22 uit 30, KwaZulu-Natal met 52 uit 80, Limpopo met 39 uit 49, Mpumalanga met 24 uit 30, Noordwes met 23 uit 33, die Noord-Kaap met 20 uit 30 en in Gauteng met 40 uit 73.

In Noordwes en Limpopo is die grootste opposisieparty die EFF, nie die DA nie, en die VF Plus as opposisieparty het setels in Noordwes, Gauteng en die Vrystaat.

Waar die VF Plus nie setels het nie en sou al die stemme van die VF Plus vir die DA “gegee” word, sou dit geen verandering aan die regering van die provinsies deur die ANC gemaak het nie. Dit geld ook die ACDP se stemme.

Die waarde van jou stem

Kiesers vra of hul enkele stem ’n verskil kan maak en wat die waarde daarvan is. Die argument is dat nie al die partye wat deelneem aan die verkiesing ’n setel (LP) gaan wen nie, aangesien hul stemme (surplusse) te min gaan wees. Dit is korrek, maar die vraag is of daardie stemme dan gemors is. Die antwoord is nee, elke stem tel teen die regerende party (ANC).

Hoe werk dit? In die lyspropor­sio­nele kiesstelsel het ’n kieser se stem twee waardes, of dan twee funksies: Een is om te help dat die party vir wie jy stem, ’n setel kan wen, maar tweedens is dit om te voorkom dat die regerende party meer setels kry.

Volgens 2014 se nasionale uitslae was daar 16 partye wat nie ’n setel gewen het nie, maar al die stemme van hierdie partye word in die Droop-formule gebruik met die bepaling van die kwota vir ’n setel.

In die toepassing van die formule het hierdie 16 partye se stemme gekeer dat die ANC twee ekstra setels kry.

In die toepassing van die formule het hierdie 16 partye se stemme gekeer dat die ANC twee ekstra setels kry. Sou hierdie stemme nie getel het nie, sou die ANC twee ekstra LP’s gekry het. Hoewel die partye nie LP’s verkies gekry het nie, het hul stemme die waarde dat dit teen die ANC getel het.

Die beginsel van die tweede waarde van jou stem kan op ’n eenvoudige manier verduidelik word: Gestel tien mense het in die verkiesing gestem, ses vir die ANC en een elk vir die opposisiepartye A, B, C en D.

Die kiesstelsel en formule bepaal dan die ANC het ses uit tien, dit is 60%, van die stemme, en die ANC kry 60% van die 400 setels, naamlik 240.

Elk van die opposisiepartye kry een uit tien, dit is 10% van die 400, naamlik 40 setels elk. Sou ’n opposisiekieser nie gaan stem het nie, kry die ANC nou ses uit nege en dit is 66% van die 400 setels.

Jy kan dus vir enige opposisieparty stem. Jy mors nie jou stem nie en dit tel teen die ANC.

Dr. Groenewald het in 2013 sy doktorsgraad in politieke studie aan die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit voltooi met ’n proefskrif getiteld “Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ’n kritiese ontleding en alternatiewe”.

Meer oor:  Opposisiepartye  |  Verkiesing 2019  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.