Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Generaal se vrese oor ‘mal, histeriese’ Trump, oorlog

As twee wyd gerespekteerde Amerikaanse joernaliste – Bob Woodward en Robert Costa – die waarheid in ’n opspraakwekkende nuwe boek skryf, het pres. Donald Trump sy land in die tyd rondom die presidentsverkiesing by wyse van spreke tot twee millimeter van ’n verwoestende oorlog met China laat kom. Leopold Scholtz kyk na die merkwaardige en verstommende verhaal.

Oudpres. Donald Trump van Amerika. Daar was vrese dat hy teen die einde van sy termyn aan 'ernstige geestelike agteruitgang' gely het. Foto: Getty Images

In die moderne wêreld lê misverstande – selfs dié wat tot oorlog kan lei – vlak. Dis wat in Augustus 1914 gebeur het toe Duitsland en Oostenryk-Hongarye enersyds en Frankryk, Brittanje en Rusland andersyds aan mekaar gespring het in ’n kettingreaksie wat met die moord op die Oostenryks-Hongaarse troonopvolger, aartshertog Franz Ferdinand, begin het.

Die moord het essensieel niks met enigeen van die vyf genoemde lande te make gehad nie. Maar omdat hulle mekaar se dade en motiewe verkeerd verstaan het, het dit gelei tot ’n vier jaar durende oorlog waarin sowat 10 miljoen soldate op die slagveld gesterf het.

Gelukkig het die mensdom kollektief iets hieruit geleer. En daardie les is die sterkste faktor waarom Amerika in die doodsnikke van Trump se bewind nie in ’n verwoestende oorlog met China betrokke geraak het nie.

Die merkwaardige verhaal word in Woodward en Costa se nuwe boek, Peril, vertel.

Volgens Woodward en Costa het Trump histeries op sy eie amptenare gegil en eindelose samesweringsteorieë bedink om sy verkiesingsnederlaag te verklaar.

Die kern van die saak is dat Trump sowel in die doodsnikke van sy regering só histeries was oor die beweerde “diefstal” van die verkiesing deur die Demokrate dat die hoof van die Amerikaanse weermag, genl. Mark Milley, veral ná die mislukte opstand van ’n skare by die Kongresgebou daarvan oortuig was dat die president aan ’n “ernstige geestelike agteruitgang” gely het. Hy het gevrees dat Trump handuit sou ruk (go rogue).

Volgens Woodward en Costa het Trump histeries op sy eie amptenare gegil en eindelose samesweringsteorieë bedink om sy verkiesingsnederlaag te verklaar. Milley het glo aan mede-offisiere gesê ’n mens weet nooit wat die president oor die randjie kan stoot nie.

Gesprekke met China agter Trump se rug

Genl. Mark Milley was ná die aanval op die Kongresgebou bang dat oudpres. Donald Trump 'sou handuit ruk'. Foto: Getty Images

Teen dié agtergrond – en waarskynlik gedagtig aan die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog – het Milley twee keer agter Trump se rug sy Chinese eweknie, genl. Li Zhuocheng, gebel om moontlike misverstande te voorkom.

Die eerste oproep was op 30 Oktober verlede jaar. Milley se vertolking van die feite wat sy eie inligtingsdiens aan hom deurgegee het, was dat China glo dat Amerika op die punt staan om dié land aan te val.

Dit sou buitengewoon gevaarlik wees. Die logiese moontlikheid was dat China ’n voorsprong-aanval op Amerika sou uitvoer, en dít wou Milley voorkom.

Luidens die boek het hy aan Li gesê: “Genl. Li, ek wil u verseker dat die Amerikaanse regering stabiel is en dat alles in orde gaan wees. Ons gaan nie aanval of enige kinetiese operasies teen u uitvoer nie.” Hy het Li verseker dat hy hom vooraf sou inlig indien hy ’n bevel sou kry om aan te val.

Mike Pence, voormalige adjunkpresident van Amerika. Foto: Getty Images

Toe verloor Trump die verkiesing op 20 November, en hy reageer – veral agter die skerms – volkome histeries. Op grond daarvan – Milley was die ooggetuie van verskeie uitbarstings – asook Trump se aanstook van die gepeupel se aanval op die Kongresgebou op 6 Januarie vanjaar was sy oordeel dat die president ’n “ernstige geestelike agteruitgang” beleef.

Dus het hy op 8 Januarie vier inisiatiewe geneem. Die eerste was ’n telefoonoproep aan Nancy Pelosi, die (Demokratiese) speaker van die Huis van Verteenwoordigers. Pelosi se woorde, volgens ’n transkripsie van die gesprek, was: “Dis sleg, maar wie weet wat hy kan doen? Hy is mal. Jy weet hy is mal. Hy’s mal en wat hy gister [eergister] gedoen het, is verdere getuienis van sy malheid. Hy is al lankal mal. Dus, moenie sê jy weet nie wat sy geestelike ingesteldheid is nie.”

Milley se antwoord was: “Mevrou die Speaker, ek stem saam met u oor alles.”

Hy het haar verseker dat die weermag niks onwettigs of mals sou doen nie, al beveel Trump dit.

’n ‘Regse staatsgreep’ en Mike Pence

Die legendariese Bob Woodward, mede-skrywer van die jongste boek oor oudpres. Donald Trump se laaste dae in die Withuis. Foto: Getty Images

Milley se oordeel oor Trump was dat hy nie soseer uit was op oorlog nie, maar dat hy ’n soort militêre aanval oorweeg het wat ’n kettingreaksie, en uiteindelik (soos in 1914) ’n volskaalse oorlog, aan die gang kon sit.

Die tweede was ’n geheime vergadering met sy senior generaals, waar hy hulle beveel het dat indien Trump iets doen wat op oorlog kon uitloop, hy – Milley – in die uitvoering van hul bevele geken moet word.

Ten derde, op dié dag het hy Li ’n tweede keer gebel. Li het die vrees uitgespreek dat die Amerikaanse regering volledig onstabiel geword het.

Milley het hom probeer gerusstel: “Ons is 100% bestendig. Alles is in orde. Maar die demokrasie kan soms slordig wees.”

Milley se vrees oor Trump se onvoorspelbaarheid was ook deels op sy wispelturigheid oor Iran op vergaderings agter die skerms gegrond.

Tog was Milley se oordeel agterna dat die situasie “ernstig” en dat Li “ongewoon senuweeagtig” was.

In die vierde plek het hy die admiraal in bevel van die Amerikaanse strydkragte in die Stille-Oseaangebied gebel en aanbeveel dat militêre oefeninge in die omgewing uitgestel word om die Chinese oor hul senuweeagtigheid tegemoet te kom. Dit het gebeur.

Milley se vrees oor Trump se onvoorspelbaarheid was ook deels op sy wispelturigheid oor Iran op vergaderings agter die skerms gegrond. Hy het geweier om ’n kernaanval op Iran uit te sluit en was selfs oor die uiteindelike uitwerking daarvan op voetsoolvlak in Iran nuuskierig.

Volgens die boek is Milley se kommer oor wat in die Withuis gebeur, wyer in die Trump-administrasie gedeel. Die direkteur van die CIA, Gina Haspel, het ná die gebeure op 6 Januarie aan Milley gesê: “Ons is na ’n regse staatsgreep onderweg.”

’n Deel van die oproerige skare wat die Kongresgebou in Washington, DC, op 6 Januarie vanjaar bestorm het. Foto: Getty Images

En visepres. Mike Pence, wat normaalweg uiters gedienstig teenoor Trump was, het die gewese visepres. Dan Quayle gebel om te hoor watter beweegruimte hy het om Trump se bevel dat hy moet weier om die verkiesingsuitslag te bekragtig te ignoreer. Quayle, ook ’n Republikein, se antwoord was ononwonde: “Mike, jy het geen beweegruimte nie. Geen. Zero. Vergeet dit.”

Dit is toe wat Pence gedoen het: Hy het die uitslag as korrek gesertifiseer.

Volgens die twee skrywers is die boek gegrond op onderhoude wat hulle met “meer as 200 ooggetuies” gevoer het. Hulle is wel die versekering gegee dat hul name nie genoem sou word nie.

Trump self het in ’n mediaverklaring gereageer deur Milley van 'hoogverraad' te beskuldig.

Trump en Biden self wou nie met die twee praat nie.

Dit alles wys presies hoe na die wêreld aan ’n verwoestende Derde Wêreldoorlog gekom het. Dat dit nié gebeur het nie, veral met ’n Trump in die Withuis, is amper meer geluk as wysheid.

Trump self het in ’n mediaverklaring gereageer deur Milley van “hoogverraad” te beskuldig. Hy het ontken dat hy ooit oorweeg het om China aan te val.

Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mark Milley  |  Donald Trump  |  Bob Woodward  |  Nancy Pelosi  |  Robert Costa  |  Li Zhuocheng  |  Mike Pence  |  China  |  Amerika  |  Kernwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.