Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Geen maklike oplossing vir geweld in Mosambiek nie

Wat is die oorsake vir die geweld in Mosambiek se noordelikste provinsie? Terreur soos dié wat ons in Cabo Delgado sien, is onvoorspelbaar en het geen klaarblyklike logika nie, skryf Liesl Louw-Vaudran.

Liesl Louw-Vaudran

Aan die begin van verlede jaar het ek in ’n koffiewinkel in Maputo met prof. Joseph Hanlon, een van die mees gesiene kenners van Mosambiek se geskiedenis, gesels. Die kleurryke restaurantjie is in Avenida Kim II Sung. Dit kruis Mao Tse Tung-straat en loop in Kwame Nkrumah vas.

Hanlon het aan sy kenmerkende wit baard gevryf, vorentoe geleun en sy oë gerek: “Ek sê nou vir jou, as ons al die geld wat ons in die volgende paar jaar aan konferensies oor die geweld in Cabo Delgado gaan spandeer, net so oorhandig aan die werklose jongmense daar, kan ons die probleem vinnig oplos.”

Hanlon het ’n punt beet gehad.

In Maart verlede jaar was die oproer in Mosambiek se noordelikste provinsie nog op ’n relatiewe klein skaal. Die geweld was hoofsaaklik teen regeringsteikens. Die terreurgroepe het geen gesofistikeerde wapens gehad of dorpies beset nie. Hulle het ook nie toe hul verbintenis met die Islamitiese Staat openlik verklaar nie.

Vandag is dit wel die geval.

Weens die geweld wat al sedert die einde van 2017 daar woed, is meer as 2 000 mense dood en 500 000 moes hul huise ontruim. Baie van hulle vlug met hul karige besittings in skuite seelangs na die provinsie se hoofstad, Pemba.

Die radikale insurgente beset nou selfs die hawestad Mocímboa da Praia, wat hulle in Augustus oorgeneem het.

Ooreenkomste met Renamo-oorlog

Die oorsake van die geweld in Cabo Delgado, die oorwegend Moslem-provinsie in Mosambiek, is inderdaad baie kompleks.

Hanlon was korrek deur te sê dat een van die vernaamste oorsake vir die radikalisering oor die hele Afrika is weens gewone burgers se frustrasies wat voel dat hul armoede en uitsigloosheid die gevolg van diskriminasie op grond van hul geloof, etnisiteit, klas of geografiese ligging is.

Jongmense in Cabo Delgado voel gemarginaliseer, veral binne ’n konteks waar miljarde dollars glo eersdaags na Mosambiek se maghebbers gaan vloei danksy die gas-aanlegte wat aan die kus van Cabo Delgado gebou word.

Om vrede te maak behels maar altyd gesprekke met terroriste.

Maar waar Hanlon se oplossing van werkskepping en ekonomiese groei 18 maande gelede dalk nog kon werk, is dit nou waarskynlik te laat.

Die situasie dreig om handuit te ruk en daar is hoe meer internasionale betrokkenheid – aan die kant van die insurgente en aan die kant van diegene wat glo die Mosambiekse veiligheidsmagte wil help.

In sy jongste maandelikse nuusbrief oor die situasie in Mosambiek suggereer Hanlon dat daar ooreenkomste is tussen die destydse Renamo-oorlog en die huidige situasie, waar die insurgente ook van terreur gebruik maak om hul punt te bewys.

Die Renamo-rebelle is ook as terroriste gebrandmerk. “Om vrede te maak behels maar altyd gesprekke met terroriste,” skryf Hanlon.

Hy verwerp die opvatting dat na die insurgente as “Islamitiese ekstremiste” verwys word.

Die probleem is dat terreur soos dié wat ons in Cabo Delgado sien, onvoorspelbaar is en klaarblyklik geen logika het nie.

Ook nie die terreur deur Boko Haram in die noordooste van Nigerië of die Islamitiese groepe in Mali, Burkina Faso en Niger nie.

Die afgelope naweek is meer as 100 onskuldige burgerlikes, wat net in vrede hul landerye wou bewerk en vir hul gesinne wou sorg, koelbloedig in Nigerië onthoof. Waarom?

Die terreur in die noorde van Nigerië duur nou al meer as ’n dekade en steeds het niemand nog ’n oplossing daarvoor gevind nie.

Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.