Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gaan Boris se kop rol?

In Downingstraat 10, ampswoning en kantoor van die Britse premier, Boris Johnson, heers ’n krisisatmosfeer. Twéé skandale het die laaste dae rondom Johnson se kop losgebars. Sal hy dit kan oorleef? vra Leopold Scholtz.

Terwyl ’n storm om sy kop woed, praat die Britse premier, Boris Johnson, gedurende die openingsessie van ’n virtuele klimaatberaad by Downingstraat 10. Foto: Getty Images

Alexander Boris de Pfeffel Johnson, die flambojante en charismatiese Britse premier wat algemeen bloot as “Boris” bekend staan, is werklik nie onbekend met krisisse wat sy politieke kop potensieel kan eis nie. Reeds as joernalis, toe hy The Daily Telegraph se korrespondent by die destydse Europese Ekonomiese Gemeenskap in Brussel was, was hy bekend vir die manier waarop hy allerlei onthullings uit sy duim gesuig het.

Later, toe hy as kabinetsminister die kiesers in die referendum van 2016 probeer oortuig het om die Europese Unie te verlaat, het hy weer leuens met oorgawe rondgestrooi. Maar dit het sy politieke loopbaan geensins geskaad nie.

Hy was die eerste Britse premier wat openlik die slaapkamer met ’n ongetroude vriendin gedeel het – iets wat tot onlangs eenvoudig ondenkbaar sou wees.

Sy onnutsige glimlag, sy deurmekaar bos blonde hare en sy ontwapenende manier van omgaan met ander mense het hom telkens gered. Om die waarheid te sê, in 2019 het hy selfs ’n geslaagde paleisrevolusie teen die houterige premier, Theresa May, gelei en self sy intrek in Downingstraat geneem.

Hy was die eerste Britse premier wat openlik die slaapkamer met ’n ongetroude vriendin gedeel het – iets wat tot onlangs eenvoudig ondenkbaar sou wees. Dit illustreer hoe Boris se sjarme hom ook ongekende politieke ruimte verskaf het.

Tot nou toe.

Of hy die huidige twee storms wat tans tegelýk rondom sy kop woed, sal kan oorleef, moet nog gesien word.

‘Laat die lyke maar ophoop’

Die eerste storm het uit ’n totaal onverwagte hoek gekom – van Dominic Cummings, sy strategiese raadgewer. In ’n skerp bewoorde blog van 1 000 woorde het Cummings onthul dat die opknapping van Johnson se woonkwartiere in Downingstraat veel meer gekos het as die £30 000 wat die reëls toelaat en dat ’n vriend van die premier glo vir die res betaal het. Volgens Cummings het Boris dit probeer toesmeer.

Dominic Cummings buite sy huis in die noorde van Londen nadat hy verlede jaar bedank het as Boris Johnson se strategiese raadgewer. Foto: Getty Images

As dit alles korrek is en as Boris nagelaat het om die skenking vir die opknapping aan die fiskus te verklaar, sou dit ’n wetsoortreding wees waarvoor hy vervolg kan word.

Terloops, Boris woon nie, soos vorige premiers, in die woonstel van Downingstraat 10 nie, maar in dié van nommer 11, eintlik die woning van die minister van finansies, wat blykbaar geriefliker is.

Cummings neem ook die premier kwalik vir die groot toename in die sterftesyfer weens Covid-19. Boris sou glo die afkondiging van inperkingsmaatreëls in die herfs van verlede jaar vertraag het.

Cummings het blykbaar te kenne gegee dat hy met meer onthullings gaan kom.

Boris Johnson en sy verloofde, Carrie Symonds, buite Downingstraat 10 in Londen tydens ’n landwye handeklapsessie vir kapt. sir Tom Moore, wat dood is nadat hy Covid-19 opgedoen het. Foto: Getty Images

Een vraag is waarom hy dit alles doen. Die antwoord is maklik: Boris het hom einde 2020 afgedank nadat hy Boris se verloofde, Carrie Symonds, minagtend “Princess Nut” genoem het. Nou neem hy wraak.

... dat Boris ’n paar maande gelede sou gesê het 'geen verdere f*kken inperkings nie – laat die lyke maar in hul duisende ophoop'.

Daar word ook gegis dat Cummings agter nóg ’n onthulling sit wat die Britse media die laaste dae oorheers.

Die Londense oggendblad Daily Mail het Maandagoggend met die brisante mededeling gekom dat Boris ’n paar maande gelede sou gesê het “geen verdere f*kken inperkings nie – laat die lyke maar in hul duisende ophoop”. Hy sou bygevoeg het dat hy liewer sou “laat waai” as om ’n verdere inperking af te kondig, iets wat hy bowendien weens die skade aan die ekonomie as “mal” bestempel het.

Volgens The Times was hy woedend en het hy dit só hard in sy kantoor geskreeu dat mense dit in die buitekantoor kon hoor.

Die burgemeester in Jaws

Boris het dit onmiddellik met klem ontken as “net nóg ’n leuen”. Maar sowel die Daily Mirror as The Guardian het saam met die BBC en ITV verskeie – weliswaar anonieme – getuies aangehaal wat dit bevestig het.

Dominic Cummings verlaat Downingstraat 10 met ’n kartondoos, vermoedelik nadat hy bedank het as die premier se strategiese raadgewer. Cummings het onlangs onthul dat die opknapping van Boris Johnson se woonkwartiere in Downingstraat veel meer gekos het as die £30 000 wat die reëls toelaat en dat ’n vriend van die premier glo vir die res betaal het. Foto: Getty Images

Die oorspronklike onthulling klop met wat Cummings in sý blog geskryf het – wat die argwaan laat ontstaan dat hy ook vir die uitlek van dié Boris-uitbarsting verantwoordelik is.

Cummings moet juis op 27 Mei voor ’n komitee van die laerhuis oor die regering se hantering van die pandemie getuig. Baie Tories hou hul hart vas vir wat hy alles kan kwytraak.

Wat ook al die geval mag wees, dis duidelik dat Boris – en daarmee saam die hele regerende Konserwatiewe Party – behoorlik hierdeur beskadig word. Nog voordat die onthullings werklik by die kiesers kon insink, is in ’n nuwe peiling (tussen 16 en 22 April uitgevoer) bevind dat die steun vir die Tories van 45% in Maart tot 40% in April gedaal het.

Lord Barwell, gewese stafhoof van die premierskantoor, het aan The Independent gesê die onthullings kan tot ’n “kantelpunt” in die peilings lei.

“En ek skat sommige in Nommer Tien sal bang wees vir wat nog kan kom.”

Blykbaar, as ’n mens verskeie koerantontledings kan glo, raak Boris al hoe meer geïsoleer.

Volgens 'The Times' vergelyk hy homself met die burgemeester in die fliek 'Jaws' wat die strande, ondanks die gevaar van haai-aanvalle, oop gehou het.

Soos ’n senior Tory aan The Guardian gesê het: “Dit is die tye waar dit saak maak om mense te hê wat ‘nee’ kan sê. Hy word tans omring deur mense wat hy nie spesifiek ken of vertrou nie.”

Intussen dui talle berigte daarop dat Boris homself steeds as die held van die verhaal beskou. Volgens The Times vergelyk hy homself met die burgemeester in die fliek Jaws wat die strande, ondanks die gevaar van haai-aanvalle, oop gehou het. Dié burgemeester, het Boris glo gesê, is “die regte held” van die fliek.

Sal hy oorleef?

Wat nou van die toekoms? Daniel Finkelstein, een van die mees gerespekteerde Britse politieke ontleders, skryf in The Times die beweringe oor die finansiering van Boris se woonstel is die een saak – meer selfs as die beweerde Covid-uitbarsting – wat sy politieke einde kan meebring.

’n Anti-Tory-plakkaat deur die kunstenaar 'Bod' by ’n bushalte in Weymouth in Brittanje. Foto: Getty Images

Finkelstein glo as ’n premier met ’n reputasie vir stewigheid en waaragtigheid só iets doen, kan hy dit nog oorleef.

“Boris Johnson het nie daardie skans nie.”

Tog, Boris het al heelparty kwaai storms oorleef, storms wat enige normale mens sou laat sink het – en hy dryf stééds. Dit kan wees dat sy seunsagtige glimlag en sy charisma genoeg is om die wa opnuut deur die drif te sleep.

Maar moenie verbaas wees as Boris een van die dae só ernstig struikel en val dat hy nie weer orent kan kom nie.

Dis terselfdertyd egter ook waar dat hy – soos dit maar dikwels met magtige mense gaan – aan selfoorskatting begin ly, ’n oortuiging dat hy áltyd, ongeag die omstandighede, sal oorleef. Bloot omdat hy hý is en dus beter as alle ander mense.

’n Mens sal maar moet sien wat hiervan word. Maar moenie verbaas wees as Boris een van die dae só ernstig struikel en val dat hy nie weer orent kan kom nie.

Soos dit maar in die politiek gaan, sal hy dan om hom heen kyk – en vind dat sy “vriende” skoonveld is. C’est la vie politique.

*Dr. Scholtz is ’n onafhanklike ontleder wat in Nederland woon. Die menings in hierdie artikel is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Dominic Cummings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.