Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Genetika help om volle verhaal van Swart Dood te vertel

Builepes, of die Swart Dood, het die mensdom vir eeue lank geteister en ’n dodelike stempel op die wêreldgeskiedenis afgedruk. Daar was egter nog altyd ’n onvoltooide stukkie van die verhaal wat nou danksy genetika opgeklaar is, skryf Elsabé Brits.

’n Voorstelling van ’n dokter in Venesië tydens die Swart Dood-epidemie in die Middeleeue. Foto: Getty Images

In ’n tyd toe die wêreld se bevolking aansienlik minder was as wat dit vandag is, is daar na raming tussen 75 en 200 miljoen mense in 400 jaar dood. Dié getalle kan nie presies bepaal word nie omdat dit destyds onmoontlik was om rekord te hou.

In sommige stede soos Londen is duisende mense per dag dood. Dit was een van die grootste mediese katastrofes tot nog toe, maar niemand het ’n idee gehad wat dit veroorsaak het nie.

Ons weet nou die siekte is veroorsaak deur die bakterieë Yersinia pestis wat aangedra is deur vlooie op rotte. Die mikroskoop was nog nie ontwerp sodat sulke bakterieë gesien kon word nie. Louis Pasteur en Robert Koch het eers in die tweede helfte van die 1800’s puntjie by paaltjie gebring dat bakterieë siekte veroorsaak.

Buiten dat daar weens onkunde nie juis sprake van higiëne was nie, het die geneeskunde nie juis in enige moderne vorm bestaan nie.

Dié het eintlik eers maar vanaf 1800 behoorlik ontwikkel, want in vroeëre tye was dit ’n mengsel van bygelowe, skadelike praktyke en raaiskote. Een van die grootste deurbrake in die begrip van epidemiologie was toe John Snow in 1854 bewys het daar is ’n skakel tussen vuil water vol feses (cholera) en siekte.

Die eerste pandemie van die pes was die Plaag van Justinian wat die Romeinse Ryk van die 6de tot die 8ste eeu getref het. Justinian I was die keiser toe dit aanvanklik uitgebreek het, en hoewel hy ook siek geword het, het hy oorleef. Daar word bereken tussen 20 en 50 miljoen is in dié epidemie dood.

Twee-derdes van dié wat siek geword het, het binne dae gesterf.

Die derde en laaste epidemie was in die laat 19de eeu in China en Indië met sowat 20 miljoen mense wat omgekom het.

Tussen die 14de en 18de eeu het builepes se tweede en ergste uitbreking regoor Europa, Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika hoogty gevier. Van konings tot die heel armstes is dood.

Twee-derdes van dié wat siek geword het, het binne dae gesterf. Die simptome was opgeswelde limfkliere, pyn, koors, naarheid, epilepsie en gangreen. Dit kan vererger en na die longe versprei.

’n Massagraf van mense wat in een van die Swart Dood-epidemies in Toulouse, Frankryk, gesterf het. Foto: Archeodunum SAS, Gourvennec Michaël

Die bakterieë veroorsaak ook twee ander vorme van die pes, longpes en septiese pes. Wanneer die bakterieë in die bloedstroom beland, word die liggaam vergiftig en septies. Met longpes, wat van mens tot mens oordra word, word jy binne 24 uur siek.

Jare lank is daar gewonder hoe die bakterieë aangepas en versprei het. Volgens navorsing wat in die vaktydskrif Nature Communications gepubliseer is, het ’n span kundiges tien argeologiese terreine in Engeland, Frankryk, Duitsland, Rusland en Switserland besoek.

Die oorskot van 34 mense, wat almal in massagrafte begrawe is nadat hulle destyds aan pes dood is, se genetiese profiele is bepaal. Met dié inligting is die spoor van die bakterieë soos dit in die verlede versprei het, gevolg.

Genetiese materiaal is uit die tande van die mense onttrek.

Die ontleding het getoon dat ’n oeroue bakterie basies die voorsaat was. Dieselfde een was op al die terreine teenwoordig sonder enige noemenswaardige genetiese diversiteit. Daar is op een plek net een enkele mutasie te bespeur.

’n Kunstenaarsvoorstelling van die Swart Dood-epidemie wat Marseilles in Frankryk in 1720 getref het. Foto: Getty Images

Dit was ’n boosaardige stam wat bly oorleef het.

Die oorsprong daarvan is teruggespoor na Laisheveo in Rusland se Wolgastreek. Dit het van daar na die res van Europa versprei waar net die enkele stam verantwoordelik was vir die miljoene sterftes.

Al het die betrokke stam nou uitgesterf en veg ons nie meer teen die pes nie, is die werk wat gedoen is belangrik om dodelike bakterieë en hul modelle te verstaan; soos byvoorbeeld die mikro-evolusie van ’n patogeen met verloop van tyd.

Die pes kan suksesvol met antibiotika behandel word.

Die oorsaak is steeds swak infrastruktuur, armoede en onvoldoende beheer van rotte.

Dit is ook ’n siekte wat nie heeltemal verdwyn het nie. Daar is lande waar dit endemies is, soos Madagaskar.

Dáár was in 2017 ’n uitbreking wat sowat vier maande geduur het, met 2 417 bevestigde gevalle en 209 sterftes, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie.

Mense van alle inkomstegroepe is in dié uitbreking geraak. Tydens die uitbreking was 74% gevalle longpes wat oorgedra word deur druppels wanneer mense hoes of nies. Die res van die gevalle was builepes. Die oorsaak is steeds swak infrastruktuur, armoede en onvoldoende beheer van rotte. Begrafnisrituele waar lyke hanteer word, is ’n verdere probleem.

Die stamme van die bakterieë wat in Madagaskar voorkom, het weerstandig geraak teen antibiotika en dus moet daar grootliks op voorkoming gesteun word.

’n Tipiese pesmasker wat dokters in Europa gedra het. Daar is destyds geglo die siekte word oorgedra deur slegte lug. Dié een is op uitstalling in ’n ou operasieteater in Londen te sien. Foto: Elsabé Brits

Skeepsvervoer en reisigers na naburige lande, waarvan Suid-Afrika een is, hou gevaar in. Die afgelope tien jaar was daar pesgevalle in al die lande in ons streek, buiten in Botswana, Malawi en Tanzanië.

Peru en die Demokratiese Republiek van die Kongo is die lande waar dit die meeste voorkom. Daar was ook die afgelope 20 jaar uitbrekings in Algerië, Indonesië, Uganda, Kazakstan en Indië.

Volgens die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Siektebeheer was die laaste geval in Suid-Afrika in 1982 in Koega in die Oos-Kaap, nadat die siekte vir tien jaar dormant was.

Vandag weet ons wat die meeste siektes veroorsaak, hoe dit oorgedra word en hoe dit voorkom kan word

Daar is drie nasionale peswaarnemingsterreine: In die Koega-omgewing in die Oos-Kaap, in KwaZulu-Natal en in Gauteng. Rotte en ander knaagdiere word gevang en getoets vir teenliggaampies van die pes.

Vandag weet ons wat die meeste siektes veroorsaak, hoe dit oorgedra word en hoe dit voorkom kan word. Die inligting is sekondes weg van jou. En tog glo mense steeds nie die feite wat oor eeue heen bekom is nie.

* Bron: Nature Communications; Journal of Medical Microbiology

* Brits is ’n vryskut-wetenskapsjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Frankryk  |  Romeinse Ryk  |  Madagaskar  |  Bakterieë  |  Swart Dood  |  Builepes  |  Antibiotika  |  Middeleeue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.