Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Fase 6 laagtepunt van Cyril se jaar

Daar was ’n hele paar hoogtepunte in pres. Cyril Ramaphosa se jaar. Daar was egter ook ’n hele klomp laagtepunte, waarvan Eskom se fase 6-beurtkrag die ergste was, skryf Theuns Eloff.

Ons het ’n probleem. Pres. Cyril Ramaphosa op die mediakonferensie nadat hy met die Eskomraad en -bestuur vergader het. Foto: Simon Sonnekus

Die jaar spoed ten einde en ’n mens kan sonder vrees vir teenspraak sê dat Eskom se fase 6-beurtkrag Ramaphosa se laagtepunt van 2019 was.

Dit was ook duidelik toe hy sy verklaring gemaak het nadat hy met die Eskomraad en -bestuur vergader het. En praat van swak tydsberekening: Op Maandag 9 Desember skryf hy in sy maandelikse nuusbrief aan die nasie oor die wonderwerk van Medupi en hoe groot en imposant dit is . . .

Daarby onthou ons almal sy versekering aan die begin van die jaar dat beurtkrag by Eskom iets van die verlede is; ’n belofte wat slegs ’n paar maande gelede deur adjunk-president David Mabuza herhaal is. En natuurlik onthou baie ook dat toe Ramaphosa nog adjunkpresident was, was hy in bevel van die taakspan wat staatsbeheerde ondernemings (SOE’s) moes regruk.

Soos Shakespeare se koning Hendrik IV sê: 'Uneasy lies the head that wears the crown'.

Daarby glo min Suid-Afrikaners sy verduideliking dat die jongste beurtkrag en fase 6 deels aan sabotasie te wyte was. Trouens, die Nasionale Unie van Mynwerkers (Num) het hom in die openbaar gerepudieer – al het hulle dit versag deur te sê dat verkeerde inligting aan hom gegee is. Dit skeel die meeste Suid-Afrikaners min of die fout by nat steenkool, ’n chroniese gebrek aan onderhoud, swak bestuur of sabotasie lê. Hulle is keelvol vir donkerte!

En die land se nywerhede verloor daagliks miljoene rande, die fiskus verloor belasting en die sakemense wat op die beleggingsberade plegtige beloftes oor nuwe beleggings gemaak het, wonder waarskynlik hoe hulle daaruit gaan kom. Want in só ’n land kan ’n mens mos nie belê as jy ’n greintjie verstand het en jou aandeelhouers se belange eerste stel nie.

Soos Shakespeare se koning Hendrik IV sê: “Uneasy lies the head that wears the crown”.

Ace en Nkandla stiller

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is deesdae opmerklik stiller. Foto: Argief

Maar as ’n mens nie net na die laaste week en Eskom kyk nie, maar na die hele jaar, is daar enige hoogtepunte vir ons president? Of nog meer laagtepunte?

Om half ironies te begin: Hy het darem vroeër (en heel verstandig) van sy besoek aan Egipte teruggekeer en vinnig met Eskom se mense vergader en ’n verklaring gemaak, al was hy sigbaar tegelyk in die verleentheid en geïrriteerd. Sy terugkeer het ’n mate van dringendheid gewys.

Op ’n ernstiger noot: Ramaphosa het sy magsbasis in 2019 en veral sedert die algemene verkiesing in Mei gekonsolideer en aansienlik versterk. Dit geld die ANC se parlementêre koukus sowel as die nasionale uitvoerende komitee (NUK).

’n Mens kan dit aan ’n paar voorbeelde sien.

Sy Zupta-nemesis in die ANC se hoofkantoor, Ace Magashule, is deesdae baie stiller en minder uitgesproke as ’n paar maande gelede. Hy ken duidelik meer sy plek. Die optimiste onder ons sal hoop dat dit ook oor komende vervolgings is wat Ace hom stiller gedra.

’n Ander positiewe ontwikkeling wat soms onderskat word, is die beleidsdokument oor die ekonomie.

Dieselfde stilte het oor Nkandla neergedaal, waar oudpres. Jacob Zuma sedert sy valerige verskyning voor die Zondo-kommissie kwalik ’n woord geuiter het. Só dawerend is hierdie stilte dat gerugte oor sy gesondheid (of die gebrek daaraan) nie bevestig kon word nie.

Meer insiggewend is die verskillende reaksies van binne die ANC oor twee inhegtenisnemings in eie geledere. Vroeër vanjaar nog is ANC-kaders in hul honderde gemobiliseer om teen die inhegtenisneming van die burgemeester van Ethekwini, Zandile Gumede, op aanklagte van bedrog te betoog.

“Los haar, sy is onskuldig totdat sy skuldig bewys word,” was die wekroep.

Toe ’n voormalige adjunk-minister in die Zuma-kabinet egter in hegtenis geneem is op aanklagte van bedrog, was die ANC-strukture baie stiller en daar is selfs net gesê die reg moet sy gang gaan.

Dit mag na ’n klein klemverskuiwing klink, maar dit het belangrike implikasies – en Ramaphosa se groeiende invloed kan daarin gesien word.

Tito se dokument en aanstellings

Pres. Cyril Ramaphosa het sy besoek aan Egipte kortgeknip om aandag aan die Eskom-debakel te gee. Foto: Simon Sonnekus

’n Ander positiewe ontwikkeling wat soms onderskat word, is die beleidsdokument oor die ekonomie wat Tito Mboweni, minister van finansies, vroeër vanjaar deur die tesourie laat publiseer het en wat grotendeels deur die ANC aanvaar is.

Slegs die vakbonde en hier en daar ’n aartskommunis het geprotesteer. Daardie dokument sal in die toekoms al hoe meer help om ekonomiese en finansiële beleid te bepaal.

Miskien is die belangrikste positiewe hoogtepunte van Ramaphosa se jaar die aanstellings wat hy gemaak het.

Dit is te vroeg om te sê of Eskom se nuwe uitvoerende hoof, Andre de Ruyter, in sy bomenslike taak sal slaag.

Hoewel die nasionale direkteur van openbare vervolgings, Shamila Batohi, tegnies in Desember 2018 aangestel is, het sy haar pos in 2019 ingeneem. Haar tweede-in-bevel Hermione Cronje is wel vanjaar aangestel.

Batohi het onlangs laat blyk dat die eerste hoëprofiel-vervolgings in Februarie 2020 verwag kan word nadat sy vroeër oor die gebrek aan kapasiteit in die nasionale vervolgingsgesag gekla het. Haar gebruik van private regspraktisyns het kritiek uitgelok, maar is uit nood gebore en lyk of dit vrugte afwerp.

En al voel baie dat vervolgings vinniger moes gebeur het, is dit wesenlik belangrik dat haar eerste vervolging ’n waterdigte dossier sal hê en met vlieënde vaandels sal slaag.

Theuns Eloff

Dit is te vroeg om te sê of Eskom se nuwe uitvoerende hoof, Andre de Ruyter, in sy bomenslike taak sal slaag, maar dit kan ten minste waardeer word dat die regering (vir ’n verandering) erken het dat hy (’n wit Afrikaanse man) die “beste persoon” vir die pos is. En dat hulle daarby gestaan het toe hulle uit eie en vakbondgeledere aangeval is.

Die feit dat Ramaphosa in sy daaropvolgende weeklikse nuusbrief ’n pleidooi om rassetransformasie op senior vlakke van die privaat sektor gelewer het, is ’n bewys dat hy interne opposisie moes paai.

‘n Laaste veertjie in die Ramaphosa-hoed is die besluit om SAL in 'vrywillige sakeredding' te plaas

Die Ramaphosa-regering moet ook krediet kry vir die beloftes van nuwe beleggings wat die afgelope twee jaar gewerf is. Al is dit steeds grootliks beloftes, wat soos hierbo gesê is maklik weens die Eskom-debakel verlore kan gaan, is dit ’n stap in die regte rigting om noodsaaklike groei in die ekonomie te kry.

‘n Laaste veertjie in die Ramaphosa-hoed is die besluit om SAL in “vrywillige sakeredding” te plaas. Natuurlik moet Solidariteit, wat die aansoek aanvanklik gebring het, volle erkenning hiervoor kry. Dit het die regering eintlik geen ander keuse gelaat nie.

En dit kan ’n interessante presedent vir ander SOE’s wees, waarvan min “lopende sake” of finansieel gesond is.

Daar was dus ’n hele paar hoogtepunte in Ramaphosa se jaar.

Red Eskom só

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in ’n ligte luim op pres. Cyril Ramaphosa se mediakonferensie oor die Eskom-debakel. Foto: Simon Sonnekus

Daar was egter ook ’n hele klomp laagtepunte, waarvan Eskom se fase 6-beurtkrag die grootste is en terugwerkend ’n lang skaduwee oor die goeie werk laat val. Die president, die regering en die ANC se geloofwaardigheid word ernstig hierdeur geknou – en met goeie reg. Ramaphosa word dikwels gekritiseer dat hy nie vinnig en beslis genoeg optree nie, maar die “lang spel” speel. Sy strategie met staatskaping en die wag op die verskillende kommissies se verslae is ’n voorbeeld hiervan.

Hierdie strategie is nie en behoort nie op die Eskom-kwessie van toepassing wees nie. Dit is reeds wyd bekend wat die probleme by Eskom veroorsaak. Aanvullend by die dringende oplossings en krisisbestuur wat nou toegepas en waarvoor hy en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, moet druk, sal hulle De Ruyter geleentheid moet gee om te doen waarvoor hy aangestel is. En hopelik sal veral Gordhan nie weer ’n stokkie daarvoor steek (soos wat met die vorige uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, gebeur het) as iets drasties aan Eskom se aantal werknemers en hul salarisvlakke gedoen moet word nie.

As ’n mens SAL se sakeredding in oënskou neem, kan jy aflei dat daar dalk ’n nuwe Ramaphosa-strategie is: Wag totdat iets regtig verkeerd gaan en stel dan die ongewilde en voorheen onaanvaarbare markverwante strategie in werking.

As dit op Eskom van toepassing gemaak word, is die tyd vir die verdeling van Eskom en (ten minste sy gedeeltelike) privatisering, nou ryp. Dit is die enigste optrede wat die skaduwee en skade van fase 6-beurtkrag ongedaan kan maak.

* Dr. Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk-stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Shamila Batohi  |  Hermione Cronje  |  Ace Magashule  |  Andre De Ruyter  |  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.