Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Entstowwe: Feit of fiksie?

Wat is die vernaamste mites rondom Covid-19-inentings en hoekom is dit onakkuraat? Jana Marx stel ondersoek in.

Inentingsweifeling is nie nuut nie, maar dis belangrik om nie alles vir soetkoek op te eet nie en ingeligte besluite te maak – vir of teen inenting. Foto: Unsplash

“Die entstof gaan jou Covid-19 gee”, “ander wat ingeënt is, kan jou Covid-19 gee” of “entstowwe is net ’n geldmaakstorie, want jou liggaam bied natuurlike weerstand teen siektes”.

Hoeveel van ons het nie al hierdie tipe boodskappe op WhatsApp of sosiale media ontvang nie? Selfs mense wat hul kinders teen kindersiektes laat inent het en jaarliks ’n griepinspuiting kry, sukkel soms om sin te maak uit die magdom inligting waarmee doemprofete hulle bombardeer.

Die Universiteite van Kaapstad en Stellenbosch het vandeesweek in die soveelste studie bevind dat Afrikaanssprekendes steeds meer huiwerig is as Zoeloe-, Tsonga- of Tswana-sprekendes om hulle teen Covid-19 te laat inent.

Inentingsweifeling is niks nuuts nie. Selfs prof. Koleka Mlisana, medevoorsitter van die Covid-19-bevelsraad, het vroeër vandeesmaand erken dat sy ná “die gemors met die AstraZeneca-entstof”, Johnson & Johnson-inentings wat tydelik weens bloedklonte gestaak is en die probleem met dieselfde entstof in die aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) begrip vir die onsekerheid het.

Inentingsweifeling kan teruggespoor word na 1796, toe die staat mense verplig het om hulle teen pokke te laat inent. Mense het bespiegel dat die inentings gaan veroorsaak dat koeikoppe by hul lywe uitgroei.

Maar dis nou 2021. Die wetenskap het geweldig ontwikkel, siektes soos pokke is al in 1980 danksy ’n gekoördineerde wêreldwye inentingsveldtog uitgewis en geen entstof word op enigiemand afgedwing nie.

In ’n artikel in The Conversation word vertel hoe mense in daardie jare betoog het teen die staat wat op hul individuele vryheid en persoonlike keuse inbreuk maak.

Daar was ook wantroue in die wetenskap. Die entstowwe het inderdaad ’n bedenklike veiligheidsverlede en het soms erge of dodelike newe-effekte gehad.

Daardie protesoptogte was dus allermins die produk van irrasionele samesweringsteorieë.

Dit is egter ook waar dat pokke in die 20ste eeu alleen tussen 300 miljoen en 500 miljoen mense se dood veroorsaak het, skryf wetenskaplikes in nog ’n artikel in The Conversation.

Maar dis nou 2021. Die wetenskap het geweldig ontwikkel, siektes soos pokke is al in 1980 danksy ’n gekoördineerde wêreldwye inentingsveldtog uitgewis en geen entstof word op enigiemand afgedwing nie. Volgens statistieke wat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) byhou, voorkom entstowwe jaarliks sowat 4 tot 5 miljoen sterftes in sy lidlande.

Dit sluit sterftes aan kinkhoes, griep, tetanus en masels in. Danksy die entstof vir masels het die 536 000 sterftes in 2000 teen 2018 tot sowat 142 000 gedaal.

Skaars ’n week gelede het ’n federale regter in Amerika ’n aansoek geweier van die werkers van ’n hospitaal in Houston wat nie met ’n Covid-19-entstof ingeënt wil word nie omdat hulle beweer dit is onveilig. Die werklikheid is die meeste mense wat vandag in Amerika weens Covid-19 in hospitale opgeneem word en sterf, is nie ingeënt nie.

Die verslaggewer het reeds oor die verband tussen entstowwe en sterftes berig. Lees meer hier.

Foto ter illustrasie: Mense wag op hul inentings.
Foto ter illustrasie: Mense wag op hul inentings. Foto: AP
AP

Mite: Die entstowwe is so vinnig ontwikkel dat dit nie behoorlik getoets is om die veiligheid daarvan te verseker nie.

Feit: Die Covid-19-entstowwe is vinnig ontwikkel omdat die hele wêreld se mediese wetenskaplikes en regerings saamgewerk het om dit moontlik te maak.

Volgens die Johns Hopkins-universiteit in Maryland is daar ’n paar redes vir die vinnige ontwikkeling:

• Pfizer en Moderna, albei boodskapper-RNS-entstowwe, is ontwikkel met behulp van wetenskap wat al jare beskikbaar is. Dié tegnologie is net nuut in die sin dat dit met die uitbreking van Covid-19 nog nie aangewend was nie. Toetse met bRNS-tegnologie is al sedert die vroeë 1990’s aan die gang. Maatskappye kon dus vroeg in die pandemie al met entstofontwikkeling begin. Dit is ook ’n vinniger metode as van die ander meer tradisionele maniere van entstof-vervaardiging.

• Die koronavirus as lid van ’n “familie” koronavirusse is nie nuut nie. Koronavirusse het voorheen reeds kleiner uitbrekings soos ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears) en Midde-Oosterse respiratoriese sindroom (Mers) veroorsaak en is toe reeds in detail bestudeer, skryf wetenskaplikes in The Conversation. Hierdie uitbrekings is egter relatief vinnig in bedwang gebring

Een van die dinge wat hierdie koronavirus anders maak as die koronavirusse wat die Ears- en Mers-uitbrekings veroorsaak het, is dat dit soveel makliker tussen mense kan versprei.

'Die entstof gaan jou Covid-19 gee', 'ander wat ingeënt is, kan jou Covid-19 gee' of 'entstowwe is net ’n geldmaakstorie, want jou liggaam bied natuurlike weerstand teen siektes', is alles fopnuus.

• Wetenskaplikes in China het met die uitbreking in Wuhan die virus se genetiese inligting met wetenskaplikes in die res van die wêreld gedeel, wat toe aan die entstowwe kon begin werk.

• Dit is verskriklik duur om entstowwe te vervaardig en ’n omslagtige proses om finansiering te bekom, maar omdat almal in dieselfde bootjie was, het die ryker lande seker gemaak dat hul wetenskaplikes al die hulpbronne het wat hulle benodig het om entstowwe te ontwikkel. ’n Voorbeeld is die Britse regering se entstof-taakspan wat die Oxford-Universiteit gehelp het om die AstraZeneca-entstof te ontwikkel.

• Maatskappye kon deur middel van sosiale media vinniger kandidate vir die proeflopies opspoor.

• Netwerk24 het voorheen berig dat die gewag op goedkeurings dikwels die proses vertraag. Maar midde-in ’n pandemie, waar almal in afwagting was dat ’n teenvoeter vir Covid-19 gevind word, is die goedkeurings geprioritiseer en dus baie vinniger toegestaan as wat normaalweg die geval sou wees.

Foto ter illustrasie: Wetenskaplikes kon die entstowwe vinniger ontwikkel omdat verskeie dinge in hul guns getel het. Foto: Unsplash

Mite: Die entstof se newe-effekte is baie gevaarlik.

Feit: Die newe-effekte van die Pfizer- en Johnson & Johnson-entstowwe is vir feitlik geen mens lewensbedreigend nie.

Navorsing toon dat Pfizer 95% doeltreffend teen ernstige Covid-19 is. Volgens navorsing is die newe-effekte nie ernstig of lewensbedreigend nie.

Die Johns Hopkins-universiteit skryf dat newe-effekte soos lyfseer, hoofpyn of koors net ’n dag of twee duur.

Johnson & Johnson (J&J) is op sy beurt 85% doeltreffend teen ernstige siekte wat tot die dood kan lei. Ook hierdie entstof se newe-effekte is lig tot matig.

Die teorie oor die seldsame siektetoestand wat met bloedklonte verband hou, was ná toetse nie deurslaggewend genoeg om hierdie entstof aan die mark te onttrek nie. Inentings met J&J is vroeër tydelik gestaak nadat hierdie toestand by ses vroue in Amerika aangemeld is kort nadat hulle ingeënt is. Nagenoeg 6,8 miljoen mense in Amerika was teen daardie tyd reeds met die J&J-entstof ingeënt.

Binne ’n laboratorium waar entstowwe getoets word.
Binne ’n laboratorium waar entstowwe getoets word. Foto: Unsplash

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële komitee vir Covid-19-entstof, het aan Arisa Janse van Rensburg gesê: “Een uit elke 2 000 mense kry elke jaar ’n bloedklont van voorbehoedpille en een uit elke 1 000 kry elke jaar ’n bloedklont wanneer hulle vlieg.”

As die newe-effekte ná twee dae aanhou, moet jy egter jou dokter bel, meen die Johns Hopkins-universiteit.

“As jy allergieë het – veral as dit so ernstig is dat jy ’n EpiPen [epinefrien-spuit] byderhand moet hou, moet jy die Covid-19-entstof bespreek met jou dokter, wat jou risiko sal bepaal en jou kan help om veilig ingeënt te word.”

Die Pfizer- en J&J-entstowwe bevat geen eiers, preserveringsmiddels of lateks (melksap) nie.

Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) skryf in ’n inligtingstuk mense moenie ’n tweede dosis Pfizer (of enige twee-dosis-entstof) ontvang as hulle ’n erge allergiese reaksie op die eerste dosis gehad het nie.

Hulle moet ook nie die entstof kry as hulle allergies vir enige bestanddeel in die entstowwe is nie.

Mite: Die entstof bevat tegnologie soos ’n mikroskyfie, ’n volgtoestel of giftige bestanddele.

Feit: Die entstowwe wat deur Suid-Afrika se medisyne-reguleerder, Sahpra, vir gebruik goedgekeur is, bevat bRNS in die geval van Pfizer en normale entstofbestanddele soos soute, vette en ’n klein bietjie suiker. Hierdie entstowwe is ook nie ontwikkel uit die stamselle van fetusse nie, en hulle sluit nie inplantate of mikroskyfies of volgtoestelle in nie.

Die Johns Hopkins-universiteit erken mense se vrese vir bestanddele soos formaldehied, kwik of aluminium in entstowwe.

“Dit is waar dat sekere vlakke van hierdie chemikalieë giftig vir die liggaam kan wees, maar net baie klein hoeveelheid daarvan word in die FDA-goedgekeurde entstowwe gebruik. Trouens, volgens die FDA en die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), vervaardig ons eie metaboliese stelsels meer formaldehied (as wat in entstowwe voorkom) en daar is geen wetenskaplike bewyse dat klein hoeveelhede van chemikalie soos kwik of aluminium in entstowwe skadelik kan wees nie.”

Die Pfizer- en J&J-entstowwe bevat geen eiers, preserveringsmiddels of lateks (melksap) nie. Lees hier uit watter bestanddele Pfizer bestaan, en hier vir die bestanddele in J&J.

Die entstowwe bevat nie bestanddele wat giftig is of mikroskyfies of ander vreemde middels nie. Foto: Unsplash

Mite: Omdat die entstof so vinnig ontwikkel is, is van die veiligheidstappe in die toetsing daarvan uitgelaat.

Feit: Geen stappe wat in die normale proses sou plaasvind, is oorgeslaan nie, maar van die stappe het oorvleuel om data vinniger te versamel, skryf die Johns Hopkins-universiteit.

Die universiteit entstofontwikkeling verg baie streng prosesse om die veiligheid en doeltreffendheid daarvan te toets voordat dit vir gebruik goedgekeur word. Sodra dit vir gebruik en verspreiding geregistreer is, is dit onderworpe aan deurlopende waarneming om seker te maak dat dit veilig bly. “Dit is verál die geval in ’n nuwe inentingsprogram.”

Hier is wat die vervaardigers van die entstowwe oor die omsigtigheid van hul prosesse sê:

• Pfizer

Pfizer het in ’n verklaring op sy webblad gesê in sy reaksie op die pandemie het hy wêreldwyd ’n “swat”-span uit sy voorste viroloë, bioloë, chemici, klinici, epidemioloë, entstofkenners, farmakologiese wetenskaplikes en ander sleutelkenners saamgestel om al hul aandag toe te spits op die ontwikkeling van ’n doeltreffende entstof en/of behandeling om die pandemie te beëindig.

Die Pfizer-hoofkantoor in Manhattan. Foto: Getty I
Die Pfizer-hoofkantoor in Manhattan. Foto: Getty Images
Getty Images

Die vervaardiger het voorts gesê hy werk saam met die wêreld se grootste biofarmaseutiese maatskappye, wat almal die geskiedkundige #WeStandWithScience-eed afgelê het om “die integriteit van die wetenskaplike proses te handhaaf . . .” wat die “veiligheid van pasiënte en openbare gesondheid vooropstel”.

Selfs die entstofproeflopies word deurlopend deur regulerende owerhede, etiekkomitees en hersieningsrade (onafhanklike komitees) hersien.

Benewens die monitor van data, is daar aangewese persone wat deurgaans die gesondheid van die deelnemers aan die proeflopies waarneem.

• Johnson & Johnson

J&J het ook die #WeStandWithScience-eed afgelê.

J&J maak, soos Pfizer, gebruik van talle onafhanklike komitees om sy resultate te monitor en met hom te konsulteer en deurlopend die veiligheid na te gaan.

Die maatskappy het saam met ander biofarmaseutiese ondernemings aangekondig dat hy daartoe verbind is om ’n Covid-19-entstof te ontwikkel en te toets in ooreenstemming met hoë etiese standaarde en goeie wetenskaplike beginsels, lui die vervaardiger se verklaring op sy webblad. Dit geld ook kliniese proeflopies.

As jy allergieë het – veral as dit so ernstig is dat jy ’n EpiPen [epinefrien-spuit] byderhand moet hou, moet jy die Covid-19-entstof bespreek met jou dokter, wat jou risiko sal bepaal en jou kan help om veilig ingeënt te word.
Johns Hopkins-universiteit

Mite: Die entstof kan ’n vrou se vrugbaarheid aantas.

Feit: Nee, die entstof kan nie ’n vrou se vrugbaar aantas nie.

Einde verlede jaar het sosialemedia-plasings soos ’n veldbrand versprei waarin die “hoof van Pfizer” glo gewaarsku het dat bRNS-entstowwe ’n sekere proteïen (syncytin-1) aanval wat vir die plasenta se vorming en ’n gesonde swangerskap nodig is. In die plasings is beweer dat die entstof vroue onvrugbaar maak.

Nuusdienste soos AFP Fact Check en Reuters het hierdie mites intussen onteenseglik weerlê deur medici wat dit almal eens is dat geen Covid-19-entstowwe ’n proteïen genaamd “syncytin-1” aanval nie. Trouens, die stellings het sterk ooreenkomste getoon met dít wat ’n vorige – en moontlik ontevrede – Pfizer-werknemer al kwytgeraak het.

Twee plaaslike ginekoloë beaam die onwetenskaplikheid van die stelling.

Daar is geen onteenseglike wetenskaplike bewyse dat die entstof vroue se vrugbaarheid aantas of hul swangerskappe laat verongeluk nie. Foto: Unsplash

Dr. Emmanuel Moagi, ginekoloog en obstetris van Johannesburg, en dr. Colin Montgomery, ginekoloog van Kaapstad, stem saam dat geen navorsing bestaan wat bewys dat ’n Covid-19-entstof onvrugbaarheid in vroue veroorsaak nie.

“Nie eens die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, kan vroue se vrugbaarheid aantas nie. As ’n heel lewende virus dit nie kan doen nie, hoe kan ’n entstof, wat nie ’n aktiewe en lewende virus bevat nie, dit doen?” vra Moagi.

Volgens hom is daar ook nog nie bewyse dat die entstof ’n ongebore baba skade kan aandoen nie.

Wat wél waar is, is dat Covid-19 skadelik vir swanger vroue kan wees.

“As jy in die toekoms beplan om swanger te raak, sal ek voorstel dat jy vir die inenting gaan,” sê Montgomery.

“Swanger vroue wat Covid-19 opdoen, het ’n verhoogde risiko vir opname in intensiewe sorg, miskrame en babas wat doodgebore is."

Die Johns Hopkins-universiteit skryf dat 23 vroue wat aan die Pfizer-entstofproeflopies deelgeneem het, swanger geraak het en dat die een vrou wat ’n miskraam gehad het, nie die entstof nie, maar die placebo-dosis ontvang het.

Nie eens die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, kan vroue se vrugbaarheid aantas nie.
Dr. Emmanuel Moagi

Mite: Die entstof gaan my Covid-19 gee.

Feit: Die entstof kan en sal jou nie Covid-19 gee nie, want jy kan slegs deur die koronavirus Covid-19 opdoen. Geen entstof bevat die volledige koronavirus nie.

Volgens die Johns Hopkins-universiteit gee die Pfizer-entstof jou selle instruksie om die proteïene te vervaardig wat deel is van die koronavirus sodat jou liggaam leer om die virus te herken en af te weer wanneer dit jou tref. Hierdie proteïen veroorsaak nie self ’n infeksie nie.

Inligting van die Netcare-hospitaalgroep verduidelik dat die liggaam wél simptome van die virussiekte kan toon, “maar die simptome is eintlik die liggaam se immuunrespons teen die entstof en nie die siekte self nie”.

Mite: Mense wat ingeënt is, moet van my wegbly, want hulle het nou die koronavirus in hul liggame en kan my aansteek (shedding).

Feit: Niemand kan ’n ander aansteek omdat hulle ingeënt is nie, want geen entstof bevat ’n volledige koronavirus nie. Jy kan slégs Covid-19 opdoen en na ander versprei as jy die koronavirus opgedoen het.

Só word Pfizer en J&J gemaak:

Die Pfizer-entstof maak gebruik van boodskapper-RNS (bRNS). Die virus se genetiese kode is ’n RNS-string.

Die Pfizer-entstof bevat dus net ’n piepklein deeltjie van die virus – net genoeg om die liggaam te laat dink hy word aangeval, maar nie genoeg om Covid-19 te veroorsaak nie.

Die deel van die kode wat spesifiek gebruik word vir die proteïenuitstulpings om aan selle te heg, word as’t ware uit die res van die virus “gesny”.

Hierdie bRNS-deeltjie is maar effentjies en om dit te beskerm, word dit in ’n vetpartikel of vetomhulsel gegiet, wat in die arm ingespuit word.

Die hele partikel word deur spierselle opgeneem en die bRNS dring die liggaam binne.

Die proteïenuitstulpingskode kan die immuunstelsel aanwakker om die ware Jakob te beveg wanneer dit oor sy pad kom. Sodra die bRNS sy werk gedoen het, gaan hy dood.

Die Pfizer-entstof bevat dus net ’n piepklein deeltjie van die virus – net genoeg om die liggaam te laat dink hy word aangeval, maar nie genoeg om Covid-19 te veroorsaak nie.

Pfizer het in ’n verklaring gesê hy het die #WeStandWithScience-eed afgelê om 'die integriteit van die wetenskaplike proses te handhaaf' terwyl hy sy entstof ontwikkel het. Dit stel die veiligheid van die pasiënte en openbare gesondheid voorop. Foto: Getty Images

J&J se entstof gebruik ’n draervirus (adenovirus). Dit is egter aangepas om nie te vermeerder en mense siek te maak nie.

Die stukkie RNS met die proteïenuitstulpings word weer losgesny, maar in dié geval word dit aan hierdie adenovirus geheg. Adenovirusse is gewone verkouevirusse. Hierdie adenovirus “dra” as’t ware die RNS in die selle in wanneer ’n persoon ingespuit word, maar vermeerder nie soos ’n verkouevirus sou nie. Sodra die string in die spierselle is, kan die kode vir proteïenuitstulpings die immuunstelsel aanwakker.

Weer eens bevat die entstof net die piepklein deeltjie van die koronavirus wat nie genoeg is om enigiemand die koronavirussiekte te gee nie.

Die ontwikkeling van ander entstowwe word ook in die volgende artikel bespreek.

Mite: Die entstof bevat die merk van die dier (666).

Feit: Entstowwe het geen verbintenis met enige godsdienstige organisasie nie en is nie met demone of geeste ingespuit nie. Daar is geen sameswering om mense te beset of te toor nie.

Dr. Stephan Joubert, skrywer, teoloog en hoof van Ekerk, het vroeër vanjaar al hieroor geskryf: “Loop lig vir evangeliste wat inentings teen Covid-19 as boos beskou. Verskil jy van hulle, word jy gebrandmerk as ’n vals profeet, antichris en spreekbuis vir ’n nuwe wêreldorde. Hul vrese word geskoei op misverstande rondom Openbaring 13:16 se merk van die dier. Dit word reglynig op 'die inenting' toegepas sonder enige kennis van die feit dat Christus heel eerste al sy mense merk. Openbaring 7:3, 14:1 en 22:4 vertel Hy merk almal wat in God glo op hul voorkoppe. Boonop skryf Christus alle gelowiges se name in sy ewige boek op volgens Openbaring 3:5; 3:12 en 21:27.

“Ek het gedog almal weet dit. Nes God sy volk merk, merk hy nou ook al sy aardse eiendom, klein en groot, ryk en arm en slawe. Goddank vir sober gelowiges wat in 2021 erns maak met God se Woord en dit reg lees.”

Lees meer hier oor die impak van roekelose uitlatings.

Foto ter illustrasie: ’n Priester hou ’n kruis omhoog in ’n protesoptog in Tessalonika, Griekeland, nadat die stad mense verplig het om ingeënt te word. Dis nie duidelik of die priester vir sy beginsels van vrye keuse saam betoog en of hy om godsdienstige redes teen die inentings gekant is nie. Foto: Unsplash

Mite: Ek kan die regering, Sahpra of entstofvervaardigers vir my newe-effekte dagvaar.

Feit: Jy kan nie dagvaar vir matige newe-effekte nie. Jy kan wél dagvaar vir “beserings” weens die inentings.

Beserings is anders as newe-effekte en veroorsaak permanente, wesenlike en ernstige skade aan ’n persoon se gesondheid of lei tot die dood.

Matige newe-effekte sluit in spierpyne, moegheid, hoofpyn en lyfseer. Dit is heeltemal normaal en word gesien as ’n goeie reaksie op ’n entstof – ’n teken dat jou immuunstelsel werk.

Daniël Eloff, prokureur van Hurter Spies-prokureurs, sê die departement van gesondheid is in ’n Staatskoerant van vroeër vanjaar opdrag gegee om hierdie vergoedingsfonds kragtens regulasies van die Wet op Rampbestuur op die been te bring.

“Ons weet die nasionale departement van gesondheid moet dit instel en fasiliteer, en die nasionale tesourie moet dit befonds, maar meer as dit weet ons nog nie,” aldus Eloff.

Dis ook nie duidelik wie uiteindelik vir die eise gaan betaal nie.

Die wysiging van die regulasies kragtens die Wet op Rampbestuur wat voorsiening maak vir ’n vergoedingsfonds indien mense ’n entstofbesering opdoen.

“Die doel hiervan is om vinnige en maklike toegang tot vergoeding te gee vir persone wat ’n entstof-besering as gevolg van die Covid-19-entstof opdoen,” lui die voorgestelde wysiging in die Staatskoerant.

’n Eis by die regering se nuwe vergoedingsfonds sal eisers egter hul reg laat verbeur om afsonderlike regsprosesse vir skadevergoeding teen enige party te begin.

Entstofvervaardigers het daarop aangedring dat regerings so ’n fonds stig om hulle van eise te vrywaar. Dit is wêreldwyd die geval en nie net in Suid-Afrika nie.

Mite: Ek gaan nie die entstof kry nie, want ek hoor dit gaan nie keer dat ek Covid-19 kry nie.

Feit: ’n Entstof is nie ’n kuur nie, maar ’n hulpmiddel om jou te beskerm teen ernstige Covid-19 wat jou in die hospitaal of graf kan laat beland, en die wetenskap wys dit slaag in sy doel.

Die Biovac-aanleg in Kaapstad. Pfizer en sy Duitse entstofvennoot, Bio-NTech, het ’n ooreenkoms onderteken met die Biovac-instituut om 100 miljoen dosisse Pfizer-entstof te vervaardig en in Afrika te versprei. Foto: Getty Images

Mite: Ek het klaar Covid-19 gehad, ek het nie ’n entstof nodig nie.

Feit: Mense wat reeds Covid-19 gehad het, kan steeds voordeel trek uit die entstof en word aangeraai om hulle te laat inent.

Volgens die Johns Hopkins-universiteit is dit omdat herinfeksie van Covid-19 moontlik is. Daar is nog nie genoeg inligting om te sê of en hoe lank mense teen Covid-19 beskerm word as hulle dit reeds opgedoen het en sodoende ’n natuurlike immuniteit opgebou het nie.

Vroeëre getuienis dui daarop dat natuurlike immuniteit van Covid-19 nie lank sal duur nie, maar meer studies moet gedoen word om dit te verstaan.

Wetenskaplikes glo dus die entstof bied beter beskerming teen die koronavirus as natuurlike infeksie.

Dis belangrik om weer daarop te wys dat selfs wanneer mense die virus opdoen en matige of geen simptome toon nie omdat hulle ingeënt is of reeds natuurlike immuniteit opgedoen het, kan hulle dit steeds na ander oordra wat moontlik nie so gelukkig is nie.

Foto ter illustrasie: ’n Baie siek Covid-19-pasiën
Foto ter illustrasie: ’n Baie siek Covid-19-pasiënt in die hospitaal. Foto: Getty Images
Getty Images

Die WGO skryf op sy webblad geïnfekteerde persone kan aansteeklik wees en die virus na ander versprei, of hulle simptome het of nie.

“Baie sal nie weet dat hulle dit het nie, maar hulle sal steeds aansteeklik wees. Dis die waarheid,” het prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en lid van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, gesê.

Mite: Noudat ek ingeënt is, hoef ek nie meer my masker te dra of Covid-19-maatreëls na te kom nie.

Feit: Soos hierbo genoem, kan jy steeds die virus opdoen en na ander versprei, selfs al word jy nie self so siek nie, of selfs al is jy heeltemal asimptomaties.

Die CDC het vroeër sy riglyne oor maskers vir mense wat reeds ingeënt is, verslap. Maar in die lig van die huidige toename in infeksies wat deur die Delta-variant veroorsaak word, het die CDC weer die strop nouer getrek.

Volgens The New York Times het die CDC besluit dat mense wat reeds ingeënt is, voortaan maskers in openbare binnenshuise plekke moet dra in dele van Amerika waar die Delta-variant hoogty vier. ’n Algehele opdrag is ook gegee aan onderwysers, leerlinge, studente en besoekers aan skole om maskers ondanks hul inentingstatus en demografie te dra.

Net omdat jy ingeënt is, beteken dit nie jy kan maar ophou om die gesondheidsregulasies na te kom nie. Foto: Unsplash

Mite: My liggaam het nie ’n entstof nodig om immuniteit teen ’n siekte te bou nie.

Feit: Entstowwe help waar ’n liggaam se natuurlike immuniteit nie kan nie.

Netcare skryf sekere siektes kan wél daartoe lei dat die liggaam ’n natuurlike immuniteit opbou wanneer hulle die virus opdoen. Dit stel die liggaam egter geweldig bloot, wat die entstowwe nie doen nie. Voorbeeld: Om immuniteit teen masels te kry moet jy eers masels opdoen. Maar die komplikasies van masels sluit longontsteking, breinswelling en selfs die dood in. Entstowwe bied ’n veilige manier om immuniteit op te bou sonder die skadelike impak van ’n voorkombare siekte.

Foto ter illustrasie: ’n Gesondheidswerker kry ’n dosis van Johnson & Johnson se Janssen-entstof vir inenting gereed. Foto: Getty Images

Prof. Alex van den Heever, hoof van die skool vir regeerkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het voorheen kommer uitgespreek dat diegene wat hulle nie wil laat inent nie, kudde-immuniteit vir almal sal beduiwel.

“Soos wat die lewe na normaal terugkeer, is dit my mening dat oningeënte mense ’n groter risiko het om aan te steek aangesien daar geen kudde-immuniteit sal wees nie. Hulle kan byvoorbeeld by ingeënte persone aansteek. Daarteenoor het ingeënte mense ’n veel laer risiko vir ernstige siekte.”

Meer oor:  Pfizer  |  Fda  |  Cdc  |  Johnson & Johnson  |  Prof. Barry Schoub  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Feite  |  Pandemie  |  Fopnuus  |  Variante  |  Covid-Sterftes  |  Mites  |  Covid-19  |  Newe-Effekte  |  Entstowwe  |  Kudde-Immuniteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.