Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Genade onbeskryflik groot

Die nuus dat prof. Sean Davison in hegtenis geneem is weens die vermoede dat hy ’n verlamde vriend gehelp het om homself om die lewe te bring, het Antoinette Schoeman  herinner aan die sielewroeging wat sy deurgegaan het tydens die lyding van haar ma.

Ek en my ma op my troudag.

Op 22 April 2009 het my ma skielik baie siek geword. Sy was 84 jaar oud.

Die Sondag voordat sy siek geword het, was ek en sy, soos dit ons gewoonte was, kerk toe. Ek kan nog onthou hoe trots ek was op my fynbesnaarde mamma – ná kerk het almal altyd om haar gekloek en haar drukkies gegee net omdat sy so ’n groot rol in die gemeente en gemeenskap gespeel het. Sy was voorwaar ’n vrou wie God op aarde geplaas het om ’n verskil in baie mense se lewe te maak.

Soos gewoonlik het sy R100 in die motorwag se bussie gegooi – min het ek geweet dat dié dag haar laaste van gee en omgee sou wees.

My man het destyds vir lang tye in Tanzanië in Oos-Afrika gewerk en my ma het die leemte en eensaamheid gevul. Sy was die bank waarin ek al my bekommernisse en hartseer kon deponeer – ons mentor as ons iemand gesoek het om ons probleme mee te bespreek. Sy was bevoorreg om tot die ouderdom van 78 jaar as apteker te kon werk – iets wat sy 54 jaar lank gedoen het. Sy was briljant en het haar passie vir die liefde van haar medemens ten volle uitgeleef.

Waar is God? Ek kan eenvoudig net nie meer my ma so sien ly nie.

Maar ons wêreld het bykans oornag verander toe sy in die week na hierdie laaste kerkdiens ’n erge beroerte gehad het. In die dae daarna is ’n diagnose van Alzheimer se siekte ook bevestig, ’n siekte wat ek nou besef sy lank voor haar beroerte onder lede gehad het. Dit, tesame met ’n erge en chroniese maagprobleem, het beteken dat sy vinnig begin agteruitgaan het.

In die bestek van 24 uur het my ma in ’n totale vreemdeling verander. Die enigste een met wie sy wou kommunikeer, was met my – haar geliefde en engeltjie-dogter, soos sy my altyd genoem het.

My hart was stukkend en my lewe aan skerwe. Ek wou so graag vir haar iets doen, maar my hande was afgekap. Vier maande lank het ek ná werk by haar gaan sit en het selfs ’n private verpleegster gehuur om by haar te bly in die tye wat ek nie daar kon wees nie – net dat sy nie alleen en eensaam moes voel nie.

Wat sy gedink het sal ek nooit weet nie – sy het net vir my gestaar en haar skitterende oë was net op my gerig, al het daar tien ander mense om die bed gestaan.

Uiteindelik het haar brein so agteruitgegaan dat sy slegs my naam kon fluister.

Gou het God, my familie en vriende my geensins meer beïndruk nie. Al wat vir my saak gemaak het, was my ma.

Gedurende dié tyd het ek al hoe meer met God begin worstel en begin vrae vra. Dit was asof ek nie meer geglo het in sy boodskap van geloof, genade en hoop nie.

Een aand, tydens ’n besoek, het ek langs haar bed gebid en God gevra om haar te verlos van die pyn, om haar wens te respekteer en te verwesenlik om na haar Hemel-

woning te gaan.

Ek kon eenvoudig net nie meer my ma so sien ly nie. Waar is God? het ek gewonder. Waarom verhoor hy nie my smeekgebede nie?

Die nag ná hierdie gebed het ek op ’n artikel afgekom van prof. Sean Davison – ’n man wat so lief was vir sy moeder dat hy ook nie meer kans gesien het vir haar lyding nie. Davison het in ’n liefdesdaad haar wens vervul en sy ma gehelp om te sterf, ’n daad waarvoor hy destyds in Nieu-Seeland verhoor is.

Die artikel het my worsteling net groter gemaak. Hoekom kan ek nie ook my geliefde en kosbare moeder van haar lyding verlos nie? As God dan nie wil nie, laat my dan my ma se dood vir my eie rekening neem. Kan ek my ma self verlos van hierdie helse tyd wat sy deurmaak?

Ek het gevoel asof ek in ’n oerwoud vasgekeer was. Niks, nie eens die pragtige blomme in my ma se kamer, kon my meer opgewonde maak nie.

Op 9 September 2009 het ek vroeg die oggend wakker geword en die versorgingsoord gebel om te hoor hoe dit gaan. Die matrone se woorde, “ag, maar nog net dieselfde”, was die finale strooi. Vandag is die dag wat ek ’n einde aan haar lyding gaan maak, het ek besluit. Wat die nagevolge van my daad gaan wees, was later se probleem.

Gedurende my etensuur, met my gedagtes donker, deurmekaar en verward, is ek Woolies toe om vir haar bosbessiesap te gaan koop. By my in my handsak was van haar skedule 7 voorskrif-medisyne waarvan ek ekstra tablette bekom het. My plan was om later die middag na haar toe ry. Op pad terug werk toe, het my selfoon gelui. Dit was die matrone om te sê ek moet baie gou kom – my ma se asemhaling is baie vlak en haar bloeddruk bly val.

Toe ek langs haar bed kom, was haar oë troebel en vol trane. Ek het ’n saligheid oor my voel spoel – ’n vreemde gevoel van rustigheid, kalmte, maar ook diep innerlike vreugde en vrede.

Ek het haar in my arms geneem –

sy was net ’n bondeltjie brose bene. Daar was ’n rustige stil, maar kosbare atmos­feer in die kamer. Sy het vir my geglimlag en my hand gedruk en ek het haar flou asemhaling in my nek gevoel.

Ek het op my horlosie gekyk. Dit was presies nege minute oor nege op die negende dag van September 2009.

God het my smeekgebede verhoor. Hy het haar kom haal vir sy Koninkryk en haar dood vir sý rekening geneem. God het my weer eens laat besef dat elke mens twee dinge alleen doen: Hy moet in homself glo en hy moet alleen sterf.

Wat sou ek gedoen het as God haar nie daardie aand kom haal het nie? Sou ek my plan deurgevoer het? Dit is iets waaroor ek sedertdien lank nagedink het. Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat – sou ek dit moes doen – ek nie vandag hier sou staan nie. Die wete dat ek vir haar dood verantwoordelik was, sou my opgevreet het.

Vir baie lank kon ek dié donker geheim nie eers met my familie deel nie. Eers twee jaar later het ek die gebeure in paaiemente begin neerskryf en uiteindelik die brief vir my man en sussie gegee om te lees. Albei het met skok, maar ook liefde, gereageer.

Die vyf maande voor my ma se dood is ’n tyd wat ek nooit, nooit wil oorhê nie. As ek vandag daaraan dink, is dit ’n tyd van teenstrydighede en gedagtes te verskriklik om in woorde te beskryf. Terwyl jy dit nie meer kan verduur om haar so te sien ly nie, wonder jy hoe jy sou kon leef as jy die een is wat vir haar dood verantwoordelik is.

Die lewensles wat ek uit dit alles neem? God is die enigste oplossing vir al ons probleme. Al wat ek vandag kan sê, is dankie: Dankie my Hemelse Vader vir u ingryping op die regte tyd. Dankie dat U my hande en my hart stewig vasgehou het. Dankie dat U my nog ’n kans gegee het. En dankie dat my geliefde moeder nou veilig by U is.

  • Antoinette Schoeman is afgetree en woon in Welkom.
Meer oor:  Sean Davison  |  Genadedood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.