Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
FW-fout kan ’n seën wees

FW de Klerk het in landsbelang opgetree deur ’n fout te erken, skryf Jan-Jan Joubert.

Aartsbiskop Desmond Tutu klap in 1993 hande vir Nelson Mandela en FW de Klerk se Nobelpryse vir vrede. Foto: Getty Images

Die gebeure die afgelope twee weke rondom oudpres. FW de Klerk, sy plek in die geskiedenis en of apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, het soveel hartseer, tweespalt en bitterheid gebaar dat baie mense die positiewe aspekte daarvan miskyk.

Om dit te beweer, is nie die een of ander patetiese poging om dinge mis te kyk sodat ’n mens tog net ’n gelukkige sonskynmensie met ’n positiewe lewensuitkyk moet wees nie.

Dit is die noodwendige gevolg daarvan om elke aspek van die gebeure onemosioneel te probeer opweeg en daaruit te haal wat dit op meriete werd is – die slegte en die goeie.

So, kom ons kyk ’n bietjie na wat eintlik gebeur het – Geschichte wie es eigentlich gewesen war, volgens Von Ranke – en hoe die werklikheid ná afloop van die gebeure anders is as die werklikheid voor die gebeure.

Die sage het begin met die onderhoud wat die SAUK met De Klerk gevoer het ter herdenking van sy toespraak in die parlement op 2 Februarie 1990.

Die FW de Klerk-stigting moes nooit daardie verklaring uitgereik het nie.

Die toespraak is van die begin af onderwerp aan ’n baie verdeelde en wedersyds uitsluitende interpretasie daarvan – mense was óf baie sterk ten gunste daarvan omdat hulle om morele, etiese en/of godsdienstige redes dit as ’n noodsaaklike beginselkeuse gesien het óf ten diepste daarteen omdat hulle dit as die verraderlike uitverkoop van land, volk en taal beskou het óf diep ambivalent omdat hulle die moontlikheid van bevryding verwelkom, maar die motiewe van De Klerk as gewer daarvan so volkome gewantrou het dat die lieflike woorde in Eitemal se Afrikaanse vertaling van Shakespeare se Hamlet ter sprake kom: “Is jou bedoeling goed of kwaad, jy kom in twyfelagtige gedaante.”

Oor die jare het die ondersteuners en diegene wat hom as verraaier beskou het se siening van De Klerk se rol meestal so binêr as aanvanklik gebly. Die twyfelende bevrydes het ambivalent gebly, maar skoorvoetend en teen hul grein in meestal toegegee dat sy motiewe suiwer was.

En toe gebeur die SAUK-onderhoud en De Klerk sê hy dink nie apartheid was ’n misdaad teen die mensdom nie. Ou FW-ondersteuners was verdeeld of hulle saamstem of nie, maar almal was jammer dat hy by ’n omstredenheid betrokke geraak het wat eintlik maar ’n stryd oor die verlede was – grootliks sonder wins.

By sy regse kritici was daar min simpatie vir De Klerk – daar sal nooit wees nie, al gebeur wat ook al.

Die grootste toets was egter vir die ambivalente groep. Diegene wat sy motiewe skoorvoetend begin vertrou het, het gevoel hulle is mislei en hulle was naïef. Hulle het hard teen hom gedraai. Die ambivalentes wat nooit oortuig was oor die suiwerheid van sy motiewe nie, het gevoel hulle is korrek bewys.

Sommiges sal wonder waarom die sterk gevoel oor, en ek gebruik die Engelse term doelmatig, want dit is die taal waarin dit gemunt is, crimes against humanity. Een rede waarom party veral Afrikaanse mense so sterk skop teen die term is miskien omdat ons die Afrikaanse term moet hersien. Die Engelse term “humanity” het minstens twee ewe geldige en toepaslike vertalings, met radikaal verskillende betekenisse. Ons gebruik net “mensdom” maar ons kan dit ewe geldig vertaal as “menslikheid”. Nou wie gaan stry dat apartheid en sy gevolge ’n misdaad teen menslikheid was?

De Klerk nie geweet het apartheid as misdaad teen die mensdom is in internasionale statute opgeneem nie.
Thabo Mbeki

Die Kretie en Pletie het ingespring met menings oor of apartheid ’n misdaad teen die mensdom was. Diegene wat dit ontken het, het miskien te sterk gevoel dat dit ’n morele kwessie is. Dit is eintlik grootliks ’n regskwessie wat die klassifisering daarvan betref, en dit is onteenseglik en behoorlik so gedefinieer deur die Verenigde Nasies, wie se gesag om dit te doen deur Suid-Afrika erken word. As sodanig was dit jammer dat De Klerk ’n botsende mening uitgespreek het. Elkeen het die reg op sy mening, maar as deurwinterde en goed opgeleide juris was De Klerk se mening vir baie van sy ondersteuners verrassend en enigsins teenstrydig met sy definiërende rol, naamlik dat hy apartheid afgeskaf het omdat dit verkeerd was.

En nou vir die paar belangrike positiewe kwessies wat uit die omstredenheid voortgevloei het. Die EFF het in ’n daad van verstaanbare, maar misplaaste politieke opportunisme Donderdagaand by die staatsrede aangedring dat hy die parlement verlaat. De Klerk het hom oudergewoonte nie deur ongepoetste rasbehepte gedrag laat intimideer nie en hy het gebly.

Die positiewe aspek is dat die speaker, Thandi Modise, en die ANC ten spyte daarvan dat hulle glad nie vir De Klerk steun of noodwendig van hom hou nie, vir ’n slag op ’n belangrike oomblik in beginsel die korrekte en ordentlike ding gedoen het: Hulle het vas gestaan dat De Klerk moet bly, ampshalwe en omdat hy genooi is.

Sulke dade waar ordentlikheid wen teen politieke voorkeur is so skaars in ons land dat ’n mens net kan hoop dit was die eerste van vele sulke stappe. Die ANC kon vir die eerste keer in ’n lang tyd die genot ervaar van morele grootsheid. Dalk was dit bevredigend genoeg dat hulle dit gou weer doen. ’n Mens mag hoop.

Vrydag se uitreik van ’n intens beledigende verklaring teen die EFF deur die FW de Klerk-stigting was egter ’n laagtepunt. Om die EFF te probeer oortref in skellery en belediging is nie edel nie. Dis ook gedoem tot mislukking. Soos die Amerikaners graag sê oor laeklas-politiek: “Don’t get into the mud with a pig. You both get dirty, and the pig likes it.”

Die FW de Klerk-stigting moes nooit daardie verklaring uitgereik het nie. Dit was hul rol en hul inspirasie nie waardig nie. Wie dit gedoen het, behoort mooi na te dink of hulle daar hoort.

Oor die naweek het ander politieke stigtings met ’n hegte verbintenis en positiewe ingesteldheid teenoor die FW de Klerk-stigting begin om hulle van laasgenoemde te distansieer. Daar is diegene wat wonder of die uiteindelike ommeswaai van die FW de Klerk-stigting dalk ’n pragmatiese stap was om dit te verhoed. Ek meen nee, maar dis glad nie onmoontlik nie.

Sondagaand se gebeure was inspirerend. Oudpres. Thabo Mbeki, wat deur baie mense as een van ons minder menslike presidente beskou word, het in uiters belangrike, verrassende en heilsame ingrepe moeite gedoen om op te kom met ’n baie positiewe lees van die situasie en ’n welkome politieke ontsnaproete vir De Klerk – naamlik om te sê dat De Klerk nie geweet het apartheid as misdaad teen die mensdom is in internasionale statute opgeneem nie en dat sy omstrede stelling so verstaan moet word.

Of De Klerk as juris werklik so onkundig is, weet ’n mens nie, maar polities was dit ’n groothartige stap deur Mbeki en in die beste versoeningstradisie van ons land.

Maandag het De Klerk ’n stap gedoen wat vir sy ondersteuners ’n bevestiging van sy grootsheid is. Hy het die landsbelang voor sy ego geplaas en erken dat hy ’n fout gemaak het. Kon meer politici hier en wêreldwyd dit tog in hulself vind om dit te doen!

Dit was die vierde keer dat hy landsbelang teen groot risiko bo eie politieke voordeel en egogedrewe trots gestel het. Die ander drie was die besluit om apartheid af te skaf, die uitroep van die 1992-referendum en die besluit om Mandela die land te laat toespreek ná die moord op die SAKP-leier Chris Hani.

Nogmaals het Suid-Afrika dus onverwags deur ’n gevaarlike en onnodige politieke maalkolk gekom. Vir diegene wat De Klerk se rol en sy nalatenskap in hul eie gedrag waardig probeer wees, is dit uiters positiewe aspekte van ’n ongetwyfeld betreurenswaardige episode.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.