Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Fotograaf sien geboorte van nuwe Zim deur lens

Die fotograaf Felix Dlangamandla het die nege dae waarin die lot van Zimbabwe onherroeplik verander is deur sy kamera se lens gesien afspeel. En als – die vrees en ongerief ook – was die moeite werd omdat hy deel was van ’n geskiedenis wat ontvou, sê hy.

Felix Dlangamandla in aksie in Zimbabwe. Foto: Reuters

Ons het van die begin af geweet dit gaan nie maklik wees om verslag te doen oor die gebeure in Zimbabwe nadat die weermag ingegryp het om ’n einde aan pres. Robert Mugabe se bewind van 37 jaar te probeer maak nie.

Maar op Woensdag 15 November toe dit begin duidelik word dat daar iets aan die gebeur in ons buurland is, het die redakteurs van Netwerk24 en News24 besluit om ’n verslagspan na Zimbabwe te stuur. Ons het nog dieselfde middag na Zimbabwe gevlieg.

Ek was maar ongemaklik op die vlug van een uur en 30 minute tussen Johannesburg en Harare. Verskeie vrae het deur my kop gedraai: “Sal ons toegelaat word om die land binne te gaan? Sal ons toegelaat word om ons werk te doen indien ons wel toegelaat word?”

‘Ek is hier vir sake. Ek is ’n fotograaf’

Op die lughawe het ek in die tou gaan staan om ’n vorm in te vul. “Ek is hier vir sake,” het ek die doeanebeampte meegedeel. “Ek is ’n fotograaf en ek gaan ander fotograwe in Zimbabwe help.”

“Het jy ’n kamera?” wou hy weet. “Ja, ek het.”

Ek het net een kamera gehad en nie die gebruiklike sak vol toerusting wat ons altyd saamdra nie, juis omdat ek nie agterdog wou wek nie. Ek is aangesê om na die ministerie van kommunikasie te gaan om akkreditasie te kry, maar ek is darem ’n visum toegestaan wat vir ’n maand geldig sou wees.

Dié betogers in Harare se boodskap was duidelik. Foto: Felix Dlangamandla
Ná 37 jaar het hulle genoeg van Robert Mugabe gehad. Foto: Felix Dlangamandla
Die weermag is ons vriende. Foto: Felix Dlangamandla

My kollega Sarel van der Walt was egter nie so gelukkig nie. Ek het gesien hoe hy iets aan ’n doeanebeampte probeer verduidelik en het later gehoor dat hy toegang tot Zimbabwe geweier is. Ek was bang hulle neem hom in hegtenis en wou hoor of ek by hom moes bly. Hy wou niks daarvan weet nie.

“Is jy seker jy is veilig?” het ek nog vir oulaas gevra. Ek het later eers besef dat hy al ons geld by hom het. Ek het net Z$50 dollar gehad en ’n taxirit na ons hotel kos Z$25!

Die voorval met Sarel het my allesbehalwe gerus laat voel. Ons het boonop gehoor dat soldate ’n fotograaf aangerand het. Die atmosfeer in die taxi op pad na die hotel was maar effe onheilspellend: “Gaan ek in hegtenis geneem en teruggestuur word?”

Ons het oral langs die pad weermagtenks by sleutelpunte gesien en dit was duidelik dat die weermag in beheer was. Die polisie was nêrens te sien nie. Ek het op pad na die hotel ’n klompie foto’s deur die taxi se venster geneem, net sodat ek darem iets sou hê vir ingeval hulle ons voorkeer en ek teruggestuur word.

Een van die foto’s wat ek deur die taxi se venster geneem het. Foto: Felix Dlangamandla

Kamera en rekenaar onder bed weggesteek

Ek was nogal benoud daardie eerste aand in Harare. Ek het ’n deurstopper voor my kamerdeur gesit. Ek het gedink as enigiemand probeer inkom, sal hy die deur moet oopbreek en die geraas sal my waarsku! Ek het my skootrekenaar onder die bed weggesteek, my kamera in ’n kombers toegedraai en ook daar versteek.

Vreugde in Harare oor die einde van Robert Mugabe se 37 jaar lange bewind. Foto: Felix Dlangamandla

Mense was aanvanklik bang om met joernaliste te praat. Hulle het ook nie geweet wat aangaan nie. Die mense het darem begin ontspan en met ons begin praat toe hulle agterkom dat die weermag aan hul kant is. Ons is ook nooit deur soldate lastig geval nie.

Op Saterdag 18 November, met die massa-optog in Harare wat deur die oorlogsveterane gereël is om op Mugabe se bedanking aan te dring, het almal besef iets groots is werklik aan die gebeur. Dit was duidelik dat die spanning gelig het en die mense was jubelend. Hulle het foto’s van soldate op vragmotors en selfies saam met soldate geneem. Dit was wonderlik om deel van daai optog te wees.

Dinsdag was die draaipunt. Net die vorige aand nog het Mugabe nié bedank soos verwag is nie, en die gemoedere het hoog geloop.

Dinsdag laatmiddag het Harare se strate egter begin lééf. Motoriste het spontaan hul toeters gedruk ná die nuus dat Mugabe uiteindelik bes gegee het. Mense het van blydskap gegil, vlae rondgeswaai en by die geboue se vensters uitgehang. Die strate was chaoties van vreugde.

Die mense van Zimbabwe was uit hul nate van vreugde. Foto: Felix Dlangamandla

Oor die algemeen het die manier waarop die mense teen Mugabe opgestaan het, my baie beïndruk. Die Saterdag van die groot optog is nie ’n enkele rubberkoeël afgevuur nie. Daar was nie ’n waterkanon in sig nie. Geen padtekens is verniel nie. Daar is nie by ’n enkele winkel ingebreek nie, nie ’n enkele T-hemp of motorband is aan die brand gesteek nie en nie ’n enkele klip is gegooi nie.

Die Dinsdag se uitbundigheid en feesvierings het dieselfde patroon gevolg.

Ek dink dié vreedsame optrede het gewys dat die mense ernstig is oor die verandering wat hulle wil hê. Hulle het daarmee gesê: “Ons is nou moeg vir jou. Gaan net.” Ek kon die passie op hul gesigte sien. Geweld sou net alles laat ontspoor.

Hulle wou gehad het dat hul storie vertel word.

Met die inhuldiging van Emmerson Mnangagwa het ek hoendervel gekry toe hy die stadion binnestap.

Zimbabwe se nuwe president, Emmerson Mnangagwa, op die dag van sy inhuldiging. Foto: Felix Dlangamandla

Wie sou kon dink dat Mnangagwa president van Zimbabwe sou word skaars drie weke nadat Mugabe hom as sy adjunk afgedank het om die belange van die presidentsvrou, Grace, te bevorder.

Dié keer het hy die stadion met sy kop omhoog ingestap.

Jy kon sien hoe bly die mense is en hoeveel hoop hulle weer vir die toekoms het.

Ek sal alles weer doen. Ek is mal oor die adrenalien wat die heeltyd pomp en die vrees dat jy enige tyd in hegtenis geneem kan word. Ek het besluit ek moet ’n mondstuk wees vir daardie mense, en deur my lens was ek bevoorreg om daardie storie te kon vertel.

En elke foto wat ek daar geneem het, was baie geskiedkundig. ’n Nuwe hoofstuk het begin, maar dié keer sal Zimbabwe se burgers dit hopelik self help skryf.

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Emmerson Mnangagwa  |  Zimbabwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.