Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Geld te maak uit ‘rassisme’

Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie’s die grootste ‘rassis’ in die land, vra Daylin Mitchell.

Om ’n politikus in Suid-Afrika ’n rassis te noem is deesdae onder sommige politici en politieke “ontleders” so algemeen soos ’n Boney M-Krismisliedjie in Checkers in Desember.

“Keffende chihuahua” (“Bad Brad” Wood oor Tony Leon in 2004), “kakkerlak” (Julius Malema teenoor Helen Zille in 2010), “fabrieksfout” (Malema oor Mangosuthu Buthelezi in 2010), “vlooi-besmette liggaam” (Lindiwe Sisulu teenoor David Maynier in 2012) en “straatm**d” (ANC-LP Mervyn Dirks teenoor die DA-LP Phumzile van Damme in 2017) het nou plek gemaak vir een, klein, klaarblyklike alsomvattende woordjie: rassis.

Kyk ’n politikus ’n ander een skeef aan, is hy ’n rassis. Sê hy straks iets waarmee ’n teenstander nie saamstem nie, is hy ’n rassis. En in sommige gevalle is bloot ’n politikus se gebrekkige melamienvlak genoeg vir hom of haar om as “rassis!” toegesnou te word.

Dit wil blyk die mees gereelde ontvangers van Suid-Afrika se gunsteling-vloekwoord is deesdae DA-politici. Dis klaarblyklik jagseisoen.

En dit was ook die DA se Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, wat nou onlangs ’n heerlike meevallertjie losgeslaan het nadat die ANC-jeugliga hom in 2017 as ’n “rassis” toegesnou het.

Steenhuisen sou minstens R43 miljoen kon losslaan.

Nou wat sou dan dié argwaan van die ANC-jongeliede ontketen het? Het dr. Jankielsohn soos Adam Catzavelos en Vicky Momberg skaamteloos en ongetwyfeld rassisties die k-woord geuiter? Het hy op enige manier iets kwytgeraak wat “vooroordeel, diskriminasie of antagonisme teenoor iemand van ’n ander ras gegrond op die geloof dat sy eie ras meerderwaardig is” (die Oxford-woordeboek se definisie van rassisme) weerspieël?

Nee. Dr. Jankielsohn het dit durf waag om ’n eredoktorsgraad deur die Bahcesehir-Universiteit in Turkye, wat aan Ace “Die Baas” Magashule toegeken is, te bevraagteken. Dis wat!

En die rede vir dr. Jankielsohn se vraag? Die feit dat die Vrystaatse regering, onder Magashule se premierskap, dié universiteit dieselfde jaar R32,6 miljoen betaal het as deel van hul staatsbeursprogram (gits, dis amper drie keer soveel as die waarde van die Pierneef-skildery wat in 2018 onder verdagte omstandighede uit Ace se kantoor in die Vrystaatse wetgewer “verdwyn” het . . .)

En hy is ’n rassis genoem, want hy is wit en Magashule is swart.

Om ’n rassis genoem te word is nie lekker nie. En veral nie as jy voor jou heilige siel weet jy verdien nie dié toesnouing nie.

Maar om eensklaps op ’n Maandagmiddag die mooi bedrag van R300 000 toegeken te word deur die hooggeregshof in Bloemfontein en boonop ’n kostebevel te kry teen die beskuldigdes is onverbeterlik.

Nou wat dink u sou gebeur as elke DA-politikus wat, kom ons sê net die laaste paar weke, dié ses letters toegesnou is, hom of haar sou beroep op die howe?

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, om een voorbeeld te noem, sou die afgelope week se “rassisme-lotery” loshande gewen het. ’n Vinnige Twitter soektog wys hy is in maar net die laaste drie dae, sedert sy verkiesing as tussentydse leier, minstens 145 keer as sodanig toegesnou. So sê ene “Stepoli” (@Stepoli4): “Whites whites whites . . . privilege . . . Jamandas . . . SAA!!!! Andre de Ruyter . . . RACIST!!!! John Steenhuisen RACIST!!!!”

En “Sideman” (@_Sideman44) sê “You’re currently living in #ThumaMina SA & u defended DA racist white leader, John Steenhuisen. Now fuck off.”

Nou, gegrond op die Jankielsohn-uitspraak, sou John Steenhuisen, indien hy elk van dié twiets voor ’n hof sou daag, minstens R43 500 000 kon losslaan. Dís ’n mooi bedrag. Dis meer as R10 miljoen meer as Woensdagaand 20 November se Nasionale Lotery-boerpot!

Die enigste persoon wat Steenhuisen ore sou kon aansit in die “rassisme-lotery” is die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille.

Soos die joernalis Du Preez de Villiers tereg sê in ’n rubriek op Maroela Media: “Ons durf nie anders dink in ’n land waar ’n kruipende Orwelliaanse regering dit wat ons doen en sê probeer polisieer nie. Helen Zille en Chris Hart se twiets is sprekende voorbeelde . . .”

Verbeel jou ’n videospeletjie, waar die gebruiker op die hoogste kruin van Tafelberg kan staan en daarvandaan elke oorblyfsel of ontwikkeling wat uit “kolonialisme” kon spruit, kon verwoes? Met die afvuur van ’n kanon. Woesj – daar gaan ’n georganiseerde regering. Boem! Daar gaan die oppergesag van die reg. Kapof! Daar gaan ons ganse sanitasiestelsel. En kaboem! daar gaan rugby as ’n georganiseerde sport. Net enkele voorbeelde.

Of Helen Zille sogenaamd “toondoof” was om bogenoemde ná ’n besoek aan Singapoer, waar die regering besluit het om te bou op die oorblyfsels van kolonialisme (pleks om die baba met die badwater uit te gooi) uit te lig, is debatteerbaar.

Maar om nadruklik te bevind dat sy “verkeerd” of “rassisties” was in haar stellings is bloot onsinnig en onregverdig.

Helen Zille is nié ’n rassis nie. Trouens, tot en met haar uittrede as nasionale leier van die DA op 10 Mei 2015 het sy alles in haar vermoë gedoen om jong swart leiers in die DA voor te berei om die leiersrol by haar oor te neem.

Maar sou jy Twitter as maatstaf inspan, is Helen Zille een van Mzansi se grootste rassiste.

Seg “ConectMatters” (@buafela): “The @Our_DA loves them that way. Always be proud you left racist @helenzille’s toxic ship . . .” en “Thabiso” (@Tabisom): “ @helenzille’s fundamental attitude is the preservation of exclusionary economic policy. She is a racist and i abhor racists.”

Daar’s nog ’n stuk of 233 sulke twiets net die afgelope week. En in die “rassisme-lotto” sou dit Helen Zille te staan bring op ’n uitbetaling van sowat R69 900 000.

Dit wil soms blyk ons land het mal geword. Ons media, meestal teen hul eie beterwete, probeer dit toeskryf aan ’n “goeie” weergawe van die ANC wat eens was, maar ons kommerwekkend nooit meer sien nie.

In die proses word die amptelike opposisie, die DA, meer en meer – gerieflikheidshalwe – gestereotipeer. En ons mense gestereotipeer as “rassiste”. Dit pas die ANC. En dit pas ons ander teenstanders.

Dit is maklik en dis gerieflik.

Amper so maklik en gerieflik as om met ses ewekansige nommers die Lotto te wen.

  *Daylin Mitchell is adjunk-hoofsweep in die Wes-Kaapse wetgewer.

Meer oor:  Roy Jankielsohn  |  Rassisme  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.