Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gaan ons oukei wees in SA?

Waaroor wonder Suid-Afrikaners wat die politiek betref? Jan-Jan Joubertdeel die vyf vrae wat hy meeste hoor wanneer hy met mense praat oor sy boek, Wie gaan in 2019 regeer?.

Om deur die land te reis met die bekendstellings van ’n nuwe politieke boek, is om blootgestel te word aan die politieke polsslag van die land. Hier is, in my ervaring, die vyf dinge in die politiek waaroor Suid-Afrikaners tans die meeste wonder:

1. Gaan pres. Cyril Ramaphosa ’n suksesvolle leier wees?

Daar is geen twyfel dat die politiek bewuste deel van die landsbevolking ’n sug van verligting geslaak het toe Ramaphosa in Februarie oudpres. Jacob Zuma vervang het nie. Sedertdien het hy al ’n paar suksesse op sy kerfstok, waaronder die vervanging van Eskom se bestuur en sommige klaarblyklik korrupte Zuma-ministers. Maar hy het ook sommiges van hulle behou.

Terwyl daar dus geen twyfel is dat hy ’n verbetering is nie, is hy ook ’n teleurstelling. Die grootste kommer is dat hy sy politieke siel verkoop het – dat hy ’n Faustiaanse pakt met sy adjunk, die bedenklike David Mabuza, aangegaan het.

Terwyl hy dus reeds met ’n paar vere in sy hoed spog en die ekonomie, belangrik genoeg, tans beslis beter vertoon as wat dit onder Zuma die geval sou wees, sal ’n mens moet kyk of Ramaphosa se politieke huis op stewige fondasies rus. Persoonlik dink ek Mabuza verseker dat daardie politieke huis op sand gebou is, maar dalk raak Rama­phosa ná volgende jaar se verkiesing van hom ontslae.

2. Wat presies het Patricia de Lille verkeerd gedoen?

Daar is beslis landwyd, veral onder bruin en wit Afrikaanssprendes, ’n irritasie met die De Lille-ontwikkelinge te bespeur, asook ’n vae gevoel dat sy geteiken word; dat alles nie pluis is nie.

Dit is ook ’n irritasie met die DA, wat hulle ophou met raadsaal-politiek en persoonlike struwelinge terwyl politieke geleenthede om die belange van hul kiesers te verteenwoordig by hul verbygaan. Soos een persoon dit gestel het: “Ek weet van niemand wat soveel moeite doen om verkies te word, net om musical chairs te speel nie.”

Terwyl Patricia beslis nie sonder sonde is nie (wie van ons is), het die DA nou al soveel keer hul deuntjie verander (aanbouings aan haar huis, brandblussers, snelbusdienste, SMS’e – die lys gaan voort) dat ál ding wat duidelik is, is dat die DA van haar ontslae wil raak.

Dit lyk vir baie mense soos ’n onaantreklike magstryd tussen politici. Dit is die een ding wat kiesers meer as enigiets anders afsit en ’n mens sien kan dit sien uit die DA se agteruitboerdery in Wes-Kaapse tussenverkiesings.

Die invloed van die hele gemors op verkiesingsuitslae blyk kleiner te wees hoe verder ’n mens geografies van Kaapstad wegbeweeg.

Terwyl Malema voortgaan met sy verdelende rassestellings sal hy die held van raserige swart rassiste bly, maar hy sal sukkel om sy ondersteunersbasis uit te brei.

3. Hoe gevaarlik is die EFF?

Daar is groot kommer onder lede van alle minderheidsgroepe te bespeur oor die EFF, en spesifiek die party se leier, Julius Malema – ’n tipe hedendaagse “Rooi Gevaar”.

Die rasgedrewe dreigemente en beledigings wat hy minderheidsrasse (veral wit mense en Indiërs) toesnou, maak lede van minderheidsgroepe (insluitend bruin mense) bang oor die toekoms.

Die antwoord op hierdie kwelling is dat Malema se ras-stellings inderdaad verwerplik is. Dat die meeste Suid-Afrikaners so dink, kan ’n mens sien in die patetiese vertoning van die EFF in tussenverkiesings sedert verlede jaar. In Suid-Afrika is rassisme altyd die skuilplek van die swakkeling.

Terwyl Malema voortgaan met sy verdelende rassestellings sal hy die held van raserige swart rassiste bly, maar hy sal sukkel om sy ondersteunersbasis uit te brei.

Die opvolgvraag uit die gehoor is dan altyd of daar ’n EFF is sonder Malema, en die antwoord is ja. Malema moes hom al dikwels skik na die wens van die ander lede van sy party se topleierskap, wat nie so hatig op die ligter rasse is nie. ’n Voorbeeld hiervan is dat die EFF steeds landwyd getrou met opposisiepartye saamwerk in stadsrade, en daardie opposisiepartye – insluitend die DA – aan bewind hou – tot voordeel van dienslewering.

Hopelik kry die gematigde deel van die EFF in landsbelang die oorhand. Dit lyk in elk geval tans onwaarskynlik dat die rooies sal groei voor dit gebeur.

4. Hoe lyk dinge met die debat oor grond?

Die debat oor grond is ongetwyfeld die oorheersende debat van ons tyd. Dit gaan natuurlik oor meer as grond. Dit gaan oor die hele konsep van eiendom, en as sodanig raak dit ons almal.

Die goeie nuus vir enigeen wat, soos ek, dink onteiening sonder vergoeding is ’n slegte idee, is dat die prognose tans baie beter lyk as vier maande gelede toe die aangepaste EFF-mosie oor die onderwerp in die Nasionale Vergadering aanvaar is.

Die ANC, en spesifiek Rama­phosa, het sy retoriek daaroor ingetoom en skuifel stadigaan terug vanaf die oorspronklike aggressie. Die openbare vergaderings is nou aan die gang.

Die formele parlementêre proses sal daarna begin. Alles sal regkom as elkeen sy plig doen, soos die destydse pres. Jan Brand van die Vrystaat graag gesê het.

Jan-Jan Joubert se boek Wie gaan in 2019 regeer? Dit word deur Jonathan Ball Uitgewers uitgegee en kos R245.

5. Gaan Suid-Afrika oukei wees?

Dit is eintlik maar die vraag onderliggend aan al die ander vrae. En dit is onmoontlik om presies te beantwoord, want niemand kan die toekoms voorspel nie. Genl. Jan Smuts het dikwels gesê in Suid-Afrika gebeur die beste en die slegste nooit.

Hy was tot dusver reg – die land beur altyd betyds weg van die afgrond. Nadat ek baie daaroor nagedink het, is my antwoord dat ons oukei sal wees – om dieselfde rede dat ons tot dusver oukei was – dat die meeste Suid-Afrikaners eerstens wil hê die land moet werk. Daardie lotsgebondenheid, gebore uit liefde vir die land ondanks ons verskille, was nog altyd Suid-Afrika se redding en sal dit hopelik in die toekoms bly.

Meer oor:  Verkiesing  |  Jan-Jan Joubert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.