Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Fundamenta-liste verdryf denkers uit NG Kerk

Daar is verskeie redes waarom die NG Kerk al hoe minder lidmate het. Een daarvan is fundamentaliste wat die wêreld moeilik maak vir kritiese denkers, skryf Jean Oosthuizen in dié geredigeerde uittreksel uit Die Opkoms en Ondergang van die NG Kerk.

Terwyl die kerk se lidmaattal in die tien jaar tussen 1996 en 2006 betreklik stabiel gebly het, was daar sedert 2011 ’n merkbare daling in die lidmaattal.

Tydens 2011 se algemene sinode het dr. Kobus Schoeman aan my gesê dat daar geen aanduiding is van ’n groot uittog uit die NG Kerk na charismatiese kerke nie. Dit wil eerder voorkom asof baie lidmate die kerk net stil-stil verlaat en niemand weet regtig wat van hulle word nie. Dr. Schoeman is verantwoordelik vir Kerkspieël wat ondersoek instel na die tendense in die NG Kerk.

In Kerkspieël 2004 is bevind dat byna die helfte van die NG Kerk-gemeentes óf sterwend is óf ’n oorlewingstryd voer. Slegs tien persent van die kerk se gemeentes was in daardie stadium dinamies aan die groei.

Sedert 1994 het die Suid-Afrikaanse samelewing ingrypend verander.

Kyk ’n mens na die groter prentjie wêreldwyd en spesifiek in Westerse lande, is dit sekularisasie wat besig is om sy tol te eis. Baie mense wat kerklos raak, verkies om hul spiritualiteit op ’n ander manier uit te leef. Dit beteken nie mense wat ophou kerk toe gaan word almal ateïste of glo nie meer in God nie. Sommige voel om die een of ander rede ontnugter met die kerk terwyl ander net nie meer ’n behoefte het om kerk toe te gaan nie.

Sedert 1994 het die Suid-Afrikaanse samelewing ingrypend verander. Baie mense, veral die jonger geslag, voel die kerk het nie daarmee tred gehou nie.

Afrikaanse Christene kry met mense uit alle lae van die bevolking te doen en raak met hulle bevriend – gays, mense van ander gelowe, pare wat nie in die huwelik glo nie en ateïste. Dit laat hulle die kerk se sienings bevraagteken. Is dit verkeerd om homoseksueel te wees? Is daar meer as een God? Is daar ’n hemel en hel? Wat by 2013 se Woordfees gebeur het, is ’n voorbeeld van hoe die kerk die indruk wek dat hulle nie oor hierdie kwessies wil debatteer nie.

Baie lidmate wat in elk geval nie meelewende kerkgangers was nie, het doodgewoon opgehou om kerk toe te gaan. Ander voel weer die kerk bied nie ’n ruimte waar hulle met vrymoedigheid kritiese vrae kan stel nie.

Kerk moet identiteit drasties aanpas

Jean Oosthuizen: “Die kerk sal nuut moet dink oor baie sake.” Foto: Jaco Marais

Die pad vorentoe, as die kerk met integriteit wil oorleef, is om groter ruimte te skep vir sy denkende lidmate. As die kerk nie daarin gaan slaag nie, sal hy al hoe meer geloofwaardigheid verloor en uiteindelik heeltemal irrelevant raak. Die kerk sal nuut moet dink oor baie sake en bereid moet wees om dapper besluite te neem oor sake soos homoseksualiteit, die huwelik, saamwoon en ook oor leerstellige sake.

Die werklikheid is dat die NG Kerk sy identiteit drasties sal moet aanpas en verander as hy wil oorleef. Ek twyfel of die kerk bereid is om dit te doen, aangesien die verlede ons geleer het dat die kerk telkens meer konserwatief en behoudend neig wanneer hy in die moeilikheid is. Die algemene sinode van 2016 waar die kerk sy besluit oor homoseksualiteit omgekeer het, is ’n sprekende voorbeeld.

Die kerk het veral ’n verantwoordelikheid om sy lidmate beter in te lig oor die ontstaansgeskiedenis van die Bybel en die konteks waarin dit geskryf is. Kom ek noem ’n voorbeeld: Ek skat 99 persent van alle predikante in die NG Kerk aanvaar die werklikheid van evolusie, glo nie die aarde is in ses dae geskape nie, beskou nie Adam en Eva as historiese figure nie en stem saam dat ’n mens nie die Bybel letterlik kan lees nie. Hulle leer dit almal op kweekskool. Tog is daar predikante wat nie hul werk doen nie en bang is hulle gaan lidmate verloor as hulle die kennis wat hulle op kweekskool geleer het, met hul lidmate deel.

Die kerk moet ophou om lidmate met kitsklaar antwoorde te probeer flous. Soms moet die kerk liewer erken: 'Ons weet nie.'

Min predikante is bereid om reguit vir hul lidmate te sê dat dit ’n uitgemaakte saak is dat daar foute en teenstrydighede in die Bybel voorkom, hoewel almal van hulle dit op universiteit leer. Dié wat dit wel waag, word baie maklik soos Johannes du Plessis en ander aangekla van leerdwaling.

Net soos dit in die Hervormde Kerk die geval was, is daar in die NG Kerk ’n stryd tussen die fundamentaliste en diegene wat lankal nie meer die Bybel letterlik vertolk nie. Die stille meerderheid lidmate is lankal nie meer so fundamentalisties nie. In die meeste gevalle is hulle die kerk se leierskap reeds vooruit. Ongelukkig gebeur dit keer op keer dat die kerk kies om weens sy behoudende aard die meer fundamentalistiese groep ter wille te wees ten koste van sy denkende lidmate. Op die lange duur sal dit die kerk nog duur te staan kom omdat sy intellek­tuele poel as gevolg daarvan al hoe kleiner word. Almal bedank nie noodwendig as lidmate nie, maar duisende lidmate gaan eenvoudig nie meer kerk toe nie en is slegs op papier nog lidmate van die kerk.

Die kerk moet ophou om lidmate met kitsklaar antwoorde te probeer flous. Soms moet die kerk liewer erken: “Ons weet nie.” Die kerk moet oppervlakkige teologie vermy en sy lidmate liewer leer om die Bybel te verstaan binne die konteks waarin dit geskryf is deur mense met die kennis wat hulle tóé tot hul beskikking gehad het in ’n voorwetenskaplike tyd.

Die Nasionale Party het sy kiesers jare lank ’n politieke hongerdieet gevoer. Op die lange duur moes die party ’n duur prys daarvoor betaal. Die kiesers het uitgevind daar is jare lank vir hulle gelieg en die eens magtige Nasionale Party het uiteindelik ’n roemlose dood gesterf.

Dieselfde lot is besig om die kerk te tref. Te veel predikante voer hul lidmate nog ’n teologiese hongerdieet. Kerkleiers doen te min om hul lidmate in te lig. Die gevolg is dat al hoe meer lidmate vir hulself begin dink en die kerk al hoe meer wantrou.

Skisofreniese beleid oor gays

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk. Foto: Argief

Nog iets wat baie mense van die kerk wegdryf is sy skisofreniese beleid teenoor homoseksuele. Aan die een kant wil die kerk hulle omarm met woorde soos “deernis” en “menswaardigheid”, maar gaan dan in die praktyk voort om objekte van hulle te maak wie se gedrag soos proefdiere heeltyd onderwerp word aan “verdere studie”.

Die NG Kerk se huidige beleid oor homoseksualiteit is inkonse­kwent. Hulle erken gay mense se reg om volwaardige lidmate te wees, maar diskrimineer teen sulke lidmate wat in ’n vaste verhouding van liefde en trou met iemand anders van dieselfde geslag is. Jy kan nie vir iemand sê dit is nie sonde om gay te wees nie en terselfdertyd so ’n persoon die reg ontsê om in ’n vaste verhouding van liefde en trou te wees nie. Die kerk kan nie langer sy brood aan albei kante botter nie.

By 2013 se Woordfees is daar aangevoer dat die borg van “meer teoretiese godsdienstige gesprekke van hierdie aard” nie bydra tot die kernbesigheid van Kerkbode nie. In 2018 bied Stellenbosch se Moeder­gemeente vir die vierde agtereenvolgende keer ’n soortgelyke gespreksreeks aan en word dan deur die kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, gelukgewens met “die inisiatief om teologie na die markplein te neem”.

Dieselfde persoon wat die Moedergemeente in 2018 gelukwens met ’n inisiatief wat reeds in 2013 deur Kerkbode begin is, was aktief deel van die besluit om dit in 2013 te kelder.

Die NG Kerk het geen morele reg om die ANC aan te spreek oor korrupsie en swak regering nie.

Janse van Rensburg moes tydens 2018 se Woordfees by ’n teologie-professor aan die kweekskool hoor dat sy kerk zero moraliteit het. Prof. Julie Claassens van die Departement Ou Testament en bevorde­ring van menswaardigheid, het gesê voordat die NG Kerk sy rasse-, gender- en seksuele kwessies uitpluis, daar zero moraliteit in die kerk is. Sy het gesê die kerk is behep met seks en verkeer in ’n morele krisis. In vraetyd het die gehoor die moderator met vrae gepeper.

Hy moes van medeteoloë uit die gehoor verneem dat hy skynheilig is en dat die NG Kerk geen morele reg het om die ANC aan te spreek oor korrupsie en swak regering nie. Daar is aan hom gesê die kerk minag sy eie lidmate se menswaardigheid met verwysing na die kerk se hantering van homoseksualiteit.

Dr. Ben du Toit het aan die moderator gesê dat dit in stryd is met die land se grondwet om ander mense se menswaardigheid te minag en teen hulle te diskrimineer. Daarom kan die kerk nie morele uitsprake maak as hyself immoreel optree nie.

Die moderator moes ook hoor sy antwoorde is wollerig en dat die kerk soos ’n tweegesig optree. Van Rensburg se verskoning was dat daar nog altyd verskille in die kerk was. Hy het gesê die kerk gaan deur ’n moeilike tyd en is ’n gemeenskap op reis met die waarheid.

Sy verweer oor die kerk se bollemakiesieslanery oor gay verbintenisse was dat hy self sterk oortuigings het oor homoseksua­liteit. As moderator moes hy volgens hom die kerk se besluite na buite verdedig, al stem hy nie noodwendig daarmee saam nie.

Hy het gesê die kerk het “kollektief” besluit dat mense van dieselfde geslag nie mag trou nie en daarom moet hy die besluit respekteer. Die vraag is of Van Rensburg dieselfde sal sê indien die kerk vandag ’n kollektiewe besluit neem dat vroue nie meer in die ampte van diaken, ouderling of predikant mag dien nie? Of as die kerk sy besluit omkeer dat alle rasse welkom is om lidmate van sy kerk te word? Sal die moderator dan óók sy kerk se kollektiewe besluit respekteer? Hopelik nie! Waarom skuil hy dan agter ’n kollektiewe besluit wanneer dit oor gays gaan?

Kerk het ‘zero moraliteit’

Prof. Claassens het drie redes uitgelig waarom sy meen die NG Kerk het zero moraliteit. Na etlike dekades is die NG Kerk en sy sogenaamde dogterkerke – die oorwegend swart en bruin VGK en Indiër-RCA – nog nie een kerk nie. Ten opsigte van die gender-kwessie word daar steeds in die kerk teen vroue gediskrimineer. Vroue word verkleineer en die kerk is zero persent moreel wanneer dit kom by gelyke regte vir vroue, het sy gesê. Derdens het sy seksuele oriëntasie opgehaal. Drie weke nadat die NG Kerk sy gay lidmate as gelyke lidmate aanvaar het, is daar appèl aangeteken teen die besluit wat uiteindelik daartoe gelei het dat hulle wéér uitgesluit word. “Wat dit betref, is die kerk ook zero persent moreel,” het sy gesê.

Die wetenskapjoernalis, George Claassen, het ná die gesprek oor moraliteit op Twitter gesê die gesprek oor moraliteit by die Woordfees was vir hom teleurstellend. Volgens Claassen het die NG Kerk se moderator weer eens “op patetiese en lamsakkige en onwettige wyse die LBGTI-saak onder die tafel probeer invee”. Claassen het prof. Julie Claassens geloof vir haar sterk standpunte daaroor.

Onverdraagsaamheid van fundamentaliste

Jean Oosthuizen glo ekstreme fundamentaliste is ’n luidrugtige groep godsdiensregses wat in die minderheid is. Foto: Jaco Marais

Daar is breedweg drie strome lidmate in die Afrikaanse suster­kerke. Die stryd in die Gereformeerde Kerke is in wese ’n stryd tussen die fundamentaliste en die kritiese denkers. Tussen hierdie twee pole vind jy die gewone lidmate wat nie graag in godsdienstige diskoerse betrokke wil raak nie. In hul harte worstel hulle dikwels met dieselfde vrae waaroor daar tydens die Woordfees gepraat is, maar hulle verkies om “soos ’n kind te glo” – al staan daar nêrens in die Bybel dat ’n mens soos ’n kind moet glo nie. Jesus se oproep dat die kindertjies na hom toe gaan, het heeltemal ’n ander betekenis as om alles soos ’n kind te glo. Diegene wat sê ’n mens moet soos ’n kind glo, vergeet Paulus se woorde wat gesê het dat toe hy ’n kind was, hy gedink het soos ’n kind en geredeneer het soos ’n kind, maar noudat hy ’n man is, het hy die dinge van ’n kind afgelê.

Hoewel alle godsdienste in wese fundamentalisties is omdat ’n mens nie sekere sake mag bevraagteken nie, is daar ook behoudende en konserwatiewe lidmate in die Afrikaanse kerke wat nie ekstreme fundamentaliste is nie.

Die ekstreme fundamentaliste is ’n luidrugtige groep godsdiensregses wat volgens my in die minderheid is. Hulle glo slegs húlle verkondig die ware evangelie. Hulle glo die aarde is in letterlik ses dae geskape, dat Adam en Eva historiese figure was en lees die hele Bybel letterlik; hoewel hulle self ook maar kies watter dele in die Bybel gepas is vir hulle. Hulle is baie sterk gekant teen homoseksualiteit en paartjies wat voor die huwelik saamwoon. Evolusie is volgens hulle iets wat sommer uitgedink is en bestaan nie regtig nie. Baie van hulle is ook polities ver-regs. Hul standpunte getuig oor die algemeen van groot onverdraagsaamheid teenoor diegene wat met hulle verskil en anders glo.

Angus Buchan word in talle NG-gemeentes soos ’n profeet ontvang, skryf Jean Oosthuizen. Foto: Argief

Omdat hulle bang is om lidmate (en natuurlik offerandes) te verloor, is die kerk huiwerig om hom uit te spreek teen die fundamentalistiese golf wat oor die kerk spoel. Seepkispredikers soos Angus Buchan (wat geen teologiese opleiding het nie) word in talle NG-gemeentes soos ’n profeet ontvang. Terwyl die kerk van beter behoort te weet, verduur hulle sy fundamentalistiese uitsprake soos “The Bible says it. I believe it. That settles it.” Sonder om lidmate daarteen te waarsku.

In die Hervormde Kerk het die skeuring tussen die geharde fundamentaliste en die meer gematigde vleuel in die kerk reeds plaasgevind toe ’n aantal lidmate onder die naam Steedshervormers weggebreek het. In die NG Kerk bevind die fundamentaliste hulle nog pens en pootjies binne-in die kerk. Hulle wend alle pogings aan om diegene wat nie met hulle saamstem nie, uit die kerk te dryf en te verketter of van dwaalleer aan te kla soos in die geval van dominees met wie hulle dit nie eens is nie.

Die kerk se huiwering om helder en duidelik standpunt in te neem teen die gevare van fundamentalisme veroorsaak dat al hoe meer denkende mense die kerk stil-stil verlaat en hul spiritualiteit elders beoefen. Op dié manier slaag die fundamentaliste daarin om die kerk se intellektuele basis te rysmier en word die kerk gaandeweg armer.

* Die opkoms en ondergang van die NG Kerk word deur Penguin Books uitgegee en kos R260.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.