Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
#FeesMustFall: 12 perspektiewe
Studente wat Maandag op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) tydens die #FeesMustFall-veldtog betoog het, is aangekeer. Minstens 20 studente is in hegtenis geneem. Foto: André Damons

Die #FeesMustFall-veldtog kan staatsgefinansierde universiteite inderdaad op hul knieë dwing. Trouens, hy dink nie die skade wat universiteite aangedoen is, sal herstel kan word nie, skryf prof. Theo Neethling.

Ná talle gesprekke, menings en verskille op ons kampusse, op regeringsvlak, in die media en tussen kollegas oor die #FeesMustFall-veldtog, het ek besluit om my eie penne in te slaan na aanleiding van dit wat ek persoonlik beleef en wys geword het.

Ek “proklameer” vandag hiermee die volgende 12 punte:

  • Talle swart studente is werklik arm en oorleef met die minimum materiële ondersteuning. Tog word daar myns insiens te min erkenning gegee aan regeringsinisiatiewe oor die laaste jare om duisende arm studente toegang tot universiteite te gee deur veral beurse van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS), terwyl talle universiteite sélf baie doen om arm studente finansieel te ondersteun.

Afgesien hiervan word enorme bedrae op ons kampusse bestee om duisende studente met akademiese agterstande deur spesiale programme te help. Daar word ook vergeet dat die sakesektor regstreeks en onregstreeks groot finansiële bydraes tot hoër onderwys maak.

  • Tweedens, die oorgrote meerderheid studente aan ons universiteite is ten gunste van die voltooiing van die akademiese jaar sonder om ons kampusse te sluit. Talle van my eie studente is uiters bekommerd oor hul eksamenvooruitsigte.

Hierteenoor is daar egter luidrugtige – en dikwels gewelddadige of intimiderende – minderhede wat die toon aangee. Die meerderhede het gewoon nie die moed om daardie minderhede te probeer stuit nie.

  • Derdens kan aanvaar word dat gratis hoër onderwys haalbaar is, maar met die volgende voorwaarde: Daar sal geld uit ander komponente van die begroting weggesny moet word, byvoorbeeld vir gesondheidsdienste, paaie, die weermag of sosiale toekennings.

Alternatiewelik sal die staatsdiens verklein, belastings verhoog moet word of korrupsie daadwerklik afgebring moet word. Die persepsie onder talle studente is dat die geld bloot beskikbaar gemaak moet word vir gratis onderrig – iets wat op skewe en simplistiese persepsies van staatsfinansies berus.

Ongelukkig is die hoë temperature op ons kampusse en onder betogende studente tans nie van so ’n aard dat rasionele argumente oor staatsfinansiering gevoer kan word nie.

  • Die rede is, en dit is my vierde punt, dat die aandrang op gratis hoër onderwys veel dieper gaan as die kwessie van klasgeld. Dr. Theuns Eloff het onlangs korrek aangevoer dat daar ’n diepliggende ontevredenheid by (grootliks swart) studente is oor Suid-Afrika se post-1994-landskap. Baie studente is ontgogel met wat hulle beskou as verbreekte beloftes. Van hulle wat by “goeie” universiteite studeer, voel ontuis by dié voormalig “wit” universiteite.

Die studente-aandrang op dekolonialisering ondersteun dié punt sterk. Die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, het selfs verder as Eloff gegaan en aangevoer dat #FeesMustFall niks met klasgeld te doen het nie, maar met mag en beheer. Volgens haar blyk dit selfs dat die opstande nou deur rasgegronde nasionalisme gedryf word.

  • Vyfdens, talle kampusse was in die laaste weke basies onbestuurbaar, en universiteitsbesture kon bloot reaktief optree teenoor studente wat in talle gevalle grootliks die spelreëls neergelê het. Sommige rektore het hul bes gedoen, maar sonder sterk nasionale politieke leierskap word universiteitsbesture uitgelewer aan die politieke kragte op die kampusse.

Sommige rektore was skynbaar ook bang om studente ferm te hanteer.

  • In die sesde plek het die reg op protes – wat grondwetlik begrond is – omtrent in alle gevalle daartoe gelei dat betogende ondersteuners van die #FeesMustFall-veldtog op die regte van ander inbreuk gemaak het. Klasse is ontwrig en tot stilstand gebring, dosente is geïntimideer en duur infrastruktuur is vernietig. Kortom, die reg van ander om opvoeding te ontvang – waarvoor middelklas- en arm ouers in talle gevalle swaar betaal – is vertrap op ’n wyse wat spreek van minagting vir die regte van ander.
  • In die sewende plek moet ek ongelukkig saamstem met ons waarnemende polisiekommissaris dat die #FeesMustFall-veldtog leiers kan oplewer waaroor die land nog kan spyt wees.

Hy is ook korrek met sy standpunt dat “misdadige elemente” die #FeesMustFall-veldtog binnegedring het en die si­tuasie uitbuit. ’n Kollega van ’n ander kampus wat nou met sy visekanselier saamwerk, het ook bevestig dat politieke kragte van buite die kampusse soms aan die werk is.

  • In die agtste plek moet ek noem dat nie slegs leer en onderrig uiters negatief deur die landwye protesaksies geraak word nie; navorsingsprojekte ly eweneens hieronder. Navorsers se aandag word weggelei van hul projekte en daar was tye dat navorsers – veral in die natuurwetenskappe – letterlik afgesny was van hul projekte en laborato­riums.

In die navorsingsomgewing moet ’n mens dikwels vinnig ­reageer op versoeke van kollegas in die buiteland en streng hou by tydskale wat deur redaksies van akademiese tydskrifte neergelê word.

Die nadelige impak op navorsing is een van die negatiewe gevolge van die #FeesMustFall-veldtog en dit gaan vorentoe ons universiteite se posisies op die internasionale ranglyste negatief raak.

  • In die negende plek bedreig die #FeesMustFall-veldtog universiteite se internasionale verhoudinge en dit gaan lei tot ’n verlies aan internasionale vennote, skenkers en finansieringsvertroue. Ek het reeds persoonlik ervaring van internasionale studente en navorsingsvennote wie se aptyt vir samewerking met Suid-Afrikaanse kollegas getaan het.
  • In die tiende plek is dit so dat die skade op kampusse deur brandstigting en vandalisme R600 miljoen beloop, maar ewe erg is die skade in die koppe en harte van personeel. Dié skade en vertroue sal moeilik herstel word. Dit is ’n punt wat prof. Flip Smit, oudrektor van die Universiteit van Pretoria, tereg gemaak het.

Op talle kampusse is daar baie gefrustreerde dosente wat worstel met hul emosionele verbintenis aan die universiteite waarop hulle nog altyd so trots was. Hulle voel dat hul stemme nie regtig saak maak nie en dat hulle telkens die kastaiings uit die vuur moet krap om sake met studente op akademiese vlak te beredder.

  • In my voorlaaste punt wil ek aanvoer dat die #FeesMustFall-veldtog ons staatsgefinansierde universiteite inderdaad op hul knieë kan dwing.

Trouens, ek dink nie die skade wat ons universiteite aangedoen is, kan herstel word nie.

Ek het in onlangse tye besoek afgelê aan moderne, top- Asiatiese universiteite in Japan en Hongkong en besef hoe oud van ons kampus-infrastruktuur geraak het.

Met die skade wat aangerig is, sal dit moeiliker wees om wêreldklasdosente behoorlik te vergoed. Vir die vernuwing en modernisering van ons kampusse sal daar beperkte of geen geld wees nie.

  • My laaste punt is een wat ek nie graag wil maak nie, maar dit is iets waarvan ek toenemend oortuig geraak het toe ek talle dae tuis en weg van die kantoor deurgebring het. Dit is dat die tyd ryp geword het vir private hoëronderwysinstellings, soos in die VSA en selfs Asië, asook in dele van Afrika.

Ofskoon die totstandbrenging van private instellings ongelukkig die gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika kan versterk, voel ek tans dat veral jong belowende akademici en skrander studente nie loopbane van voortdurende onstabiliteit verdien nie.

Wat my persoonlik betref, moet ons hoëronderwysbedeling ongelukkig nou maar die pad inslaan van ons gesondheidsdienste, soos ons gesien het in die skep van private hospitale.

Nuwe geleenthede sal eenvoudig geskep moet word om minstens ’n deel van ons toekomstige hoëronderwysinstellings op ’n bestendige basis te hê.

Intussen kan ons net hoop dat die situasie op ons kampusse gaan stabiliseer en normaliseer om ’n ramp af te weer.

  • Prof. Theo Neethling is hoof van die departement politieke studie en regeerkunde aan die UV.
Meer oor:  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.