Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
G7-beraad: VSA lei weer die Weste

Twee dinge het op die pas afgelope G7-spitsberaad in Cornwall duidelik geword: Amerika is terug as konstruktiewe speler op die veld, en die wêreld se grootste sewe demokrasieë werk weer – aarselend – saam teen die wêreld se grootste diktature, skryf Leopold Scholtz.

Pres. Joe Biden van Amerika by koningin Elizabeth op 'n besoek aan Windsor-kasteel tydens die G7-beraad in Engeland. Foto: Getty Images

Op sy huidige besoek aan Europa woon pres. Joe Biden van Amerika vier belangrike berade by.

Die eerste – die spitsberaad van sewe van die wêreld se grootste ekonomieë, bekend as die G7 – in Cornwall is verby. Biden is nou in Brussel, waar hy eers met Navo vergader, en dan met die Europese Unie (EU).

Ten slotte reis hy na Genève, waar hy na verwagting met sy Russiese teenhanger, pres. Wladimir Poetin, koppe sal stamp.

Daar is iets soos vertroue in die politiek. Daar is iets soos respek. Dit maak ’n verskil.
Matthew Parris

By al vier geleenthede is daar een oorkoepelende boodskap wat Biden probeer uitdra: Amerika is terug. Terug nadat sy voorganger, Donald Trump, vriend en vyand vervreem het met sy optrede, wat as ondeurdag (en soms eenvoudig ongepoets) ervaar is.

In ’n artikel in die Londense Times maak Matthew Parris verlede week ’n goeie punt: Dis waar wat lord Palmerston gesê het dat lande geen vriende het nie; slegs belange. Tog: “Daar is iets soos vertroue in die politiek. Daar is iets soos respek. Dit maak ’n verskil.”

Daardie respek kon ’n mens teenoor Biden sien.

‘Some very undelicate language’

Terselfdertyd is talle wêreldleiers se vertroue in spesifiek Boris Johnson, die Britse premier, en die gereelde skoolseunagtige beledigings wat hy oor sy eweknieë rondstrooi, op ’n laagtepunt. Maar op die pas afgelope G7-beraad was hy nou eenmaal die gasheer, en dus het die ander ses moeite gedoen om korrek teenoor hom op te tree.

Die Britse premier, Boris Johnson, in gesprek met pres. Cyril Ramaphosa voor ’n bilaterale vergadering op die G7-beraad in Cornwall, Engeland. Foto: Getty Images

Die irritasie oor die feit dat Johnson die Brexit-afsprake, veral rakende die posisie van Noord-Ierland, skaamteloos verbreek, bevorder daardie noodsaaklike minimum vertroue nie. Johnson het naamlik beloof om geen “harde” grens tussen Noord-Ierland en die Ierse Republiek in te stel nie – en hy dreig nou al ’n hele tyd lank om presies dit te doen.

In sy gesprekke met EU-leiers, berig The Guardian, het Johnson blykbaar – ’n mens kan liefs die oorspronklike Engels met sy onderbeklemtoning gebruik – “some very undelicate language” gebruik. En ’n Biden-diplomaat het aan Lord Frost, Johnson se Brexit-minister, te kenne gegee dat die president, synde van Ierse afkoms, “persoonlik in die kwessie belangstel”.

In die diplomatieke wêreld staan dit bekend as ’n démarche, oftewel ’n diplomatieke waarskuwing. Nietemin, om ’n bom op die beraad te vermy het die Noord-Ierse grenskwessie nie ter sprake gekom nie.

Tog kan Johnson nou onder geen misverstand oor die saak wees nie. Onderweg na Europa het Jake Sullivan, Biden se nasionale veiligheidsraadgewer, aan joernaliste gesê: “Daardie ooreenkoms moet beskerm word, en alle stappe wat dit in gevaar stel of ondermyn, sal nie deur Amerika verwelkom word nie.”

’n Wêreld ná Trump

Daar was in elk geval geen vuurwerke nie. Verskeie kommentators het gewys op die saaklikheid en selfs saaiheid van dié beraad. Dit in teenstelling met voriges, waar Trump blykbaar moeite gedoen het om soos ’n boelie op te tree.

Oudpres. Donald Trump van Amerika op ’n vorige G7-beraad in Biarritz, Frankryk. Verskeie leiers was verlig dat hy nie vanjaar in Cornwall was nie. Foto: Getty Images

In 2018 het hy die Kanadese premier, Justin Trudeau, as “baie oneerlik en swak” bestempel nadat dié met hom oor handelstariewe verskil het. Hy het die G7-beraad in Quebec vroegtydig verlaat en geweier om sy goedkeuring aan die slotverklaring te heg.

By ’n ander geleentheid het hy in die oë van die Europeërs selfs heiligskennis gepleeg deur Navo as “verouder” te bestempel.

’n Beroemde foto is uit Quebec die wêreld ingestuur waar Trump met ’n stuurs gesig sit terwyl die ander om hom heen staan en so half selfs oor hom heen hang. Dit het die kil atmosfeer op dié beraad uitstekend geïllustreer.

Vir die eerste keer in 70 jaar word ons gekonfronteer met ’n nuwe vraag: Wat gebeur as ’n herbore Trump op die toneel verskyn?
Wolfgang Ischinger

Op foto’s in Cornwall is glimlaggende gesigte en selfs hartlikheid te sien.

Nêrens is die verligting oor die nuwe saaklikheid wat die Biden-administrasie uitstraal groter as in Duitsland nie. Wolfgang Ischinger, gewese Duitse ambassadeur in Washington wat deesdae die jaarlikse Münchense Sekerheidsberaad organiseer, het aan ’n Duitse koerant gesê vir sy land was dit vroeër onbelangrik of die persoon in die Withuis ’n Republikein of Demokraat is. “Vir die eerste keer in 70 jaar word ons gekonfronteer met ’n nuwe vraag: Wat gebeur as ’n herbore Trump op die toneel verskyn?”

Biden die beroepspolitikus

Die pas afgelope week bring ook ’n ander nuwe fase. Ná 2018, toe Trump in werklikheid van Amerika se leierskap van die Weste afstand gedoen het, is die leiding teen wil en dank deur bondskanselier Angela Merkel oorgeneem. Dit was sý wat voorkom het dat die verswakte transatlantiese band heeltemal deurgeknip word, en sy het dit op haar gewone rustige, rasionele manier gedoen – selfs Trump kon nie eintlik iets vind om haar oor sleg te sê nie.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, en die Japannese premier, Josjihide Soega, gesels tydens die G7-beraad in Cornwall. Foto: Getty Images

Sy tree in September ná 16 jaar aan die stuur af. Maar deurdat die G7 in Cornwall – al was dit ver van onvoorwaardelik – Amerika se leiding aanvaar het, neem dié land nou weer die posisie in wat hy voor Trump gehad het.

Biden is sekerlik nie perfek vir die rol nie. Dat hy al 78 jaar oud is, help sekerlik nie, maar hy is ver van seniel. Hy is al dekades berug vir die blapse wat hy in die openbaar kan maak.

Maar hy is al byna 50 jaar in die openbare lewe, as senator, visepresident en nou president, en min mense ken die norme en sedes wat in die politiek geld beter as hy.

Hy sal die een geldige punt wat Trump voortdurend gemaak het – dat die res van die breë Westerse bondgenootskap meer aan verdediging moet bestee en die las nie net op Amerikaanse skouers moet laat rus nie – op die twee berade in Brussel herhaal. Soos Trump, sal hy ook op (uit Amerika se oogpunt) billike handelspraktyke aandring. Maar dan diplomaties en sonder beledigings.

Een punt waar Biden nie sy sin volledig kon kry nie, is rakende China, wat besig is met ’n taamlik aggressiewe opmars in die wêreld. Die Europese lande het baie belê in goeie handelsbande met China, en hulle beskou dit as teen hul belang om dié land nou hard aan die bors te gryp.

As iemand wat belangrik van essensieel kan onderskei, het Biden nie hierop aangedring nie.

In Genève sal hy Poetin harder aanpak. Poetin is immers ’n diktator wat daarvan hou om politieke teenstanders wat hy nie uit die weg kan ruim nie, toe te sluit en hul politieke bewegings te verbied. Rusland, net soos China, bly ’n teenstander van Amerika in ideologiese, ekonomiese en magspolitieke opsig.

Lede van die organisasie Extinction Rebellion met maskers op van die gesigte van die G7-leiers betoog in die see by St. Ives gedurende die G7-beraad. Foto: Getty Images

Teen dié agtergrond is dit interessant wat Poetin verlede week in ’n onderhoud met die Amerikaanse NBC oor Trump en Biden te sê gehad het.

Hy het Trump ’n “kleurryke individu” genoem wat nie uit die “Amerikaanse establishment gekom het nie”. Biden, daarenteen, is ’n beroepspolitikus wat “byna sy hele volwasse lewe in die politiek deurgebring het”.

Biden sal voor- en nadele vir Rusland meebring, maar hy verwag nie impulsiewe inisiatiewe van hom nie. Nietemin het hy bygevoeg dat die betrekkinge tussen Amerika en Rusland tans op ’n “dieptepunt” is.

Van sy kant af het Biden verlede week met sy aankoms in Brittanje gesê hy is van plan “om aan Poetin te sê wat hy moet weet”.

Hoe ook al: Afgesien van of dit goed of sleg is, Amerika is terug in sy leiersposisie van die Weste. Die transatlantiese band is herstel.

Wat dit vorentoe gaan beteken, sal ons maar moet sien.

*Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon. Die opinies in hierdie stuk is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Joe Biden  |  Angela Merkel  |  Donald Trump  |  Navo  |  Eu  |  G7-Beraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.