Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Engels knou wiskunde

Een van die groot redes waarom ons kinders so swak doen in wiskunde is die feit dat hulle nie in hul moedertaal leer somme doen nie, skryf Mamokgethi Phakeng.

In 1997 het die regering ’n nuwe taalbeleid in onderwys aangekondig wat al 11 die amptelike tale erken en veeltaligheid aanmoedig.

Kragtens hierdie beleid moet leerlinge – of eerder hul ouers – hul voorkeurtaal kies wanneer hulle vir toelating tot ’n skool aansoek doen. Waar die taal wat hulle kies nie beskikbaar is nie, kan ouers by die provinsiale onderwysdepartement aansoek doen dat onderrig in daardie taal geskied. Skole moet ook die taal kies waarin hulle wiskunde gaan onderrig en skoolbeheerliggame moet ’n plan hê om veeltaligheid te bevorder.

Terwyl hierdie beleid in beginsel uitstekend is, oefen ouers in die praktyk nie hierdie regte uit nie. Ons beroof in die proses ons kinders van hul potensiaal om te presteer in wiskunde, wetenskap en tegnologie en om volle deelnemers aan die vierde nywerheidsrevolusie te word.

In ons skole keer ons die baie geleenthede wat veeltaligheid ons bied, die rug toe. In plaas daarvan word ons betower deur die gewaande voordele wat een taal, Engels, ons bied.

Dis ’n vals keuse, gegewe die hegemonie van Engels.

Die kwessie van taal was nog altyd – sedert die Soweto-onluste van 1976 – nou verweef met die politiek van oorheersing en skeiding, weerstand en bevestiging.

Die besluit om kinders slegs in Engels te onderrig hou verband met die diepe oortuiging dat dit die enigste taal is wat toegang bied tot belangrike “sosiale goedere” soos ’n loopbaan, hoër onderwys en die geleentheid om suksesvol te wees.

Ek hoor dikwels jongmense wat goed sê soos: “As jy nie Engels kan praat nie, sal jy nooit ’n werk kry nie.”

Alhoewel daar geen stelselmatige navorsing hieroor bestaan nie, word algemeen aanvaar dat baie skole met oorwegend swart leerlinge (en hul ouers) Engels as die taal van onderrig verkies. Die waarheid is egter dat, as ons net in Engels leer, ons nie ander moedertaalsprekers toelaat om hul volle potensiaal te bereik nie.

Dit is jammer dat debatte oor onderrig en leer in veeltalige klaskamers altyd ontaard in ’n binêre keuse van óf die een óf die ander, ’n benadering wat glad nie behulpsaam is nie. Hierdie binêre keuse neem ’n verskeidenheid vorme aan:

  • Die keuse van onderrig in Engels teenoor onderrig in ’n moedertaal;
  • ’n Fokus op die ontwikkeling van leerlinge se vaardigheid in Engels teenoor hul vaardigheid in wiskunde;
  • ’n Siening dat moedertaalonderrig ’n verbintenis is tot die ontwikkeling van Afrikatale en die gebruik van Engels in die klaskamer téén die ontwikkeling van Afrikatale is; en
  • ’n Siening dat moedertaalonderrig ’n poging tot dekolonisasie is terwyl die gebruik van Engels suggereer dat jy gekoloniseer is.

Hierdie binêre standpunte wek die indruk dat die gebruik van ’n kind se moedertaal en die gebruik van Engels in opposisie móét wees. Ons val voorts in die strik om op leerlinge se vaardigheid in Engels te fokus in plaas van hul vaardigheid in wiskunde.

Deur slegs op een onderrigtaal te fokus, leer ons ons kinders dat daardie taal die taal van intellek is en dat – totdat hulle moeilike begrippe in Engels kan verduidelik – hulle nie “intelligent” kan wees nie. Op dié manier gaan Engels voort om ons kinders te koloniseer, en hierdie keer is dit met ons goedkeuring en samewerking.

Om op Engels as enigste taal van leer en onderrig in wiskunde te vertrou, het nie gewerk nie. Ons matriekuitslae wys dit. Ons kinders se vermoë in wiskunde is eenvoudig nie goed genoeg om hulle voor te berei vir studie in natuurwetenskap-, ingenieurs- en tegnologieprogramme op universiteitsvlak nie.

As ons wil hê dat ons kinders in hierdie vakgebiede presteer, moet ons hulle toelaat om dié vakke in hul huistale te leer.

Vir baie swart onderwysers en leerlinge het Engels die enigste keuse geword om wiskunde te leer om ’n eenvoudige rede: dit is die taal van handboeke en assessering.

Ek het egter meertalige handboeke en vraestelle met groot sukses in die klaskamer gebruik. Op dié manier kan leerlinge ’n probleem lees wat aan die een kant van die blad in Engels en op die keersy in hul huistaal uiteengesit word. So kan hulle die taal gebruik waarin hulle die gemaklikste is terwyl hulle die probleem takel.

Wat interessant is, is dat wanneer hulle gevra is watter taal hulle vir watter probleem gebruik het, die meeste studente nie bewus was van die taal nie; hul fokus was eerder op die wiskunde waarmee hulle besig was.

So, waarom is ons verbaas oor die konsekwente lae prestasie van swart leerlinge wat hul wiskunde in Engels leer?

Dit is waar dat swak wiskundeprestasie deur niemoedertaalsprekers nie net toegeskryf kan word aan hul beperkte vaardigheid in Engels nie (wat suggereer dat beter vaardigheid in Engels die probleem sal oplos). Ook kan ons nie die taal van onderrig in isolasie sien van ander pedagogiese kwessies wat spesifiek is aan wiskunde nie – asook ander breër maatskaplike, kulturele en politieke faktore wat onderwys beïnvloed nie.

Taal speel egter ’n deurslaggewende rol in wiskundeleer en -prestasie.

Om wiskunde te leer, is soortgelyk aan die aanleer van ’n taal. Daar is nuwe terminologie en simbole om baas te raak, hoe om ’n probleem te bespreek en hoe om wiskundeterminologie in verskillende kontekste te gebruik. As kinders wiskunde leer in ’n taal anders as hul huistaal, word die taak selfs veeleisender.

Die meeste navorsing oor veeltalige klaskamers verskaf goeie redes vir die gebruik van moedertaal, naas Engels, vir die leer en onderrig van wiskunde. Navorsing plaaslik en internasionaal toon ook dat veeltaligheid nie die aanleer van wiskunde belemmer nie en dat leerlinge se moedertaal ’n hulpbron kan wees om wiskunde aan te leer. In navorsing elders in die wêreld is ook bevind dat kinders in veeltalige onderwysomgewings beter denkvaardighede ontwikkel in vergelyking met hul eentalige eweknieë.

Die vraag in Suid-Afrika is steeds: Waarom bly Engels die voorkeurtaal ten spyte van die feit dat ons onderwysbeleid al 11 amptelike tale erken en veeltaligheid aanmoedig? Ons taalbeleid, progressief soos dit dalk lyk, aanvaar steeds dat ouers, onderwysers en leerlinge in veeltalige klaskamers op een of ander manier vry is van ekonomiese, politieke en ideologiese beperkings en druk wanneer hulle ’n oënskynlik vrye keuse uitoefen om Engels as hul voorkeurtaal vir onderrig te kies.

Die waarheid is dat, gegewe die hegemonie van Engels, dit ’n vals keuse is. Nie alle tale is gelyk nie. Die mag van Engels is ’n internasionale verskynsel en daarom beteken die feit dat Engels een van die keuses is, dat die keuse reeds gemaak is.

Om ’n puristiese opsie, naamlik slegs moedertaalonderrig in die grondslagfase, af te dwing, soos dit in sommige provinsies gedoen word, is nie in ooreenstemming met ’n beleid van veeltaligheid nie. Dit kan as diskriminerend beskou word, aangesien dit slegs in swart townships en landelike skole afgedwing word en suggereer dat diegene wat geld het, toegang tot Engels kan koop deur hul kinders in voorstedelike skole te registreer.

Ons moet die leer van Afrikatale die moeite werd maak. Om ten minste een Afrikataal te leer, moet verpligtend gemaak word vir almal wat streef na ’n beroep in die openbare sektor. Hoe kan ’n onderwyser, verpleegster, dokter of maatskaplike werker mense dien wie se taal hulle nie verstaan ??nie?

Die politieke aard van taal kan nooit geïgnoreer word nie. Taal is nie net ’n onskuldige middel van kommunikasie en denke nie, dit kan gebruik word om mense in gesprekke en besluitneming uit of in te sluit. Daarom is keuses oor watter taal wanneer en vir watter doel gebruik word, altyd ’n politieke besluit. Dit is in hierdie konteks dat ek betoog vir ’n veeltalige benadering tot die leer van wiskunde.

In die konteks van onderrig en leer is dit belangrik dat taal sowel sigbaar as onsigbaar is – sigbaar in die sin dat ons kan sien watter taal gebruik word, maar onsigbaar in die sin dat ons nie op die taal self fokus nie. Die onderwyser én leerling moet in staat wees om op die vak te fokus – of dit wiskunde, aardrykskunde, wetenskap of geskiedenis is – sonder kommer oor die gebruik van die “korrekte” taal. Onderrig en leer moet die fokus wees, eerder as die taal van onderrig en leer.

Ek glo dat meertalige onderrig in gr. R moet begin en regdeur tot matriek moet strek as ons die wiskundige potensiaal van ons kinders wil ontwikkel.

Dit is tyd om die les van 1976 ter harte te neem en op te hou om die taal van onderrig te beperk en eerder ons kinders bevry om te wys waartoe hulle in staat is.

  • Prof. Mamokgethi Phakeng is visekanselier van die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Onderwys  |  Wiskunde  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.