Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Fossiel sal ons anders oor ons herkoms laat dink

Die oudste fossiel van die enigmatiese Homo erectus, die hominied wat die wêreld bevolk het met sy migrasie uit Afrika, is in Suid-Afrika gevind. Dit is die eerste een wat hier gekry is en dit verander die manier waarop daar na ons herkoms gekyk word omdat hulle die aarde nie alleen bewandel het nie, skryf Elsabé Brits.

Die gedeeltelike skedel, of skedelpan, wat by die Drimolen-fossielterrein in die Wieg van die Mensdom in Gauteng ontdek is. Dit is die oudste Homo erectus wat nog in die wêreld gevind is en die eerste een wat in Suider-Afrika gekry is. Foto: Therese van Wyk, Universiteit van Johannesburg

Homo erectus was die eerste van ons hominiedvoorsate wat mensagtig was in hul anatomie en sekere gedragspatrone. Hulle was migrante wat in Afrika ontstaan het en Europa en Asië daarna bevolk het.

Nou het dié spesie weer met ’n verrassing in die verhaal van ons herkoms na vore gekom.

Boonop blyk dit nou dat hulle Suid-Afrika gedeel met minstens twee ander hominiedspesies met wie hulle heel waarskynlik aan aanraking sou gekom het.

Drimolen se 'Homo erectus' het tussen 2,04 miljoen en 1,95 miljoen jaar gelede geleef.

Die oudste Homo erectus te wêreld is by die Drimolen-fossielterrein in die Wieg van die Mensdom in Gauteng, wat die afgelope dekades van die wêreld se mooiste fossiel-vondste opgelewer het, gevind.

Drimolen se Homo erectus het tussen 2,04 miljoen en 1,95 miljoen jaar gelede geleef. Dit is 200 000 tot 150 000 jaar ouer as die ander oudste bekende Homo erectus van 1,8 miljoen jaar gelede wat in die Dmanisi-terrein in Georgië gevind is. Dié navorsing is in die vaktydskrif Science gepubliseer. 

Stephanie Baker, navorser en doktorale student aan die Universiteit van Johannesburg se paleo-navorsingsinstituut, sê hulle was besig met opgrawings toe ’n student ’n klompie fossiele gevind het. Hulle het nie dadelik geweet wat dit is nie en eers later besef dit behoort aan ’n hominied; iets wat nie sommer op elke opgrawingsterrein gevind word nie.

Stephanie Baker, navorser en doktorale student aan die Universiteit van Johannesburg se paleo-navorsingsinstituut. Foto: Matthew Caruana

Hulle kon uiteindelik die skedel opbou uit meer as 150 fragmente. Dit is dié van ’n kind tussen drie en ses jaar oud, wat ook aan kenners ’n skaars blik gee oor die ontwikkeling van die spesie.

“Dit was ’n verassing om ’n Homo erectus te vind, ons het dit nie verwag nie.”

Die skedelpan is die grootste gedeelte wat bewaar gebly het.

Homo erectus het korter arms en langer bene gehad en kon lang afstande hardloop.

“Wanneer ’n mens van bo af daarna kyk, lyk dit soos ’n traandruppel, maar dié brein was groter, soos ons s’n. “Ander hominiede het ’n kleiner brein gehad,” sê Baker, wat ook die mede-direkteur van die opgrawings by Drimolen is.

Die fossiel is stelselmatig met elke ander bekende een vergelyk.

Hoewel Homo erectus nie die enigste wese was wat regop geloop het nie, het hulle korter arms en langer bene gehad en hulle kon lang afstande hardloop.

Vorige navorsing wat gedoen is nadat 97 gefossileerde voetspore van 20 individuele Homo erectus in Kenia gevind is, wys dat hulle soos ons geloop het. Dié voetspore lyk, wat die anatomie en meganika betref, nes dié van mense wat gereeld kaalvoet loop.

Omvattende datering gedoen

Die Drimolen-fossielterrein waar die wêreld se oudste Homo erectus-fossiel gevind is. Foto: Universiteit van Johannesburg

Met behulp van driedimensionele tegnologie wat deesdae op alle fossielterreine gebruik word, weet die span presies waar elke fossiel gekry is. Dit het fragmente van klein diertjies ingesluit, asook grondmonsters.

Die ouderdom is vasgestel met paleomagnetisme, elektronspinresonasie, datering van die diere, en uraan-lood.

“Ons datering was omvattend. Die toets vir uraan-lood is gegrond op die halfleeftyd van die veralkoers van uraan in lood. Ons kan die uraan en die lood meet in die drupsteen en bepaal hoeveel tyd het verloop.

“Nog ’n metode kyk na die radioaktiewe opname van kosmiese straling in tande; hoe langer hulle in die grond was, hoe meer uraan absorbeer hulle. Paleo-magnetisme meet die magnetiese polariteit in die lae sediment, en belyn dan enige variasie in polariteit met die bekende omkeringstye.”

Prof. Andy Herries, ’n medenavorser wat deel was van die internasionale span, sê die vonds het implikasies vir denke oor die oorsprong van moderne mense.

“Tot nou toe is daar nog altyd gedink Homo erectus het in Oos-Afrika ontstaan, maar dié vonds dui nou daarop dat een van ons regstreekse voorsate moontlik van Suid-Afrika kom. Dit beteken dat hulle later noord beweeg het vanwaar hulle die res van die wêreld bevolk het.”

Fossiele lê op ‘n tafel by die Drimolen-opgrawingsterrein waar die eerste Homo erectus-fossiel in Suider-Afrika gekry is. Foto: Andy Herries

Baker sê Homo erectus was baie aanpasbaar.

“Hulle kon enige plek in die wêreld leef en aanpas in enige landskap.”

Die geologie van die Wieg van die Mensdom en ander plekke in Oos-Afrika is van só ’n aard dat dit fossiele goed bewaar. “Dit gee ons ’n vinnige blik. Die hominiede was heel waarskynlik oral gewees, maar hul fossiele het net nie bewaar gebly nie.”

Hulle was nie alleen nie.

Daar was drie hominiedspesies wat op dieselfde tyd in Suid-Afrika geleef het: Homo erectus, Paranthropus robustus en Australopithecus sediba.

Die tydperke waarin hulle hier geleef het, oorvleuel in ’n baie nou venster met mekaar.

Ons direkte voorsaat was dus nie alleen nie, anders as vandag waar die mense heers.

Baker sê Paranthropus robustus was korter en hul groot tande wys hulle het harde en veselagtige kosse soos plantwortels en knolle geëet. Homo erectus het weer vleis en kosse wat makliker verteerbaar was geëet.

In dié tyd het die klimaat in Suider-Afrika begin verander van warm en vogtige weer tot kouer en droër weer. Boomryke woude het stadigaan verdwyn en plek gemaak vir grasvelde.

Baker sê die drie groepe sou waarskynlik uit mekaar se pad gebly het en as hulle mekaar raakgeloop het, sou kontak net soos die geval met hedendaagse primate aggressief gewees het.

Dit is eintlik ’n gegewe dat hul paaie wel gekruis het, want hul fossiele kom almal in die relatiewe klein gebied van die Wieg van die Mensdom, sowat 50 000 hektaar, voor.

“Ons weet wel dat elke spesie sy eie nis en vermoë gehad het om die landskap te gebruik ten einde mededinging te vermy.”

“Ons het soveel voorsate waarvan ons uiteindelik die produk was,” sê Baker. “Ons is een spesie en geen groep kan daarop aanspraak maak dat die aarde aan hom behoort nie. Die ryk fossielerfenis is ons gedeelde erfenis waarop almal trots behoort te wees.”

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.