Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
FW de Klerk: Man wat spring

Met sy historiese toespraak wat vandag herdenk word, sê FW de Klerk hy fokus liewer op die  toekoms, skryf Tim du Plessis.

In April word oudpres. FW de Klerk 84. Hy rook nie meer nie, maar kou onophoudelik nikotien-kougom. Foto: Edrea du Toit

Anders as in die ou dae toe die Nasionale Party se LP’s ná afloop van die staatsrede vinnig koers gekry het om die nuwe politieke jaar iewers te gaan inkuier, het FW de Klerk ’n spesiale vergadering van die NP se parlementêre koukus om 14:00 op 2 Februarie 1990 belê.

Hy het gedink hy skuld hulle ’n verduideliking oor sy toespraak ’n uur of so tevore, toe hy man-alleen Suid-Afrika die naaste nóg gebring het aan ’n “nasionaal-demokratiese revolusie”. Toe hy met een bondige toespraak die revolusie bewerk het wat die ANC al 108 jaar mee sukkel en sal bly sukkel tot hy die dag omval.

De Klerk het effe laat by dié koukusvergadering opgedaag. Die LP’s het reeds gesit. Toe hy instap, het die koukuslede opgestaan en eenparig hande geklap. Daar was geen vrae nie en geen kommer is geopper nie.

Daardie staande toejuiging, sê Leon Wessels dié week, was ook die laaste keer dat die NP verenig was. In die loop van die stormagtige vier jaar daarna het die eens magtige en gehate NP geleidelik in agt faksies verbrokkel. Wessels reken ’n prestasie wat misgekyk word is die feit dat De Klerk die party en die grootliks Afrikaanse staatsburokrasie nog vier jaar bymekaar kon hou om die oorgang te laat gebeur.

‘Ek kon tien jaar uitgehou het! Maar dan het die land vandag soos Sirië gelyk.’

In sy kantoor dié week in Plattekloof in Bellville, waar hy oor die Kaapse Skiereiland uitkyk, is De Klerk filosofies oor daardie rooiletterdag. Hy het vir die NP-LP’s gaan verduidelik hy kon hulle nie vooraf inlig nie, want ’n verrassingselement was deel van die strategie. Hy het wel die teks ’n paar dae tevore met die volle kabinet deurgewerk. En gesê hulle mag nie eens vir hul eggenotes sê nie.

In April word die oudpresident 84. Die jare (en ’n leeftyd van straf rook) wys. Hy rook nie meer nie, maar kou onophoudelik nikotien-kougom. Hy dra ’n gehoorstukkie. ’n Dekade of wat gelede het hy ’n ernstige longaandoening opgedoen. Hy was lank in die waaksaal. Seker maar dié dat sy stem deesdae so skraal is. Tog het hy dié week nog 18 putjies gholf gespeel.

“Toe ek die toespraak gehou het, was die lewensverwagting dat jy so teen die middel 70’s sal gaan. So, ek is geseën. Ek fokus nie op die 30 jaar wat verby is nie, ek fokus op die moeilike vier, vyf jaar wat voorlê vir die land.”

De Klerk was nooit uitermate fors van postuur nie, maar vandag het hy aan hom daardie sagte broosheid wat so eie is aan sommige mans in hul 80’s. Sy kop en sy geheue is glashelder. Ek hoor dieselfde versigtig geformuleerde antwoorde as 37 jaar gelede toe ek my eerste onderhoud gehad het met De Klerk as pas verkose Transvaalse leier van die NP. Mediaonderhoude met De Klerk skiet in die reël nie die ligte uit nie. Daarvoor is hy te deurdag.

Nelson Mandela en FW de Klerk in Mei 1990. Foto: Getty Images

Ek vra hom as hy in die aanloop tot 2 Februarie 1990 so eindeloos geraadpleeg het soos pres. Cyril Ramaphosa vandag doen, sou hy ooit sy “kwantumsprong” kon spring?

“Ek sou nie kon nie. Maar my konsultasie was gefokus op my magsbasis in die kabinet. Daar was die konsultasie intensief.”

De Klerk kies sy woorde versigtig wanneer hy oor Ramaphosa praat. “Ek het hoë verwagtinge gehad van Ramaphosa, maar in dié stadium is ek bekommerd. Tog het ek simpatie met sommige van sy uitdagings. Hy moet tien verlore jare uitkanselleer.”

Hy sê hy het nie destyds nodig gehad om so wyd en langdurig te konsulteer nie. Ná die Treurnicht-skeuring in 1982 was die NP ideologies meer verenig as die ANC vandag. Die KP, wat apartheid wou voortsit, was weg. Politieke hervorming het reeds onder PW Botha begin. Maar hoekom het hy nie net vir Mandela vrygelaat nie? Hoekom ook die verbod op die SAKP ophef?

“My doel was om elke verskoning wat die ANC kon opwerp om nie te onderhandel nie, uit die weg te ruim.”

‘Die ANC moet skeur. Dit gaan beteken ’n paar jaar van diepe onsekerheid.’

En wat nou met al die oudministers en hoë burokrate uit sy era wat vandag boeke en artikels skryf wat hom skerp kritiseer, nie soseer oor die toespraak nie, maar oor hoe hy die oorgang bestuur het en veral oor die uiteindelike skikking wat hy bekragtig het?

En wat sê hy van die storie dat hy die ou Suid-Afrikaanse weermag moes ontplooi het “om nog vyf jaar uit te hou vir ’n beter skikking”?

“Ek kon tien jaar uitgehou het! Maar dan het Suid-Afrika vandag soos Sirië gelyk met ’n eskalerende burgeroorlog en bloed in die strate. Aan die einde daarvan sou ons wel om ’n onderhan­de­lings­tafel beland het, maar in ’n verswakte posisie. Ek het my les geneem uit die foute wat premier Ian Smith (in die ou Rhodesië) gemaak het. Hy kon vroeër ’n baie beter ooreenkoms gesluit het (vir die wit Zimbabwiërs).”

De Klerk sê daar word ook dikwels vergeet die NP het ’n berekende besluit geneem om apartheid te beëindig.

“Die hoop dat apartheid sou slaag, het nooit gerealiseer nie. Dit het gefaal en was ’n onverdedigbare onreg.”

Oor sy kabinet destyds sê hy in die eerste jare is goeie konsensus bereik. Later was daar lede wat vasgeskop het. “Maar op die ou end het nie een van hulle bedank nie.” Hy wag ’n oomblik dat dié mededeling insink.

Daar was wel by tye spanning tussen hom en die destydse weermag en die polisie. “Ek het geglo in kabinetsbestuur. Anders as my voorganger, wat dinge bedink het met ’n klein kliek en dan na die kabinet gekom het met besluite wat vooraf geneem is. Ek het oop gesprek in die kabinet toegelaat.”

Maar geeneen van dié figure wat destyds gemopper het, had die gravitas en aanhang om op te staan teen De Klerk nie. Dis nou oudministers soos Hernus Kriel, Tertius Delport, André Fourie, Japie van Wyk en Rina Venter. In daardie geselskap was De Klerk al een met statuur. Delport kon dalk, maar daardie aand in 1996 toe hy De Klerk melodramaties aan die baadjiekraag gryp en uitroep hy (De Klerk) het Suid-Afrika “weggegee”, was die perd al af in die pad. Asof die land ooit die NP s’n was om “weg te gee”.

En die beskuldiging dat hy sonder mandaat gehandel het? De Klerk sê al besluit wat hy op eie houtjie geneem het, was om sy prerogatief as staatshoof uit te oefen om die referendum in Maart 1992 uit te skryf. As hy oor daardie besluit die partystrukture sou raadpleeg, sou hulle dit afgestem het.

Hoekom? “Hulle het geglo die NP sou die referendum verloor.”

Sy eie aanvoeling was ’n sege met ’n meerderheid van so 53%. Toe kry die ja-stem byna 69%.

Wat van die aantyging dat die referendum-uitslag nie wit kiesers se goedkeuring vir die uiteindelike skikking beduie het nie, maar bloot toestemming was om die veelparty-onderhandelings voort te sit? De Klerk se moeë skouers sê dis ’n vraag wat hy al baie beantwoord het.

Niemand het die referendum-uitslag amptelik betwis nie. En politiek was toe en is vandag steeds die kuns van die moontlike.

Hy kon bygevoeg het as jy in 1992 ’n wit kieser in Suid-Afrika was en jy het nié geweet – ongeag of jy ja of nee wou stem – Nelson Mandela sal president word aan die hoof van ’n ANC-regering nie, het jy dag en nag in jou slaap geloop.

De Klerk sê hy is ná 30 jaar al gewoond aan die nimmereindigende stroom van agterna­wysheid oor 2 Februarie 1990. Al maak dit hom moeg.

Minderheids­veto’s, ’n verskansing van wit mense se posisie en gewaarborgde groepregte was net eenvoudig nooit in enige stadium praktiese politiek nie. “Daar was nie sprake van dat ’n wit vetoreg enigsins deel kon wees van ’n ooreenkoms nie. Dit sou die onreg net voortgesit het.”

Hy stem saam met die argument wat sê as die ANC vandag so traag is om die huidige grondwetlike bepalings teen ongebreidelde magsuitoefening te handhaaf, watter rede is daar om te glo hulle sal in 2020 bepalings eerbiedig wat hulle nóg meer aan bande sou lê?

“Dit was ’n reusagtige toegewing van die ANC destyds om te aanvaar dat daar ’n regstaat sal wees; dat ’n konstitusionele hof die hoogste gesag in die land sal wees. Dít het ’n fondament geskep vir minderhede vir ’n veilige toekoms. Dis ook hoekom elemente in die ANC vandag Mandela se nalatenskap aftakel. Hulle sê hy het te veel toegewings gemaak.”

De Klerk betreur sy en sy span se onvermoë om Mandela en die ANC te oorreed tot wat hy noem ’n “gematigde voorstel” vir ’n konsensussoekende model op die vlak van die uitvoerende gesag. ’n “Konsultatiewe raad van partye,” het hulle dit genoem. Die ANC het dit verwerp.

De Klerk sê hy is vandag diep bekommerd oor die toekoms. Tog bly hy hoopvol. ’n Eskom wat ondergaan en die dreigende verwatering van die eiendomsklousule in die Grondwet kan Suid-Afrika oor die afgrond stoot.

“Kaderontplooiing het die effektiwiteit van die staatsdiens vernietig. Ek was dankbaar om te sien dat Ramaphosa standpunt inneem teen kaderontplooiing. Selfs al kondig Ramaphosa stappe aan, sal dit gepaard móét gaan met ’n aksieplan gedryf deur bekwame mense, soos nou by Eskom gebeur.

“Die nuwe Grondwet was veronderstel om die plek in te neem van die nasionaal-demokratiese revolusie (NDR) én apartheid. Die Grondwet en die NDR bots. Jy kan nie albei aanhang nie.

“Die ANC moet skeur. Dit gaan beteken ’n paar jaar van diepe onsekerheid, maar uiteindelik moet die ANC se hegemonie gebreek word.”

Nog baie woorde sal sekerlik oor FW de Klerk en sy beroemde toespraak 30 jaar gelede gespreek word. Dis soos die siniese ou Rus in die Sowjet-era gesê het: Die toekoms is seker, dis die verlede wat onseker is.

* Tim du Plessis het as politieke joernalis die gebeure eerstehands beleef.

Net ’n derdemag-truuk?

Die oudambassadeur Franklin Sonn het die nuus van wat FW de Klerk in sy toespraak gesê het gehoor by die gewese SAUK-joernalis Elna Botha, wat ’n paar jaar later met die kerkleier dr. Allan Boesak getrou het.

Sonn vertel hy was vroegmiddag die Vrydag aan die voorpunt van ’n protesoptog na die parlementsgebou. Hy was saam met ander anti-apartheidsleiers, onder andere Boesak, Cheryl Carolus en Lionel Louw. Vanaf die parlementsgebou sou die protesgangers na die Kaapse Parade beweeg, waar Winnie Mandela en Walter Sisulu gewag het om die skare toe te spreek. Sisulu is ’n paar maande tevore vrygelaat.

“Toe ons by die Smuts-standbeeld bo in Adderleystraat was, kom Elna Botha aangehardloop met ’n swaaiende dokument in die hand. Ek onthou nog sy het so ’n skreeugeel rok gedra.”

Toe Elna vir hulle die nuus vertel, wou hulle haar aanvanklik nie glo nie. Maar toe sien hy dis ’n amptelike afskrif van De Klerk se toespraak. “Soos ons daar gestaan het, was De Klerk binne-in die parlement besig om die goed te sê,” aldus Sonn.

Van sy kollegas was steeds wantrouig en het gedink “dis weer ’n derdemag-truuk om verwarring te saai”.

Die hele optog is vandaar na die Parade, waar Sonn-hulle na die Kaapstadse stadsaal oorkant die Parade is, “waar uncle Walter en Winnie in gemakstoele na die toespraak op TV gesit en kyk het”. “Ek onthou uncle Walter het aanhoudend sy hande in die lug gegooi en uitgeroep: ‘My goodness! My goodness!’ Niemand het dit verwag nie.”

Sonn sê een sinnetjie in die toespraak het jare lank in sy kop bly maal. “Daar waar FW gesê het ‘the ban on the South African Communist Party is lifted’. So iets was vir my altyd ondenkbaar. Ons moes mos jare lank hoor hoe gevaarlik die kommuniste is.”

Later die dag het Sonn weer na die parlementsgebou gekyk. “Dit was altyd so ondeurdringbaar.

“Skielik was die plek oop. Daai was een van die grootste dae in die hele geskiedenis van Suid-Afrika.”

'Waar was die angel?'

Moeletsi Mbeki, entrepreneur en politieke kenner: Ek was ’n joernalis in Harare by ’n plaaslike koerantgroep. Omdat ek geweet het van die klandestiene gesprekke tussen NP-figure en ANC-leiers, was ek nie heeltemal verbaas nie. Die vrylating van my pa, Govan, en die ander Rivonia-gevangenes ’n paar maande tevore was ook ’n aanduiding. Maar ek het dit nie verwag nie.

Leon Wessels, oudkommissaris van die Menseregtekommissie en ondervoorsitter van die Grondwetlike Vergadering: Ek was in my adjunkministersbank. Toe ek hoor wat De Klerk sê, was my eerste besef dat wit kiesafdelingpolitiek iets van die verlede is. Die steriele debatte met die KP’s was vir altyd verby.

Tony Leon, oudleier van die DA en later ambassadeur in Argentinië: Ek het my sitplek ingeneem in die agterbank in die parlement. Dit was my eerste dag en ek was een van die jongste LP’s. De Klerk het – in ’n ondramatiese toon – ’n toespraak gehou van soveel thermo nuclear intensitydat die naskok daarvan vandag nog met ons is.

Brand Pretorius, maatskappy­direkteur en voormalige uitvoerende hoof van MCarthy Motors: Ek was op pad na ’n Toyota-handelaarsvergadering en my eerste reaksie was een van bewondering en respek. Uit ’n morele oogpunt was ons nou op die regte pad en ek was dankbaar.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging: Ek was in ’n vergadering met topsakelui en senior Cosatu-leiers. Die Cosatu-manne het spontaan struggle-liedere begin dreunsing. Ek het sterk getwyfel of die NP opgewasse was vir onderhandelinge met Cosatu se hardebaarde soos Cyril Ramaphosa en Gwede Mantashe.

Helen Zille, oudpremier van die Wes-Kaap en federale voorsitter van die DA: Ek was op pad na my seun se skool vir ’n ouervergadering van gr. R’s. By die skool het ek ’n opgewonde groep ouers aangetref. “De Klerk het die Rubicon oorgesteek,” het ’n ma uitgeroep. Ek het geweet ons hoef nie meer die toekoms te vrees nie.

Barney Mthombothi, rubriekskrywer en ’n vorige nuushoof van die SAUK: Ek’t by die BBC World Service in Londen gewerk. My eerste reaksie was absolute skok. ’n Aankondiging van daardie omvang was totaal onverwags. Toe was dit onverbloemde vreugde en jubeling. En toe weer bekommerde afwagting. Waar was die angel? Maar spoedig het dit geblyk FW het bedoel wat hy gesê het.

Corné Mulder, hoofsweep en Wes-Kaapse leier van die VF Plus: As parlementslid was ek in my sitplek. My eerste reaksie was, dit is oneerlike verraad. Net vyf maande vroeër is enige sprake van praat met of die betrek van die ANC totaal ontken. FW de Klerk saal hier ’n ANC-tier op wat hy nie sal kan ry of beheer nie. Ek het geweet die eindpunt sal ’n swart ANC-meerderheidsregering wees.


Meer oor:  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Fw De Klerk  |  Anc  |  Sakp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.