Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Faksiegevegte, korrupsie spel onheil vir ANC

Die ANC het wel weer koning gekraai in vanjaar se verkiesing, maar hy sal dringend ’n einde aan veral korrupsie en faksiegevegte moet maak as hy wil oorleef, skryf Christopher Isike.

Pres. Cyril Ramaphosa vier die ANC se oorwinning in vanjaar se algemene verkiesing. Foto: AP

Die ANC – soos die meeste bevrydingsbewegings wat politieke partye geword het – het die politieke toneel in Suid-Afrika oorheers sedert dit in 1994 aan bewind gekom het.

Nadat dit die steun van 57,50% van kiesers in die algemene verkiesing gekry het, lyk dit of die oorheersing sal voortduur tot die volgende verkiesing in 2024.

Die ANC se vertonings by die stembus was algaande swakker in die laaste drie algemene verkiesings: 2009 (65%), 2014 (62%) en 2019 (57,50%). Beteken dit dat die party van Nelson Mandela se naam ook sal verskyn op die wêreldwye lys van partye wat die politieke toneel oorheers het net om mag te verloor en vroeër eerder as later uiteindelik te disintegreer?

Oorheersende partye beleef wêreldwyd oomblikke van mislukking. Soms verdwyn hulle heeltemal van die politieke toneel.

Die ANC behoort bekommerd te wees oor hoë vlakke van korrupsie en konflikte binne die party.

Die Sweedse Sosiaal Demokratiese Party, wat van 1917 as die grootste politieke party in Swede en as een van die suksesvolste in die wêreld se liberale demokrasieë beskou is, ly byvoorbeeld sedert 2006 nederlae by die stembus.

Ierland se Fianna Fáil (Republikeinse Party) is nog ’n voorbeeld. Hy het sedert 1932 die meerderheid setels in die Dáil Éireann (Ierse parlement) gehad, maar het in 2011 sleg pak teen die opposisie gekry.

Kenners het agteruitgang van dié aard aan vier breë oorsake toegeskryf: koördinasie deur die opposisie, institusionele hervormings of hervormings aan die kiesstelsel, hoë vlakke van korrupsie en growwe magsmisbruik, en konflikte binne die dominante party.

Die twee oorsake wat die ANC bekommerd behoort te maak, is hoë vlakke van korrupsie en konflikte binne die party.

Redes vir mislukking

’n Ondersteuner van pres. Cyril Ramaphosa wys wie hy ondersteun. Ramaphosa se persoonlikheid en optrede het kiesers beslis na die ANC teruggelok. Foto: Reuters

* ’n Gefragmenteerde opposisie

Studies het vasgestel dat ’n gefragmenteerde opposisie dominante partye help om aan bewind te bly.

’n Swak gekoördineerde opposisie sal nie juis gerat wees om kiesers se steun te werf nie. Hulle is ook minder bevoeg om regerings saam te stel en in stand te hou as ’n gekonsolideerde opposisie.

’n Goeie voorbeeld in dié verband is die All Progressive Congress in Nigerië. Dit het die regerende Peoples Democratic Party in die presidensiële verkiesing van 2015 verslaan, maar dit het ses maande geneem om ministers aan te stel en regering is eers ná bykans drie jaar gestabiliseer.

Sterk, charismatiese leierskap is nodig om ’n goed gekoördineerde opposisie te komplementeer. Dit was ’n faktor in die agteruitgang van eenparty-oorheersing in Taiwan, Korea en Mexiko.

Die Ivoorkus, Kenia en Ghana is ander voorbeelde van lande waar charismatiese opposisieparty-leiers bewindshebbers in nasionale verkiesings verslaan het.

* Instellings

Verskeie studies het bewys dat instellings ’n betekenisvolle rol speel in die voortbestaan van eenparty-oorheersing. Dit kan verband hou met die aard van die kiesstelsel en die soort politieke stelsel wat in plek is.

Dit veronderstel dat ’n sekere mate van strukturele hervorming nodig mag wees om ontslae te raak van ’n dominante party wie se heerskappy op die bestaande stelsel steun.

’n Studie oor Taiwan, Korea en Mexiko het tot die gevolgtrekking gekom dat die opposisie nie in een van dié lande sonder die hervorming van die kiesstelsels ’n bedreiging vir die regerende partye sou ingehou het nie.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, het by die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum in Pretoria gesê hy glo nie pres. Cyril Ramaphosa het ’n deurslaggewende rol in die ANC se oorwinning by die stembus gespeel nie. Foto: Felix Dlangamandla

* Ontnugtering

Groeiende ontnugtering met die regering van ’n party wat aan bewind is weens voortdurende hoë vlakke van korrupsie is ’n ander rede wat tot ’n einde aan sy heerskappy kan lei.

Die argument is dat ’n party oorgerus word en vatbaar is vir korrupsie en magsmisbruik as dit vir lank aan bewind bly sonder ’n goeie kans dat dit by die stembus verslaan kan word. Dit kan lei tot verskeie griewe onder burgers wat die dominante party met ’n protesstem uit die kussings kan lig.

Daar is verskeie voorbeelde van sulke gevalle: Dit het met die Peoples Democratic Party in Nigerië (2015) gebeur, die Kuomintang in Taiwan (2016), die Grand National Party /Saenuri Party in Korea (2004),en die PRI in Mexiko (2000).

* Faksiegevegte

Studies het beaam dat interne verskille en wanorde die belangrikste redes was vir die verbrokkeling van dominante partye in verskeie dele van die wêreld.

In Afrika het sulke skeurings dikwels verband gehou met onopgeloste leierskapsgeskille soos wat die geval met die Peoples Democratic Party in Nigerië was.

Voor die algemene verkiesing van 2015 het dié party verstrengel geraak in ’n uitgerekte krisis oor die rotasie van die presidentskap tussen die suidelike en noordelike magsblokke.

Lede het die party as gevolg daarvan in groot getalle verlaat en by die nuutgestigte All Progressive Congress aangesluit. Dit het tot ’n groot mate bygedra tot die nederlaag van die Peoples Democratic Party nadat hy vir 16 jaar aan die bewind was.

Hoe vaar die ANC?

Mmusi Maimane, leier van die DA, by die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum in Pretoria. Die bord agter hom wys dat sy party nie te waffers gevaar het nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die eerste twee aanwysers – ’n gefragmenteerde opposisie en instellings – maak die voortsetting van ANC-oorheersing makliker.

Die laaste twee – ontnugtering en faksiegevegte – bedreig hom.

Die DA en EFF bly die twee grootste opposisiepartye in Suid-Afrika. Maar daar is steeds twyfel oor hul vermoë om die ANC in die nabye toekoms in ’n verkiesing te verslaan – veral omdat ideologiese verskille ’n alliansie onwerkbaar, dog nie onmoontlik nie, maak.

Die stelsel van proporsionele verteenwoordiging skep ruimte vir die verdere fragmentasie van die opposisie.

Dit verduidelik dalk waarom van hul koalisieregerings ná die munisipale verkiesing van 2016 in duie gestort het. Sulke gebeure dui daarop dat die opposisie nie gekoördineerd genoeg is om die ANC te verslaan nie.

Ondanks hul beperkte hulpbronne en die bagasie van identiteitspolitiek, dui lesse van ander lande egter daarop dat samesmelting van of koalisies tussen opposisieparty die mees haalbare manier is om die ANC as regerende party te vervang.

Die ANC het in die tweede plek sy meerderheid in die parlement gebruik om wette te skep (of te beïnvloed) wat die groei van die opposisie beperk en daardeur sy eie oorheersing voortsit.

Die stelsel van proporsionele verteenwoordiging skep ruimte vir die verdere fragmentasie van die opposisie.

Die EFF se Dali Mpofu en Ringo Madlingozi bespreek die verkiesingsuitslae. Foto: Felix Dlangamandla

Maar korrupsie en faksiegevegte is die twee faktore wat die ANC se oorheersing bedreig en dit uiteindelik kan beëindig – mits die ANC albei in die kiem kan smoor.

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het ontbloot hoe diep gesetel korrupsie in die ANC is.

Dit het ’n negatiewe impak op dienslewering gehad en vertroue in die ANC en die regering ondermyn.

Pres. Cyril Ramaphosa het baie gedoen om die ANC te verenig sedert hy leier geword het. Dit het twyfelagtige kompromieë ingesluit.

As die president sy verkiesingsbeloftes nakom, sal die ANC in 2024 weer die gunsteling wees om die verkiesing te wen.

Die manier waarop hy sy party se belange en dié van die land in die komende jare balanseer, sal bepaal of die ANC in duie stort of nie.

As die president sy verkiesingsbeloftes nakom, sal die ANC in 2024 weer die gunsteling wees om die verkiesing te wen. Dit sluit in die uitroei van korrupsie, die vervolging van skuldiges, die hervorming van die ekonomie om mense se toegang daartoe te verbeter, om grond te onteien en te herverdeel sonder om die ekonomie te benadeel en die skep van werk.

Die faksiegevegte in die ANC sal bepaal in watter mate hy sy beloftes kan nakom. Tot dusver dui studies daarop dat Ramaphosa se persoonlikheid en optrede vertroue geskep en kiesers na die ANC teruggelok het.

Dit word beslis weerspieël in die uitslae van vanjaar se verkiesing. Hy het nou ’n mandaat om daarmee voort te gaan – én op ’n meer kragdadige manier.

Wat hou die toekoms in?

Op sy beurt, moet die leierskap van die ANC ’n begin daarmee maak om die party ten volle van ’n bevrydingsbeweging in ’n demokratiese politieke party te transformeer waar mededinging om leierskap en posisie op kandidatelyste toegelaat word.

Die opkoms van provinsiale voorsitters as bemiddelaars in interne verkiesings kom neer op gedeeltelike interne demokratisering van ANC-politiek, maar dit het ook gelei tot ’n netwerk van patronaatskap.

Sommiges reken dat die ANC selfs as ’n bevrydingsbeweging goed kan regeer. Nietemin is sy transformasie noodsaaklik omdat die regimentele (bevel-en-gehoorsaam) kultuur wat bevrydingsbewegings aandryf arrogansie onder leiers, outoritarisme en korrupsie kweek. Dit smoor ook innovasie onder veral die jeug.

Die ANC ly onder al dié kenmerke wat vooruitgang striem en hy sal iets daaraan moet doen.

* Isike is professor van Afrika-politiek en internasionale betrekkinge aan die Universiteit van Pretoria. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Cyril Ramaphosa  |  Ierland  |  Swede  |  Suid-Afrika  |  Nigerië  |  Korea  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.