Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Faksies gaan ANC nié laat skeur

Faksies is deel van die partypolitieke landskap in Suid-Afrika en daarom gaan verdeeldheid in die ANC nie tot ’n skeuring in dié party lei nie, skryf Theo Venter.

Pres. Cyril Ramaphosa lei ’n diep verdeelde ANC. Foto: Jaco Marais

Faksies is een van daardie woorde wat sinoniem met die Suid-Afrikaanse politieke proses en -partye geword het. Verwysing na faksies in die ANC het alledaags geword. Daar word selfs gepraat van faksies binne faksies in die ANC in KwaZulu-Natal en in Noordwes.

Daar is ook faksies in die SAKP, Cosatu en die DA.

Faksies was in die verlede ook ’n gegewe in die voormalige Nasionale Party (NP). Daar was byvoorbeeld die Kaapse NP en die Transvaalse NP – en selfs die verligtes en verkramptes.

Faksies is ook nie ’n uniek Suid-Afrikaanse verskynsel nie.

Die wesenlike vraag is of faksies ’n soort van institusionele verskynsel in politieke partye is en of faksies die voorspel is tot ’n versplintering of skeuring?

Faksies is ook nie ’n uniek Suid-Afrikaanse verskynsel nie. So het die Amerikaanse Republikeinse Party ’n konserwatiewe vleuel wat as die “Tea Party” bekend staan en aktief aan die politiek deelneem.

Binne die Demokratiese Party het die “New Democratic Coalition” aktief presidensiële kandidate benoem en gesteun.

In die Britse Konserwatiewe Party is daar byvoorbeeld die “Cornerstone Group” wat ook ’n sterk faksie is. Ander faksies wat die aandag getrek het, was die Generation 40 faksie onder leiding van Grace Mugabe binne Zanu-PF in die laaste maande van die Mugabe-regering in Zimbabwe.

Ideologie lei tot spanning

Lede van dieselfde ANC-faksie? Oudpres. Jacob Zuma luister verlede jaar op ’n Jeugdagviering na Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: Reuters

Die Latynse word factio verwys na ’n groepie of ’n span, veral in die konteks van verskillende spanne en hul strydwaens in die ou Romeinse spansport. ’n Faksie is dus nie die hele span nie, maar die groepie wat ’n bepaalde strydwa beman.

In die politieke vaktaal word faksies en politieke partye soms as sinonieme gesien; ander menings daaroor is dat dit ’n soort verbygaande groepering in ’n politieke party verteenwoordig.

In die ontwikkelingspolitiek word faksies ook soms as voorgangers van politieke partye gesien.

Politieke partye is gewoonlik ’n mikro-kosmos van die samelewing en daarom sal daar altyd in ’n politieke party spanning bestaan oor ideologiese uitgangspunte en beleid.

Ek beskou faksies as semi-permanente ideologiese posisies in ’n politieke party, eerder as net tydelike verskynsels. Hierdie faksies is nie noodwendig net ideologies van aard nie, maar dit kan ook gebou word rondom leierskap, patronaatskap of selfs ander magsposisies in die party.

Een van die baanbrekers in die veld van die partywese, Samuel Eldersveld, het opgemerk dat politieke partye gewoonlik ’n mikro-kosmos van die samelewing verteenwoordig en daarom sal daar altyd in ’n politieke party spanning bestaan oor ideologiese uitgangspunte en beleid.

Daardie spanning is ’n gesonde en konstruktiewe faktor wat vooruitgang aanhelp. Robert Michels, wat die ysterwet van oligargie in politieke partye eerste aangeteken het, het weer raakgesien dat politieke partye se interne werkinge nie noodwendig demokraties is nie en dikwels interne opponerende standpunte onderdruk.

Hoewel alle politieke partye faksies kan ontwikkel, is dit veral pre-dominante partye (sogenaamde "broad church"-partye) waar uitgebreide belange in een party gevind word, wat kwesbaar is vir faksievorming. Dié soort partye verenig dikwels opposisie-groeperinge rondom ’n groot ideaal.

Bantu Holomisa se UDM is ’n voorbeeld van ’n wegbreekgroep uit die ANC wat nie veel op sy eie kon vermag nie. Foto: Jaco Marais

Faksies neem sulke sterk posisies in dat teenstand nie geduld word nie. Dit word veral deur hekwagters in die politieke partye bestuur.

Hulle bepaal waaroor gepraat word, wie daaroor praat en wat aanvaarbare debatte is en wat nie. Hulle bepaal dus die party se agenda en versterk faksievorming.

’n Voorbeeld van hierdie onverdraagsaamheid tussen faksies is beslis die politieke moorde wat tans in KwaZulu-Natal aan die orde van die dag is.

Faksies is dus die posisie wat ’n party inneem wanneer ernstige vraagstukke oor leierskap of ideologie ter sprake is.

Faksies begin gewoonlik vanweë opponerende idees in ’n politieke party en die sagste vorm van ’n faksie is waarskynlik wanneer ’n politieke beweging meer as een koukus het.

Indien so ’n koukus sterker word en die posisie bereik om die leierskap te betwis, begin faksievorming in alle erns.

Faksies is dus die posisie wat ’n party inneem wanneer ernstige vraagstukke oor leierskap of ideologie ter sprake is.

Dit was natuurlik die geval in 2017 met die Cyril Ramaphosa-faksie teenoor die Jacob Zuma-faksie.

Lei faksies noodwendig tot skeuring?

Saftu het uit Cosatu weggebreek nadat ’n breekpunt bereik is oor onder meer die leierskap van oudpres. Jacob Zuma. Foto: Jabulani Langa

Die vraag wat nou gevra moet word, is of faksies noodwendig tot ’n breekspul in of die versplintering van ’n politieke party lei.

’n Party met ’n lang geskiedenis en ’n sterk teenwoordigheid kan gewoonlik faksies redelik maklik internaliseer. In die geval van Cope het ons gesien dat faksies en leierskapstryd jong partye kelder.

’n Voorbeeld van die internalisering van faksies kan ook buite politieke partye gesien word. Hier is Cosatu ’n goeie voorbeeld.

Daar word bespiegel dat die Zuma-faksie in die ANC in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en in Noordwes agter die skerms besig is om die stigting van ’n nuwe party te oorweeg.

Numsa het jare lank gedreig om sy verbintenis met Cosatu te verbreek as gevolg van ideologiese strydpunte, die leierskap van Zuma en natuurlik sekere finansiële reëlings, maar Cosatu kon hierdie verskille oor ’n lang tydperk onder die kombers hou. Uiteindelik het dit tot ’n breekspul gelei en vandag sit ons met twee vakbondfederasies in Cosatu en Saftu.

Daar word bespiegel dat die Zuma-faksie in die ANC in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en in Noordwes agter die skerms besig is om die stigting van ’n nuwe party te oorweeg.

Ek glo egter dat die ANC so ’n sterk politieke teenwoordigheid in die Suid-Afrikaanse politiek het dat die wegbreek van enige bestaande faksie onwaarskynlik is.

Theo Venter

Wat ons in werklikheid sien, is dat pogings om ’n alternatief vir die ANC te skep as ’n dreigement binne dié party gebruik word.

Die werklike stryd in die ANC gaan oor wie verteenwoordig die waardes en die identiteit van die party. Die huidige leierselite weet dat groepe wat uit die ANC wegbreek nie veel regkry nie. Hier hoef ons bloot te kyk na die PAC, UDM, Cope en in ’n groot mate die EFF.

Faksies is deel van die gewone partypolitieke omgewing. en die meeste politieke partye kan vir ’n tydperk oorleef ondanks faksies.

Wanneer faksies ’n semi-permanente verskynsel binne ’n party word, lei dit nie noodwendig tot die versplintering van die party nie, maar uiteindelik lei dit tot swak regering.

Dit is die een van die dilemmas wat Suid-Afrika tans met die faksies in die ANC het. Besluitnemingsprosesse word vertraag omdat die faksies mekaar agter die skerms teenstaan.

Dit is waarskynlik die rede vir die vertraging in optrede teen Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Hy moes eintlik onmiddellik uit sy pos onthef gewees het, maar die proses om hom uit te skop sloer nou al drie weke lank.

* Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.