Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Geagte president, dís hoekom plaasmoorde tel

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede (weer) niks gesê oor plaasaanvalle nie. Willemien Brümmer probeer verstaan wat die impak van dié aanvalle is.

Ter illustrasie.Grafika: Jaco Grobbelaar

In sy bloedrooi das en swart gestreepte Carducci-pak droom pres. Cyril Ramaphosa in verlede week se staatsrede van ’n toekoms waar “geen persoon in Suid-Afrika (sal) honger ly nie”.

’n Edele gedagte, behalwe dat daar oudergewoonte ’n dawerende stilte was oor plaasaanvalle – dié misdaad wat die Afrikaanse koerante byna daagliks laat bloei, wat links en regs algaande verder polariseer en selfs pres. Donald Trump van Amerika tot Twitter gedryf het.

Terwyl die Zindzi Mandelas van die wêreld laataand twiet oor wittes wat “ongenooide gaste (is) wat weier om te loop” maak die Steve Hofmeyrs doodsdreigemente en verkondig dat ’n witvolksmoord op hande is.

Gekaap in die middel is die slagoffers – weduwees wat daagliks herleef hoe hulle ure lank met kookwater gebrand word, hele plase wat tot stilstand kom en werkers wat sit sonder ’n môre.

Wat opval (by gebrek aan voldoende navorsing), is dat dit blyk dat die skaal van die aanvalle – of dit wat in die media gerapporteer word – redelik uniek aan ons wye en droewe land is.

Tussen April 1998 en Maart 2000 is omtrent net soveel mense in plaasaanvalle in Suid-Afrika as gedurende die hele Rhodesiese bosoorlog dood.
James Myburgh, Politicsweb

James Myburgh, redakteur van Politicsweb, skryf in sy artikel “The Origins of South Africa’s Farm Murder Epidemic” dat sowat 300 boere en hul gesinslede tussen 1964 en 1980 gedurende die bosoorlog in die voormalige Rhodesië vermoor is.

Hoewel daar reeds voor dit plaasmoorde en -aanvalle in Suid-Afrika was (in 1962 het só ’n moord naby Matatiele byvoorbeeld die voorblaaie gehaal), het die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (nou Agri SA) eers in 1991 begin om hierdie verskynsel te dokumenteer.

Tussen April 1998 en Maart 2000 is omtrent net soveel mense in plaasaanvalle in Suid-Afrika as gedurende die hele Rhodesiese bosoorlog dood, aldus Myburgh.

“Dat hierdie hoë vlakke van plaasaanvalle en -moorde oor byna drie dekades (in Suid-Afrika) volgehou is, is abnormaal,” skryf hy op 20 Junie 2018. “In hierdie periode is sowat 2 400 mense in meer as 15 000 plaasaanvalle vermoor en baie ander ernstig beseer of lewenslank sielkundig gekwes . . .”

Dr. Jane Buys van Vrystaat Landbou: “Ons sit met ’n groter probleem as wat ons regtig besef in terme van of die (boerdery)sektor besig is om onder te gaan.”Foto: Vrystaat Landbou

Dr. Jane Buys, Vrystaat Landbou se veiligheidsrisiko-ontleder wat voorheen hoof van die polisie se misdaadontledingsentrum in die Vrystaat was, sê sy syfers moet met omsigtigheid benader word. Maar dit lyk wel asof Suid-Afrika in ’n unieke situasie is wat plaasaanvalle en -moorde betref. “Hoekom gebeur dit hier by ons? Wanneer gaan ons genoeg navorsing doen dat ons kan bepaal wat nou eintlik die rede is hoekom ons landelike sektor geteiken word?”

Sy grond haar opinie daarop dat daar byna nooit in die buitelandse media oor hedendaagse aanvalle in ander lande gerapporteer word nie. “Ek maak dus ’n aanname dat die skaal waarop die plaasaanvalle en -moorde in Suid-Afrika plaasvind, nie in ander lande geëwenaar word nie. Dat daar wel ernstige geweldsmisdade in ander lande se landelike gebiede plaasvind, behoort seker ’n gegewe te wees.”

Tydens pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was daar oudergewoonte weer ’n dawerende stilte oor plaasaanvalle. Foto: Foto24

Is dié moorde uitsonderlik?

Die vraag is natuurlik hoekom plaasaanvalle enigsins voorkeuraandag moet geniet in die lig daarvan dat 20 336 mense in die afgelope boekjaar in Suid-Afrika vermoor is. Luidens die polisie se mees onlangse misdaadstatistiek is 62 mense (onder wie 52 boere) in die boekjaar 2017-’18 in 561 plaasaanvalle vermoor. Dit beteken dit verteenwoordig net 0,3% van alle moorde.

Die (wit) landbou-organisasie TLU SA, wat die syfers volgens kalenderjare hou, sê vanjaar is reeds 30 moorde en 199 aanvalle aangeteken.

Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) meen boere word gelyk gemaak met die oorblyfsels van apartheid en dit dien nou as regverdiging om apaties te staan teenoor plaasaanvalle. Foto: Verskaf

Dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), wat voorheen 36 jaar in die polisie was, sê die moorde moet binne die konteks gesien word dat daar net tussen 32 000 en 34 000 kommersiële boere in Suid-Afrika oor is.

“As jy byvoorbeeld enige ander beroep sou vat, byvoorbeeld joernaliste, en daar word tussen 40 en 50 joernaliste per jaar vermoor (en ons praat nie hier eens van die baie wat letsels opdoen nie), wat gaan die impak daarvan op joernaliste wees? Dieselfde met enige ander beroep. Maar nou word die boer gesien as wit en Afrikaans, en hy word geassosieer met die historiese agtergrond rondom grond en die wyse waarop grond bekom is, en die boere word gelyk gestel aan die oorblyfsels van apartheid en dit dien nou as regverdiging om half apaties te staan.”

Hy meen dis “bitter jammer” dat daar nie veral vanuit die president se kantoor ’n bietjie meer begrip vir die “uitsonderlike aard van hierdie moorde” is nie.

“Ons praat heeldag van werkskepping maar dit het verreikende implikasies vir die landelike ekonomie, vir voedselsekerheid en vir werk.”

Die probleem is dat die gekibbel oor statistiek (die syfers van die burgerregte-organisasie AfriForum, TLU SA en die polisie verskil byvoorbeeld dikwels hemelsbreed) geensins oplossings in die hand werk nie. Uiteindelik gee dit aan diegene wat iets aan die probleem moet doen, net verdere ammunisie om dit af te skiet.

Die regse sanger Steve Hofmeyr stel plaasmoorde gelyk aan volksmoord, maar daar was beslis nog nooit enige bewyse hiervoor nie. Foto: Deon Raath

Aan die een kant is die kakie-brigade wat navorsers verkwalik dat hulle nog nie klinkklare bewyse kon vind dat politiek agter die moorde skuil nie, en aan die ander kant word radikale uitsprake oor boere gemaak.

“Ons kon nog nooit enige bewyse van ’n volksmoord of van politieke inmenging kry nie, maar uiteindelik maak dit nie regtig saak nie,” sê Burger. “Die impak van so ’n aanval is baie wyer as net die mense wat vermoor word. Tweederdes is boere, maar die res is die gesin van die boer en die werkers op die plase. Die moorde beperk ook werkgeleenthede, inkomste en die voortgesette bestaan van mense op die plase.”

Veral jong voornemende boere dink nou twee keer voordat hulle gaan boer, meen hy. “Dié wat wel voortgaan om te boer verkies dikwels om snags op die dorp te gaan bly en net bedags op die plaas te wees. So dit het ’n geweldige impak op die lewens van die mense wat geraak word.”

Die Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci) het byvoorbeeld in 2012 geraam dat die ekonomie met die moord op ’n boer skade van tussen R3 miljoen en R5 miljoen ly.

Tydens verlede jaar se Swart Maandag-protesoptrede in die Kaap het betogers vanaf net buite Klapmuts na Groenpunt in Kaapstad gestaan. Swart Maandag het ten doel om die kollig te plaas op plaasmoorde. Hier staan Donovan Coetzee van Tableview langs die R44 tussen Stellenbosch en Klapmuts met ’n houtkruis.Foto: Jaco Marais

Is die sektor besig om onder te gaan?

Die belangrikste argument hoekom ons wél oor die aanvalle op boere moet omgee, is natuurlik dat hulle kos aan die nasie verskaf.

Hulle word nie net deur ernstige geweldsmisdade nie, maar ook deur eiendomsverwante misdade geteister. Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het byvoorbeeld verlede jaar aangevoer dat daar elke dag in Suid-Afrika een plaas weens veediefstal tot niet gaan.

Ons sit met ’n groter probleem as wat ons regtig besef in terme van of die sektor besig is om onder te gaan.
Dr. Jane Buys, Vrystaat Landbou

“Veediefstal kos die boere miljarde rande," sê Buys. "As jy dit alles bymekaartel, hoe gaan ons in die toekoms kos in hierdie land hê? Ek dink die probleem is groter as net geweldsmisdaad – dit gaan oor die hele sektor en eintlik die hele land wat onder geweldige misdaad gebuk gaan.

“As jy vat hoe steel hulle die mielies van die boere – dis verskriklik! Die boere gaan in ’n stadium nie hul mielies na die silo’s kan vat nie, want daar gaan nie meer mielies oor wees op die lande om te oes nie. Ons sit met ’n groter probleem as wat ons regtig besef in terme van of die sektor besig is om onder te gaan.”

Die feit dat verskillende organisasies nie ooreenstem oor statistiek nie, help nie om oplossings te vind vir die aanvalle nie. In hierdie grafiek deur die ISS word ’n duidelike afname in die aanvalle en moorde gewys. Grafika: Grafika24
AfriForum se statistiek weerspreek dié van die ISS en die polisie. Grafika: Grafika24

Die boer as ‘misdadiger’

Die kwessie word verder beduiwel deurdat die statistiek van verskillende instansies dikwels beduidend verskil oor of die moorde en aanvalle op plase styg of daal. Luidens die polisie se statistieke lyk dit byvoorbeeld asof die aantal moorde en aanvalle op plase tussen 2001-’02 en 2015-’016 gedaal het.

Burger en die ISS (sowel as AfriForum en TLU SA) voer egter aan dat die syfers in onlangse jare weer gestyg het.

Wanneer gesê word die grond is gesteel en moet aan die regmatige eienaars teruggegee word, beeld dit die boer as ’n dief en ’n misdadiger uit.
Dr. Johan Burger, ISS

Burger sê die “algemene gevoel” is dat die voorvalle styg weens die landbou-onvriendelike klimaat wat – veral deur radikale uitsprake aan die linkerkant – geskep word.

“Wanneer gesê word die grond is gesteel en moet aan die regmatige eienaars teruggegee word, beeld dit die boer as ’n dief en ’n misdadiger uit. Die implikasie daarvan is dat die eienaar van daai grond eintlik die rede is hoekom ’n groot massa mense in ellende leef.”

Gegewe dié geskiedenis, word dit beskou as “politiek inkorrek of verkeerd om enige simpatie met hierdie ouens te betoon”, sê hy.

“Dit raak dus op die ou end ’n politieke debat weens al hierdie konnotasies, en die landbougemeenskap voel uitgelewer te midde van al die bedreigings wat hom in die gesig staar.”

Dié bedreigings is soos ’n ui met verskillende lae. Eerstens is daar droogtes, vloede en plae. Tweedens weet die boere nie wat met hul plase gaan gebeur in terme van grondhervorming nie en die swaard van onteiening sonder vergoeding hang oor hul koppe. Maar die dodelikste of gevaarlikste van al hierdie bedreigings is die plaasaanvalle, sê Burger.

Marlene Conradie, weduwee van die vermoorde boer Joubert Conradie van die plaas Uitkyk naby Klapmuts, groet haar man ’n laaste keer. By haar is haar kinders Hannes en Jana. Foto: Jaco Marais

‘Kitsbanke’

Die strikvraag is natuurlik hoekom die aanvalle gebeur.

...plase (word) gesien word as “kitsbanke” – ’n vinnige manier om kontant en vuurwapens in die hande te kry en dan is jou motief baie keer roof.
Dr. Jane Buys

“Ons inhegtenisnemingsyfer (vir plaasaanvalle) was vier of vyf jaar gelede sowat 50% en nou het dit tot omtrent 35% gedaal,” sê Buys. “Dit maak dit moeilik as jy nie die aanvallers kan ondervra en kan probeer agterkom wat die motief was nie.”

Die voor die hand liggende rede is dat plase gesien word as “kitsbanke” – ’n “vinnige manier om kontant en vuurwapens in die hande te kry en dan is jou motief baie keer roof”, sê sy.

In Burger se studie oor geweldsmisdaad op plase en kleinhoewes in Suid-Afrika, wat in September verlede jaar gepubliseer is, wys hy daarop dat georganiseerde gewelddadige rooftogte landwyd gestyg het. Sedert 2012 het hierdie soort misdaad met meer as 39% toegeneem.

Hy skryf ook dat plaasaanvalle relatief soortgelyk aan aanvalle in stedelike gebiede is. Die verskille het meestal te make met die geïsoleerde ligging van die plase. “Hierdie relatiewe isolasie gee aanvallers meer tyd en vryheid om misdade te pleeg teen hul slagoffers, wat dikwels ontsettend gewelddadig is en ongeregverdigde marteling insluit.”

Hoekom so wreed?

Nog heelwat navorsing is nodig oor hoekom baie van dié aanvalle so wreed is – ’n aspek wat dikwels uitgebasuin word deur regse groeperings wat die narratief van wit slagofferskap wil bevorder.

Selfs vir dié in die middel is dit egter moeilik om nie af te lei dat dit iets met die onmenslikheid van ons geskiedenis te doen het nie. Die probleem is hier weer eens dat georganiseerde landbou en die publiek nie werklik ingelig is oor die grade van wreedheid in gewapende rooftogte in dorpe en stede nie, sê Buys.

“Wat wel ’n persoonlike persepsie is, is dat waar ’n groot mate van wreedheid voorkom, bestaan die moontlikheid van ’n persoonlike band tussen die aanvallers en die slagoffers – veral wanneer aanvallers klapmusse en handskoene dra om hul identiteit weg te steek. Dit beteken dis moontlik vorige werkers wat weens ’n arbeidsdispuut of oor iets anders van die plaas af weg is. Dikwels het hulle die persepsie dat hulle te na gekom is. Hiervoor is daar nog geensins substansie nie – en daar moet nog baie navorsing hieroor gedoen word,” sê sy.

Iemand soos dr. Chris de Kock, voormalige hoof van die polisie se nasionale eenheid vir misdaadnavorsing en -statistiek, het jare gelede al uitgewys dat meer as 60% van alle moorde gepleeg word deur mense wat aan die slagoffer bekend is. “Ek dink tog by plaasmoorde is dit ook so,” sê Buys.

Dr. Danny Titus wat in 2014 die samesteller was van die Menseregtekommissie se verslag oor plaasveiligheid, meen ’n verdere ondersoek is nodig in die lig van onlangse uitsprake oor boere. Foto: Lerato Maduna

‘Die stereotipes bly’

Dr. Danny Titus, wat in 2014 die samesteller was van die Menseregtekommissie se verslag oor plaasveiligheid, meen in die lig van onlangse uitsprake oor boere is ’n verdere ondersoek nodig.

Mense sien dit as wit boere, hulle sien dit as wit plase en hulle sien dit nie in die breë konteks in terme van die rol van daai plaasgemeenskap wat voedselvoorsiening betref nie.
Dr. Danny Titus

Hy dink ook daar behoort “op ’n breë skaal” ondersoek na die wreedheid van dié aanvalle gedoen te word. “In hoe ’n mate sien ons mekaar nog as vyande? In hoe ’n mate sien ons mekaar deur stereotipe-lense? Kyk, wit mense se goeie bedoelings word dikwels nie gesien nie – of baie min. Die stereotipes bly.”

Hy reken dis hoogtyd dat Ramaphosa hom by dié kwessie inmeng. “Mense sien dit as wit boere, hulle sien dit as wit plase en hulle sien dit nie in die breë konteks in terme van die rol van daai plaasgemeenskap wat voedselvoorsiening betref nie.”

Hy beklemtoon elke woord. “Daar moet ’n algemene begrip wees vir die rol van boere in Suid-Afrika en dit moet oor politieke grense heen begryp word, en die politieke uitsprake, veral deur die EFF en die Zuma-faksies binne die ANC, moet verstaan waarvan hulle praat en hulle moet die groter prentjie sien.”

Oudpres. Nelson Mandela en sy dogter Zindzi Mandela in vroeër jare. Zindzi het onlangs ’n storm veroorsaak met haar twiets dat wittes onder meer ongenooide gaste is wat weier om te loop. Haar pa, daareenteen, was die enigste staatspresident sedert 1994 wat hom teen plaasaanvalle uitgespreek het.Foto: Getty

Swart boere word ook vermoor

Wat duidelik uit die MRK se sittings blyk, is dat die probleem beslis nie net leliewit is nie, sê Titus. “Daar was twee groot swart boereverenigings en hul punt was om te kom sê ons ervaar ook aanvalle, ons ervaar ook onveiligheid op ons plase.”

Sjoe, jy hoor omtrent elke week dat een van die opkomende boere iewers vermoor of aangeval is.
Mbongiseni Sikhakhani, Afasa

Mbongiseni Sikhakhane, woordvoerder oor landelike veiligheid vir Afasa, die vereniging vir swart boere, het by navraag beklemtoon dat swart boere ook in vrees lewe.

“Sjoe, jy hoor omtrent elke week dat een van die opkomende boere iewers vermoor of aangeval is!” sê hy vanuit KwaMpumuza naby Pietermaritzburg, waar hy met varke en bokke en beeste boer.

Hy stem nie saam dat dié aanvalle polities gemotiveerd is nie. “Dis misdadigheid en ons moet iets aan hierdie misdaadprobleem doen, want dit het ’n impak op voedselsekerheid. Ons is bekommerd, ons is baie bekommerd . . . regtig.”

Ook hy glo dat die president nie langer op die kantlyn durf staan nie. Hy sug. “Dis ’n ernstige kwessie, dis ’n tragedie vir hierdie land!”

Hy sê daar is nie genoeg sigbare polisiëring in afgeleë gebiede nie, en selfs al kry die polisie inligting, word die misdadigers nie in hegtenis geneem nie.

“Dis ons hoofprobleem in Suid-Afrika op die oomblik. Ons gee die polisie inligting maar wanneer hierdie ouens in die hof verskyn, is die vonnisse nie swaar genoeg nie.”

Dit (plaasaanvalle) bring die skrikbeelde van armoede wat verdiep en potensiële maatskaplike onbestendigheid en omwenteling mee.
Oudpres. Nelson Mandela

Intussen kan Ramaphosa dalk weer gaan luister na die woorde van wyle oudpres. Nelson Mandela, die enigste president wat hom tot dusver met plaasmoorde bemoei het.

“Dit (misdaad op plase) dreig om verminderde groei en produksie, gebrek aan lone en winste, en mettertyd werkloosheid te veroorsaak,” het Madiba reeds in 1998 op ’n spitsberaad oor landelike veiligheid gesê.

“Dit bring die skrikbeelde van armoede wat verdiep en potensiële maatskaplike onbestendigheid en omwenteling mee.”

Dalk sal dít Ramaphosa laat ophou droom van ’n slimstad wat soos ’n feniks verrys en hom laat besef dat kos nie uit die hemel val nie.

Meneer die president, u is self ’n boer. ’n Boer maak mos ’n plan, dan nie?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.