Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Faktore wat Cyril se nuwe kabinet sal bepaal

Die kanse is skraal dat Suid-Afrika se nuwe kabinet 100% ’n “Ramaphosa-kabinet” sal wees. Hy sal kompromieë moet aangaan en hoogstens 80% sal sy eerste keuses wees, skryf Theuns Eloff.

Die glimlag van ’n leier wat deur 10 miljoen kiesers verkies is. Pres. Cyril Ramaphosa vier die ANC se oorwinning in vanjaar se verkiesing. Foto: AP

Cyril Ramaphosa sal op 22 Mei deur die nasionale vergadering as president van ’n demokratiese Suid-Afrika verkies word en sal op 25 Mei ingehuldig geword. Volgens beskikbare inligting en bepanning sal die name van die kabinetslede op 27 Mei bekend gemaak word.

Dit is daarom te vroeg om te bespiegel oor wie presies in die kabinet sal wees en wie nie. Die lyste wat op die oomblik die ronde doen, is waarskynlik slegs vlieërs wat deur die verskillende faksies opgestuur word om te sien hoe die wind waai – en dalk om die windrigting te beïnvloed.

Dit is egter nodig en nuttig om te kyk na wat ons wél van die kabinetsamestelling weet. Volgens artikel 91 van die Grondwet is dit die President se plig en prerogatief om die kabinet aan te stel en af te dank.

'In konsultasie' beteken dat die ander topvyf met hom moet saamstem en in effek wel ’n vetoreg het.

Hierdie prerogatief is in die verlede egter selde op ’n eensydige manier uitgeoefen, behalwe deur oudpres. Jacob Zuma. Daarom is daar ’n ooreenkoms dat Ramaphosa die ander topvyf leiers van die ANC sal raadpleeg oor die samestelling van die kabinet.

Dit is ’n interne reëling van die ANC en word nie deur die Grondwet bepaal nie. Wat wel op plekke in die Grondwet en wetgewing voorkom, is die twee vorms van konsultasie: “ná konsultasie” beteken dat die president met die ander topvyf oor sy planne praat, maar dat niemand van hulle ’n vetoreg op sy besluit het nie.

“In konsultasie” beteken dat die ander topvyf met hom moet saamstem oor die samestelling van die kabinet en in effek wel ’n vetoreg het.

Hulle mag dalk saam dans, maar is straks nie in dieselfde kamp nie. Ace Magashule (regs), sekretaris-generaal van die ANC, het dit duidelik gemaak dat hy nie glo pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid het die ANC laat seëvier in die verkiesing nie. Foto: Felix Dlangamandla

Die werklikheid oor wat met die kabinetsaanstelings gaan gebeur, lê waarskynlik tussenin. Veral met Ace Magashule (en in ’n mindere mate Jessie Duarte) in die topses sal daar waarskynlik sterk oortuigings na vore kom – iets wat Ramaphosa taktvol maar met beslistheid sal moet hanteer.

Die punt is: die president het nie ’n heeltemal vrye hand om alleen oor die kabinet te besluit nie.

En dit is natuurlik nie net waar van die onlangse verlede nie. Selfs in die dae van die Nasionale Party moes eerste ministers ’n fyn balans handhaaf tussen byvoorbeeld die vier provinsies en die sterkte van die party in elkeen.

Die besluit dat die kabinet verklein moet word, maak dit nog moeiliker.

Die samestelling van enige kabinet is die balansering van ’n matriks van belange. In die geval van die ANC is dit selfs meer kompleks as met die destydse Nasionale Party.

Die belange wat gebalanseer moet word, sluit dié van die alliansievennote (SAKP en Cosatu) in, die provinsies (en veral KwaZulu-Natal wat nie ’n topses-verteenwoordiger het nie), die Vroueliga, die Jeugliga, en les bes rasseminderhede, naamlik wit, bruin en Indiër Suid-Afrikaners.

Daarby is die ANC se reël dat die regering uit 50% vroue moet bestaan. Dit alles maak die aanstellingsproses baie moeilik.

Verkleining van kabinet maak dinge nog moeiliker

Gaan Bathabile Dlamini se posisie as leiersfiguur in die ANC se Vroueliga weer vir haar ’n amp in die kabinet besorg? Foto: Argief

Die besluit van Ramaphosa (gesteun deur die ANC) dat die kabinet verklein moet word, maak dit nog moeiliker. In plaas van die huidige 34 ministers, sal daar dalk net 25 poste wees om “uit te deel”.

In plaas van die huidige 35 adjunkte, sal daar waarskynlik net 13 tot 15 oorbly.

Dit laat Ramaphosa nie met baie beweegruimte nie. Hy het wel reeds taamlike sterk uitsprake gemaak dat staatskapers en diegene oor wie daar twyfel is, nie in die regering behoort te wees nie, en so ’n sekere klimaat probeer skep vir sy aanstellings.

Maar teen die agtergrond van die Vroueliga (lees Bathabile Dlamini) en ander Zumaïete se invloed, is die kanse skraal dat die kabinet 100% ’n “Ramaphosa-kabinet” sal wees.

’n Mens moet eerder verwag dat Ramaphosa kompromieë sal moet maak, en dat hoogstens 80% sy eerste keuses sal wees.

Ramaphosa kan selfs verras deur een van die kleiner opposisiepartye ’n kabinetspos aan te bied.

’n Ander faktor wat ’n rol mag speel, is dat daar ’n verrassing of twee van buite die parlement of selfs buite die ANC kan wees. Volgens art 91(3)(c) mag die president hoogstens twee ministers van buite die nasionale vergadering aanstel. Hierdie aanstellings kan van die privaat sektor kom, gegewe die noodsaaklikheid van leiers wat die ekonomie goed kan bestuur.

Ramaphosa kan selfs verras deur (soos Zuma met Pieter Mulder gedoen het) een van die kleiner opposisiepartye ’n kabinetspos aan te bied. Die kans (soos wat bespiegel word) vir ’n regering van nasionale eenheid, is egter skraal – veral gegewe die gemoedere in die ANC en die laer aantal stemme nog vars in die geheue.

Dit alles vorm die agtergrond vir die moontlikhede oor die samestelling van die kabinet.

President wat deur 10 miljoen verkies is

Pres. Cyril Ramaphosa het breed geglimlag nadat die ANC vanjaar se verkiesing gewen het. Foto: AP

Ramaphosa het ’n mandaat van sy party en 57% van Suid-Afrika se kiesers om sy planne oor staatskaping, korrupsie, skoon regering en ekonomiese groei uit te voer.

Dié mandaat word versterk deur die feit dat dit allerweë (met die uitsondering van Magashule) aanvaar word dat Ramaphosa as persoon ’n beduidende rol gespeel het om die oorwinning vir die ANC te verseker.

Hy is dus nie meer ’n ANC-president wat met 179 stemme by Nasrec gewen het nie, maar ’n president van die land wat deur amper 10 miljoen kiesers verkies is. Hy is ook nie meer (soos Kgalema Motlanthe voor Zuma was) ’n tussentydse president nie.

Daarby het hy sedert sy verkiesing as president in 2018, ’n goeie grondslag vir sy hervormings gelê. Die vele kommissies, die aanstelling van ’n nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging en haar ondersoekeenheid is enkele voorbeelde hiervan.

Uit die onlangse NUK-vergadering se bespreking van en besluit oor die ANC premierskandidate is die bogenoemde 80%-beginsel duidelik: Vyf uit die sewe premiers was “sy” kandidate (met Noordwes s’n nog uitstaande). Dit is ’n goeie aanduiding van wat moontlik met die samestelling van die kabinet kan gebeur.

As ’n mens Ramaphosa ernstig opneem oor sy planne met die ekonomie (en daar is geen rede om dit nie te doen nie), is dit voor die hand liggend dat, benewens die Nasionale Ontwikkelingsplan (waarvan hy mede-outeur was) as breë riglyn en goeie ekonomiese beleid, daar veral goeie implementering van beleid en goeie bestuur van die ekonomie nodig is.

Die kanse is beter as 60% dat Ramaphosa ’n betreklik goeie en gebalanseerde kabinet sal kan saamstel, ondanks druk van die voormalige Zumaïete.

Berigte dat hy veral beheer wil neem van die groep ekonomiese portefeuljes, is dus goeie nuus. Maar die aanstelling van goeie bestuurders, eerder as blote beleidsmakers, is van uiterste belang.

En hier kan Ramaphosa dalk verras met ’n aanstelling of twee uit die privaat sektor. En selfs al gebeur dit nie, is die noodsaaklikheid vir nuwe senior aanstellings in die staatsdiens van mense wat die ekonomie kan bestuur, van die grootste belang.

Ramaphosa het in die ekonomiese omgewing ’n mengsel van stemme (en nie net ANC-lojaliste nie) nodig om die ekonomie en die land vorentoe te neem.

Teen hierdie agtergrond is die kanse beter as 60% dat Ramaphosa ’n betreklik goeie en gebalanseerde kabinet sal kan saamstel, ondanks druk van die voormalige Zumaïete. Hy behoort die daadkrag te hê om ewe hard terug te druk. Hopelik sal hy ook die wysheid en gesonde verstand hê om mense (binne en buite die kabinet) aan te stel wat beleid kan uitvoer.

Dit is belangrik dat die entoesiasme ná die verkiesing en die politieke stabiliteit wat daarmee gekom het met die middelgrond wat 80% van die stemme getrek het, nou in aksie omgesit word.

* Dr. Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.