Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gaan SA onverbonde bly of kant kies?

Wat gaan Suid-Afrika doen in ’n era waarin globalisering skynbaar sterk teenstand kry? vra Andries Bezuidenhout.

Leiers van die Brics-lande by verlede week se beraad in Johannesburg. Van links is pres. Xi Jinping van China, premier Narendra Modi van Indië, press. Cyril Ramaphosa van Suid-Afrika, Michel Temer van Brasilië, en Wladimir Poetin van Rusland. Foto: Reuters

“Daar is sterk teenkanting teen globalisering en daar waai ’n sterk wind van voor,” het pres. Cyril Ramaphosa verlede week by die Brics-beraad gesê.

Wat beteken dié nuwe winde van verandering vir Suid-Afrika?

Deur die geskiedenis heen was daar nog altyd tye van openheid, maar ook tye wanneer lande eerder na binne keer.

In die vroeë negentigs, toe almal die woord “globalisering” begin gebruik het, was daar ’n aantal skeptici wat bevraagteken het hoe nuut die hele idee van globalisering is.

’n Groep sosioloë wat hulself met die opkoms en verval van wêreldstelsels bemoei het, was heel krities oor die gebruik van die term. Histories gesproke was daar ’n hele aantal tydvakke toe handel selfs meer intensief en met minder staatsregulering kon plaasvind, het hulle aangevoer.

Dis eers die oliekrisis van 1973 en gevolglike inflasie wat gemaak het dat lande weer begin het om invoertariewe in te perk. Dit sal weer tot ’n einde kom, het sommige voorspel.

Hulle het ook gewys hoe daardie historiese prosesse van globalisering telkens tot ’n einde gekom het, soos byvoorbeeld ’n hele aantal wêreldryke wat in duie gestort het, asook die tydperk ná die Eerste Wêreldoorlog.

Trouens, dis eers die oliekrisis van 1973 en gevolglike inflasie wat gemaak het dat lande weer begin het om invoertariewe in te perk. Dit sal weer tot ’n einde kom, het sommige voorspel.

Maar gaan globalisering net oor ’n toename in handel tussen lande?

Voorstanders van die term het daarop gewys dat die soort globalisering wat ons sedert die negentigs beleef het, kwalitatief verskillend as die verlede s’n is.

Hierdie fase het nie net oor handel gegaan nie, maar ook oor die ongelooflike vooruitgang wat op die gebied van tegnologie gemaak is, veral op die terrein van inligtings- en kommunikasietegnologie.

Pres. Cyril Ramaphosa het by die Brics-beraad beweer dat lande nie die uitdagings van tegnologiese vooruitgang in isolasie kan baasraak nie. Foto: Deaan Vivier

Die sosioloog Manuel Castells het getoon hoe handels- en finansiële stelsels die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom deur middel van die internet verbind is. Dit het beteken dat ’n transaksie wat in een deel van die wêreld plaasvind ’n onmiddellike reaksie aan die ander kant van die aardbol kan veroorsaak.

Castells het hierdie soort tydsbegrip “tydlose tyd” genoem.

Hy het die nuwe soort samelewing wat aan die ontstaan was die “netwerksamelewing” genoem. Hierdie samelewing se ekonomie word deur die beskikbaarheid van inligting aangedryf, eerder as onverwerkte materiaal of vervaardigde produkte.

In weerwil van hierdie nuwe, vinnige wêreld, waarin toegang tot inligting en die spoed waarteen besluite geneem word so belangrik word, sou mense onveilig voel.

Natuurlik is myne en fabrieke steeds belangrik, het Castells beweer, maar myne en fabrieke wat vinnig inligting kan bekom en op grond daarvan besluite kan neem, sal meer suksesvol wees as die ordelike, burokratiese soort organisasies van weleer.

Netwerke is vinniger en meer doeltreffend – dit kan data verwerk en vinnige besluite neem.

Castells het egter ook ’n teenreaksie voorspel. In weerwil van hierdie nuwe, vinnige wêreld, waarin toegang tot inligting en die spoed waarteen besluite geneem word so belangrik word, sou mense onveilig voel.

Castells het voorspel dat identiteitsbewegings, gesetel in godsdiens en etnisiteit, weerstand teen die netwerksamelewing sou bied.

Keer mense globalisering die rug toe?

Die konteks vir Ramaphosa se opmerkings oor globalisering is natuurlik die handelsoorlog wat pres. Donald Trump van die VSA van stapel gestuur het, asook Brexit en weerstand in Italië se nuwe koalisieregering teen die Europese Unie.

Orals, so blyk dit, is mense besig om terug te keer na die veiligheid van die grense van die nasiestaat en om wat mense deesdae multilateralisme noem die rug toe te keer, oftewel ’n wêreld waarin die verhoudings tussen lande deur ’n aantal globale ooreenkomste gereguleer word.

Pres. Wladimir Poetin van Rusland by verlede week se Brics-beraad in Johannesburg. Foto: Getty Images

Op die gebied van handel is die Wêreldhandelsorganisasie die uitkoms van sulke ooreenkomste. Die doel van hierdie organisasie is om handelsoorloë te voorkom deur middel van ’n raamwerk van aanvaarbare invoertariewe, asook meganismes om konflik oor handel te besleg.

Op die Brics-beraad het die leiers van die lande almal ten gunste van ’n multilaterale wêreld gepraat, as’t ware kant gekies vir globalisering.

Ramaphosa het ook die punt oor tegnologie gemaak. Hy het na die sogenaamde Vierde Nywerheidsrevolusie verwys en beweer dat lande nie die uitdagings van tegnologiese vooruitgang in isolasie sou kon baasraak nie.

Of ’n mens nou skepties oor die Brics-groepering is of nie, veral oor of Suid-Afrika ’n volwaardige vennoot is al dan nie, blyk dit asof die blok ten gunste van multilaterale instellings is.

Dat Rusland en China deel van Brics is, plaas die organisasie as ’n soort teenwig vir die historiese oorheersing van Westerse lande.

Band tussen VSA en Europa onder druk

Dis dáárdie oorheersing van die Weste – van my kollegas sal dit “Westerse hegemonie” noem – wat skynbaar aan die verbrokkel is.

Die historiese band tussen die VSA en Europa is onder aansienlike druk, veral weens Trump se kritiek teen Navo, asook die wyse waarop hy met Europese leiers omgaan.

Dan is daar Brexit en anti-Europese sentimente in byvoorbeeld Hongarye en Italië, wat die Europese Unie as politieke en handelsblok aansienlik verswak.

Angela Merkel, kanselier van Duitsland, saam met pres. Donald Trump van die VSA. Foto: Reuters

Ek geniet dit op die oomblik om die Duitse media dop te hou.

Twee opmerkings hieroor: Eerstens is van die Duitse joernaliste heel pragmaties oor Trump. Hy gaan nie vir altyd daar wees nie, so een strategie om op sy aanvalle teen Duitsland en Europa te reageer sou ’n soort beperking van skade (of “containment”) wees.

Hierdie strategie sou behels dat Europese leiers eerder bande met simpatieke belangegroepe in die VSA bou en daardeur die presidensie isoleer, tot tyd en wyl ’n meer “rasionele” president verkies word.

Anders gestel: Beperk Trump se skade en wag.

Tweedens blyk dit dat Angela Merkel ’n meer aktiewe benadering as bloot skadebeperking volg. Duitsland het reeds by Japan aangelê en ’n nuwe handelsooreenkoms word nou tussen Japan en die Europese Unie gesluit.

Duitsland wil sy komende voorsitterskap van die Verengde Nasies se Veiligheidsraad gebruik om die instansie te probeer hervorm.

Merkel is verder besig om met ander lande wat ten gunste van ’n multilaterale wêreld is te kommunikeer oor hoe om hierdie instellings te versterk.

Duitsland wil sy komende voorsitterskap van die Verengde Nasies se Veiligheidsraad gebruik om die instansie te probeer hervorm.

In die Duitse media word bespiegel oor wie vennote teen isolasionisme en vir multilateralisme sou wees. In Asië het Merkel reeds met Japan gesels, maar daar is ook pogings om Suid-Korea te betrek.

In die Amerikas praat Duitsland met die VSA se twee bure, naamlik Meksiko en Kanada.

Laastens word daar gepraat oor moontlike vennote in Afrika en Suid-Afrika word as die vernaamste vennoot genoem.

Wie se kant gaan Suid-Afrika kies?

Waar laat hierdie gebeure Suid-Afrika as rolspeler in internasionale verhoudinge?

Histories gesproke was daar die nie-geallieerde posisie wat die meeste Afrikalande tydens die Koue Oorlog tussen die Weste en die Ooste ingeneem het.

Met die koms van die sogenaamde Tweede Koue Oorlog, ná die gebeure in die Oekraïne, het daardie spanning weer na vore getree, veral in die konteks van Europa en die Baltiese lande se vrees vir Russiese imperialisme.

Met die VSA se kritiek op Navo en aanvalle op Europa, blyk dit asof hierdie Oos-Wes-konflik selfs nog meer kompleks word.

Pres. Donald Trump van die VSA het die wêreld omgekrap met die handelsoorlog wat hy ontketen het. Foto: AP

Trump is waarskynlik besig om die twee kante teen mekaar af te speel in ’n oënskynlike poging om ’n beter uitkoms vir die VSA te onderhandel.

Hoewel ’n junior vennoot in Brics, plaas Suid-Afrika se lidmaatskap van hierdie groepering ons aan die kant van Europa se historiese vyande.

Aan die ander kant word daar steeds oor Suid-Afrika bespiegel as vennoot vir ’n multilaterale wêreldbestel.

Die verkiesing van Ramaphosa tot Suid-Afrika se president het die speelveld aansienlik verander. Ramaphosa word as pragmatiese modernis beskou – iemand wat verstaan hoe die (wettige) sakewêreld werk.

Ek sal ook verbaas wees as Suid-Afrika onder Ramaphosa weer die soort debakels beleef soos met die besoek van Omar al-Basjir tydens die Zuma-bewind.

Ekonomies gesproke is ons egter nou in ’n veel slegter posisie as tien jaar gelede, deels weens die hoë vlakke van staatsondernemingskuld.

Of Suid-Afrika ’n soort nie-geallieerde posisie inneem, of dalk eerder na Rusland en China toe oorhel, gaan een van die interessante kwessies in die komende jare wees.

* Andries Bezuidenhout is ’n professor in ontwikkelingstudie aan die Universiteit van Fort Hare.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.