Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
G7: Kan ons hoop op versoening tussen VSA en Iran?

Die pas afgelope jaarlikse spitsberaad van die sewe grootste demokrasieë ter wêreld het weliswaar nie op ’n breekspul uitgeloop nie. Maar dit was ook geen toonbeeld van eensgesindheid nie, skryf Leopold Scholtz.

Pres. Donald Trump van Amerika mik vir ’n soen na die Duitse bondskanselier Angela Merkel tydens die pas afgelope G7-beraad in Biarritz, Frankryk. Foto: Andrew Parsons/Getty

Die G7 bestaan uit Amerika, Duitsland, Frankryk, Japan, Brittanje, Kanada en Italië. Dié informele groep bestaan sedert 1973 met die bedoeling om internasionale koördinasie, veral op ekonomiese gebied, te bevorder.

Tot betreklik onlangs het die vergaderings taamlik saaklik en beleefd verloop, maar die laaste jare het steeds meer diepe barste en klowe sigbaar geword. Inderwaarheid is dit ’n goeie weerspieëling van die toenemend gefragmenteerde aard van die wêreldpolitiek.

Dit het in 2014 begin toe pres. Wladimir Poetin die Krim militêr binnegeval en eenvoudig van sy wettige eienaar, die Oekraïne, afgevat het. Rusland is ná die Koue Oorlog as gebaar van versoening tot die eksklusiewe klub van die grootste demokrasieë toegelaat, waardeur die G7 die G8 geword het.

Toe Wladimir Poetin, die Russiese president, klandestien militêre hulp aan die separatistiese rebelle in die Oos-Oekraïne begin verleen het, het die oorspronklike sewe moondhede van die G8 Rusland uitgeskop. Daardeur het die G8 opnuut die G7 geword.Foto: Foto24

Toe Poetin ook nog klandestien militêre hulp aan die separatistiese rebelle in die Oos-Oekraïne begin verleen, het die oorspronklike sewe moondhede Rusland uitgeskop. Daardeur het die G8 opnuut die G7 geword.

Die Donald Trump-faktor

’n Tweede kloof het vroeg in 2017 ontstaan toe Donald Trump die presidentskap by Barack Obama oorgeneem het. Trump voer meestal ’n barse politieke styl wat baie bondgenote teen die bors stuit, en dit het ook ’n uitwerking op die G7-vergaderings.

Verlede jaar se beraad in Italië het op ’n suur noot geëindig toe Trump ná sy vertrek sy handtekening onder die gebruiklike gesamentlike slotverklaring teruggetrek het. Hy was boos oor uitlatings van die Kanadese premier, Justin Trudeau.

Om ’n herhaling hiervan te voorkom het vanjaar se gasheer, pres. Emmanuel Macron, besluit om geen formele slotverklaring te laat onderteken nie. Pleks daarvan het hy op ’n perskonferensie ná die beraad in die vakansieoord Biarritz sy eie opsomming van die besluite voorgelees.

Voor van links is die Japanse premier Shinzo Abe, die Kanadese premier Justin Trudeau, die Amerikaanse president Donald Trump, die Franse president Emmanuel Macron en die Duitse kanselier Angela Merkel tydens die G7-beraad in Biarritz. Foto: Kyodo News/ Getty

’n Ysige dinee

Vanjaar se beraad het die stand van die internasionale politiek in verskeie opsigte goed opgesom.

Om mee te begin was dit duidelik dat die prestige van die G7 nie meer is wat hy was nie. Rusland se setel het leeg gebly, terwyl ook die nuwe opkomende wêreldmag, China, nie uitgenooi is nie.

Formeel is die G7 vir demokrasieë bedoel, waardeur sowel Rusland as China uitgesluit word. Gesien hul onomwonde politieke en ekonomiese gewig, vra sommige kenners of dit wys is. Immers, die invloed van wat ook al in Moskou en Beijing besluit word, word oor die hele wêreld gevoel.

Macron het gepoog om spanning te voorkom deur Trump onmiddellik ná dié se aankoms in Biarritz vir ’n aparte middagete uit te nooi.

Ten tweede het die Atlantiese kloof tussen Amerika en Europa ook duidelik geblyk, met Brittanje wat ’n soort tussenposisie inneem.

Macron het gepoog om spanning te voorkom deur Trump onmiddellik ná dié se aankoms in Biarritz vir ’n aparte middagete uit te nooi. Blykbaar het dit vriendskaplik verloop.

Maar die atmosfeer het tydens ’n dinee vir al die regeringsleiers ysig geword.

Trump het sterk gepleit vir die hertoelating van Rusland tot die G7, veral wanneer daar oor Sirië, Iran en Noord-Korea gepraat word. Maar daarvan wou die meeste ander – met inbegrip van Brittanje se premier, Boris Johnson – niks weet nie. Hul standpunt was dat Rusland die reëls van die moderne internasionale politiek flagrant met sy inval in die Krim verbreek het, en dat hy nie daarvoor beloon moet word nie.

Die Britse premier Boris Johnson wou niks weet van die hertoelating van Rusland tot die G7 nie. Foto: Dylan Martinez//Getty Images

Die dinee het luidens berigte tot behoorlike spanning gelei, en harde woorde het glo geval. Luidens The Guardian het slegs die Italiaanse premier, Giuseppe Conti, die voorstel gesteun, terwyl premier Shinzo Abe van Japan geen standpunt ingeneem het nie.

Aanstaande jaar is Trump die gasheer, en hy het te kenne gegee hy gaan Poetin wel uitnooi.

Waaroor die sewe wel ooreenstemming bereik het, was die noodsaak om steun ter waarde van verskeie miljoene aan Brasilië te bied. Dié land het te kampe met die ergste brande in die Amasone in baie jare, en aangesien dié woude 20% van die planeet se suurstof verskaf, is dit ’n krisis.

Pres. Jair Bolsonaro, ’n regse populis, het die aanbod egter verwerp omdat hy meen dis ’n bedekte poging om Brasilië se soewereiniteit te beperk. Dis onbekend wat nou hiervan gaan word.

Emmanuel Macron, die Franse president, praat by die perskonferensie aan die einde van die G7-beraad in Biarritz. Foto: David Speier/Getty

’n Gas uit Iran

’n Verrassende wending in die beraad het gekom toe die Iranse minister van buitelandse sake, Mohammad Javad Zarif, opeens in Biarritz opgedaag het. Dit was ’n slim set van Macron om die aartsvyande Iran en Amerika nader aan mekaar te bring.

Dis nie bekend of Zarif enige kontak met Amerikaanse amptenare gehad het nie. Dis wel opvallend dat Trump skielik gesê het hy is bereid om die Iranse staatshoof, pres. Hassan Rouhani, te ontmoet.

Indien Macron se stap tot ’n versoening tussen Amerika en Iran lei, sal dit baie van sy staatsmanskap sê.

Tot voor die Biarritz-beraad was dit eenvoudig ondenkbaar. Bowendien was Trump se retoriek buitengewoon mild: Amerika streef geen regimeverandering in Teheran na nie, het hy gesê.

“Ons wil hê Iran moet afsien van kernwapens. Geen ballistiese missiele nie. En vir ’n langer tyd. Baie eenvoudig. Ons kan dit in ’n kort tydperk bereik.”

Op ’n perskonferensie het Macron verduidelik hoe hy te werk gegaan het: “Ek het as vriend besluit om min. Zarif uit te nooi. Dus het ek . . . pres. Trump ingelig dat dit my idee was. Nie om die Verenigde State te betrek nie, nie om te sê ‘dis namens jou’ nie, maar om as vriende te sê ek dink dit sal ’n goeie idee wees om hom te vra om terug te gaan en iets goeds te onderhandel.”

Indien Macron se stap tot ’n versoening tussen Amerika en Iran lei, sal dit baie van sy staatsmanskap sê. Tot ’n paar dae gelede het die spanning in die Persiese Golf waarnemers laat vrees dat ’n enkele vonk die kruitvat kan laat ontplof.

Blykbaar het Macron Trump reeds op die middagete kort ná laasgenoemde se aankoms oor sy Iran-inisiatief ingelig. Sy voorstel, lui berigte, kom daarop neer dat Amerika Iran toelaat om meer olie uit te voer in ruil vir sy nakoming van die internasionale akkoord dat Iran afsien van kernwapens.

’n Oplossing is nie op hande nie. Rouhani se reaksie was dat Amerika éérs sy sanksies moet ophef en dat hy dán met Trump sal vergader.

Uiteindelik is dit duidelik dat Macron daarin geslaag het om die maksimum voordeel uit die beraad te haal. Dis nie ’n kwessie dat alle verskille en probleme opgelos is nie – verreweg nie – maar die blote feit dat dit nie soos verlede jaar in ’n breekspul geëindig het nie, is al ’n prestasie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Leopold Scholtz  |  Emmanuel Macron  |  G7  |  China  |  Rusland  |  G8
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.