Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
April deurslaggewend vir SA se toekoms

April was nog altyd ’n belangrike maand in Suid-Afrika se geskiedenis, maar vanjaar kan dit selfs deurslaggewend vir die toekoms wees, skryf Theo Venter.

Gaan Ace Magashule en ander ANC-leiers wat van onder meer korrupsie beskuldig word hul poste ontruim? Foto: Gallo Images

Die maand April is nogal in historiese en politieke terme betekenisvol in Suid-Afrika.

Dit is die maand in Suid-Afrika met die meeste vakansiedae waarvan baie vir Christene van groot belang is.

Dié maand het gevolglik elke jaar twee ander invloede ook. Die eerste is padsterftes as gevolg van duisende mense wat na kerksaamtrekke of met vakansie gaan.

Histories vind die meeste verkiesings sedert 1910 in April of in Mei plaas.

Dit beïnvloed ook elke jaar die ekonomiese data as gevolg van die beperkte handelsdae tussen die vakansiedae. Klimaatsgewys het April van die aangenaamste weer in Suid-Afrika, soos herfs in die Suidelike Halfrond die oorgang na winter aandui.

Histories vind die meeste verkiesings sedert 1910 in April of in Mei plaas – soos die eerste demokratiese verkiesing van 27 April 1994.

Vanjaar sal die munisipale verkiesing in die tweede helfte van 2021 plaasvind, net soos dié van 2016, wat in Augustus plaasgevind het en negatief deur reën en gure weer beïnvloed is.

6 April

Histories was 6 April ’n belangrike dag op die politieke kalender voor 1994, maar dit het oor die tydperk van 27 jaar sedertdien vervaag en deesdae is dit meer dikwels deel van debatte oor die historiese invloed van kolonialisme, slawerny en die oorsprong van die institusionalisering van rassisme in Suid-Afrika.

Chris Hani

Plakkate van Chris Hani op ’n ANC-saamtrek kort nadat hy in 1993 vermoor is. Foto: Getty Images

Op 10 April 1993 het die land op die afgrond gesteier met die sluipmoord op Chris Hani, in daardie stadium een van die sterkste leiers in die ANC-alliansie en iemand wat beslis ’n prominente rol sou speel ná 1994.

Daar is geen twyfel dat die sluipmoord deur wyle Clive Derby-Lewis en Janus Waluz (wat steeds in aanhouding is) die gang van politiek in Suid-Afrika verander het nie. Selfs in ANC-geledere is daar steeds mense wat glo dat daar die een of ander sameswering was om Hani uit te skakel as ’n kandidaat in die ANC-leierskapstryd.

Andries Tatane

Boere en eienaars van minibus-taxi’s betoog oor die swak toestand van paaie in Ficksburg. Foto: Mlungisi Louw

Simbolies staan die dood van Andries Tatane voor die Sesoto-munisipaliteitsgebou in Ficksburg op 13 April 2013 vir die mislukking van dienslewering op plattelandse dorpe en die onbenydenswaardige taak van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om wet en orde te probeer handhaaf waar politici misluk.

Sy dood word steeds in Meqheleng herdenk, maar die onlangse protesoptrede van die gemeenskap, taxi-eienaars, sakeleiers en plaaslike boeregemeenskap met betrekking tot die verswakking van paaie in die Ficksburg-omgewing, het op ’n manier reg laat geskied aan die nagedagtenis van sy tragiese dood omdat dit ’n inklusiewe optrede van die gemeenskap was.

27 April 1994

Wyle oudpres. Nelson Mandela stem in Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994. Foto: Gallo Images

Dit is vanjaar 27 jaar sedert die eerste demokratiese verkiesing van 27 tot 29 April 1994 plaasgevind het.

Soos wat ons verder van dié historiese dag wegbeweeg en meer data oor verkiesings beskikbaar word, wil dit tog lyk asof die siening dat die eerste verkiesing al die kenmerke van ’n “ontwerpersverkiesing” het, nie uit die duim gesuig is nie.

Die uitslag het destyds tot ’n regering van nasionale eenheid gelei en die grootste probleem vooraf, die deelname van Mangosuthu Buthelezi se IVP, is gelukkig betyds opgelos.

Dit was die ideale begin vir die sogenaamde demokratiese projek in Suid-Afrika en die land is oor die wêreld heen daarvoor geloof.

Ongelukkig het Suid-Afrika oor die afgelope 27 jaar die voordele wat ons in 1994 gehad het, met eie doele soos swak bestuur, beleidsonsekerheid, gebrek aan aanspreeklikheid en institusionele korrupsie, ongedaan gemaak.

Ramaphosa tree op

Pres. Cyril Ramaphosa het sy standpunt oor korrupsie duidelik gemaak in sy toespraak voor die ANC se nasionale uitvoerende komitee. Foto: Gallo Images

Die toespraak van pres. Cyril Ramaphosa ná die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) op 29 Maart vanjaar het die tafel gedek vir ’n baie interessante April 2021 in Suid-Afrika. Baie van die verwagte gebeure vandeesmaand kan deurslaggewend wees vir die land se toekoms.

Ramaphosa het oor die Covid-19-pandemie en ander uitdagings gepraat en die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sterk ondersteun.

Dit was asof die ANC-leierskap na ’n nuwe rat oorgeskakel het in die optrede teen staatskapers in eie geledere.

Maar die sleutel tot sy toespraak was die opskerp van party-dissipline in die ANC met betrekking tot lede wat van korrupsie beskuldig word wat opsy moet staan, die verbod op die bedryf van faksies vanuit Luthuli-huis, asook verklarings oor beleid wat nie met heersende ANC-beleidsrigtings ooreenstem nie.

Dit was asof die ANC-leierskap na ’n nuwe rat oorgeskakel het in die optrede teen staatskapers in eie geledere.

In die soeke na ’n nuwe rigting het die NUK ’n versoek aan provinsiale strukture van die ANC gerig om op Donderdag (15 April) die name te verskaf van diegene wat opsy moet staan. Ironies genoeg is dié skrywe uitgestuur op ’n brief met die handtekening van die sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Zuma se brief

Gaan die konstitusionele hof oudpres. Jacob Zuma straf vir sy weiering om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te verskyn? Foto: Gallo Images

Oudpres. Jacob Zuma se brief van 23 bladsye wat hy op 28 Maart geskryf het, het vroeg in April uitgelek en dus ook deel geword van die politieke debat gedurende dié maand.

Hy maak daarin geen geheim van die feit dat hy voel die topses van die ANC het hom vir die spreekwoordelike wolwe gegooi en dat hy die slagoffer van politieke intriges en faksiegevegte is nie.

Dié argument was dieselfde as wat Zuma op verskeie ander forums, onder meer die Zondo-kommissie, gehuldig het: dat hy as staatshoof aan geen oortreding skuldig is nie.

Geld vir politieke partye

April het vanjaar begin met ’n baie belangrike nuwe stuk verkiesingswetgewing, die Wet op Partybefondsing. Dit stel ’n nuwe struktuur vir die befondsing van politieke partye daar en verplig partye om bydraes van meer as R100 000 aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie te verklaar.

Die meeste politieke partye sal nou hul befondsingstrategieë heelwat moet verfyn.

Dit is ’n belangrike ontwikkeling in die demokratiese proses omdat dit groter deursigtigheid tot gevolg gaan hê.

Die meeste politieke partye sal nou hul befondsingstrategieë heelwat moet verfyn en hulle sal na ander metodes van befondsing moet kyk. Dit is ook die regte stap om korrupsie te beperk, maar regerende partye sal altyd nuwe kreatiewe maniere inspan om geld in die hande te probeer kry.

John Hlophe

Die Regterlike Dienskommissie het regter John Hlophe aan growwe wangedrag skuldig bevind. Foto: Argief

Die bevinding van die Regterlike Dienskommissie se regterlike tribunaal dat regter John Hlophe skuldig is aan growwe wangedrag wat Sondag (11 April) bekend gemaak is, is net so betekenisvol.

Hlophe is lank oorhoops met die regbank en hierdie bevinding kan tot ’n staat van beskuldiging en sy afdanking lei. Dit moet egter in die politieke konteks van die ondersoek na die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, gesien word.

As die parlement ná ’n ondersoek wel met ’n tweederdemeerderheid bevind dat sy nie vir haar pos geskik is nie, sal die pad na Hlophe se afdanking veel makliker wees. Vroeë aftrede is waarskynlik al manier waarop hy die openbare verhoog waardig kan verlaat.

Zuma se verklaring

Vandag (Woensdag 14 April) is ’n belangrike datum vir Zuma, wat ’n verklaring van nie meer as 15 bladsye nie moet indien waarin hy sê wat hy as ’n gepaste straf van die konstitusionele hof sal beskou weens sy weiering om voor die Zondo-kommissie te verskyn.

Dit is ’n buitengewone situasie en benodig waarskynlik buitengewone optrede.

Die versoek vir die verklaring aan Zuma kan egter ook gesien word as ’n boodskap aan Suid-Afrikaners dat daar voor die einde van April moontlik ferm teen die oud-president opgetree gaan word.

Ramaphosa voor Zondo

Theo Venter Foto: Deaan Vivier

April is ook baie belangrik vir die Zondo-kommissie, want Ramaphosa moet vandeesmaand voor hom verskyn om oor staatskaping te getuig.

Voorlopig is hy geskeduleer om op 19 - 22 April en 24 - 26 April te verskyn. Die een geleentheid sal as leier van die ANC wees en die ander as staatshoof.

Sy optrede sal baie fyn dopgehou word omdat verskeie mense wat reeds voor die kommissie verskyn het – soos Brian Molefe – Ramaphosa by staatskaping impliseer.

Daar sal vrae wees oor wat Ramaphosa geweet het en wat hy in sy amp gedoen het om staatskaping te verhoed.

Die sleutelvrae wat Ramaphosa sal moet antwoord, het te doen met sy amp as adjunkpresident van die ANC, asook adjunkpresident van die land onder Zuma, toe staatskaping op sy ergste was.

Daar sal vrae wees oor wat hy geweet het en wat hy in sy amp gedoen het om staatskaping te verhoed.

Ons behoort dalk in dié proses meer te leer oor die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies, die drie dae wat Des van Rooyen dié pos beklee het en die gevolglike heraanstelling van Pravin Gordan in dié pos.

Ramaphosa se verskyning voor die Zondo-kommissie sal beslis ook internasionale media aandag trek.

Is daar hoop?

Gaan ons teen die einde van vandeesmaand kan sê dat ons ’n draaipunt bereik het met Magashule en nog sowat 30 ander senior ANC-lede wat teen dan dalk opsy sal moet staan totdat sake teen hulle afgehandel is? En sal die konstitusionele hof teen Zuma optree?

Daar is darem goeie nuus ook.

Ons sal ook teen die einde van April weet wanneer die munisipale verkiesing plaasvind en of die Covid-19-pandemie daarvan ook ’n grondwetlike vraagstuk gaan maak.

Daar is darem goeie nuus ook. Entstowwe teen die koronavirus is na Suid-Afrika op pad en dit lyk asof daar ’n omvangryke strategie is om Suid-Afrikaners in te ent teen die virus wat soveel ontwrigting, ekonomiese skade en ellende veroorsaak het.

• Venter is ’n politieke ontleder van Potchefstroom. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.