Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eloff: 'Moenie terugskel, vloek of beledig nie'

Hoe kan Christene in Suid-Afrika hulle vandag geweldloos verset? vra Theuns Eloff.

’n Betoger in Senekal se T-hemp maak sy standpunt duidelik. Mense in Suid-Afrika het die reg om vreedsaam te betoog. Foto: Gallo Images

In reaksie op die artikel dat geweld nooit ’n keuse is nie (19 Oktober 2020), het verskeie persone die afgelope week of twee vir my gesê: “Ons hoor en verstaan die artikel dat geweld nooit ’n keuse is nie. Maar wat doen ons dan in situasies waar daar teen ons gediskrimineer word, waar ons taal onder druk geplaas of geminag word, of waar ons op ons plase of in ons woonhuise aangeval word?”

Prof. Amie van Wyk het die debat onlangs in ’n artikel in Beeld (3 November 2020) verder gevat en vier moontlike keuses uitgewys: radikale pasifisme, geweldlose verset, beheerde gewelddadige verset (rebellie) en gewelddadige verset tot elke prys (revolusie).

In hierdie artikel word die beginsels wat ek en Van Wyk na vore gebring het, prakties op vandag se Suid-Afrika, met geweldlose verset as keuse, toegepas. As ’n Christen dan nie geweld mag gebruik nie, wat mag en wat moet? Hoe moet ons reageer op wat vandag in Suid-Afrika aan die gebeur is?

Die beginsels wat ter sprake is, is duidelik:

• Die staatsowerheid in elke land en dié se staatsorde is deur God daargestel en Christene moet dit respekteer en hulle vrywillig en gelowig onder daardie orde stel; in Suid Afrika word die staatsorde veral in die Grondwet beliggaam;

• die staatsowerheid moet God se dienaar wees (al is nie alle politici gelowiges nie) en moet sorg dat ons (en ander burgers) ’n “rustige en stil lewe” het;

• indien nie, of as die owerheid van die gelowige verwag om teen God se wil op te tree, moet die gelowige God meer gehoorsaam as die owerheid wees; en

• dit gaan dus oor die vorm van daardie “meer gehoorsaam wees”. Wat mag en wat moet?

Die Bybel leer dat ons ons naaste moet liefhê. Maar wat as ek in my huis of op my plaas aangeval word? Wat kan en moet ek dan doen? Die reg op selfverdediging word implisiet in die Bybel en die Grondwet erken.

Theuns Eloff

Lewe is ’n Godgegewe gawe. Waar my lewe en veiligheid (en dié van my naasbestaandes) bedreig word, mag ek myself en hulle dus verdedig of beskerm. Volgens regsbeginsels mag my optrede egter nie onredelik en buite verband wees nie. Dit word byvoorbeeld nie outomaties as selfverdediging aanvaar as ek iemand in my huis doodskiet wat ongewapen was nie.

Die omstandighede in Suid-Afrika, my eie kwesbaarheid en ouderdom, kan wel ’n rol speel om te bepaal of ek ervaar het dat my lewe bedreig word – selfs al het ek nie ’n gevaarlike wapen in die inbreker se hande gesien nie.

Dit sal egter finaal in die hof bepaal word. Geweld teen vroue en kinders kom vandag ongelukkig baie wyd voor – in die wêreld, maar veral in Suid-Afrika. Die reg op selfverdediging en verdediging teen seksuele teistering is ook in sulke gevalle van toepassing.

Die beste optrede is voorkomend, en om so ver moontlik te verhoed dat ek en my mense aangeval of geteister word. Goeie fisieke beveiliging, goeie buurtwagte en plaasmense wat mekaar help, is vandag in Suid-Afrika noodsaaklik. En dit is ook goed dat ’n mens opleiding in selfverdediging ondergaan.

Dit is die verantwoordelike pad, ook vir Christene.

Moenie terugvloek

In vandag se Suid-Afrikaanse samelewing, waar polarisasie op grond van ras en klas wydverspreid voorkom, is die vraag wat ’n Christen se optrede moet wees as hy/sy beledig, gevloek of op geskel word?

As julle beledig en gevloek word (onder meer omdat julle Christene is en goed probeer doen), verduur dit en moenie terugvloek en beledig nie ...

Alhoewel dit nie maklik is om te doen nie, is die Bybelse opdrag baie duidelik: Moenie terugskel, vloek of beledig nie.

Die gevare en skadelikheid van woorde word deur Jakobus uitgespel. Die Nuwe Testamentiese opdrag is duidelik: As julle beledig en gevloek word (onder meer omdat julle Christene is en goed probeer doen), verduur dit en moenie terugvloek en beledig nie – daardie soort lyding is iets wat Christene moet verwag; en die verduring daarvan is ’n geloofsdaad.

Natuurlik mag ’n Christen ook van regsprosesse gebruik maak om byvoorbeeld ’n klag van laster of crimen injuria teen so ’n belediger en vloeker te lê. Die Grondwet en die staatsorde laat dit toe.

Die bogenoemde gevalle gaan oor ander mense wat dinge aan my en my naasbestaandes doen. Maar wat daarvan as die staat self my en my mense se belange skade aandoen? Die vraag kan redelik maklik beantwoord word as die staat my verhoed om goed te doen – soos om ou mense in die afttree-oord te besoek en te versorg of om kospakkies aan behoeftiges uit te deel.

Indien die owerheid sulke optrede verbied, moet ’n Christen eenvoudig voortgaan om goed te doen – dit is om meer gehoorsaam aan God te wees as aan mense (en die owerheid).

En as daar gevolge van die staat se kant af is, soos ’n boete en selfs tronkstraf, moet ’n Christen dit aanvaar – dit is wat God van ons verwag, ’n geloofsdaad.

Gemoedere het onlangs hoog geloop in Senekal en beledigings het oor en weer gevlieg. Christene moet nie terugskel as hulle gevloek word nie. Foto: Gallo Images

Wanneer die staatsowerheid nie meer die vermoë het om mense te beskerm nie, en burgers se veiligheid nie meer kan verseker nie (soos wat al duideliker in Suid-Afrika word), word die vraag meer ingewikkeld. Hier is nie sprake van ’n wet of opdrag wat gehoorsaam moet word nie.

Die owerheid is net nie in staat om te doen wat God daarvan as sy dienaar verwag nie. Dit is duidelik dat Christene (en ander burgers) onder hierdie omstandighede na hulleself en hul mense en moet omsien.

Dit sal goed wees as hulle hierin met die Suid-Afrikaanse Polisiediens saamwerk as dit kan (soos wat AfriForum op baie plekke doen), maar die instemming van die owerheid is nie nodig om jouself en jou mense te beskerm nie.

Dit is ’n vorm van “meer gehoorsaam” wees en in daardie opsig ’n geloofsdaad.

Diskriminasie op grond van ras

Indien die staatsowerheid op grond van ’n rasgegronde ideologie (“transformasie”) Afrikaners en Afrikaanssprekendes se moedertaal nie die “gelykheid en aansien en billike behandeling” gee wat die Grondwet (art. 6(4)) vereis nie, en wanneer dit as gevolg van hierdie ideologie nie meer moontlik is om onderwys in jou moedertaal te ontvang (soos wat die Grondwet ook vereis nie – art 29(2)), kan Afrikaanses hulle verset.

Enersyds kan ouers deur beheerliggame daardie reg tot moedertaal so ver en so lank moontlik probeer beskerm. Dit sluit, soos wat talle organisasies reeds doen, ook optrede in terme van die regstelsel in.

Andersyds kan die Afrikaanse gemeenskap ook besluit om onafhanklike Afrikaanse skole te begin vestig – om op hul eie en sonder belastinggeld te doen wat die Grondwet vereis, maar waaroor die owerheid toenemend nie meer kans sien nie.

Hierdie situasie, sal almal weet, is nog erger waar dit by naskoolse opleiding kom. Met die uitsondering van Stellenbosch Universiteit (in enkele fakulteite) en die Potchefstroomkampus van Noordwes Universiteit, is daar geen openbare universiteit waar Afrikaans nog as onderrig- of navorsingstaal gebruik (kan) word nie.

Toegegee, in die geval van universiteite, is dit nie net die skuld van die staat nie, maar ook van universiteitsrade en besture wat terwille van rassetransformasie en politieke korrektheid Afrikaans opgeoffer het of aan die opoffer is. Teen hierdie agtergrond is elke bestaande Afrikaanse openbare skool, elke nuwe Afrikaanse onafhanklike skool van onder meer die MOS Inisiatief, die tegniese kollege Soltech en die gemeenskapsuniversiteit Akademia almal ’n vorm van stille en vreedsame protes.

... gelowiges kan die grondwetlike reg op vreedsame protes gebruik as riglyn om die “meerdere gehoorsaamheid” aan God na te kom.

Dit gebeur wel binne die staatsorde, maar is tegelyk voorbeelde van meer gehoorsaam wees en in wese ’n geloofsdaad.

As algemene reël kan gelowiges die grondwetlike reg op vreedsame protes gebruik as riglyn om die “meerdere gehoorsaamheid” aan God na te kom.

In vandag se demokratiese bestel, word dit aanvaar dat landsburgers die reg het om hulleself vir of teen enige saak uit te druk. Hierdie “uitdrukking” kan deur die geskrewe, die gesproke en die gebeelde woord wees, maar kan ook deur fisieke optrede, soos optogte, protesaksies en versoekskrifte wees. Christene wat oortuig is dat daar teen hulle en hul grondwetlike regte (insluitend die reg op geloofsvryheid, kultuur- en taalregte) gediskrimineer word, kan dus van hierdie vorm van protes gebruik maak. Sulke optrede is in skerp kontras met gewelddadige optrede, en kan ook as ’n geloofsdaad beskou word.

’n Vorm van stille en vreedsame protes: ’n Kunstenaarsvoorstelling van die nuwe Soltech-kampus. Foto: Argief

Maar Christene moet ook onthou dat ’n goed bedoelde vreedsame protesaksie soms deur persone met gewelddadige bedoelings misbruik en gekaap kan word. Op die hakke van die vreedsame plakkaatdraers volg die winkelplunderaars en die hofbestormers.

Sulke moontlikhede moet in die beplanning van enige vreedsame protesaksie in ag geneem en voorkom word.

Ten slotte word die reg van landsburgers (en ook Afrikaanse Christene) om hulleself vrywillig met mekaar te assosieer (art 18) en om hul taal-, kultuur- en godsdiensregte binne die raamwerk van die Grondwet uit te leef (art 30 en 31), in die Grondwet gewaarborg. Hierdie regte kan en moet opgeëis en beskerm word. En deur organisasies te stig waar dit kan gebeur en bestaande organisasies te gebruik om dit uit te leef, kan die meerdere gehoorsaamheid aan God tot uitdrukking kom.

Dit is ook ’n geloofsdaad.

* Dr. Eloff is ’n onafhanklike kommentator. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/theuns-eloff-geweld-is-nooit-n-opsie-nie-20201018

https://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/christene-het-opsies-20201102

Meer oor:  Theuns Eloff  |  Geweld  |  Christenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.