Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Minister-skandaal: Geheim van die kind in die bed

In ’n opspraakwekkende nuwe boek, Die seuns van Bird Island, vertel die oudpolisieman Mark Minnie en die joernalis Chris Steyn hoe hulle in 1987, onafhanklik van mekaar, op bewyse afgekom het dat die sakeman Dave Allen en John Wiley, ’n prominente lid van die ou Nasionale Party, lede was van ’n pedofielnetwerk. Allen en Wiley het albei onder verdagte omstandighede selfmoord gepleeg net toe speurders op die punt gestaan het om die netwerk oop te vlek. Minnie en Steyn glo egter dat nóg senior politici aandadig was aan die mishandeling, insluitende die destydse minister van verdediging, genl. Magnus Malan. Minnie skryf die deurbraak in sy ondersoek het gekom nadat ’n jong verpleegster, wat hy net as “Suzie” identifiseer, hom vertel het van ’n vreemde voorval in ’n hospitaal in Port Elizabeth in 1986 terwyl sy aan diens was.

John Wiley, destyds NP- minister van omgewingsake.

Die kantoor is verlate. Ek sien my kollega Gordon Lamastra het ’n briefie op my lessenaar gelos. “Polisiekantien,” staan op die papiertjie.

Ek stel nie belang nie. Op hierdie oomblik is my gedagtes by Suzie se storie. En ek het biere in die yskas. Ek skakel die bandopnemer aan, leun terug in my stoel.

“Ek is nie seker wat om hiervan te maak nie, Max. [Minnie se bynaam was Mad Max].

“Die hele situasie maak my bang. Die ding met Dave Allen se selfmoord en toe dié van John Wiley. Ook die stories oor jong seuns wat seksueel gemolesteer word.”

Suzie klink werklik bang. En dan vertel sy van die aand toe die slagoffer ingebring is: “Sowat ’n jaar gelede was ek op nagskof. Skielik was die saal helder verlig en het ek ’n helikopter buite gehoor. Jy weet daardie landingstrook langs die saal – wel, net daar. En die geraas . . . dit was so hárd.”

Sy vertel die pasiënt is onmiddellik na die teater en eers vyf uur later na die traumasaal gebring.

“Dit was vreemd, want die pasiënt is deur drie mans in grys pakke na ’n private kamer gestoot. Daar was ’n vierde man – ek dink dit was ’n dokter. Ek het hom nog nie voorheen gesien nie. Die pasiënt was op ’n drup. Hulle het my nooit gevra om te help nie.

“In die saal het die matrone aan diens die onbekende dokter gehelp. Sowat 40 minute later is die dokter en die mans in hul pakke weg. Nog ’n man het buite die deur gesit, asof hy waghou.”

‘Maar daar was geen enkele inskrywing van sy verblyf in die hospitaal nie . . .’

Suzie was nuuskierig en het besluit om die saal se toelatingsregister na te gaan.

“Ek het dit deurgeblaai toe ek van diens af kom, maar raai wat? Daar was niks in die register oor hierdie pasiënt nie. Nie eens ’n naam nie. Dit was asof hy nie bestaan het nie. Toe ek later weer aan diens kom was die register steeds dieselfde. Ek word nie in die saal toegelaat nie en die ou in die pak sit steeds buite die kamer.”

Suzie sê net die matrone is toegelaat om na hierdie pasiënt om te sien.

“Hoekom al die geheimhouding? Ek wou sien wie in die kamer was. Ek het gewag tot die matrone op pad in was en het verbygestap net toe die deur oopgaan.”

In daardie dae was die Suid-Afrikaanse samelewing heeltemal gesegregeer. Hierdie hospitaal was vir wit mense bedoel.

“Ek kyk toe in en kon nie glo wat ek sien nie. Daar is ’n kind daarbinne. ’n Bruin kind. Hy lyk omtrent 12. Kan jy dit glo, Max!”

Magnus Malan en sy vrou, Margot.

Suzie sê die wag het haar dopgehou toe sy verby die kamer stap en gesien hoe sy inloer.

“Later, net voordat ek van diens gaan, het die matrone my geroep. Die wag het haar vertel dat ek gesien het en sy het my beveel om nooit, ooit met enigeen daaroor te praat nie.”

Suzie het die matrone se instruksies gevolg. Toe is die seun skielik weg. Ontslaan, sê Suzie, ná ’n week. Maar daar was geen enkele inskrywing van sy verblyf in die hospitaal nie.

“Dit moes iets groots gewees het. ’n Helikopter, mans in pakke, ’n wag. Toe was die matrone skielik weg. Sy het net verdwyn. Ek’s bang, Max. Wat as hulle dink ek het te veel gesien? Maar moet asseblief nie vir enigeen vertel nie. My werk is op die spel.”

Ek skakel die bandopnemer af. My gedagtes dwaal terug na William, ’n straatseun en polisie-informant, en wat hy my vroeër vertel het – dat hy deur “hoë mans” vir seks opgetel is. Hy het ook vertel van gerugte dat Ore (Minnie se bynaam vir genl. Magnus Malan) ’n seun in die anus geskiet het. Het die seun wat Suzie in die hospitaal gesien het enigiets hiermee te doen gehad? Is hy dalk die seun van wie William gepraat het?

Wiley saam met PW Botha.

Dat die seun se hospitaalverblyf toegesmeer is, dui op iets sinisters. Die enigste manier om vas te stel sou wees om die matrone wat daardie aand aan diens was te ondervra. Ek moet net ’n manier vind om haar te nader sonder om Suzie se naam in die gedrang te bring.

Dit is Maandag. Ek neem bestek op van dit wat ek weet. Dave Allen en John Wiley is albei verdagtes in ’n pedofielsaak. Albei is dood, albei onder vreemde omstandighede. Nog twee verdagtes lewe en is gesond.

Die oudste van die twee broers wat slagoffers van die “moffie-ooms” was, kan Allen op die toneel van die beweerde seksuele aanranding plaas. Nie sleg so ver nie, maar nie goed genoeg nie. Ek het iets meer konkreets nodig om die magtige Ore te laat aankla.

As ek die geheimsinnige pasiënt kan opspoor en hom kry om te getuig, hét ons Ore. Wie sal weet wie anders die seun in die hospitaal gesien het en wat hy alles moes deurmaak?

Gordon storm my kantoor binne.

Hy sê hy het die naweek saam met Dean Steynberg en Pieter Kapp, twee swaers wat aan ons eenheid verbonde is, gewerk.

“En?”

“Ons het ’n huis in Jeffreysbaai vir pornografiese materiaal deurgesoek,” sê

Gordon. “Aan die begin het die bewoner, ’n hooghartige ryk teef, gedreig om ons by ’n NP-minister te verkla. Sy sê hulle is vriende.”

’n Diagram van die staatspatoloog van Wiley se kopwond.

Ek bly stil, want ek wil nie my vermoede laat blyk oor wie hierdie minister kan wees nie. Gordon gryp sy kans aan.

“Onthou jy die eerste persoon wat William in die groepfoto uitgewys het?” vra hy opgewonde.

“So duidelik soos daglig,” antwoord ek.

“En wie de hel was die minister by wie die ryk teef ons wou gaan verkla?” kap Gordon terug.

“Niemand anders as die eerbare minister nie,” roep ek verheug uit.

Maar dis nie Ore nie, dink ek.

“Het julle enige pornografie gekry?” vra ek.

“Natuurlik het ons. Sy was tjoepstil toe ons op die onwettige literatuur en video’s afgekom het. Besef jy die implikasies?

“Jeffreysbaai en Witelsbos is nie ver van mekaar nie. As die minister en die ryk teef vriende is, soos sy beweer, dan moet hy eiendom in die omgewing besit of huur. En Witelsbos, waar William gemolesteer is, is in die omgewing,” sê Gordon.

Die rewolwer wat langs Willey se lyk gevind is

Om die geheimsinnige seun in die traumasaal op te spoor sal ek die bejaarde matrone wat hom behandel het in die hande moet kry. Maar sy het tussen neus en ore verdwyn.

Dit behoort egter nie te moeilik te wees om haar te vind as sy nog leef nie. Ek is reg. ’n Paar foonoproepe later en ek het die matrone se adres en haar telefoonnommers.

Ek kry koers na haar nuwe adres. Dis huishoudster sê “Mevrou” is by die werk. Ek los nie ’n boodskap nie. Niemand hoef te weet die polisie soek haar nie.

Ek loer in by my bevelvoerder se kantoor en speel oop kaarte. Ek vertel hom die seun het vir sowel Allen as Wiley geïdentifiseer as die mans wat hom gemo­lesteer het, asook van die moontlikheid om die ander minister wat hy geïdentifiseer het te verbind met die seksuele oortredings wat glo in Witelsbos gepleeg is.

Ek bring hom ook op die hoogte van Suzie se storie. En dan laat ek die bom oor Ore val.

Ek kan sien dat hy diep geskok is.

“Wat is jou volgende skuif, Max?” vra die brigadier.

“Om die seun te vind van wie Suzie my vertel het. As hy ’n verklaring aflê wat Ore betrek, sleep ek daardie bliksem se agterent persoonlik hof toe om op al die bewerings tereg te staan.”

Die skrywers: Chris Steyn en Mark Minnie.

Die brigadier glimlag wrang en knipoog vir my. “Amptelik, Max, beveel ek jou om enige verdere ondersoek na hierdie saak te staak.”

Ek is skaars terug in my kantoor toe die foon lui. Dis die brigadier.

“Max, wees versigtig, seun. Hou hierdie een so na aan jou bors as moontlik. Maak seker dat jy alles mooi agtermekaar het voordat jy teen Ore optree. Die man is ontsettend magtig.”

“Het dit, meneer. Dankie.”

Hoekom al hierdie vrees en bewing, wonder ek. Ore is nie bo die reg verhewe nie. As landsburger moet hy die wette ingevolge ons grondwet respekteer en gehoorsaam. F*k hom.

Om 18:00 bel ek die matrone se huisnommer. ’n Vrou met ’n rasperstem antwoord in Afrikaans. Dit moet sy wees.

Ek praat Afrikaans met haar. Ek draai nie doekies om nie; ek wil my voordeel onmiddellik benut.

Sy voel aan ek weet iets van haar geheimsinnige pasiënt. Ek hoor haar asemhaling aan die ander kant van die lyn, maar andersins bly sy stil.

En dan is sy skielik die ene trane. Sy smeek die liewe Vader om vergifnis.

“Ek het nie een sent bestee nie, nie ’n sent nie, sersant Max. Al die geld is nog daar. Ek het altyd geweet dit beteken moeilikheid. Dis vuil geld. En nou het God dit goedgedink om my vir my sondes te straf. O God, vergewe my asseblief,” grens sy oor die foon.

Ek gee voor ek het van die geld geweet. Sy weet nie hoeveel ek weet nie en ek gaan soveel moontlik inligting uit haar melk.

“Ja, en presies hoeveel geld was dit nou weer? Wag, ek kan vinnig my dokumente nagaan,” bluf ek terwyl ek dokumente op my lessenaar rondskuif.

“R10 000, sersant. Ek het dit nog alles,” blaker sy dit uit.

Ná sowat 45 minute van ons gesprek gee sy die naam van die chirurg wat die seun behandel het. Sy sê ook sy weet regtig nie wat die seun se besonderhede is of waar hy hom tans bevind nie.

Hierdie vrou is duidelik mislei om te glo dat die R10 000 haar verhuisingskoste moes dek as deel van haar oorplasing na ’n nuwe hospitaal. Sy het jare lank ’n oorplasing probeer kry en toe gebeur dit skielik. Sy’s ’n vervangbare pion wat misbruik word deur gewetenlose mense wat dink hulle kan doen wat hulle wil. Nou is sy ’n senuweewrak, vasbeslote om die res van haar lewe te wy aan God en enigiets an-

ders wat mooi en goed in hierdie wêreld is.

Sy wil weet wat sy met die bevlekte geld moet doen. Ek raai haar aan om dit so vinnig as moontlik uit te gee. Dan sit ek die foon neer.

Die naam van die chirurg wat die seun in die traumasaal behandel het, het ’n hele paar keer in ons kantoor opgeduik. Lede van die sedepolisie sê hy verskaf skedule 5-middels op ’n roekelose wyse aan van sy pasiënte.

Ek bel die dokter en kies my woorde versigtig. Bombasme sal niks vermag nie. Ek hoop die dokter sal bieg en my vertel wat ek van die seun wil weet.

Maar my hoop word verydel. Hy weier om oor die saak te praat en speel die

pasiënt-dokter-vertroulikheidskaart. Hy onthul niks nie. Die mans in die grys pakke het hul werk goed gedoen. My klan­destiene ondersoek het in ’n doodloopstraat beland. Toe ek die foon neersit, besef ek ek het nie genoeg skietgoed om Ore in hegtenis te neem nie. As dit iemand van ’n mindere statuur was, sou ek dit dalk kon oorweeg. Ek klop weer by die brigadier aan om raad. Hy antwoord bondig en versigtig.

“Max, ek sal dit met ’n hoër gesag bespreek. Laat die groot kokkedore hul koppe om die Ore-sage kry. As hulle die groen lig gee vir stappe teen hom, moet hulle die gevolge dra as daar enige reperkussies is. Ons skuif die verantwoordelikheid op hulle af, seun.”

“Dis die moeite werd om te probeer, meneer. Kom ons hoop iemand hoog op het die balls om op te tree.”

  • Dié geredigeerde uittreksel uit Die seuns van Bird Island deur Mark Minnie en Chris Steyn is saamgestel deur Herman Jansen. Tafelberg gee die boek uit en dit kos R280.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.