Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Geld soos bossies in dagga

Die geleenthede rondom die daggabedryf word vergelyk met die dot-com boom en Bitcoin. Carla Lewis kyk of die “groen goud” ons eie ekonomie na nuwe hoogtes kan neem.

Die man agter die “koffiewinkel” se toonbank trek sterk na die Amerikaanse countrysanger Willie Nelson. Dis nou as Willie Nelson langs die Wildekus sou aftree.

Sy vel is dieselfde skakering as ’n bronsbruin Peking-eend, gelooi en gebrei deur jare se seewater en sonskyn langs die Transkeise kus. Pleks van twee vlegsels, hang sy lang grys hare in slierte teen sy rug af.

“Willekus Willie”, soos ons hom doop, se koffiewinkel in ’n klein Transkeise kusdorpie bestaan basies uit ’n paar houtplanke en sinkplate wat lyk asof dit met bloudraad en kabelbinders aanmekaar getimmer is. Die geriewe is basies: ’n Italiaanse espressoketel prut op ’n primusstofie en goiingsakke vol koffiebone lê gestapel in die hoek. Tussen die warm ryk aroma van geroosterde koffiebone, draal daar ook ’n soeterige, kruidagtige reuk in die lug. Die regte Willie Nelson sou waarskynlik heel tuis in die Transkei gevoel het.

Willekus Willie bedien ons americano’s in groen enemmelblikbekers. Langs die bekers sit hy ’n houtkissie neer, wat hy met groot swier oopmaak, amper soos ’n aanbieder op ’n TV-program wat ’n prys gaan onthul.

Binne-in lê daar ’n ry lang, maer daggazolle, netjies gerol.

“Kry vir julle elkeen een. Dis gratis. As jy koffie by my bestel, kan jy gratis rook.”

Ons wys egter Willekus Willie se ruimhartigheid van die hand.

Ons buurman laat egter nie op hom wag nie en steek een van Willie se komplimentêre zolle aan.

“Jy sit hier op ’n goudmyn,” seg buurman, terwyl hy ’n diep teug vat. “As mense geweet het jy kry gratis dagga saam met ’n koppie koffie . . . mense sal toustaan.”

Kry vir julle elkeen een. Dis gratis. As jy koffie by my bestel, kan jy gratis rook.

Geld soos bossies

Indien Suid-Afrika se wetgewing oor cannabis wel verander en daar meer helderheid oor dagga as ’n wettige ontspanningsmiddel kom, kan Willekus Willie inderdaad geld soos bossies maak.

Hy is ook een van die land se talle “groen entrepreneurs” wat die wysiging van die Wet op Dwelms en Dwelmhandel en die Wet op die Beheer van Medisyne en Verwante Stowwe fyn dophou.

Tans is sy R25 vir ’n koppie koffie, met ’n ekstra “pasellatjie”, ’n winskopie vergeleke met die 15 (sowat R230) per gram wat van Amsterdam se voorste koffiewinkels vir ’n kampioenplantlyn vra. En in die VSA, waar al hoe meer state die gebruik van dagga vir ontspanning wettig, is die toekoms nie rooskleurig nie, maar ’n helder grasgroen.

Duisende toeriste en miljarde dollars stroom na Amerikaanse deelstate waar daggagebruik wettig is.

In Colorado alleen (een van die eerste deelstate wat cannabis vir ontspanningsdoeleindes gewettig het), het die Amerikaanse inkomstediens verlede jaar meer as $260 miljoen (meer as R3,6 miljard) in belasting, lisensiegelde, en diensgelde ingevorder.

Die totale verkope van mediese en ontspanningsmarijuana in 2018 was meer as $1,4 miljard (amper R20 miljard) luidens die Colorado-inkomstediens se webwerf. In Aspen, ’n eksklusiewe ski-dorp in die Amerikaanse Rotsgebergte, is drankwinkels besig om bankrot te speel, terwyl marijuana-“apteke” op elke straathoek oopmaak.

Op die speelterrein van Amerika se rykstes het die verkope van dagga dié van alkohol reeds in 2016 verbygesteek, soos mense hul merlot vir marijuana verruil.

Jee-A van der Linde, ’n ekonoom van NKC African Economics sê toerisme is een van die snelgroeiende sektore in Suid-Afrika se ekonomie.

“As jy in ag neem dat Suid-Afrika se wynbedryf meeding met die bestes ter wêreld, wie weet wat die potensiaal van die cannabisbedryf in die Wes-Kaap kan wees.

’n Nuwigheid soos ’n cannabistoerismebedryf wat parallel met die wynbedryf loop, kan miskien net die Suid-Afrikaanse wynbedryf uit sy floutes lig.

“Die plaaslike wynbedryf is reeds besig om klippe te kou en nie net weens die droogte in daardie gebied nie. Die wynmark ervaar tans baie uitdagings en die mededinging van oorsese wynstreke is fel.

“ ’n Nuwigheid soos ’n cannabistoerismebedryf wat parallel met die wynbedryf loop, kan miskien net die Suid-Afrikaanse wynbedryf uit sy floutes lig. Dit kan ook ’n jonger generasie wyndrinkers na die land se wyntoerismesektor lok,” meen hy.

In Kalifornië se Napa- en Sonoma-wynstreek moes wynkelders juis ’n plan maak soos wynverkope begin afneem het en verwoestende veldbrande verlede jaar duisende hektaar wingerde vernietig het. Daar is bande gesmee met die cannabisbedryf en “wine and weed”-bustoere, waar toeriste wynplase en daggawinkels besoek, is volbespreek. Teen sowat $250 (sowat R3 500) per kop vir ’n dag(ga)toer is die teikenmark ook nie platsak rugsakreisigers in knoop-en-doop-klere nie.

Ekonome vergelyk die florerende daggatoerismebedryf reeds met die dot-com boom van die 1990’s, waar beleggers en entrepreneurs oornag miljoenêrs geword het, (maar ook miljoene verloor het toe die borrel in 2000 gebars het).

Een van hulle is die Amerikaner Deidra Bagdasarian, eienaar en uitvoerende hoof van Ganja Goddess, ’n bakster wat haar stokperdjie om daggakoekies te bak in ’n multimiljoendollar-fynproewerskos-en-toermaatskappy omskep het. Op dié wegbreke slaap jy in luukse tente, neem deel aan joga -en pilateswerksessies en word bederf met ’n verskeidenheid fyngebak en fynproewersdagga. Daar is ook kunsvlytwerksessies waar jy kan gaan leer om ’n daggapyp uit ’n papaja te maak.

’n Oplossing vir werkloosheid?

Talle Oos-Kaapse inwoners voer ’n lewe as bestaansboere en Cannabis sativa bly een van die winsgewendste kontantgewasse, veral in die brandarm voormalige tuislande soos die Transkei en Ciskei.

Werkloosheid daar raak aan die 50%, volgens Statistieke Suid-Afrika se mees onlangse data en die sluikhandel gedy.

Wanneer jy jou strandhanddoek op die prentjiemooi Transkeise strande uitgooi, is dit nie lank voordat strandsmouse jou trakteer op ’n smorgasbord van die Transkei se beste nie: Vars oesters, kreefstert, en natuurlik, Mpondo Gold, die Transkeise daggaplantlyn wat volgens gebruikers jou helder, kreatief en energiek laat voel.

Van der Linde meen ’n meer formele, gereguleerde cannabisbedryf is ook net wat streke soos die Transkei nodig het vir ’n ekonomiese hupstoot.

“Die tradisionele hoofrolspelers in die marijuanabedryf was in die verlede ietwat misdadig. As die bedryf gewettig word en volgens internasionale wetgewing gereguleer en bestuur word, kan dit ’n meer deursigtige platform skep vir beleggers en uitbuiting op voetsoolvlak uitskakel.

“ ’n Wet- tige bedryf, met groter beheer, kan ook lei tot meer werksgeleenthede. Bestaansboere kan ook bemagtig word en nuwe vaardighede in die landboubedryf ontwikkel.

“In Suid-Afrika bly werkloosheid ’n konstante probleem. Die amptelike koers tans is 27,1%. Met ons huidige geprojekteerde ekonomiese groei word daar nie verwag dat die syfers enigsins in die komende jare gaan verbeter nie.”

Ons kan soveel hulpbronne bespaar wanneer ons ophou om dit so streng te polisieer en eerder verantwoordelik reguleer.

Die hooftema van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede was juis om weer nuwe lewe in Suid-Afrika se ekonomie te blaas deur werk te skep, burokratiese rompslomp vir potensiële beleggers te verminder en meer toeriste na die land te lok.

As jy kyk na die beleggingsopbrengste van die cannabisbedryf in ander lande, kan dit Suid-Afrika ook help om van sy kwessies soos werkloosheid, trae ekonomiese groei en ongelykheid die hoof te bied, meen Van der Linde.

“Ons moet ook nie die belastingvoordele van cannabis onderskat nie, ’n gebruiksproduk wat tans onwettig is.

“Ons kan soveel hulpbronne bespaar wanneer ons ophou om dit so streng te polisieer en eerder verantwoordelik reguleer.

“Die ontwikkeling van ’n plaaslike hennepsektor (tans ’n onwettige gewas van die Cannabis-familie, alhoewel dagga se soet sussie minder as 0,3 % van THC, (tetrahidrokannabinol, die aktiewe bestanddeel) bevat, hou dit ook groot potensiaal vir die landbou-ekonomie in.”

Nie ’n kitsoplossing

Ongelukkig is dit nie so maklik soos om die wetgewing te verander en siedaar, almal toegang tot dagga te gee nie.

Ons kan maar net kyk na Uruguay – wat in 2017 die gebruik van cannabis as ontspanningsmiddel gewettig het – om die uitdagings te sien wat op ons wag.

Alhoewel cannabis in Uruguay wettig is, word dit streng gereguleer. Gebruikers moet by die staat registreer en kan dit slegs by goedgekeurde apteke koop.

Carla Lewis

Jy moet ouer as 18 wees en word beperk tot 40 g per maand. Die THC-vlakke word ook gereguleer en baie gebruikers voel die “staatsdagga” het nie ge- noeg skop nie, wat hulle beter doepa op die swartmark laat soek.

Cannabis-klubs kan wel hul eie dagga in klein hoeveelhede kweek, maar lidmaatskap word tot ses lede beperk en jy moet ook jou klub by die staat registreer.

Die wettiging van dagga en die impak wat dit het op misdaad, word dikwels ook oorskat.

Die dwelmkartelle se monopolie op die dwelmbedryf is wel gebreek aangesien gebruikers nou wettig hul dagga by apteke kan koop en as’t ware bydra tot die ekonomie. Maar die sluikhandel teiken steeds toeriste (net Uruguaanse burgers mag registreer as verbruikers), mense wat nie aan die streng vereistes voldoen om as ’n daggagebruikers te registreer nie, en minderjariges.

Een van die vrae wat ons nou al moet begin vra, is of Suid-Afrika oor die hulpbronne en kundigheid beskik om so ’n “daggadatabasis” te bedryf. Die onlangse Sassa-toelae- en rybewysdebakel, asook die korrupsie wat in staatsdepartemente gedy, laat ’n mens twyfel.

As ’n polisieman se palm ge-ghries kan word vir ’n rybewys, hoe gaan daar voorkom word dat dwelmbendes en sindikate as “gebruikers” registreer, net om weer die “wettige” dagga teen ’n wins op straat te verkoop aan minderjariges en kwesbare individue?

En hoe gaan die tenders en lisensies vir daggaplase toegeken word?

Wat keer ’n kragtige misdaadorganisasie soos die Sinaloa-kartel, met eindelose hulpbronne, om met ’n korrupte minister kragte saam te snoer en ons eie daggabedryf te kaap?

Ons het dit reeds in die Vrystaat met die Guptas en die Estina-suiwelprojek gesien gebeur.

Die vraag is nie of Suid-Afrika kan baat vind by die dagga-ekonomie nie. Die geleenthede daarvoor is legio. Die kwelpunte ongelukkig ook.

Hoe bemagtig ons mense soos Wildekus Willie, Transkeise bestaansboere en groen entrepreneurs om hul produk verantwoordelik en volhoubaar te verbou en verkoop? Hoe beskerm ons kwesbare mense daarteen (nes met alkohol en sigarette)?

En belangriker, hoe voorkom ons dat daar oor tien jaar ’n kommissie van ondersoek is wat kopkrap oor hoe ’n Suid-Amerikaanse dwelmkartel Suid-Afrika se cannabisbedryf gekaap het?

* Aanvullende bronne: El Pais.com, New Frontier Data, statsSA.com, www.glowinggoddessgetaway.com, www.colorado.gov, www.independant.co.uk.

Vrugtig, met 'n koffiegeur. . .

Cannabis-genetika het ’n kleurvolle en diverse geskiedenis, verduidelik Chris Jay, ’n cannabis-kenner en eienaar van Cannabis Promoter, ’n bemarkingsmaatskappy wat eksklusief op die daggabedryf fokus.

Hy verduidelik die name van cannabis-plantlyne is soortgelyk aan die benaming van wyne vol-gens wynstreke, soos chianti in Italië, porto in Portugal of die boergonjewyne van Boergondië, Frankryk, waar die wyn sy oorsprong het.

“Cannabis-plantyne soos Hindu Kush is genoem na die bergreeks tussen Pakistan en Afganistan, terwyl Durban Poison, Malawi Gold of Swazi Rooibaart vanselfsprekend is.

Dan is daar plantlyne wat volgens hul aromas genoem word, soos Blueberry, Cheese of Skunk. Tans is daar 5 000 verskillende name cannabis, waarmee hul kwekers vorendag gekom het.”

Leafly, ’n cannabis-leefstylwebwerf, het selfs ’n dagga-kluitklaplys met ’n 100 daggasoorte wat jy moet probeer voordat jy sterf. Suid-Afrika se eie Durban Poison geniet ook ’n plekkie op die erelys van cannabis-connoiseurs.

Gebruikers gee dit vier en ’n half sterre en beskryf dit as die “espresso van cannabis”, met “soet, aardse ondertone van dennenaalde”.

Jay verduidelik dat cannabis in drie verskillende subspesies opgedeel word: indicasativa en ruderalis.

Indica kom oorspronklik van Sentraal-Asië. Die plant blom relatief gou nadat dit geplant is en groei nie baie hoog nie.

Die blare is breed en word ge- leidelik dunner en wanneer die plant blom, is die blomme dig en welig.

Sativa het sy oorsprong in die tropiese streke rondom die ewenaar, groei baie hoër as sy indica-nefie en kan hoogtes van tot 3 m bereik. Sy blare is dunner en hy neem ook langer om blomme te vorm.

Die ruderalis-plantlyne het sy oorsprong in Oos-Europa en kwekers is opgewonde oor die hibridiserings-moontlikhede van die plant, omdat sy blomtyd nie aan seisoene gekoppel is nie, maar aan sy ouderdom. Sy blomtyd hang ook nie van lig of die seisoen af nie.

Lesotho mik hoog

Lesotho het onlangs vir ’n aantal internasionale maatskappye lisensies toegeken om marijuana –en cannabisprodukte binne die land te verbou en uit te voer.

“Lesotho se ekonomie is te afhanklik van Suid-Afrika en daar-om moes dit alternatiewe beleggingsmoontlikhede identifiseer om nuwe beleggers te lok en werk te skep,” verduidelik Jee-A Van der Linde.

Daar word voorsien dat die mediese marijuanabedryf in die volgende paar jaar aansienlik gaan groei en Lesotho is een van Afrika se baanbrekers in die bedryf.

“Ons kan baie leer by ons piepklein bergagtige buurman. As ’n mens in ag neem dat Suid-Afrika vir Lesotho, – met sy hoogte bo seespieël, heeljaarse sonskyn en vrugbare grond – omring, beskik ons ook oor die ideale omstandighede om dagga te groei. Suid-Afrika het ook ’n laer-koste arbeidsmark, hawes wat strategiese geografiese liggings geniet, en dis nader aan Europa as die Amerikas en Asië, wat dit ook meer aanloklik vir beleggers maak.”

Meer oor:  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.