Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gaan nuwe koalisieregering in Israel oorleef?

’n Hoofstuk van 12 jaar in die moderne politieke geskiedenis van Israel is Sondag afgesluit toe ’n nuwe koalisieregering onder leiding van Naftali Bennett die regering van Benjamin Netanyahu oorgeneem het. Hoe lyk Israel se toekoms nou? vra Leopold Scholtz.

Derduisende Israeli’s vier fees by Rabin Plein in Tel Aviv nadat die bewind van Binyamin Netanyahu tot ’n einde gekom het.. Foto: Getty Images

Die kristalbal waarin ek vir die doelwit van dié artikel moet kyk, is vol digte mis wat enige poging om die toekoms te verken in die wiele ry. Twee belangrike vrae wat saamhang, moet beantwoord word.

Een: Kan die koalisie oorleef? En twee: Hoe lank?

Mense vier fees op Rabin Plein in Tel Aviv, Israel, nadat ’n nuwe koalisieregering onder leiding van Naftali Bennett die regering van Binyamin Netanyahu oorgeneem het. Die nuwe regering, met sy flenterdun meerderheid, het die twaalf jaar lange bewind van Netanyahu tot ’n einde gebring. Foto: Getty Images

Verskeie koalisies het Israel die afgelope 12 jaar geregeer. Sommige was ’n mengsel van ses regsgesinde en ander ortodoks-religieuse partye, waarvan die vorige premier, Benjamin Netanyahu, se eie Likud die sterkste was. Nietemin het hul konserwatisme en regsgesindheid die verskille wat daar wel was, oorskadu, en Netanyahu kon die koalisie, sy dit soms met moeite, bymekaar hou.

Die laaste vier jaar het Netanyahu met oudgenl. Benny Gantz se Blou-en-Wit-alliansie geregeer. Ook hulle kon hul verskille meestal oorbrug.

Die koalisie wat nou oorgeneem het, bestaan uit ’n volle agt partye. Dis ’n sameflansing van uiters regs tot uiters links.

Aan die een kant van die spektrum is die nuwe premier, Naftali Bennett, wie se Yamina-party uiters regs is, selfs nog meer regs as die uitgaande regse premier Netanyahu. Dit loop oor Yesh Atid van Yair Lapid in die sentrum tot by die Islamities-fundamentalistiese Raäm van Mansour Abbas.

Verskeie sake maak dié koalisie interessant.

As ’n mens dus slegs na die getalle kyk, kan jy jou geen onstabieler koalisie voorstel nie.

Om mee te begin was die goedkeuring van die Knesset, die parlement, Sondag met ’n flenterdun meerderheid – 60 stemme teenoor 59. Daarby kon die meerderheid slegs bereik word deurdat een parlementslid (soos vooraf met hom ooreengekom is) buite stemming gebly het.

As ’n mens dus slegs na die getalle kyk, kan jy jou geen onstabieler koalisie voorstel nie. Maar, soos hierbo al geblyk het, dis ook in ’n ideologiese opsig die geval.

Tussen die duiwel en die diep blou see

Die Islamitiese Raäm beset net vier van die 120 setels in die Knesset. Maar dít is wel die party wat die koalisie tot ’n val kan bring as hy wil.

Die politieke logika gebied ’n mens om te sê dat Raäm sy eie vel duur verkoop het. Hy word nou al uit Palestynse kringe as “verraaier” en “uitverkoper” uitgekryt.

Die party sal dus gedwíng word om beter lewensomstandighede vir die Palestyne te beding. As hy ná ’n billike tyd in die koalisie niks het om vir sy mense te wys nie, sou dit in sy belang wees om die prop uit die bad te trek – en dít is nie in die koalisie as sodanig se belang nie.

Die nuwe premier Naftali Bennet sing en speel kitaar tydens ’n regse saamtrek in Tel Aviv in Maart 2015. Foto: NurPhoto via Getty Images

Maar as die regering te veel vir die Palestyne doen, sal die regse kiesers op wie se steun byvoorbeeld Bennett se Yamina berus, moontlik in opstand kom. Die regering as sodanig sit dus regtig tussen die duiwel en die diep blou see.

Trouens, daar is prakties net ’n enkele saak wat die koalisie bymekaar hou. Dit is hul gesamentlike afkeer van Netanyahu, wat deur almal as diktatoriaal en arrogant ervaar word.

Hoe lank dié gemeenskaplike afkeer sterker gaan wees as hul natuurlike afkeer van mekaar, kan nie nou voorspel word nie. Dit kan verbasend lank duur; of dit kan al by wyse van spreke al aanstaande week uitmekaar spat.

Om die kans daarvoor te verklein het die koalisiegenote in beginsel ooreengekom om nie afsprake oor kontensieuse sake te maak wat hulle verdeel nie. Altans, nie openlik en op papier nie: Die regeringsverklaring wat Bennett Sondag in die Knesset voorgelees het, het uitgeblink in galmende retoriek oor ’n nuwe begin en vaagheid.

Die Palestynse vraagstuk

Intussen het Israel wel met ’n aantal objektiewe vraagstukke te make wat énige regering op sy ontbytbord kry en wat om oplossings skreeu. Die allergrootste is natuurlik die Palestynse vraagstuk.

Toe die Israeliese weermag die Wesoewer van die Jordaan en die Gasastrook in 1967 verower het, het hy geografiese en strategiese diepte gekry. Maar, soos die Basothokoning Mosjesj vir die Vrystaatse pres. Jan Brand laat weet het toe dié die “verowerde gebied” in die Oos-Vrystaat beset het – “jy het ’n stuk van my karos afgesny; nou moet jy ook die luise daarop aanvaar”.

Dit omdat Mosjesj nie die inwoners van die gebied in sy verkleinde koninkryk wou toelaat nie.

’n Palestynse boer inspekteer ’n beskadigde landery in die nadraai van die onlangse lugaanvalle deur Israel tydens die 11-daagse oorlog tussen die Hamas-bewind in Gaza en Israel. Foto: NurPhoto via Getty Images

Die verowering van die Wesoewer en die Gasastrook het Israel met ’n yslike probleem opgesaal – die Palestynse inwoners. Dié in die Gasastrook het mettertyd selfbestuur gekry, en subiet die fundamentalistiese Hamas-beweging daar in beheer geplaas, wat Israel sedertdien slegs hoofbrekens besorg het.

En niemand weet wat om met die Palestyne op die Wesoewer te doen nie. Die beleid wat Netanyahu gedoog het, was ’n sluipende vestiging van steeds meer Joodse nedersettings daar, maar dit los nie die probleem op van die mense se lot nie.

Iets wat hiermee saamhang, is die kwessie van die Palestyne wat in 1948 agtergebly het toe die staat Israel uitgeroep is. Hulle vorm nou sowat ’n vyfde van die Israeliese burgers, en daar is voortdurende wrywing.

Dit is húlle wat die kiesers vir Raäm verskaf en wat nou regstreekse seggenskap in die sentrale regering kry.

Navorsers van die Georg Eckert-Instituut het in ’n ondersoek van huidige skoolboeke uit die outonome Palestynse gebiede ernstige gevalle van antisemitisme en die verheerliking van geweld ontdek.

Die probleem is groter as wat op die oppervlak blyk. Die Duitse dagblad Die Welt berig vandeesweek oor ’n studie wat die Europese Unie se regering oor skoolboeke in Palestynse skole laat doen het.

Die koerant som die bevindings in ’n enkele paragraaf só op:

“ ’n Demonisering van Jode, positiewe beskrywings van oorlog en ’n beweerde ‘heldhaftige stryd’ en kaarte waarop Israel nie verskyn nie: Navorsers van die Georg Eckert-Instituut het in ’n ondersoek van huidige skoolboeke uit die outonome Palestynse gebiede ernstige gevalle van antisemitisme en die verheerliking van geweld ontdek.”

Die nuwe premier Naftali Bennett, leier van die Yamina party, kom in Maart vanjaar by ’n stemlokaal aan gedurende die wetgewende verkiesings in Raanana op 23 Maart Foto: Getty Images

Dit beteken dat die probleem verreweg nie opgelos is nie. Sterker nog: Dit word steeds erger.

Dít is die situasie wat die regering van Naftali Bennett by sy aantrede aantref. En die probleme word nie weggeneem deur die feit dat Netanyahu se ondersteuners in die Knesset dit deur ’n geskreeu en rumoer onmoontlik vir Bennett probeer maak het om te praat nie.

Ek kyk weer in my kristalbal, en die mis trek effens weg. Wat ek sien, is ’n regering wat nie verskriklik lank kan hou nie. Maar daaragter trek die mis juis digter.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland bly. Die opinies hier is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Palestina  |  Koalisieregering  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.