Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Erfenis van #DeGaulleMustFall

Môre, 6 Mei, sal dit presies 50 jaar gelede wees dat 20 000 Franse studente in Parys die strate ingestroom het om te protesteer teen wat hulle beskou het as verskeie wantoestande. Dit was die begin van ’n opstand wat byna die regering laat val het. Leopold Scholtz kyk terug na ’n oproerige tydperk in die Europese geskiedenis.

Grafika: hanlie malan

Probleme aan die beroemde – volgens baie eerder selfgenoegsame – Sorbonne-Universiteit in Parys het al lank gebroei. Oor die hele Wes-Europa heen het ’n groeiende ontevredenheid onder die naoorlogse bevoorregte geslag geborrel en ’n plek gesoek om uit te bars.

Die agtergrond was basies dít:

Die Tweede Wêreldoorlog het ongelooflike verwoesting en ’n afkeer van oorlog in Europa meegebring. Dis vergesel van sosiale veranderings – die afbreek van die tradisionele klasse-samelewing, groter geslagsgelykheid – wat druk op allerlei instellings, soos die staatsdiens, die onderwys en die kerke, begin uitoefen het.

Daarby het ’n geboortegolf ná 1945 oor Europa en die Weste getrek. Om maar ’n voorbeeld te noem: Teen 1964, toe die golf min of meer verby was, het die naoorlogse geslag (baby boomers) 40% van die Amerikaanse bevolking beslaan – en in Europa was dit nie veel anders nie (tussen 1950 en 1960 het die Franse bevolking met 9,2% gegroei).

Dit het gepaardgegaan met ’n enorme ekonomiese en wel­vaarts­uitbreiding. Ongekende getalle jong mense het hul skoolopleiding voltooi en beroepsopleiding ondergaan of universiteit toe gegaan.

Die fondamente van die Westerse beskawing – wat in Europa nog op die 19de-eeuse pilare gestaan het – was aan die verskuif. Maar die instellings het weerstand gebied. Êrens moes iets breek.

Net ’n trappie onder God

By die Sorbonne het studente en die universiteitsowerheid al lank gebots oor oorvol klasse en professore wat vir hulself ’n 19de-eeuse gesag (net ’n trappie onderkant God) toegeëien het. Op Maandag 6 Mei 1968 het hulle die strate van die Quartier Latin op die linkeroewer van die Seine ingestroom om te protesteer teen die skorsing van sommige studente.

Agterna bekyk, het die universiteitsowerheid, die polisie en die regering die saak dramaties verkeerd gehanteer. Pleks van om – soos moderne insigte leer – minimum geweld te gebruik om die orde met so min moontlik ontwrigting te herstel, is die studente met traangas, knuppels en groot geweld uitmekaar gejaag.

Die studente het die kenmerkende straatkeie opgetel en die polisie daar- mee bestook. Met omgekeerde motor- karre wat aan die brand gesteek is, is barrikades opgerig. Dit het herinneringe aan die revolusies van 1789, 1830 en 1848 opgeroep, toe die bestaande orde omver gewerp is en die regerings geval het.

Die geweldpleging het met tussenposes weke lank geduur. Die 20 000 studente van die eerste dag het weldra tot meer as ’n miljoen betogers – onder wie ook fabrieksarbeiders – aangegroei.

De Gaulle kry ruggraat

Die man aan die bewind, die bejaarde pres. Charles de Gaulle, het inderdaad op 29 Mei op ’n helikopter geklim en na sy ou vriend en oorlogskameraad, genl. Jacques Massu, gevlieg. De Gaulle was moedeloos en gereed om boedel oor te gee.

Maar Massu het sy vriend se ruggraat herstel. De Gaulle is terug na Parys, waar hy die Franse volk oor radio en televisie toegespreek en wetsgehoorsame burgers aangemoedig het om hulle teen die betogers te verset.

Die gevolg was ’n massale betoging van sowat 800 000 mense wat die Franse tricolore geswaai en hulle agter De Gaulle geskaar het. Die president het nuwe verkiesings uitgeroep, waarna die momentum van die opstand vinnig getaan het.

Erfenis van 1968

Die verkiesing van Junie 1968 het ’n weghol-oorwinning vir De Gaulle opgelewer. Die opstand was verby.

Of was dit? Sedertdien debatteer historici, sosioloë en politieke wetenskaplikes heftig oor die erfenis van 1968.

Allereers moet dit gestel word dat 1968 nie slegs in Frankryk ’n krisis veroorsaak het nie. Dit was ook in Amerika, Duitsland, Nederland en België – en selfs agter die Ystergordyn, in Tsjeggo-Slowakye – die geval, al het die dinamiek plaaslik verskil.

In Amerika was die verset hoofsaaklik teen die oorlog in Viëtnam gerig. Die grootskaalse geweld het die nuwe president, Richard Nixon, oortuig dat die oorlog nie gewen kon word nie en dat hy ’n rookskerm moes opwerp waaragter hy die stryd kon prysgee.

In Wes-Duitsland het die naoorlogse geslag, anders as in Frankryk, nie slegs in opstand gekom teen die 19de-eeuse instellings nie, maar ook teen wat hulle gesien het as die ouer geslag se “lafhartigheid” in die Nazi-tyd. Die ouer geslag was basies skaam-kwaad oor hulle hulle nie teen die Nazi-gruwels verset het nie en wou nie daaroor praat nie; die jonges het dit gesien as skynheiligheid.

Grafika: HANLIE MALAN

In Wes-Berlyn, Hamburg, Frankfurt, München en ander stede het veral studente in opstand gekom, en die geweld van Parys is op talle plekke in Wes-Duitsland herhaal.

In die proses het die opstandelinge egter – agterna beskou – te ver gegaan. Die Duitse historikus Götz Aly (in 1947 gebore en een van die betogers) het later die onverdraagsaamheid van die geslag van 1968 met dié van die Nazi’s vergelyk.

In sy boek Unser Kampf (“Ons Stryd”, ’n doelbewuste herinnering aan Adolf Hitler se Mein Kampf) het Aly in 2008 onthul dat die Duitse studenteleier Rudi Dutschke Wes-Berlyn tot ’n onafhanklike staat wou uitroep waar alle opposisie verbode sou wees.

Dat die geslag van 1968 in sy onmiddellike doel – die omverwerping van die establishment – misluk het, is waar. Maar, meen baie waarnemers, die jong mense het wel daarin geslaag om die samelewing as sodanig oop te breek.

Aly betwis dit. Hy meen die samelewing was in elk geval deur die demografiese, sosiale en ekonomiese veranderings aan die verander; die geweldpleging van 1968 het die verandering eerder vertraag.

Wat wel waar is, soos die historikus Norbert Frei oortuigend aandui, is dat die geslag van 1968 in Duitsland die destydse taboe oor die volksmoord van die Jode verbreek het.

Hoe ook al, 1968 is een van daardie jaartalle waaroor geleerdes ’n permanente gesprek sal bly voer.

Naskrif:

Tans is daar weer groot onrustigheid in Parys en elders in Frankryk na aanleiding van die streng finansiële besnoeiingsbeleid van pres. Emmanuel Macron. Duisende Franse, onder wie talle studente, betoog weer in die strate.

Maar vergeleke met die – dalk misplaaste – idealisme en geesdrif van 1968, maak die huidige proteste ’n futlose indruk.

’n Mens weet nooit waarheen sake kan ontwikkel nie, maar táns lyk dit glad nie of daar ’n herhaling van 1968 kan wees nie. Macron kan gerus slaap.

Meer oor:  Geskiedenis  |  Leopold Scholtz  |  Europa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.