Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Enkele vraag moet Mugabe se nalatenskap bepaal

Die dood van Robert Mugabe, wat vir dekades sentraal in die Zimbabwiese politiek gestaan het, het die gebruiklike lofuitinge en veroordelings ontlok. Maar ’n enkele eenvoudige vraag sal sy nalatenskap bepaal, skryf Pieter Labuschagne.

Kinders in Harare stap verby ’n muurskildery van oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe. Foto: Getty Images

Die uitdaging ná die teenstrydige menings oor Mugabe, is om die sukses en/of mislukkings van dié sogenaamde bevrydingsikoon se nalatenskap te peil.

Die lofprysing van drie vooraanstaande politici in Suid-Afrika en Zimbabwe, wat dieselfde politieke en ideologiese vertrekpunte as Mugabe deel, is ’n goeie plek om by te begin.

In Zimbabwe het die president, Emmerson Mnangagwa, na Mugabe as ’n ikoon wat sy mense van die koloniale juk bevry het en ’n Pan-Afrikanis verwys. Mnangagwa het bygevoeg dat Mugabe in Zimbabwe geëer sal word vir sy dapper en onverskrokke grondhervormingsprogramme en vasbeslotenheid om die herverdeling van landbougrond deur te voer.

In Suid-Afrika het Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, Mugabe geloof vir sy dapperheid deur vir Zimbabwe se onafhanklikheid van koloniale onderdrukking te veg. Hy het Mugabe ook geloof omdat hy ondanks Westerse teenstand sy land se soewereiniteit verseker en daarna onverskrokke verdedig het.

Julius Malema, leier van die EFF, het in sy lofprysinge van Mugabe verklaar dat dit nie van jou ’n “mindere leier maak as jy foute begaan het in die proses om ’n revolusie uit te voer nie”. Volgens Malema is Mugabe ’n bevrydingsikoon wat revolusies tot aan die einde deurgevoer het.

Goue draad in lofuitinge

’n Roomysverkoper in Harare lees meer oor oudpres. Robert Mugabe se dood. Foto: AP

As ’n mens dié lofprysings ontleed, sien jy ’n interessante gemene deler wat soos ’n spreekwoordelike goue draad deur al drie die beskouings loop. Dit openbaar ’n ideologiese gemeenskaplikheid wat die wesenlike problematiek van bevryde postkoloniale denkwyses kenmerk.

In al drie verklarings word die “proses”, naamlik revolusies, verabsoluteer en tot ’n belangrike einddoel van politieke verandering verhef.

Die belangrikste aspek wat in al drie lofprysinge voorkom, is die belangrikheid van ’n revolusie. In al die beskouinge word die gevolge van of skade wat in die proses aangerig is, egter as minder belangrik beskou.

Mnangagwa loof die grondhervormingsrevolusie in Zimbabwe ondanks die ernstige vergrype in menseregte wat daarop gevolg het. Daar was in 2000 geen sprake van ’n ordelike intrinsieke grondhervormingsprogram wat planmatig uitgevoer is nie – ’n trop wolwe is bloot op wit boere in die land losgelaat binne ’n konteks van wetteloosheid.

Die impak van die “grondhervorming” was die katalisator wat tot die ineenstorting van die Zimbabwiese ekonomie gelei het. Die werkloosheid- en armoedesyfer is tans albei hoër as 90%.

Koerante in Zimbabwe was die naweek propvol nuus oor die dood van oudpres. Robert Mugabe. Foto: Reuters

Zimbabwe is sekerlik die land met die kleinste gaping tussen ryk en arm, want almal besit min of niks. Dit sluit natuurlik die superryk elite uit, wat die land se diamant- en oliebronne uitgebuit het en in klein gegoede enklaves in Harare woon.

Magashule prys Mugabe se dapper stryd teen Westerse kolonialisme en sy volgehoue verdediging van Zimbabwe se soewereiniteit.

Dit word nie betwyfel dat Mugabe tussen 1966 en 1980 ’n sterk leierskapsrol in die onafhanklikheidstryd teen die Rhodesiese regering gespeel het nie. Zimbabwe se soewereiniteit en staatboufase was reeds in 1980 bevestig en voltooi.

Mugabe se strategie was eerder om vir amper vier dekades sy wandade te verbloem agter die rookskerm dat hy sy land se soewereiniteit verdedig.

Malema sing ook in dieselfde koor en sy lofprysinge van Mugabe bevat ysingwekkende elemente. Malema se wesenlike siening is dat ’n revolusie belangriker as die negatiewe gevolge is wat dit moontlik mag meebring.

Die aweregse siening regverdig dus die Gukurahundi van die 1980’s waarin duisende mense in Matabeleland dood is toe Mugabe met militêre optrede ’n einde aan teenstand in dié deel van Zimbabwe probeer maak het.

Die verabsolutering van ’n latere grondgryp-revolusie, misken die ellende wat ’n maatskaplik-ekonomiese revolusie veroorsaak het.

Die probleme met revolusies en bevrydingsikone

’n Ou plakkaat van oudpres. Robert Mugabe in Mbare, ’n voorstad van Harare in Zimbabwe. Foto: Getty Images

Bevrydingsbewegings en bevryders se stryd teen kolonialisme word histories deur die morele beskouing onderlê dat dit ’n moreel regverdigbare stryd teen onderdrukkers en immorele onderdrukking is.

Die meeste bevrydingstryde – soos dié in Zimbabwe, Angola, Mosambiek en selfs Suid-Afrika – kon dus ruim op buitelandse hulp en morele steun staatmaak.

Wat egter gereeld misgekyk word, is dat die bevrydingsbewegings wel ’n moreel regverdigbare stryd gevoer het, maar dat immorele metodes dikwels aangewend is.

Die neerskiet van burgerlike vliegtuie in Rhodesië, die Kerkstraatbom en vergrype in kampe van Umkhonto we Sizwe in Angola is voorbeelde hiervan.

Die goedkeuring van immorele gedrag deur baie rolspelers versterk ongelukkig die verabsolutering van die revolusie, want die doel heilig die middel.

Die Zimbabwiese vlag hang halfmas voor dié land se parlementsgebou ná die dood van oudpres. Robert Mugabe. Foto: AP

Die probleem is dat immorele metodes ná die oorname van mag steeds gebruik word om aan bewind te bly.

Die bevrydingsikone se aanspraak op gesag is gewoonlik op Max Weber se twee elemente van magsbronne, tradisionalisme en charisma, gegrond en hulle word as die bevryders van hul mense beskou. Dié status word natuurlik versterk as die leier ook ’n charismatiese persoonlikheid het.

Dit is egter opmerklik hoe ongemaklik die ikoniese bevryders binne Weber se derde bron van gesag funksioneer, naamlik die regs-rasionele terrein. Die plasing van hindernisse in ’n regstaat word daarom gewoonlik as teen-revolusionêr beskou.

Die revolusie behoort afgehandel te wees wanneer die voormalige kolonie bevry is. Die uitdaging vir die bevryder is dan om ’n beter en meer regverdige samelewing vir almal te bou.

Die filosoof John Locke se regverdiging van die staat is juis dat dit ’n beter lewe vir die samelewing as ’n geheel moet verseker.

Vir die ideologiese klub waaraan die Mugabes, Mnangagwas, Magashules en Malemas behoort, móét die politieke revolusie deur ’n ekonomiese revolusie opgevolg word. Die revolusionêre proses moet dus voortduur en is nooit voltooi nie.

Dié revolusies moet plaasvind ongeag die ekonomiese en maatskaplike impak en lewensverlies.

Dié revolusionêre elemente kan duidelik in die verouderde staats-sosialistiese idees van die EFF gesien word. Dié party beklemtoon uitgediende strategieë, soos staatsbeheer oor die belangrikste sektore van die ekonomie, nasionalisering en grondonteiening.

Die ekonomiese gevolge in Suid-Afrika sal nog meer rampspoedig wees as in Zimbabwe, maar die sukses sal gemeet word aan die voltrekking van die revolusionêre proses.

Die pad vorentoe

Kinders dra water van ’n boorgat in Harare na hul huis. Foto: AP

Die kernprobleem met Mugabe se lofsangers is dat hulle altyd na agter kyk.

Die groot getal Zimbabwiërs wat steeds oor die land se grense stroom om van die agteruitgang weg te kom, sal ’n ewige klag teen Mugabe wees. Sy land se soewereiniteit is wel onaangetas, maar min mense wil nog daar werk en woon.

’n Leier soos Mugabe verdien lof as hy sy land van die koloniale juk bevry het, maar dit is belangriker om daarna vorentoe te kyk en om ’n beter lewe vir al die land se inwoners te skep. C.R. Swart, ’n voormalige staatspresident van Suid-Afrika, het altyd gesê: “Hoede af vir die verlede, baadjies uit vir die toekoms”.

Dit is belangrik om nie die revolusie te verabsoluteer nie, maar eerder om die post-revolusionêre tydperk só te bestuur “dat die land ’n beter plek is en dat die samelewing as ’n geheel voordeel uit die nuwe bedeling kan trek”.

Daar is ’n eenvoudige vraag wat as maatstaf gebruik kan word om Mugabe se nalatenskap te bepaal: Is Zimbabwe in 2019 ’n beter land as die een van 1980 toe Mugabe die bewind oorgeneem het?

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.