Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Eskom se lang nag wat vir SA wag

Die land kan homself staal vir minstens vier of vyf jaar se beurtkrag, skryf Jan de Lange.

Dis nie die eerste keer dat Eskom die land met beurtkrag straf nie, maar dié keer is dit anders, want dit gaan baie langer duur.

“Ons is in groot, groot moeilikheid,” sê Mike Rossouw, voormalige hoof van die energie-intensiewe verbruikersgroep – ’n vereniging van groot maatskappye soos myne en metaalsmelters wat saam sowat 40% van Eskom se elektrisiteit koop.

Eskom se finansiële probleme het nou die punt bereik waar sy voorsitter, Jabu Mabuza, twee weke gelede in ’n voorlegging oor sy jaarlikse resultate erken het dat Eskom bankrot is omdat sy skuld van R419 miljard te groot is om uit sy inkomstebronne terug te betaal.

Dit gaan byvoorbeeld R73 miljard in die huidige boekjaar kos om sy skuldverpligting na te kom en R95,5 miljard per jaar in die jaar daarna.

Dis meer as ’n derde van die jaarlikse inkomste wat Eskom verwag om in dié tydperk te kry.

Dit terwyl sy elektrisiteitsverkope reeds etlike jare lank stadig afneem namate verbruikers danksy nuwe tegnologie al hoe meer maniere kry om krag te spaar weens hoë Eskom-tariewe en selfs hul eie krag op te wek. En Eskom se enigste alternatief vir dalende verkope is om tariewe te verhoog – ’n klassieke voorbeeld van ’n mislukte sakemodel.

‘Eskom moet eenvoudig sy pad deur die onderhouds-agterstand werk.’

Maar dis net sy finansiële probleme. Op bedryfsvlak gaan dit net so erg, of selfs erger.

Rossouw, wat met die vorige beurtkragkrisis in 2015 spesiale adviseur van Eskom se topbestuur was, meen dit kan nou vier tot vyf jaar duur voordat die land se kragnetwerk weer heeltemal stabiliseer en normaal bedryf kan word.

Met die eerste beurtkragkrisis in 2008, wat deur steenkooltekorte veroorsaak is, het die destydse uitvoerende hoof, Jacob Maroga, voortydig gewaarsku dat beurtkrag permanent deel van Suid-Afrikaners se lewens gaan word. Sy fatalisme het hom destyds uiteindelik sy pos gekos, maar dié keer lyk dit asof Maroga se donker vooruitsigte ’n werklikheid geword het.

Rossouw wys daarop dat die sogenaamd onbeplande onderbrekings, waar opwekkingseenhede afgeskakel moet word omdat iets verkeerd loop, die afgelope drie jaar elke jaar met sowat 10% toegeneem het.

“Dit beteken dat sowat 20% van Eskom se opwekkingseenhede altyd staan omdat nood-onderhoudswerk daaraan gedoen moet word,” sê hy.

Die onmiddellike gevolg daarvan is dat beplande onderhoudswerk nie meer gedoen word nie, omdat almal se aandag nou daarop gevestig is om onbeplande eenhede wat afgeskakel is, weer in bedryf te kry. (As breë riglyn moet tussen 5% en 10% van Eskom se opwekkingseenhede deurlopend afgeskakel wees vir beplande onderhoudswerk. Dis veral belangrik in die somermaande om die hele vloot in bedryf te kan hou tydens spitsvraag-tye in die winter.)

“Dis ’n bose kringloop waarin Eskom se tegniese spanne vasgevang is. Hoe meer opwekkingseenhede uit nood afgeskakel moet word vir onbeplande onderhoudswerk, hoe minder geskeduleerde onderhoudswerk word gedoen.

“En hoe minder geskeduleerde onderhoudswerk gedoen word, hoe meer eenhede moet vir nood-onderhoudswerk afgeskakel word,” sê Rossouw.

Om sake te vererger, is Eskom se middel- en topbestuursvlak-kundigheid feitlik heeltemal tot niet gemaak – eers deur oordadige regstellende aksie waarvoor Eskom in die laat 1990’s “ruimte geskep” het.

En sedert 2014 deur die Guptas se staatska­pingslakeie wat alle oorblywende lojale kundiges uit hul pad gestoot het.

“Die hele senior bestuursvlak is eenvoudig weg. Eskom se beste kragstasiebestuurders, hoofbestuurders en algemene bestuurders is nie meer daar nie,” sê Rossouw.

Dis kundigheid wat internasionaal gesog is en baie van hulle is vandag in die buiteland.

“Ses van die mees senior kragsentrale-bestuurders in die Filippyne is vandag voormalige Suid-Afrikaners, onder wie

Roman Crookes, voorheen projekbestuurder van Medupi,” sê Rossouw.

Rossouw meen dit gaan vier tot vyf jaar duur om dit reg stel. “Dit het enorme implikasies vir ons ekonomie, vir ons groeikoers en vir werkskepping.”

Daar is net een manier om die doodspiraal met onderhoud te breek: Om genoeg kundiges weer aan boord te kry sodat onderhoudswerk goed beplan en deeglik uitgevoer word.

“As ek Eskom se uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, was, sou ek heel eerste gesorg het dat alle vakante poste in die tegniese afdelings met kundiges gevul word. Eskom moet eenvoudig sy pad deur die onderhoudsagterstand werk – hulle het geen ander keuse nie,” sê Rossouw.

Meer as die helfte van die eenhede in die vloot is al meer as 30 jaar oud. Daarom is onderhoud ’n groot las.

Die onafhanklike hernubarekrag-opwekkers met wie die regering Eskom in Maart gedwing het om kragkoopooreenkomste te onderteken, sal eers in 2020 in bedryf kom. Dis 2 300 megawatt, hoofsaaklik windkrag, wat dan in bedryf gestel word. Dit kan wesenlike verligting bring.

“Al die vooruitskattings vir toekomstige hernubare energieprojekte is nou daarmee heen en sal aangepas moet word. Volgens die geïntegreerde hulpbronplan moet daar weer in 2025 ’n nuwe ronde kontrakte met hernubare kragopwekkers onderteken word, maar die beurtkragkrisis beteken dit sal vervroeg moet word,” sê hy.

Twee kleiner steenkoolkragstasies waarvoor onafhanklike kragopwekkers aansoek gedoen het, sal ook met heelwat meer dringendheid oorweeg moet word.

Die dieselkragopwekkers wat vir noodgevalle gebruik word, loop nou ook weer feitlik deurentyd. In die jaar tot einde Maart het Eskom net R320 miljoen bestee aan diesel om die eenhede vir kort tydperke aan te skakel, maar in die halfjaar tot einde September is R1,4 miljard aan diesel uitgegee.

“Ons kan ons regmaak daarvoor dat daardie bedrag teen dié tyd minstens verdubbel het of dalk selfs verdriedubbel het,” sê Rossouw.

Steenkooltekorte by meer as die helfte van die 15 steenkoolkragsentrales is die

gevolg van ’n “steenkool­afgrond” wat reeds in 2010, kort ná die eerste steenkoolkrisis, deur die steenkoolmyne voorspel is.

Die meeste van die kragsentrales word be­dien met steenkool uit myne reg langs die kragsentrale – die “gekoppelde” myne wat eintlik aan Eskom behoort, maar teen beperkte opbrengskoerse deur groot mynmaatskappye – hoofsaaklik Anglo American, South32, Exxaro en Glen­core bedryf word.

Omdat die myne aan Eskom behoort, moet hy die kapitaal verskaf wanneer werkfronte uitgewerk raak en nuwe skagte of gange in dié myne ontwikkel moet word. Maar Eskom het twee dekades lank feitlik geen geld beskikbaar gestel om dié myne te verbeter nie. Daarom het produksie uit die myne die afgelope jare skerp gedaal.

Dis waarom daar nou by soveel kragstasies tekorte is.

Exxaro was ’n slagoffer van staatskaping toe die Arnot-myn wat hy vir Eskom bedryf het in 2015 deur Eskom gesluit is sodat die Arnot-kragsentrale steenkool kon koop by die Guptas se Tegeta Resources.

In 2010 het Exxaro se huidige uitvoerende hoof, Mxolisi Mgojo, voorspel dat steenkoolverskaffing uit die myne teen die einde van die dekade kritieke vlakke gaan bereik.

Grootmaat-steenkoolreserwes in Mpumalanga, waar die meeste van die kragsentrales is, is grootliks uitgeput.

Maar Mgojo, wat ook president is van die Mineraleraad (vroeër die Kamer van Mynwese), sê die afgelope paar weke het Eskom indringende onderhandelinge met steenkoolprodusente gevoer om bykomende steenkool te koop.

Die steenkoolmyne het volgens hom die afgelope paar weke ’n reeks voorstelle aan Eskom gemaak, wat insluit dat uitvoersteenkool na Eskom herlei word. Die aanbieding is meestal aanvaar.

“Al die steenkoolprodusente is gretig om Eskom te help, want hulle is self slagoffers van beurtkrag. Selfs Ivan Glasenberg, uitvoerende hoof van Glencore, het aangebied om te help.

Glasenberg is in 2015 deur Brian Molefe, destyds uitvoerende hoof van Eskom, en Mosebenzi Zwane, die Gupta-beheerde voormalige minister van minerale bronne, gedwing om sy Optimum-myn vir ’n appel en ’n ei aan Tegeta te verkoop.

Meer oor:  Guptas  |  Brian Molefe  |  Optimum-Myn  |  Korrupsie  |  Tegeta  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.