Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Entstof 101’ vir beginners

Die revolusionêre nuwe entstowwe teen Covid-19 bevat geen lewende of dooie virus of selfs deeltjies van ’n virus nie. Hoe werk dit dan? Heinz Mödler verduidelik.

Bejaardes in een van Attendo se ouetehuise in Gotenburg, Swede, ontvang verlede week hul eerste dosisse van die Pfizer-BioNtech-entstof. Foto: Getty

‘Moenie die Covid-19-entstof gebruik nie, dit bevat Bill Gates se mikroskyfies!” “Lucifer skuil daarin!”

Dit is maar twee van die “anti-vaxxers” se profetiese krete wat die mensdom teen ’n nuwe euwel waarsku. ’n Onding wat ons gesondheid, psige, toekoms en plek in die hemel in die weegskaal plaas. Sosiale media en die internet sorg dat hierdie doemprofete se voorspellings verder trek as die stemme vanaf Speakers’ Corner in Londen se Hyde Park om ’n fassinerende hoofstuk in die mediese en wetenskaplike tegnologie te ondermyn.

Ons het die afgelope jaar sóveel geleer van epidemiologie en virologie. Vir die eerste keer weet die publiek feitlik soveel as die dokters wanneer daar oor die Covid-19-virus gepraat word. Nou gaan ons die volgende fase van hierdie epidemie binne en dit is weer tyd om te leer.

Terwyl jy hier lees word miljoene dosisse entstof vervaardig. Die wêreld is einde ten laaste besig om homself teen die uitmergelende aanslag van Covid-19 te staal.

Noudat ons alles van die virus uitgevind het, is dit sinvol om die proses van Covid-19-immunisasie, wat baie ingewikkeld is, so goed as moontlik te verstaan. Eerstens omdat dit ’n kardinale deel van die mensdom se geskiedenis gaan bly en tweedens behoort jy te weet wat in die inspuiting is voordat jy met ’n geruste hart jou mou optrek.

Voordat hierdie sprokiesverhaal op papier in die praktyk gaan realiseer, moet wetenskaplikes eers heelwat hase uit die hoed trek.

Die kern in die menslike sel bevat al die genetiese materiaal wat nodig is om van jou ’n mens te maak. Alles wat jy nodig het om jouself te wees en te oorleef is opgesluit in die DNS wat in die kern gevind word. Hierdie inligting word aangewend om ’n magdom verskillende proteïene te vervaardig. Elke proteïen het ’n spesifieke funksie en word gebruik om te kan sien en hoor, om bloedvate te maak, om senuwees, bene, hormone en alles anders waaruit jou liggaam bestaan, te vervaardig.

Die DNS bestaan uit verskillende boublokke en die volgorde daarvan bepaal watter tipe proteïen gaan op die ou end vervaardig word. Proteïene word buite die kern, in die sitoplasma, vervaardig. Op een of ander manier moet die genetiese boodskap dus die kern verlaat om in die sitoplasma opdragte te kan gee. Hierdie genetiese opdrag verlaat die kern in die vorm van ’n DNS-templaat wat boodskapper-RNS (mRNA, messenger RNA) genoem word.

Ons huidige Covid-19-katastrofe het wetenskaplikes genoop om ’n entstof spoedig te ontwikkel wat die wêreld teen hierdie vernietigende aanvaller kan beskerm. Daar is verskeie maniere om ’n entstof te ontwikkel, maar meeste van hierdie prosesse is tydsaam. Tyd wat die wêreldbevolking nie het nie.

Tradisioneel word die virus self, of dooie virusse, of deeltjies van virusse gebruik om teenliggame te produseer. Die Covid-19-entstof het heeltemal ’n ander pad ingeslaan. Wetenskaplikes het die Covid-19-virus se mRNA gebruik om hierdie nuwe entstof te ontwikkel. Dié proses is vinniger, want dit is nie nodig om eers vreemde virus-proteïene te vervaardig wat in die entstof ingesluit word nie. Met mRNA in die entstof sal die menslike selle self die vreemde proteïen vervaardig.

Die metode is ook veiliger omdat daar geen risiko vir Covid-19-infeksie is nadat die entstof toegedien is nie. Die entstof bevat mos geen lewendige of dooie virusse nie. Nie eens deeltjies van die virus nie.

Die eerste hekkie tydens die vervaardiging van só ’n entstof is om die presiese volgorde van die boublokke in die mRNA te bepaal. Hierdie tegnologie is gelukkig reeds beskikbaar.

Die mRNA wat wetenskaplikes gekies het, is die stuk wat lei tot die vervaardiging van ’n spesifieke proteïen, die spike-proteïen (S-proteïen).

Hierdie proteïen is verantwoordelik vir die kenmerkende uitstulpings wat op die Covid-19-virus gesien word. Hierdie uitstulpings is vir die virus baie belangrik want dit word gebruik om aan ’n menslike sel te bind en dan die virus se inhoud in die gasheer se sel te stort.

Indien hierdie spesifieke mRNA in ’n entstof opgeneem word, sal die sel dit gebruik om die S-proteïen te vervaardig. Die liggaam se immuunstelsel sal dan hopelik die S-proteïen as vreemd herken en teenliggame daarteen produseer om immuniteit teen die Covid-19-virus te bewerkstellig.

Voordat hierdie sprokiesverhaal op papier in die praktyk gaan realiseer, moet wetenskaplikes eers heelwat hase uit die hoed trek.

Vir enige chemiese stof, ook mRNA, om deur ’n sel opgeneem te word, moet dit vetoplosbaar wees, want die selmembraan bestaan uit vette. mRNA is wateroplosbaar. Nadat die stukkie mRNA in die laboratorium vervaardig is, moet die navorsers nou ’n manier vind om dit in die menslike sel te kry. Daar is verskillende opsies om te oorweeg, die een moeiliker as die ander.

Sekere van die entstofvervaardigers het die stukkie mRNA met vier verskillende vette omhul om dit vetoplosbaar te maak. Dié vetomhulde mRNA kan maklik deur die selmembraan glip om die mRNA in die sitoplasma vry te stel. Nou is die mRNA waar dit moet wees en kan die sintese van die S-proteïene begin.

’n Ander manier is om van ’n vektor gebruik te maak. ’n Vektor is ’n lewende organisme wat iets huisves, soos ’n kiem of selfs ’n stukkie mRNA, wat dan aan ’n ander organisme oorgedra kan word.

Hoe maak mens ’n entstof?
1. Met ’n verswakte virus:Die oorspronklike virus word gebruik. Om te verhoed dat die virus die mens ná inenting siek maak, word dit verswak sodat dit hoogstens ’n afgewaterde infeksie veroorsaak. Die voordeel van hierdie metode is langtermyn-immuniteit.

2. Met ’n dooie virus: Die virus word onskadelik gestel en in die entstof opgeneem. Die komponente van die virus is nog steeds in staat om as “vreemd” herken te word en die liggaam vervaardig teenliggame. Wanneer iemand lewende virusse het, is immuniteit reeds aan boord.

3. Virusprodukte: Sekere dele/proteïene/virus-tipe produkte word in die entstof geplaas. Ná inenting vervaardig die liggaam teenliggame teen die gekose komponent in die entstof. Hierdie entstowwe kan nie siekte veroorsaak nie. Ongelukkig is die immuunrespons nie altyd sterk genoeg nie en moet opvolg-inentings toegedien word.

4. Boublokke (nukleïensure) van RNS: Hierdie tipe entstowwe bevat nie enige vreemde materiaal wat van die virus afkomstig is nie, maar laat die menslike selle toe om self die vreemde stowwe te vervaardig. Hierdie produkte sal dan die immuunstelsel aktiveer om teenliggame te produseer.

Die bekendste voorbeeld hiervan is malaria. Die Anopheles-muskiet huisves die malariaparasiet sonder om self siek te raak. Wanneer die muskiet (die vektor) ’n mens byt om te voed, word die mens met die parasiet besmet.

Virusse kan ook as vektore optree. ’n Stukkie mRNA of selfs die S-proteïen wat reeds deur die virus vervaardig is, word byvoorbeeld in ’n onskadelike adenovirus geplaas. Hierdie adenovirus-kombinasie word in jou arm ingespuit. Omdat die adenovirus maklik deur selmembrane kan dring, eindig die mRNA of vreemde proteïen ook in die sel. En siedaar, jou immuunstelsel skop in om teenliggame te vervaardig.

Navorsers is nou in staat om die virus se mRNA in die menslike sel te kry. Ongelukkig is die kans groot dat die sel hierdie materiaal as vreemd genoeg gaan ag en dit vernietig nog voordat die immuunstelsel ’n kans kan kry om teenliggame te produseer. Nou is ons weer waar ons was: nêrens.

Om hierdie afbreking te verhoed, word van die boublokke in die mRNA se struktuur verander sodat die liggaam dit nie meer as só vreemd herken dat dit summier vernietig word nie, maar nogtans as vreemd genoeg om teenliggame daarteen te vervaardig.

Nou word daar nie meer gepraat van mRNA nie, maar modified mRNA, oftewel aangepaste mRNA.

Die aangepaste mRNA lei nou uiteindelik tot die sintese van die S-proteïen in die sitoplasma. Hierdie S-proteïen sal die immuunstelsel in die liggaam stimuleer om teenliggame te maak en siedaar, jy is immuun teen die virus.

Die navorsers was baie slim om juis die S-proteïen te kies, want alle Covid-19-virusse, insluitende mutasies en ander variante, het almal die kenmerkende uitstulpings op hul oppervlakke. Indien ’n virus uitstulpings het, bevat die virus die S-proteïen. Die teenliggaampies in jou liggaam sal dus doeltreffend kan keer dat enige van hierdie virusse jou siek maak.

Die gerusstellende deel van die verhaal is dat daar geen kans is dat die entstof jou kan siek maak nie, want dit bevat geen virusse, dooie virusse of selfs virus-deeltjies nie soos vroeër genoem. Ook bevat die nuwe entstof nie preserveermiddels nie, veral nie thiomersal nie. Thiomersal is die sondebok wat in die verlede verbind is aan die ontwikkeling van outisme in sommige kinders wat ingeënt is.

Die einde van die pad van die tegnologie wat nou ter sprake is om die Covid-19-entstof te vervaardig, is nog lank nie in sig nie. Hierdie nuwe wapen in die mediese arsenaal word alreeds getoets om te sien of dit nie ander infeksies, soos MIV, kan stuit nie. Maar dis nie al nie. Dalk is die tegnologie in staat om te verhoed dat byvoorbeeld melanome en ovariale kanker ’n houvas op jou liggaam kan kry.

Die potensiaal van hierdie tegnieke is nog in die beginstadium en dit beloof om ’n indrukwekkende reus in die mediese wêreld te word – of jy nou die inenting gaan kry of nie.
Mödler is ’n mediese spesialis en skrywer van Kaapstad.

Meer oor:  Entstof  |  Navorsing  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.