Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
FW: Hof versaak minderhede

Dit blyk nou dat Afrikaners tydens die onderhandelingsproses oor die nuwe Grondwet mislei is, sê oudpres. FW de Klerk.

’n Betoging die afgelope week by die Hoërskool Overvaal. Foto:Felix Dlangamandla

Ek verwys na Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, se kritiek op die besluit van die konstitusionele hof om hul aansoek om verlof tot appèl te weier teen die appèlhof se uitspraak in AfriForum se saak teen die slegs-Engels-taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat.

Die konstitusionele hof verdien volle erkenning vir sy konsekwente en moedige verdediging van die Grondwet rakende regeringsbestuurskwessies – veral vir die wyse waarop dit staatskaping en korrupsie teengestaan het.

Die hof het egter ook tot dusver konsekwent “transformasie” gesteun bó enige van die regte wat in die Grondwet beding is om die taal, kultuur en eiendomsregte van minderhede te beskerm. Dit het wit en bruin Suid-Afrikaners ook gestroop van baie van hul grondwetlike beskerming teen onregverdige diskriminasie deur in wese te verklaar dat enige stappe rakende regstellende aksie wat kragtens art. 9(2) van die Grondwet gedoen word, outomaties regverdig is. Dit het minderhede se grondliggende reg op gelykheid verwater.

Die konstitusionele hof se uitspraak in Kovsies se aansoek om verlof tot appèl het emosionele kritiek ingesluit, gegrond op die struggle-weergawe van ons geskiedenis – asof ’n taal aanspreeklik gehou kan word vir die optrede van mense wat dit praat. Hoe kan Engels, die taal van diegene wat verantwoordelik is vir die verwoestende verowering van die Xhosa- en Zoeloe- (en Afrikaner-)mense, as aanvaarbaar beskou word? Daar is ook geen erkenning verleen nie aan die feit dat die 60% van Afrikaanssprekendes wat bruin en swart is ook slagoffers van diskriminasie in die verlede was.

Die konstitusionele hof se benadering word opgesom in hoofregter Mogoeng Mogoeng se opmerking – wat verreikende implikasies het vir die toekoms van Afrikaanse skole – dat “Afrikaans as medium van onderrig onwetend ’n instrument van rasseverdeling of kulturele verdeling en diskriminasie geword het”.

Die konstitusionele hof se uitspraak in Kovsies se aansoek om verlof tot appèl het emosionele kritiek ingesluit, gegrond op die struggle-weergawe van ons geskiedenis – asof ’n taal aanspreeklik gehou kan word vir die optrede van mense wat dit praat.

Soos Kriel uitwys, resoneer hierdie benadering met die konstitusionele hof se uitspraak in City of Tshwane Metropolitan Municipality v AfriForum, ’n saak oor die hernoeming van straatname in Pretoria. Soos regters Edwin Cameron en Johan Froneman in hul minderheidsuitspraak waargeneem het, is “die gevolgtrekking wat gemaak kan word uit die eerste uitspraak dat enige vertroue wat wit Suid-Afrikaners, veral wit Afrikaners, in ’n kulturele tradisie het wat in die verlede gevestig is, geen erkenning in die Grondwet geniet nie omdat daardie geskiedenis onvermydelik in onderdrukking gewortel is”.

In sy afsonderlike uitspraak in die straatnaam-saak vra regter Chris Jafta reguit: “Hoe kan daar van die onbetwisbaar transformatiewe Grondwet verwag word om kulturele tradisies te erken wat in die rassistiese verlede gewortel is? Die antwoord moet wees dat indien daar sodanige verwagting is, dit misplaas is.” Hy voeg by dat “rassistiese en onderdrukkende kulturele tradisies geen plek in ons grondwetlike orde het nie, selfs al bestaan hulle dalk in die geskiedenis. Inteendeel, sodanige tradisies hoort in die vullisdromme van die geskiedenis, waar dit begrawe behoort te word.”

Hy bevind dat dit “ ’n duidelike aanduiding is dat enige eis om kultuur te kan geniet, nie ’n reg op rassistiese en onderdrukkende kulturele tradisies uit die koloniale en apartheidsera insluit nie.”

Wat beteken Jafta se opmerkings vir die grondliggende reg van wit Suid-Afrikaners op menswaardigheid – waaraan hul kulturele en historiese identiteite onlosmaaklik verbind is? Lei die ontneming van kultuur nie onvermydelik tot verontmensliking nie? Hoe kan mense hul grondliggende reg op gelykheid geniet indien hul kultuur en geskiedenis hulle vir altyd tot morele minderwaardigheid verdoem?

Nietemin is dit klaarblyklik die konstitusionele hof se mening dat rasseharmonie van Afrikaners vereis om hul reg op onderwys in die taal van hul keuse aan openbare onderwysinstellings te laat vaar – en dit bevraagteken volgens Cameron en Froneman klaarblyklik die regmatigheid van hul reg om hul kultuur te geniet. Hierdie benadering sal lynreg in teenstelling wees met die multikulturalisme en veeltaligheid wat in die Grondwet verskans is; ’n benadering wat deur internasionale konvensies onderskryf word en wat die noodsaaklike grondslag daarstel vir positiewe intergemeenskaplike verhoudings in lande met diverse bevolkings.

Die konstitusionele hof se onlangse uitsprake oor die grondwetlike regte van minderhede het wesenlike implikasies vir die volgehoue lewensvatbaarheid van die “groot akkoord” waarop ons Grondwet geskoei is. Minderhede – wat per definisie van politieke mag uitgesluit word – is veral afhanklik van die onpartydigheid van die howe om hul grondwetlike regte te handhaaf.

Watter hoop ten opsigte van die reg het hulle as die howe konsekwent saamstem met die meerderheid se ideologiese benadering oor kwessies wat aan die kern van hul oorlewing as kultuur- en taalgemeenskappe lê?

Kriel redeneer voorts dat hierdie uitsprake in direkte teenstelling is met die beloftes wat grondwetlike onderhandelaars aan Afrikaners tydens die politieke oorgang gemaak het. Afrikaners is belowe dat indien hulle hulself aan politieke mag onttrek, hul eiendom en taal in ruil daarvoor beskerming sou geniet.

“Dit blyk dat Afrikaners mislei is.”

Feit is dat die onderhandelaars aan hul ondernemings voldoen het deur streng bepalings oor die beskerming van taal, kultuur en eiendomsregte in die Grondwet van 1996 in te sluit. Wat hulle nie kon waarborg nie, was hoe toekomstige regerings die grondwetlike ooreenkoms sou nakom of hoe howe grondwetlike regte sou interpreteer en beskerm.

Die FW de Klerk-stigting en ek het die afgelope 25 jaar alles in ons vermoë gedoen om die grondwetlike regte van alle Suid-Afrikaners – insluitend ons minderhede – te handhaaf. Ons het voortdurend pogings teengestaan om taal- en kultuurregte te ondermyn en ons was een van die eerste organisasies wat die samelewing gewaarsku het teen die gevolge van die nasionaal-demokratiese revolusie (NDR).

Dit is egter by nabaat duidelik dat ANC-onderhandelaars nie net Afrikaners nie – maar alle nie-ANC-partye – bewustelik mislei het betreffende hul bedoelings op middel- en lang termyn. Soos dit sedert die begin van die tweede fase van die NDR in 2012 duidelik geword het, was dit nooit hul bedoeling om al die regte wat in die Grondwet van 1996 vervat is, te eerbiedig nie.

Ek het in Mei 2015 aan ’n vergadering van die Afrikanerbond gesê dat daar geen twyfel bestaan dat die Grondwet onder toenemende druk is nie. “Aan alle kante sien ons die geleidelike en doelbewuste erosie van ons regte en vryhede.”

Ek het daarop gewys dat die ANC-SAKP-alliansie probeer het om ons skaam te maak oor die feit dat ons Afrikaners is. Ek het gesê dat ons moet verstaan dat die doelwit van die ANC se “radikale tweede fase” van die NDR geleidelik besig was om ons eiendom, ons maatskappye, ons indiensnemingsvooruitsigte en ons kulturele nalatenskap te beperk tot die krimpende persentasie van die bevolking wat ons verteenwoordig. Dit ten spyte van ons vaardighede en die bydrae wat ons gemaak het – en steeds maak – tot die bou en ontwikkeling van Suid-Afrika.

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die toekoms van ons mense en alle minderhede weer eens in ons hande is – net soos dit baie keer in ons onstuimige verlede was.

Ek bly egter vol vertroue dat ons ons posisie in Suid-Afrika vir baie jare kan verseker indien ons strewe na ’n meer gebalanseerde begrip van ons ingewikkelde geskiedenis. Ook moet ons werk om die visie van menswaardigheid, gelykheid, menseregte, nierassigheid, nieseksisme en grondwetlikheid in art. 1 van die Grondwet te verwesenlik.

En ten slotte moet ons al die magte gebruik wat die Grondwet ons bied om ons regte en belange – en dié van al ons mede-Suid-Afrikaners – te beskerm.

Meer oor:  Fw De Klerk  |  Konstitusionele Hof  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.