Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Familie van Lucy werp meer lig op ons herkoms

Die ontdekking van ’n baie ou en byna volledige hominiedskedel het nou nog meer lig gewerp op die mens se stamboom, skryf Elsabé Brits. Dié spesie is ook aan die bekende Lucy en talle van Suid-Afrika se hominiede verwant.

Die byna volledige skedel van die hominiedspesie wat in Ethiopië gevind is, die Australopithecus anamensis. Foto: Dale Omori, Cleveland Museum

Ons het min geweet van die hominiedspesie Australopithecus anamensis – daar is voorheen net ’n gedeeltelike bo-kaak, stukke van ’n onderkaak en ’n paar tande in Kenia en Ethiopië gevind. Met ’n ouderdom van tussen 4,1 miljoen en 3,9 miljoen jaar was dié fossiele ondubbelsinnig deel van die menslike stamboom.

Nou is ’n merkwaardig volledige skedel van dieselfde spesie deur die bekende paleontoloog dr. Yohannes Haile-Selassie van Cleveland se Museum van Natuurkundige Geskiedenis en die Case Western Reserve-Universiteit, gevind.

Die skedel wat 3,8 miljoen jaar oud is, is op die Woranso-Mille-terrein in Ethiopië se Afar-streek gekry.

In 2016 het skanderings gewys dat Lucy weens ’n val dood is.

Afar is dieselfde streek waar Lucy in 1974 deur ’n jong prof. Don Johanson gevind is. In 2008 het Johanson in ’n lesing in Kaapstad gesê die Sondagmiddag toe hy haar ontdek het, het “die droom van sy kinderdae waar geword”.

“Toe al haar bene, sowat 40% van haar skelet, bymekaargesit is, het sy ’n individu geword.”

Die aand in die kamp het hulle na die liedjie “Lucy in the Sky with Diamonds” geluister. Sy vriendin het voorgestel dat hy haar Lucy noem. Die volgende oggend het almal in die kamp na haar as Lucy verwys en dit is waar sy haar bynaam gekry het.

Lucy (Australopithecus afarensis) is 3,18 miljoen jaar oud en is sowat 55 km noord van die nuwe vonds gekry. In 2016 het skanderings gewys dat sy weens ’n val dood is. Sy was lank die mees volledige hominiedfossiel totdat sy onttroon is deur ’n ander Australopithecus – dié van Little Foot wat in 1997 in die Sterkfonteingrotte in Suid-Afrika gevind is.

Een spesie het nie ’n ander vervang

Die byna volledige skedel van die hominiedspesie Australopithecus anamensis wat in Ethiopië gevind is. Foto: Dale Omori, Cleveland Museum

Die afgelope 15 jaar werk ’n span kenners in Ethiopië op die Woranso-Mille-terrein, waar hulle al 230 fossiele gevind het wat verteenwoordigend van ’n tydperk van 3,8 miljoen tot 3 miljoen jaar gelede is.

Hulle het pas in twee navorsingsartikels in die vakjoernaal Nature die skedel van Australopithecus anamensis beskryf.

In Oos-Afrika is datering makliker as in Suid-Afrika, omdat vulkaniese uitbarstings help om die lae sediment te dateer.

Die fossiel is gevind in die sanderige neerslag waar ’n rivier eens in ’n meer gevloei het. Gefossileerder stuifmeel en chemiese oorskot van plante en alge wat in die meer se sedimente is, kon help om die omgewing van destyds te herskep. Daar was bome op die rivier se walle, maar dit was ’n droë tydperk.

Daar is al meer bewyse dat verskillende spesies hominiede dieselfde tyd op die aarde geleef het en dat daar oorkruisteling was.

Lucy en die nuwe skedel, saam met die vorige fossiele wat gevind is, verteenwoordig lang tydperke in ons evolusie: van 4,2 miljoen jaar gelede tot 3,9 miljoen jaar gelede en weer van 3,8 miljoen jaar tot 3 miljoen jaar gelede.

Australopithecus anamensis het dus van minstens 4,2 miljoen jaar gelede tot 3,8 miljoen jaar gelede geleef, terwyl Australopithecus afarensis (Lucy se spesie) van minstens 3,9 miljoen jaar gelede tot 3 miljoen jaar gelede geleef het. Die twee spesies het dus 100 000 jaar gelede saam die aarde bewandel.

Dit is weer ’n bewys dat die evolusie van die mens nie liniêr is nie; die een spesie het nie die ander “vervang” nie. Die een vertak eerder uit die ander en meer as een spesie kan op dieselfde tyd leef. Daar is al meer bewyse dat verskillende spesies hominiede dieselfde tyd op die aarde geleef het en dat daar oorkruisteling was. Homo sapiens, Neanderdalmense en Denisovans is voorbeelde in dié verband.

Raymond Dart en die Taung-kind

‘n Gesigsrekonstruksie wat John Gurche gemaak het van die hominiedspesie, Australopithecus anamensis van 3,8 miljoen jaar gelede wat in Ethiopië gevind is. Foto: Matt Crow

Die ouderdom van Little Foot van Suid-Afrika (Australopithecus Prometheus), wie se geslag as vroulik bepaal is, is op 3,67 miljoen jaar vasgestel. Sy het haar bynaam gekry omdat die aanvanklike bene wat gevind is vier klein voetbeentjies was.

Prof. Ron Clarke van die Universiteit van die Witwatersrand wat meer as 20 jaar spandeer het om haar uit rots te bevry, verskil egter van ander kenners wat glo dat dié fossiel aan die genus en spesie Australopithecus africanus behoort.

Dit was dié hominied wat Suid-Afrika op die voorgrond van paleontologie geplaas het.

Australopithecus se fossiele kom wyd in die Wieg van die Mensdom in Gauteng voor en is tussen 3,6 miljoen en net minder as 2 miljoen jaar oud.

Dr. Yohannes Haile-Selassie wat die skedel van die nuwe hominiedspesie gekry het. Foto: Cleveland Museum of Natural History

Raymond Dart, ’n Australiër wat by Wits gewerk het, het in 1924 die heel eerste een, die Taung-kind, beskryf.

Daar is egter twee noemenswaardige elemente wat mense laat regop sit het: Dit is nié ’n aap nie, maar ’n menslike voorsaat.

Die Taung-kind se tande was nes dié van ’n mens – groot maaltande met geen lang slagtande nie. Hy het sy kop regop gehou – dus het hy regop geloop.

Mense was destyds geskok omdat hulle geglo het hul voorsate was wit en het uit Europa gekom. Volgens hulle kon hulle tog nie uit Afrika afkomstig wees nie.

Charles Darwin het egter in 1871, sonder om ooit ’n hominied-fossiel te sien, in The Descent of Man geskryf dat die mens se gemeenskaplike voorsaat in Afrika ontstaan het. Hy was reg.

Die fossiele in Suid- en Oos-Afrika het net gelê en wag om deur die regte mense ontdek te word. Dart is verguis en die kritiek was vir hom persoonlik traumaties.

Broom en Mev. Ples

Die eksentrieke dr. Robert Broom, ’n Skot, het egter in Dart geglo en self begin soek. Hy was ’n man van groot kontraste en ’n evolusionis wat ook aan geeste geglo het. Tussen 1936 en 1947 het hy fossiele van hominiede in die Sterkfontein-omgewing gevind. Broom het altyd met sy swart pak en gestyfde boordjie by die terreine opgedaag. En toe blaas hy Mev. Ples, wat hy aanvanklik Plesianthropus transvaalensis genoem het uit die rots – nie juis ’n baie goeie manier om na fossiele te soek nie.

Maar by nadere ondersoek het hy gevind sy is, soos Taung, ’n Australopithecus africanus. Die fossiel is herklassifiseer en was die deurbraak waarvoor gewag is. Broom het aan die einde van sy lewe fanaties gewerk om ’n wetenskaplike verslag hieroor af te handel. Hy het dit op 6 April 1951 voltooi en in sy dagboek geskryf: “Now that’s finished . . . and so am I.”

Hy is dieselfde aand dood.

* Bronne: Nature https://www.nature.com/articles/s41586-019-1513-8 en Nature https://www.nature.com/articles/s41586-019-1514-7.

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ethiopië  |  Evolusie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.