Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Fopnuus versprei ekonomiese mites’
Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerk-stigting, gesels Vrydag op Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Kunstefees in Oudtshoorn met dr. Dawie Roodt (links), hoofekonoom van die Efficient-groep, en Bernard Joseph, Wes-Kaapse leier van die EFF. Foto: Jaco Marais

Sogenaamde witmonopoliekapitaal is ’n mite wat deur middel van fopnuus versprei word, het dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerk-stigting Vrydag gesê.

“Ons is lankal verby die stadium dat ons kan praat van witmonopoliekapitaal,” het Eloff by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gesê.

Die EFF in die Wes-Kaap gaan binnekort ’n aanslag maak om die Vergelegen-landgoed te beset.
Bernard Joseph

Hy het saam met Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, en Bernard Joseph, voorsitter van die EFF in die Wes-Kaap, gesels oor onder meer witmonopoliekapitaal en die herverdeling van grond.

“Witmonopoliekapitaal is ’n mite wat deur Bell Pottinger (’n openbare skakelmaatskappy) in Engeland uitgedink is vir die Guptas om dinge in Suid-Afrika skeef te trek,” het Eloff gesê.

“Ons moet almal ons oë oophou vir fopnuus, anders gaan ons by mekaar verbypraat,” het Eloff bygevoeg.

Roodt het gesê een manier om die vraag oor witmonopoliekapitaal te beantwoord, is om te kyk na belastingbetalers. Wittes was voorheen die grootste bydraers tot die staatskas, maar deesdae dra hulle slegs 45% by en is dié syfer boonop vinnig aan die daal.

Joseph meen egter die ekonomie is grootliks steeds in die hande van wittes en dat radikale transformasie nodig is om armoede te verlig. “Alles begin en eindig by grond.

“Die EFF in die Wes-Kaap gaan binnekort ’n aanslag maak om die Vergelegen-landgoed te beset. ’n Klag van diefstal is reeds by die polisie ingedien en ons gaan die regte kanale volg om op daardie plaas beslag te lê.”

Eloff het gesê sogenaamde grondhonger is óók ’n mite. “Sowat 90% van mense wil net grond hê waarop hulle ’n huis kan bou. Hulle wil nie boer nie, want dit is moeilik om te boer. Ons moet ophou dink die debat oor grondbesit gaan oor plaasgrond.”

Bill Gates is vandag die rykste man in die wêreld, nie omdat hy grond besit het nie, maar omdat hy begin het om programmatuur te skryf.
Dawie Roodt

Volgens Roodt beteken grondbesit nie veel as mense nie die vermoë of vaardighede het om ’n bydrae tot die ekonomie te lewer nie.

“Bill Gates is vandag die rykste man in die wêreld, nie omdat hy grond besit het nie, maar omdat hy begin het om programmatuur te skryf.”

Hy het dié voorbeeld gebruik om te wys dat onderwys en opleiding twee van die belangrikste maniere is om ekonomiese groei te verseker.

Eloff het saamgestem en gesê Suid-Afrikaners moet begin aandag gee aan die era ná pres. Jacob Zuma wanneer ’n tweede geveg oor onder meer minderheidsregte en die verligting van armoede voorlê.

Joseph het gesê die EFF spits hom nou daarop toe om van Zuma ontslae te raak en protesoptogte word saam met ander beplan vir die dag van die parlementêre debat oor die wantroue-mosie.

“Ons wil 100 000 mense in die strate rondom die parlement hê om te wys dat dit nie net die noorde is wat die stoel vir Zuma wil warm maak nie.”

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.