Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Fopnuus’ dat nageslag gestraf word oor Gelofte

’n Stelling op sosiale media het onlangs daarop gesinspeel dat God die nageslag van die Voortrekkers straf omdat hulle versuim om die Gelofte na te kom. Kan só iets ernstig opgeneem word? vra Pieter Labuschagne.

Mense by vanjaar se diens op 16 Desember in die Voortrekkermonument in Pretoria. Foto: Gallo Images

Voor die herdenking van die Gelofte op 16 Desember, is ’n stelling wyd op sosiale media versprei wat heelwat reaksie ontlok het.

Dit wou hê dat Karel Landman (tweede in bevel by die Slag van Bloedrivier) nadat Andries Pretorius die Gelofte voorgestel het, gevra het wat sal gebeur as die nageslag dit nie nakom nie.

Sarel Cilliers sou volgens die stelling op sosiale media geantwoord het dat God hulle aan dieselfde vyand sou oorgee waarteen hy hulle nou sal beskerm.

Die kontemporêre politieke betekenis van dié stelling is eksplisiet, omdat die implikasie naatloos na die huidige politieke dinamika in die land herlei kan word.

Die onderliggende boodskap impliseer “omdat die huidige geslag nie die Gelofte behoorlik nagekom het nie”, is die politieke mag nou in die hande van die “vyand” (swart meerderheidsregering) gesetel.

In ander woorde God straf die huidige nageslag van die Voortrekkers vir hul versuim om die Gelofte na te kom.

Nuwe inligting ná bykans 180 jaar?

Mense kom op 16 Desember by die Voortrekkermonument in Pretoria aan om die Gelofte te herdenk. Foto: Felix Dlangamandla

Die openbaarmaking van die nuwe inligting bykans 180 jaar ná die aflegging van die Gelofte is verstommend. As dit uit betroubare bronne bevestig kon word, sou dit dalk stof tot nadenke vir historici kon wees.

Maar die “voordeel” van stellings of inligting wat op sosiale media gedeel word, is natuurlik dat dit selde op primêre of op legitieme substantiewe bronne gegrond is. Die verwysing na die interaksie tussen Landman en Cilliers kon in geeneen van die bestaande betroubare of legitieme bronne opgespoor word nie.

Kom ons kyk of daar enige waarheid steek in dié stelling op sosiale media.

Dit is belangrik om eers by Cilliers stil te staan; hy was immers die sentrale figuur wat die kernrol in die formulering en die aflegging van die Gelofte gespeel het.

Cilliers het op 2 Desember 1838 tydens die beginfase van die Bloedrivier-veldtog in sy rede na Josua 1 verwys, wat die saadjie by Pretorius geplant het om die Gelofte af te lê.

Landman het geen geskrif hieroor nagelaat nie en geen bronverwysing ná hom maak daarvan melding nie.

Pretorius het daarna die wenslikheid van die gelofte met Cilliers bespreek. Dié was aanvanklike huiwerig, maar het met sekere voorbehoude ingestem. Die Gelofte is toe ’n paar dae later afgelê.

Nadat al die Voortrekkers bymekaar was, het Pretorius die idee van die Gelofte met die groep as ’n geheel bespreek. Hy het sy drie gemeenteleiers – Cilliers, Karel Landman en Piet Joubert – gebruik om die inligting in kleiner groepe aan die Voortrekkers oor te dra.

Daar bestaan egter geen inligting in die betroubare legitieme bronne dat Landman aan Cilliers sou gesê het “dat God hulle aan dieselfde vyand sou oorgee waarteen hy hulle nou sal beskerm” nie.

Landman het geen geskrif hieroor nagelaat nie en geen bronverwysing ná hom maak daarvan melding nie. Pretorius het ná die Slag van Bloedrivier aan J.N. Boshoff geskryf en dié brief het later in De Zuid-Afrikaan op 16 Februarie 1839 verskyn. In dié skrywe was daar ook geen sodanige verwysing nie.

Die Bloedrivier-monument in KwaZulu-Natal. Foto: Gallo Images

In H.J. Hofstede se Geskiedenis van den Oranje Vrystaat (1876) verskyn die joernaal van Sarel Cilliers wat Hofstede op sy sterfbed aangeteken het. Cilliers se eie herinnering in die joernaal bevat sterk oorredingspotensiaal, wat lig op die gebeure voor, tydens en ná die aflegging van die Gelofte werp.

Volgens Cilliers se joernaal het hy Pretorius herinner aan Dawid se woorde in die Bybel dat dit beter is om nie ’n belofte te doen nie as om wel ’n belofte aan God te doen en dit nie na te kom nie.

Dié reaksie is die enigste verwysing van ’n beswaar of afwysende stelling in die bronne en daar is beslis geen verwysing na Landman nie.

In die ander beskikbare bronne soos Lion Cachet se Worstelstrijd der Transvalers (1882), wat ook sterk op Cilliers se joernaal/herinneringe gegrond was, is daar geen sodanige verwysings nie.

Hoewel die Gelofte aanvanklik in die Republiek van Natalia herdenk en gevier is, het dit ná die Britse anneksasie in 1843 in onbruik verval.

In 1919 het G.B.A. Gerdener die boekie Sarel Cilliers: Die Vader van Dingaansdag gepubliseer waarin waardevolle aanhangsels verskyn, soos Cilliers se joernaal en verskeie briewe wat hy geskryf het.

In die weergawes van verskeie Voortrekkers oor die Gelofte en Bloedrivier, wat in G.S. Preller se Voortrekkermense (dele I-V) verskyn het, soos dié van S.W. Burger, Izak Breytenbach en Susanna Bezuidenhout is daar ook geen verwysing na die gesprek tussen Cilliers en Landman nie.

Pretorius se sekretaris, Jan Bantjes, wat in sy joernaal taamlik breedvoerig na die Gelofte verwys het, maak ook geen melding van so ’n stelling nie.

P.S. de Jongh se biografie van Cilliers bevat ook geen verwysing na die stelling nie.

In die reeks boeke wat G.D.J. Duvenage in 1988 oor die Groot Trek vir die Afrikaner Volkswag-beweging geskryf het, maak hy die stelling dat Cilliers sou gesê dat as die viering van die Gelofte verwaarloos sou word, dit die toorn van die Here sal ontbrand. Duvenage verwys nie na die bron nie en die woorde kom ook nie in Cilliers se joernaal voor nie. Die stelling kan daarom nie geverifieer word nie.

Die nakoming van die Gelofte net ná Bloedrivier

’n Herdenking van die Gelofte in 2014 by Bloedrivier. Foto: Gallo Images

Gerdener skryf in sy biografie van Cilliers dat Pretorius een keer sy ou strydmakker besoek het. Cilliers se eerste vraag aan Pretorius was of hy die Gelofte volgehou het. Pretorius moes erken dat hy die viering van die Gelofte “skromelik verwaarloos” het, waarna Cilliers hom berispe het omdat hy die Gelofte nakom nie.

Dit was volgens Gerdener ook die geval met die meeste Voortrekkers wat die Gelofte slegs in beperkte kringe gedenk het.

Hoewel die Gelofte aanvanklik in die Republiek van Natalia herdenk en gevier is, het dit ná die Britse anneksasie in 1843 in onbruik verval.

Die meeste Voortrekkers het oor die berg na die binneland getrek waar die openbare vieringe van die Gelofte ook in onbruik verval het.

Paul Kruger en Andries Pretorius het briewe oor staatsake op die 16de Desember geskryf. Hendrik Potgieter is op 16 Desember 1852 dood en in die beskrywing van sy dood is daar geen verwysing na die viering van Geloftedag nie. Die Volksraad op Ohrigstad het selfs ’n sitting op 16 Desember 1847 gehad.

Pieter Labuschagne

Daar bestaan wel bewyse dat Cilliers en Erasmus Smit Geloftedag getrou gevier het in kleiner familiekringe.

Die NG Kerk in Natal het eers bykans 25 jaar later, in 1864, besluit op ’n kerklike viering van 16 Desember.

Ds. F. Lion Cachet het in 1867 ’n groot rol gespeel om die viering by die terrein by Bloedrivier te hou.

In die Transvaalse Republiek het die Volksraad op 3 Junie 1865 besluit om 16 Desember tot ’n openbare vakansiedag te verklaar.

Daar was egter weinig sprake van ’n algemene viering en dit is meer as ’n “kuierdag” beskou, wat selfs as “een heel flaauwe affaire” beskryf is. Dit is eers in 1877 met Theophilus Shepstone se anneksasie van die Transvaal en die gepaardgaande herontwaking van die volksbewussyn dat die Gelofte weer gevier is.

In 1879 het daar byvoorbeeld 7 000 mense by Wonderfontein opgedaag en 1 500 ruiters hul behendigheid met rykuns getoon.

Die Gelofte is in dié tyd politiek kundig aangewend om die volksbewussyn te versterk.

‘In die hande van jou vyand gee’

Die viering van die Gelofte is van 1840 tot omstreeks 1875 grootliks verwaarloos. Foto: Gallo Images

Die ontleding van beskikbare bronne bevestig dat die viering van die Gelofte ná 1840 tot omstreeks 1875 grootliks verwaarloos is.

As die stelling dat “God hulle aan dieselfde vyand sou oorgee waarteen hy hulle nou sal beskerm” op die politieke dinamika van dié era van toepassing gemaak word, bied dit interessante insigte.

Die feit dat die Voortrekkers in die binneland nie die Gelofte nagekom het nie, sou dan beteken het dat hul strewe na onafhanklikheid gefrustreer word. Die swart bevolking sou dan op grond daarvan die politieke beheer moet oorgeneem het.

Die verloop van die geskiedenis wys egter die teendeel. Ná ’n paar dekades het die twee Boererepublieke, die Transvaalse Republiek (1852) en die Vrystaatse Republiek (1854), tot stand gekom.

Die stelling dat 'God hulle aan dieselfde vyand sal oorgee waarteen hy hulle nou sal beskerm', is niks meer as fopnuus nie.

Andries Pretorius, wat self erken het dat hy die herdenking van die Gelofte verwaarloos, was die hoofondertekenaar by Sandrivier in 1852 waar die Transvaal se onafhanklikheid verseker is.

Die stelling dat “God hulle aan dieselfde vyand sal oorgee waarteen hy hulle nou sal beskerm”, is niks meer as fopnuus nie.

Dit steun op geen legitieme bronne nie en die verspreiding van die inligting dien geen ander doel as om ’n skuldgevoel te skep en mense verder te polariseer nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Sarel Cilliers  |  Voortrekkers  |  Geloftedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.