Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Gay-besluit verneder dié wat dit beliggaam
Foto: iStock

In die hitte van die stryd is dit soms moeilik om te sien wat die kernkwessie van ’n saak is.

Die waagmoedige en profetiese besluit van die algemene sinode oor selfdegeslagverbintenisse en die bevestiging van gay predikante, die teenkanting teen dié besluit, die daaropvolgende appèlle en die reëling van die algemene sinode om die besluit eers twee jaar lank tersyde te stel, het ’n storm van menings en emosies ontketen.

Die landskap het in die laaste paar weke ’n paar keer so vinnig verander soos ’n woestynwêreld wat oornag nuwe kontoere kry.

Die felheid van die emosies wat die besluit en die opskorting daarvan ontlok het, spreek van hoe diep dit mense raak. Seksualiteit en die uitlewing van verbondenheid staan nie op die buitewyke van ons menswees nie. Dit is ’n integrale deel van ons kernidentiteit.

In ons oorwegend heteroseksuele samelewing word daar primêr gedink aan seksualiteit as iets wat tuis hoort tussen mans en vroue en dat daardie uitlewing natuurlik, gesond en heilig is. Dit word ’n veilige sekerheid wat, soos die huweliksformulier dit verwoord, die hoeksteen word van ’n sogenaamde ­“gesonde samelewing”.

In die geloofstradisie word hierdie dominante siening verder versterk deur dit ook in die Bybel te begrond.

Die sekerheid van hierdie konstruksie en die veiligheid wat dit vir baie mense bied, is in die afgelope weke ’n bietjie uitgedaag en het sommige dalk die eerste keer effens onstabiel laat voel. Die norm is uitgedaag deur gelowige gay mense wat die “saak” beliggaam het en wat meen dat hulle nie hul seksualiteit beskou as ’n sonde of siekte nie, maar eerder as ’n lewegewende gawe van God – en dat hulle soos talle heteroseksuele mense in hul intieme ervarings iets van die beliggaming van God beleef.

Die besluit van die algemene sinode het vir die eerste keer in die geloofsgemeenskap ruimte gemaak vir hulle wat nie tot die norm behoort nie. Vir die eerste keer is die menswaardigheid van gay mense bevestig, is gay-verbintenisse erken as die eenvoudige uitlewing van liefde, die begeerte na ’n gedeelde lewe, en is gay gesinne en die ouers van gay mense verwelkom in die gemeenskap van gelowiges.

Vir hulle wat op die rand gestaan het van die kerk was dit ’n blye oomblik van herstel, so nuut en oorweldigend dat dit byna ongelooflik was. Vir hulle wat dit egter nog nooit buite die veilige sekerheid van ’n heteroseksuele “normaliteit” gewaag het nie, nog nooit oor die saak nagedink het nie en nog nooit kontak met gay mense gehad het nie (behalwe natuurlik in die vorm van onuitgedaagde stereotipes) was die besluit ’n ondenkbare onmoontlikheid.

Daarom is die geweldige teenkanting en die druk vanuit konserwatiewe kringe nie verbasend nie.

Sommige meen dalk dat die tersydestelling vir die kerk en geloofsleiers nou tyd koop om rustig die volgende twee jaar lank in gesprekke betrokke te raak en om sonder druk die saak langsamerhand uit te pluis op individuele, gemeentelike en ringvlak.

Die besluit is uitgestel, die hitte is afgedraai en dinge kan weer vir ’n rukkie terugkeer na ­“normaal”.

Vir sommige kan dit wel na ’n uitweg klink – ’n welkome verligting in ’n fel woordestryd.

Vir ons vir wie hierdie egter nie net ’n “saak” is nie, nie net nog ’n punt op die agenda nie, maar eerder ’n deurleefde werklikheid – vir ons wat hierdie “lastige situasie” in die kerk beliggaam – is die huidige toestand onuithoudbaar.

Deur te sê die besluit is geneem en staan, maar die toepassing is uitgestel vir twee jaar (onderhewig aan ’n aantal appèlle) is niks beter as om te sê jy kan maar gay wees, maar jy mag nie in ’n liefdevolle verbintenis met iemand tree nie.

Vroeg in Oktober het die kerk die volledige menswaardigheid van gay mense erken en die eerste tree gegee na die viering daarvan binne die geloofsgemeenskap, maar ’n maand later is daardie vryheid weer opgeskort en staan hulle wat dit gewaag het om weer ’n kans te waag binne die kerk ná jare van vervreemding, weer verneder.

Hoe gee ons aan mense vryheid in God se naam, net om ’n maand later die vryheid te ontneem van al sy krag?

So ’n ding sal ons nie eens met die geringstes doen nie. Waarom doen ons dit dan nou hier met ons broers en susters?

Dr. Char­lene van der Walt is verbonde aan die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.